Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 3/08 bl. 12-15
  • Ek verkondig die goeie nuus in verafgeleë plekke

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek verkondig die goeie nuus in verafgeleë plekke
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons leer Bybelwaarhede
  • ’n Begeerte om meer te doen
  • Seëninge in Afrika
  • Na Indië
  • Weer na Afrika
  • Laastens na Ecuador
  • ’n Ontsaglike verlies
  • Volharding in die werk
  • My besluit om tot rypheid te vorder
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Diens in ’n tyd van wonderlike vermeerdering
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Ontwaak!—2008
g 3/08 bl. 12-15

Ek verkondig die goeie nuus in verafgeleë plekke

Soos vertel deur Helen Jones

Ek het in die vroeë 1970’s, in Bangalore, Indië, deur ’n mark geloop wat gewemel het van mense. Skielik het ’n Indiese buffel my met sy horings opgetel en op die grond neergegooi. Hy was op die punt om my te vertrap toe ’n Indiese vrou tot my redding gekom het. Waarom was ek in Indië?

EK IS in 1931 gebore en het in die pragtige stad Vancouver, Kanada, grootgeword. My ouers was beginselvaste mense, maar het nie kerk toe gegaan nie. Ek het egter ’n sterk begeerte gehad om meer omtrent geestelike dinge te weet, en daarom het ek as ’n jongmens Sondagskool toe gegaan en tydens somervakansies Bybelklasse bygewoon.

In 1950, op 19-jarige ouderdom, het ek met Frank Schiller getrou, wat vier kinders uit ’n vorige huwelik gehad het. Twee jaar later het ons ’n seun gehad. Ons wou hê dat godsdiens deel van ons lewe moet wees; maar Frank was geskei, en geen kerk waarby ons wou aansluit, wou ons aanvaar nie. Frank was baie ongelukkig hieroor en het dus geweier om oor godsdiens te praat.

Ons leer Bybelwaarhede

In 1954 het my broer my opgewonde vertel wat ’n medewerker, een van Jehovah se Getuies, hom in die Bybel gewys het. Hoewel ek baie vrae gehad het en geweet het waar die Getuies hulle vergaderinge hou, het ek dit nie bygewoon nie omdat ek geweet het hoe Frank oor godsdiens voel. Later het twee Getuies aan ons deur geklop. Ek wou weet wat hulle godsdiens omtrent egskeiding leer, en hulle het my die skriftuurlike grond vir egskeiding in die Bybel gewys (Matteus 19:3-9). Hulle het my verseker dat my Bybelvrae deur middel van ’n gereelde Bybelstudie beantwoord kon word.

Frank was woedend en wou niks met die Getuies te doen hê nie. In 1955 het ek die Herdenking van Christus se dood bygewoon, en toe ek by die huis kom, het ek hom opgewonde begin vertel wat ek uit die Bybel geleer het. “Dis onmoontlik!” het hy geskree. “As jy dit vir my uit die Bybel kan bewys, sal ek selfs saam met jou na een van jou simpel vergaderinge toe gaan!”

Ek het vir hom die Bybel gegee, en hy het dit versigtig, met ooglopende eerbied, geneem. Ons het die tekste wat ek neergeskryf het, nageslaan, maar ek het baie min gesê en die Bybel eenvoudig self laat getuig. Frank het nie gestry nie, en die res van die aand het dit gelyk asof hy diep ingedagte was.

Mettertyd het ek hom herinner dat hy belowe het om ’n vergadering by te woon. Hy het teësinnig geantwoord: “Nou goed, ek sal net een keer gaan om te sien wat daar gebeur.” Die Bybeltoespraak het gehandel oor vrouens se onderdanigheid aan hulle mans (Efesiërs 5:22, 23, 33). Die inligting het werklik ’n indruk op hom gemaak. Omtrent daardie tyd het Frank ’n Wagtoring-studie bygewoon gebaseer op die artikel “Word bevredig deur werk”. Aangesien Frank ’n hardwerkende man was, het hy daardie inligting terdeë geniet. Ná daardie studie het hy nooit weer van ’n vergadering af weggebly nie. Frank het weldra ywerig aan die bediening deelgeneem, en ek het Bybelstudies gehou met mense wat tot doop gevorder het. Ek en Frank, tesame met my ma en my broer, is daardie selfde jaar gedoop as ’n simbool van ons toewyding aan God.

’n Begeerte om meer te doen

By die streekbyeenkoms wat in 1957 in Seattle, Washington, VSA, gehou is, was daar ’n toespraak wat gehandel het oor diens in gebiede waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. ‘O, Jehovah, ek wil ook gaan’, het ek gebid. ‘Help ons asseblief om iewers te gaan dien waar ons van nut sal wees.’ Frank was egter bekommerd dat hy nie sy verantwoordelikheid om ons gesin te voed en te onderhou, sou kon nakom nie.—1 Timoteus 5:8.

Die volgende jaar het ons gesin die streekbyeenkoms in New York bygewoon wat tegelykertyd by die Yankee-stadion en die Polo-terrein gehou is. Meer as 253 000 was vir die openbare toespraak teenwoordig! Wat Frank gesien en gehoor het, het sy hart geraak. Toe ons by die huis kom, het ons Kenia, Afrika, dus as ons nuwe tuiste gekies, aangesien Engels daar gepraat is en daar goeie skole vir die kinders was.

In 1959 het ons ons huis verkoop, ons besittings opgepak en na Montreal, Kanada, gery. Daarvandaan het ons per skip na Londen, Engeland, gereis en van Engeland af het ons op ’n ander skip oor die Middellandse See en die Rooi See tot in die Indiese Oseaan gevaar. Uiteindelik het ons in Mombasa, Kenia, aan die ooskus van Afrika, aangekom. Die volgende dag het ons per trein na Nairobi, die land se hoofstad, gereis.

Seëninge in Afrika

Destyds was daar ’n verbod op die predikingswerk van Jehovah se Getuies in Kenia, en ons was dus versigtig wanneer ons gepreek het. Verskeie egpare van ander lande het ook in Kenia gewoon, en as uitlanders is ons toegelaat om te bly. Ons kon nie in groepe van meer as tien vergader nie. Dit het beteken dat ons gesinne, insluitende die kinders, ’n volle deelname aan die vergaderinge gehad het.

Kort nadat ons in Kenia aangekom het, het ons blyplek gevind, en Frank het ’n werk gekry. Die eerste vrou wat ek in die huis-tot-huis-bediening ontmoet het, het ’n Bybelstudie aanvaar en uiteindelik ’n pionier geword, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Ek het ook gestudeer met ’n tienderjarige Sikh-meisie wat ons Goody genoem het. Sy het ondanks druk van haar familie en die Sikh-gemeenskap standvastig gebly. Nadat Goody Lull uit die huis gesit is, het sy by ’n Getuiegesin ingetrek, haar lewe aan Jehovah toegewy, ’n pionier geword en later aan die Gileadsendingskool gegradueer.

Ons gesin het ’n paar beproewinge deurgemaak. Ons oudste seun het rumatiekkoors gekry, en Frank het ernstige brandwonde opgedoen terwyl hy aan ’n motor gewerk het en het sy werk verloor. Later het hy werk gekry in Dar es Salaam, die hoofstad van Tanganjika (nou Tanzanië), sowat 1 000 kilometer van waar ons gewoon het. Ons het dus ons besittings in ’n voertuig gelaai en die lang reis soontoe afgelê. Daar was destyds ’n klein gemeente in Dar es Salaam, en hulle het ons verwelkom.

Hoewel daar op daardie stadium ’n verbod op die predikingswerk in Tanzanië was, is die verbod nie streng toegepas nie. In 1963 het Milton Henschel, ’n verteenwoordiger van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in die Verenigde State, ons besoek. Gedurende een van sy toesprake in die Karimjee-saal, die beste ouditorium in die land, het ’n bejaarde man wat soos ’n arm persoon aangetrek was, langs my kom sit. Ek het hom gegroet en my Bybel en liedereboek met hom gedeel. Ná die program het ek hom genooi om weer te kom. Toe hy weg is, het die plaaslike Getuies onmiddellik na my toe gekom.

“Weet jy wie dit was?” het hulle gevra. “Dit was die burgemeester van Dar es Salaam!” Vroeër het hy gedreig om ons byeenkoms stop te sit. Hy wou blykbaar die gesindheid wat hy gedink het ek teenoor hom sou hê, as ’n verskoning gebruik om dit te doen. Maar hy is so beïndruk deur die vriendelikheid en persoonlike belangstelling wat teenoor hom getoon is, dat hy die res van die byeenkoms sonder enige inmenging laat voortgaan het. Daar was 274 teenwoordig, en 16 is gedoop!

Terwyl ons in Tanzanië was, het die land onafhanklikheid verkry. Daarna is plaaslike mense voorkeur bo buitelanders gegee wanneer dit by werksgeleenthede gekom het. Die meeste buitelanders moes die land verlaat, maar Frank se volharding in sy soeke na werk is uiteindelik beloon toe hy gehoor het dat daar werk was vir ’n meesterwerktuigkundige wat ’n paar diesellokomotiewe in stand moes hou. Dit was dus vir ons moontlik om nog vier jaar daar te bly. Toe Frank se kontrak verval het, het ons na Kanada teruggekeer, waar ons gebly het totdat ons laaste kind grootgeword en getrou het. Ons het nog jonk gevoel en wou bitter graag meer doen.

Na Indië

In 1970, op aanbeveling van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Bombaai (nou Moembaai), het ons na Bangalore getrek, wat destyds ’n stad met omtrent 1,6 miljoen mense was. Dit was daar dat ek die noue ontkoming gehad het toe die Indiese buffel my gegaffel het. Daar was destyds ’n Engelse gemeente van 40 en ’n afgesonderde groep wat Tamil gepraat het. Frank het met etlike mans gestudeer wat in Bybelkennis toegeneem het en later Christen- ouer manne geword het. Ek het ook met gesinne gestudeer wat Jehovah begin dien het.

Een vrou met die naam Gloria het in ’n baie arm buurt gewoon. Toe ek haar die eerste keer besoek het, het sy my ingenooi. Aangesien sy geen meubels gehad het nie, het ons op die vloer gesit. Ek het vir haar ’n eksemplaar van Die Wagtoring gegee, en sy het ’n Bybelaanhaling uit Openbaring 4:11 daarin gevind, dit uitgesny en op haar muur geplak waar sy dit elke dag kon sien. Dit het die woorde: “U is waardig, Jehovah”, ingesluit, wat vir haar so ’n mooi frase was. ’n Jaar later is sy gedoop.

Frank is genooi om ’n jaar lank by die takkantoor in Bombaai te werk en om toesig te hou oor die bou van die eerste Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Indië. Die Byeenkomssaal is gebou deur eenvoudig ’n boonste vloer by die bestaande takkantoor te voeg. Daar was destyds net meer as 3 000 Getuies in die hele Indië, en minder as 10 het by die tak gedien. In 1975, toe ons geld opgeraak het, was ons hartseer om die vriende vir wie ons so lief geword het, agter te laat.

Weer na Afrika

Tien jaar het verloop, en Frank was nou geregtig op sy pensioen. Ons het ons dus beskikbaar gestel om deel te neem aan ’n internasionale program vir die bou van takkantore. Ons het ’n brief ontvang waarin ons gevra is om na Igieduma, Nigerië, te gaan, aangesien ’n bouprojek daar aan die gang was. Terwyl ons in Igieduma was, het Frank die Bybel gestudeer met ’n man in ’n nabygeleë dorpie wat vooruitgang gemaak het en later by die Nigeriese takkantoor van Jehovah se Getuies gaan dien het.

Daarna het ons na Zaïre gegaan om te help met die bou van die takkantoor. ’n Verbod is kort daarna op die predikingswerk geplaas, en ons paspoorte is gekonfiskeer. Frank het ’n hartaanval tydens die bouprojek gehad, maar aangesien daar ’n verbod was, kon hy rus. Later moes alle konstruksiewerkers die land verlaat, en ons is na nabygeleë Liberië gestuur. Frank is gevra om die kragopwekker by die takkantoor in Monrovia reg te maak. Toe ons visums in 1986 verval het, moes ons weer na Kanada terugkeer.

Laastens na Ecuador

Kort daarna het ons gehoor dat ons goeie vriend Andy Kidd na Ecuador getrek het en dat hy die predikingswerk daar geniet het. Andy was die enigste ouer man in sy plaaslike gemeente en moes dus dikwels die meeste vergaderingdele behartig. Op sy uitnodiging het ons in 1988 die takkantoor in Ecuador besoek, waar ons baie tuis gevoel het.

Ons het ’n gerieflike huis gevind om in te woon; maar ons moes Spaans leer praat, en Frank was 71. Selfs al het ons nie goed Spaans gepraat nie, kon ons gedurende die volgende twee jaar 12 mense help om tot doop te vorder. Frank is gevra om te help met die bouprojek by die Ecuador-takkantoor. Hy het ook die Bybel gestudeer met die man van een van die eerste Getuies in Guayaquil. Hierdie man, wat sy vrou 46 jaar lank teëgestaan het, het ons vriend en ons geestelike broer geword.

’n Ontsaglike verlies

Ons het naby die klein dorpie Ancón, langs die Stille Oseaan, gaan woon waar ons kon help met die bou van ’n nuwe Koninkryksaal. Op 4 November 1998, nadat Frank die slottoespraak by die Diensvergadering gehou het, het hy ’n hartaanval gehad, en hy is daardie nag oorlede. Ons geestelike broers en susters het my waarlik ondersteun! Die volgende dag is Frank in die begraafplaas oorkant die Koninkryksaal begrawe. Geen woorde kan beskryf hoe pynlik dit is om ’n geliefde aan die dood af te staan nie.

Ek moes weer na Kanada terugkeer, hierdie keer alleen, om na gesins- en wetlike aangeleenthede om te sien. Ondanks my smart het Jehovah my nie vergeet nie. Ek het ’n brief van die takkantoor in Ecuador ontvang wat gesê het dat ek welkom is om terug te keer. Ek het dus teruggegaan en ’n klein woonstel naby die takkantoor gekry. Die feit dat ek besig gebly het by die tak asook in die bediening, het my gehelp om die pyn van Frank se dood te verduur, maar ek het nog steeds baie eensaam gevoel.

Volharding in die werk

Later het ek Junior Jones leer ken. Hy het in 1997 van die Verenigde State na Ecuador gekom om te pionier. Ons het dieselfde doelwitte gehad en van dieselfde dinge gehou. In Oktober 2000 is ons getroud. Junior het ondervinding in bouwerk gehad, en daarom is ons genooi om te help met die voltooiing van die Byeenkomssaal in Cuenca, ’n stad hoog in die Andesgebergte. Toe, op 30 April 2006, het Geoffrey Jackson, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, van New York af gekom om die toewydingstoespraak te hou, wat deur 6 554 bygewoon is.

Wie sou kon dink dat daar sulke wonderlike groei in die Koninkrykspredikingswerk in verafgeleë plekke—Afrika, Indië en Suid-Amerika—sou wees? Ek en Junior dink op die oomblik glad nie aan aftree nie. Die meer as 50 jaar wat ek in Jehovah se diens deurgebring het, het so vinnig verbygevlieg dat dit voel asof ek gister begin het. En ek weet dat wanneer die nuwe wêreld kom, dit sal voel asof die tyd waarin ons nou lewe, net so vinnig verbygevlieg het.—Openbaring 21:3-5; 22:20.

[Kaart/Prent op bladsy 15]

(Vir ten volle geformateerde teks, sien publikasie)

Waar ons gedien het

KANADA → ENGELAND → KENIA → TANZANIË

KANADA → INDIË

KANADA → NIGERIË → KONGO, DEM. REP. → LIBERIË

KANADA → ECUADOR

[Ander plekke]

VERENIGDE STATE VAN AMERIKA

[Prent]

Saam met Frank in Indië, op pad na ’n byeenkoms

[Prent op bladsy 15]

Saam met my man Junior Jones

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel