Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 3/09 bl. 10-11
  • Is dit verkeerd om veras te word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is dit verkeerd om veras te word?
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Aanduiding van God se misnoeë?
  • Verhoed nie ’n opstanding nie
  • Wat sê die Bybel oor verassing?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Terug tot stof—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • ’n Sterk band van vriendskap
    Volg hulle geloof na
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 3/09 bl. 10-11

Die Bybel se beskouing

Is dit verkeerd om veras te word?

Party mense meen dat verassing—dit wil sê om ’n lyk tot as te verbrand—die liggaam en die nagedagtenis van die oorledene oneer aandoen. Hulle redeneer: ‘Dit is van heidense oorsprong en moet dus vermy word deur diegene wat bely dat hulle God aanbid.’ Ander glo dat verassing ’n heeltemal aanvaarbare en waardige manier is om van die stoflike oorskot ontslae te raak. Hoe voel jy hieroor?

IN Bybeltye is dooies gewoonlik begrawe. Byvoorbeeld, Abraham het sy vrou, Sara, in ’n grot begrawe. Jesus se liggaam is neergelê in ’n graf wat in rots uitgekap is (Genesis 23:9; Matteus 27:60). Sê die Bybel spesifiek dat begrawing die enigste aanvaarbare manier is om van die stoflike oorskot ontslae te raak? Gee dit te kenne dat God se eertydse knegte teen verassing beswaar gemaak het?

’n Aanduiding van God se misnoeë?

Op die oog af lyk dit dalk of ’n aantal Bybelgedeeltes toon dat verassing die lot was van sommige mense wat in God se onguns was toe hulle gesterf het. Byvoorbeeld, as ’n dogter van een van Jehovah se priesters ’n prostituut geword het, moes sy volgens die Mosaïese Wet “met vuur verbrand” word nadat sy tereggestel is (Levitikus 20:10; 21:9). En toe die ongehoorsaamheid van Agan en sy familie gelei het tot Israel se nederlaag by Ai, het hulle volksgenote hulle met klippe gegooi en eweneens “met vuur verbrand” (Josua 7:25). Volgens party geleerdes is diegene wat in oneer gesterf het, so behandel en het verassing die kwaaddoeners ’n sogenaamd behoorlike begrafnis ontsê.

Verder het koning Josia, toe hy Juda van afgodediens probeer reinig het, die grafte van die priesters wat aan Baäl offerandes gebring het, oopgebreek en hulle beendere op hulle altare verbrand (2 Kronieke 34:4, 5). Is hierdie voorbeelde ’n aanduiding dat diegene wie se stoflike oorskot veras word, mense is wat in onguns is by God? Nee, ’n ander Bybelverslag toon dat dit nie die geval is nie.

Toe die Filistyne koning Saul van Israel in die oorlog verslaan het, het hulle sy lyk, asook die lyke van sy drie seuns, minagtend aan die stadsmuur van Bet-San vasgemaak. Maar toe die Israelitiese inwoners van Jabes-Gilead hoor hoe oneerbiedig die lyke behandel is, het hulle dit verwyder en verbrand, waarna hulle die beendere begrawe het (1 Samuel 31:2, 8-13). Met die eerste oogopslag lyk dit dalk of hierdie verslag die negatiewe konnotasie van verassing bevestig. Saul was immers ook goddeloos; hy het teen Dawid, Jehovah se gesalfde, geveg en in onguns by God gesterf.

Let egter op wie saam met Saul gesterf het. Een van sy seuns, wie se lyk op dieselfde wyse behandel is, was Jonatan. Hy was nie ’n slegte mens nie. Inteendeel, Jonatan was ’n hegte vriend en bondgenoot van Dawid. Die Israeliete het aangaande Jonatan erken: “Hy het . . . saam met God gewerk” (1 Samuel 14:45). Toe Dawid hoor wat die manne van Jabes-Gilead gedoen het, het hy hulle geprys en daarvoor bedank: “Mag julle geseënd wees deur Jehovah, omdat julle hierdie liefderyke goedhartigheid teenoor julle heer, teenoor Saul, bewys het.” Die feit dat Saul en Jonatan se lyke verbrand is, het Dawid klaarblyklik nie ontstel nie.—2 Samuel 2:4-6.

Verhoed nie ’n opstanding nie

Die Bybel leer duidelik dat Jehovah God baie mense wat nou in die dood slaap, sal opwek (Prediker 9:5, 10; Johannes 5:28, 29). Die Bybelboek Openbaring, of Apokalips, het die tyd wanneer die dooies tot lewe sal terugkeer, profeties so beskryf: “Die see het die dooies daarin gegee, en die dood en Hades het die dooies in hulle gegee” (Openbaring 20:13). God die Almagtige kan dit doen, ongeag of ’n persoon se liggaam begrawe is, verbrand is, in die see vergaan het, deur wilde diere geëet is of selfs in ’n kernontploffing vernietig is.

Die Bybel gee geen spesifieke riglyne oor wat met die liggame van die dooies gedoen moet word nie. Verassing word nie deur Jehovah veroordeel nie. Maar dit is duidelik dat begrafnisreëlings op ’n waardige en eerbiedige wyse moet geskied.

Iets wat egter ’n persoon se besluite kan beïnvloed wanneer hy hierdie reëlings tref, is hoe die plaaslike gemeenskap begrafnisgebruike beskou. Diegene wat by Bybelbeginsels bly, sal beslis niks wil doen wat hulle bure onnodig aanstoot sal gee nie. Dit sal ook onvanpas wees om aan ’n gebruik deel te neem wat die indruk kan skep dat ’n mens in valse godsdiensleringe glo, soos die onsterflikheid van die siel. Hoe dit ook al sy, die besluit oor wat met ’n persoon se eie liggaam, of dié van ’n ander, gedoen moet word, is in werklikheid ’n persoonlike of gesinsaak.

HET JY AL GEWONDER?

◼ Watter getroue aanbidder wat in die Bybel gemeld word, is veras?—1 Samuel 31:2, 12.

◼ Hoe het Dawid die manne behandel wat van Saul se liggaam ontslae geraak het?—2 Samuel 2:4-6.

◼ Wat toon dat verassing op sigself ’n persoon nie diskwalifiseer om opgewek te word nie?—Openbaring 20:13.

[Lokteks op bladsy 11]

Die Bybel gee geen spesifieke riglyne oor wat met die liggame van die dooies gedoen moet word nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel