Die harpyarend—Roofvoël van die reënwoud
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ECUADOR
◼ Vroeë ontdekkingsreisigers in Suid-Amerika was seker stomgeslaan toe hulle hierdie yslike voël sien. Hulle was so beïndruk dat hulle dit na ’n skrikwekkende monster van die Griekse mitologie vernoem het wat half voël, half vrou was—die Harpy.
Vandag verwonder mense hulle nog steeds oor die treffende voorkoms van die harpyarend. Hierdie voël van die Sentraal- en Suid-Amerikaanse reënwoude staan 91 sentimeter hoog en het ’n vlerkspan van tot twee meter, wat dit een van die grootste en kragtigste arende ter wêreld maak. Wyfies is die groter geslag en kan tot nege kilogram weeg.
In ooreenstemming met hulle grootte is harpyarende gewapen met sterk kloue wat tot sowat 13 sentimeter lank word, twee keer so lank soos dié van die Amerikaanse adelaar. Wat meer is, volgens National Geographic Today is die harpyarend se kloue so sterk dat dit “die bene [kan verbrysel] van die luidiere, apies en ander prooi wat die arend uit die reënwoud se blaredak vang, wat dikwels die onmiddellike dood van sy slagoffers tot gevolg het”. Maar ondanks die harpyarend se grootte en sy gedugte wapens, is hy so stil wanneer hy vlieg dat ’n mens hom dalk nie eers sal bespeur wanneer hy oor jou vlieg nie.
’n Voël in gevaar
Hoewel mense geen rede het om die harpyarend te vrees nie, het die voël wel rede om die mens te vrees. Wilddiefstal en die vernietiging van sy woudhabitat het die voël op die lys van bedreigde spesies geplaas, en vandag word hy selde in die natuur gesien. In ’n poging om die harpyarend te red, het Panama dit as die nasionale voël verklaar, en iemand wat daar aan wilddiefstal skuldig bevind word, word swaar vonnisse opgelê.
Ook in Ecuador word pogings aangewend om die harpyarend te beskerm. Die veearts dr. Yara Pesantes van die Guayaquil- Geskiedkundige Park het in ’n onderhoud met Ontwaak! verduidelik dat harpyarende eers geslagsryp raak wanneer hulle vier of vyf jaar oud is. Selfs dan broei hulle in siklusse van twee jaar en lê wyfies net een of twee eiers op ’n slag. Hulle stadige voortplanting maak bewaring moeilik. Maar die park se teelprogram met voëls in aanhouding het alreeds een gesonde kuiken opgelewer, sê dr. Pesantes.
Binnekort sal bewaring egter nie meer ’n probleem wees nie. Hoe so? Die Skepper, Jehovah God, sal volle beheer oorneem oor die aarde se aangeleenthede en sonder enige twyfel bewys dat hy ons planeet en die wonderlike skepsele daarop nie verniet geskep het nie.—Psalm 104:5; Jesaja 45:18.
[Prent op bladsy 25]
Gereed om ’n arend te ring
[Erkenning]
Pete Oxford/Minden Pictures
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Tui De Roy/Roving Tortoise Photos