Vergaderinge om tot liefde en goeie werke aan te spoor
Die vroeë Christene het byeengekom, gewoonlik in privaat huise, om onderrig te ontvang en opbouende omgang te geniet. Vandag vergader gemeentes van Jehovah se Getuies drie keer per week. Jy word genooi om enige van hierdie vergaderinge by te woon. Hulle vergaderinge is nie ritualisties nie; die klem val eerder op goddelike opvoeding. Gemeentelike vergaderinge word met lied en gebed begin en afgesluit. Bywoning is gratis, en geen kollektes word gehou nie.—Handelinge 4:23-31; 14:22; 15:32, 35; Romeine 16:5; Kolossense 4:15.
Die eerste vergadering wat jy bywoon, sal moontlik die openbare toespraak van 45 minute wees. Dit kan handel oor Bybelleerstellings, profesie, of raad oor Christelike gedrag. Na hierdie toespraak is daar ’n studie van die Bybel aan die hand van ’n artikel in Die Wagtoring wat spesiaal met die oog op gemeentelike studie geskryf is. Die studie word so gehou: ’n Paragraaf uit Die Wagtoring word gelees, en die studiehouer stel ’n vraag oor die materiaal wat lede van die gehoor dan kan antwoord deur die hand op te steek. Verskeie kommentare word gewoonlik oor elke paragraaf gelewer. Die vergadering duur een uur.
Later in die week word nog twee vergaderinge van 45 minute elk gehou. Een is die Teokratiese Bedieningskool. Dit verskaf opleiding in die versameling van stof oor Bybelonderwerpe en hoe om dit doeltreffend aan ander te leer. Na 21 minute van spesiale onderrig hou voorbereide studente kort toesprake. Na elke toespraak gee die skoolinstrukteur die student raad om te toon waar hy kan verbeter. Verskeie handboeke is voorberei vir gebruik in hierdie skool. Almal wat gereeld vergaderinge bywoon, mag inskryf, mits hulle in ooreenstemming met Christelike beginsels lewe.
Die daaropvolgende vergadering word die Diensvergadering genoem. Dit bestaan uit drie of vier dele wat handel oor die aanbieding van die goeie nuus van huis tot huis sowel as ander aspekte van die bediening. Hierdie programdele word aangebied in die vorm van toesprake, besprekings of demonstrasies, met ’n mate van gehoordeelname. Die program is merendeels gebaseer op stof in Ons Koninkryksbediening, ’n onderrigtingsblad met vier bladsye wat maandeliks deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word.
Die derde vergadering is ’n weeklikse studie wat in kleiner groepe gehou word, gewoonlik in privaat huise in verskillende dele van die gemeente se gebied. Die studie is gebaseer op die Bybel en een van die jongste boeke van die Genootskap. Omdat die groep kleiner is, is daar meer geleentheid vir almal om aan die bespreking deel te neem, en dit bied die aanwesiges ook ’n gulde geleentheid om mekaar beter te leer ken.
Die meeste gemeentes hou hulle vergaderinge in ’n Koninkryksaal wat deur Jehovah se Getuies gebou is. Die koste word gedek deur vrywillige bydraes van die Getuies self, en in die meeste gevalle word die bouwerk kosteloos deur vrywilligers gedoen. Bydraebussies is by alle vergaderinge beskikbaar vir die wat graag iets wil bydra.
Gemeentelike vergaderinge help Jehovah se Getuies om die raad in Hebreërs 10:24, 25 te volg: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate [ons] die dag sien nader kom.”
• Watter kenmerke van vroeg-Christelike vergaderinge is in vergaderinge van Jehovah se Getuies te sien?
• Wat word aangebied by die vyf vergaderinge wat die Getuies gereeld hou?
• Hoe word vergadersale verkry?
[Prente op bladsy 14]
Ouere man hou Wagtoring-studie, Verenigde State
Toneel tydens Teokratiese Bedieningskool, Färöer-eilande
Groepstudie in privaat huis, Jap
Koninkryksaal, New Braunfels, Texas, V.S.A., in twee dae deur Jehovah se Getuies gebou
[Prente op bladsy 15]
Koninkryksale in verskillende lande
Japan
Australië
Oostenryk
Spanje