Die praktiese waarde van die “goeie nuus” vir julle gemeenskap
In hierdie moderne wêreld hoor ons dikwels die mening: “Die beginsels van die Christelike godsdiens is eenvoudig nie prakties nie. Dit sal eenvoudig nie werk in vandag se ingewikkelde samelewing nie.” Maar in ’n aangetekende gesprek tussen die Hindoe-leier Mahatma Gandhi en die voormalige Britse onderkoning van Indië, lord Irwin, is ’n heeltemal ander mening uitgespreek. Lord Irwin het vir Gandhi gevra wat hy meen die oplossing vir die probleme tussen Groot-Brittanje en Indië is. Gandhi het ’n Bybel opgetel en dit bydie vyfde hoofstuk van Mattheüs oopgemaak en gesê: “Wanneer jou land en my land die leerstellings toepas wat deur Christus in hierdie Bergpredikasie gemeld is, dan sal ons nie alleen die probleme van ons lande nie, maar ook dié van die hele wêreld opgelos het.”
Daardie preek sê dat ’n mens geestelikheid moet nastreef, sagmoedig, vredeliewend en barmhartig moet wees en geregtigheid moet liefhê. Dit veroordeel nie alleen moord nie, maar die neiging om vir ander kwaad te bly; nie net owerspel nie, maar ook wellustige gedagtes. Dit veroordeel onverantwoordelike egskeiding wat gesinne laat verbrokkel en kinders veronreg. Dit sê vir ons: ‘Julle moet selfs diegene liefhê van wie julle nie hou nie, aan die behoeftiges gee, ophou om ander onbarmhartig te oordeel, ander behandel soos julle behandel wil word.’ Indien al hierdie raad toegepas word, sal dit wonderlike vrugte afwerp. Hoe meer mense in julle gemeenskap dit beoefen, des te beter sal julle gemeenskap word!
Jehovah se Getuies is ’n goeie invloed op hierdie gebied. Die Bybel leer hulle om die huwelik te respekteer. Hulle leer hulle kinders regte beginsels. Die belangrikheid van die gesin word beklemtoon. Verenigde gesinne is ’n seën vir julle gemeenskap, selfs vir julle nasie. Die geskiedenis is vol voorbeelde van wêreldmoondhede wat verbrokkel het toe gesinsbande verswak en onsedelikheid toegeneem het. Hoe meer individue en gesinne deur Jehovah se Getuies beïnvloed word om volgens Christelike beginsels te lewe, des te minder misdadigheid en onsedelikheid sal julle in julle gemeenskap hê!
Een van die groot probleme waarmee gemeenskappe en nasies te kampe het, is rassevooroordeel. Die apostel Petrus het daarenteen gesê: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.” En Paulus het geskryf: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus” (Handelinge 10:34, 35; Galasiërs 3:28). Jehovah se Getuies aanvaar dit. Alle rasse en kleure leef en werk saam by hulle wêreldhoofkwartier, by die takke en in die gemeentes.
In Afrika kan sekere stamme nie meng sonder om te bots nie. Maar by byeenkomste van Jehovah se Getuies aldaar eet en slaap en aanbid mense van talle verskillende stamme in volkome harmonie en hartlike kameraadskap saam. Regeringsamptenare is verbaas wanneer hulle dit sien. New York se Amsterdam News van 2 Augustus 1958 het kommentaar gelewer oor ’n voorbeeld van die verenigende uitwerking van die ware Christelike godsdiens. Die kommentaar is geïnspireer deur waarneming van die internasionale byeenkoms van die Getuies wat vroeër gemeld is—die een in die stad New York waar meer as ’n kwartmiljoen vergader het.
“Negers, Blankes en Oosterlinge van alle stande en alle dele van die wêreld het oral vreugdevol en vryelik gemeng. . . . Die aanbiddende Getuies uit 120 lande het vreedsaam omgegaan en aanbid en vir Amerikaners getoon hoe maklik dit gedoen kan word. . . . Die byeenkoms is ’n ligtende voorbeeld van hoe mense saam kan werk en leef.”
Baie sê dat die beginsels van die Christelike godsdiens nie vir hierdie moderne wêreld prakties is nie. Maar wat anders het gewerk, of sal werk? Christelike beginsels kan baie nuttig wees as dit nou in julle gemeenskap toegepas word, en dit sal die grondslag vorm vir die vereniging van alle ‘nasies, stamme en volke’ dwarsoor die aarde onder die heerskappy van God se Koninkryk oor die mensdom.—Openbaring 7:9, 10.
[Lokteks op bladsy 24]
Alle rasse en kleure werk saam
[Lokteks op bladsy 24]
Die Christelike godsdiens is prakties. Wat anders het gewerk?