Bybelboek nommer 35—Habakuk
Skrywer: Habakuk
Waar geskryf: Juda
Geskrif voltooi: ca. 628 v.G.J.(?)
1. Watter verhewe waarhede word in die profesie van Habakuk beklemtoon?
HABAKUK is nog een van die sogenaamde klein profete van die Hebreeuse Geskrifte. Sy visioen en uitspraak wat deur God geïnspireer is, is egter geensins van geringe belang vir God se volk nie. Omdat sy profesie bemoedigend sowel as versterkend is, onderskraag dit God se knegte in spanningsvolle tye. Die boek beklemtoon twee verhewe waarhede: Jehovah God is die Universele Soewerein en die regverdiges lewe deur geloof. Die geskrif dien ook as waarskuwing vir teenstanders van God se knegte en vir diegene wat skynheilig is en beweer dat hulle sy knegte is. Dit verskaf ’n voorbeeld van sterk geloof in Jehovah, wat alle lofliedere waardig is.
2. Watter inligting word oor die skrywer, Habakuk, verstrek?
2 Die boek Habakuk begin: “Die Godspraak wat Habakuk, die profeet, gesien het” (Hab. 1:1). Wie was die profeet Habakuk (Hebreeus, Chavaq·qoeqʹ), wie se naam “Vurige omhelsing” beteken? Geen inligting word oor Habakuk se afkoms, stam, lewensomstandighede of dood verstrek nie. Daar kan nie met sekerheid gesê word of hy ’n Levitiese tempelmusikant was nie, hoewel daardie gevolgtrekking al gemaak is uit die onderskrif aan die einde van die boek: “Vir die musiekleier op snaarinstrumente.”
3. Watter omstandighede rakende Juda help ons om vas te stel wanneer Habakuk geskryf is?
3 Wanneer het Habakuk sy profetiese uitsprake gedoen? Die bogenoemde onderskrif en die woorde “Die HERE is in sy heilige tempel” gee te kenne dat die tempel in Jerusalem nog gestaan het (2:20). Dit, tesame met die boodskap van die profesie, dui daarop dat dit nie lank voor Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J. uitgespreek is nie. Maar hoeveel jaar voor die tyd? Dit moes ná die regering van godvresende koning Josia, 659-629 v.G.J., gewees het. Die profesie self verskaf die leidraad deur ’n daad te voorspel wat die mense in Juda nie sal glo nie al word dit vertel. Wat is dit? Dit is God se verwekking van die Chaldeërs (Babiloniërs) om ontroue Juda te straf (1:5, 6). Dit sou in die vroeë deel van afgodsaanbiddende koning Jojakim inpas, ’n tyd toe ongeloof en ongeregtigheid in Juda hoogty gevier het. Farao Nego het Jojakim op die troon geplaas, en die nasie was in Egipte se invloedsfeer. Onder sulke omstandighede sou die volk kon meen dat hulle rede het om enige moontlikheid van ’n inval deur Babel te betwyfel. Maar Nebukadnesar het Farao Nego in 625 v.G.J. in die slag by Karkemis verslaan en so die mag van Egipte verbreek. Die profesie sou derhalwe voor daardie gebeurtenis uitgespreek gewees het. Die aanduidinge wys dus op die begin van Jojakim se regering (wat in 628 v.G.J. begin het), wat Habakuk ’n tydgenoot van Jeremia maak.
4. Wat bewys dat die boek Habakuk deur God geïnspireer is?
4 Hoe kan ons weet dat die boek deur God geïnspireer is? Eertydse katalogusse van die Hebreeuse Geskrifte bevestig die kanonisiteit van Habakuk. Hoewel hulle die boek nie by name noem nie, was dit klaarblyklik ingesluit in hulle verwysinge na die ‘twaalf Klein Profete’, want sonder Habakuk sou daar nie 12 gewees het nie. Die apostel Paulus het die profesie as ’n deel van die geïnspireerde Skrif erken en haal Habakuk 1:5 regstreeks aan waar hy daarna verwys as iets wat “deur die profete gesê is” (Hand. 13:40, 41). Hy het verskeie kere in sy briewe na die boek verwys. Die vervulling van Habakuk se uitsprake teen Juda en Babel kenmerk hom gewis as ’n ware profeet van Jehovah, in wie se naam en tot wie se heerlikheid hy gespreek het.
5. Som kortliks die inhoud van Habakuk op.
5 Die boek Habakuk bestaan uit drie hoofstukke. Die eerste twee hoofstukke is ’n dialoog tussen die skrywer en Jehovah. Dit handel oor die krag van die Chaldeërs, asook die smart wat op die Babiloniese nasie wag wat vermenigvuldig wat nie syne is nie, wat vuil gewin vir sy huis maak, wat ’n stad deur bloedvergieting bou en wat die gesnede beeld aanbid. Die derde hoofstuk handel oor Jehovah se glorie in die dag van die stryd, en die krag en lewendigheid van hierdie hoofstuk se dramatiese styl is sonder weerga. Hierdie hoofstuk is ’n klaaggebed en is al “een van die skitterendste en mooiste [gedigte] op die hele gebied van die Hebreeuse digkuns” genoem.a
INHOUD VAN HABAKUK
6. Watter toestand heers in Juda, en watter verbasende daad sal Jehovah dus verrig?
6 Die profeet roep uit tot Jehovah (1:1–2:1). Die ontrouheid in Juda het vrae by Habakuk laat opkom. “Hoe lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie?” vra hy. “Verwoesting en geweld is voor my oë” (1:2, 3). Die wet verloor sy krag, die goddelose omsingel die regverdige en die reg word verdraai. As gevolg hiervan gaan Jehovah iets doen wat verbasing sal wek, iets wat die volk “nie sal glo as dit vertel word nie”. Hy gaan “die Chaldeërs opwek”! Die visioen wat Jehovah van hierdie woeste nasie gee waar dit vinnig nader kom, is inderdaad skrikwekkend. Hulle is daarop uit om geweld te pleeg en hulle versamel gevangenes “soos sand” (1:5, 6, 9). Niks sal hulle keer nie, nie eens konings en hoogwaardigheidsbekleërs nie, want hulle lag hulle almal uit. Hulle neem elke vesting in. Dit alles kom as ’n oordeel en ’n teregwysing van Jehovah, die “Heilige” (1:12). Habakuk wag aandagtig vir God om te spreek.
7. Hoe troos Jehovah Habakuk?
7 Die visioen van die vyf weë (2:2-20). Jehovah antwoord: “Skryf die gesig op en graveer dit op tafels.” Al lyk dit of dit talm, dit sal alte seker waar kom. Jehovah troos Habakuk met die woorde: “Die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe” (2:2, 4). Die aanmatigende vyand sal nie sy doelwit bereik nie, al bly hy nasies en volke vir homself vergader. Dit is juis hulle wat die spreuk van die vyf weë teen hom sal aanhef:
8, 9. Teen watter soort persone is die vyf weë van die visioen gerig?
8 “Wee die man wat hom verryk met wat nie aan hom behoort nie.” Hy sal self ’n voorwerp van plundering word. Hy sal verwoes word “weens die bloed van die mense en die geweld teen die land” (2:6, 8). “Wee hom wat vuil gewin maak vir sy huis.” Sy uitroeiing van baie volke sal die stene en houtwerk van sy huis laat uitroep (2:9). “Wee hom wat ’n stad bou met bloed.” Sy mense sal slegs vir vuur en nietigheid arbei, sê Jehovah. “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”—2:12, 14.
9 ‘Wee hom wat in toorn sy naaste dronk maak om sy naaktheid te sien.’ Jehovah sal hom laat drink uit die beker van Sy regterhand en skande pleks van heerlikheid oor hom bring “weens die bloed van die mense en die geweld teen die land”. Watter nut het ’n gesnede beeld vir sy maker—is sulke waardelose gode nie stom nie? (2:15, 17). “Wee hom wat vir ’n stuk hout sê: Word wakker! vir ’n dooie klip: Ontwaak! Kan hy ’n mens leer?” In teenstelling met hierdie lewelose gode is Jehovah “in sy heilige tempel—swyg voor Hom, o ganse aarde!”—2:19, 20.
10. Watter vreeswekkende dade gaan gepaard met Jehovah se verskyning op die dag van die stryd?
10 Jehovah op die dag van die stryd (3:1-19). In plegtige gebed herroep Habakuk op aanskoulike wyse die vreeswekkende dade van Jehovah. By Jehovah se verskyning ‘bedek sy majesteit die hemel en is die aarde vol van sy lof’ (3:3). Sy glans was soos die lig, en pes het voor hom bly uitgaan. Hy het stilgestaan en die aarde geskud, wat die nasies laat opspring en die ewige berge verpletter laat lê het. Jehovah het uitgery soos ’n magtige stryder met ontblote boog en met strydwaens van redding. Die berge en die waterdieptes was in beroering. Die son en maan het stilgestaan, en daar was die lig van sy pyle en die weerligte van sy spies terwyl hy deur die aarde getrek en die nasies in toorn gedors het. Hy het uitgetrek tot redding van sy volk en van sy gesalfde en om die fondament van die goddelose “tot by die nek” te ontbloot.—3:13.
11. Watter uitwerking het die visioen op Habakuk, maar wat is sy vaste voorneme?
11 Die profeet is oorweldig deur hierdie visioen van die mag van Jehovah se vroeëre werk en van sy komende wêreldskokkende bedrywigheid. “Toe ek dit hoor, het my ingewande gebewe; my lippe het getril by die geluid, bederf het gekom in my gebeente, ja, ek het gebewe waar ek staan, omdat ek rustig moes wag op die dag van benoudheid dat dit aanbreek vir die volk wat op ons ’n aanval maak” (3:16). Habakuk is egter vasbeslote dat hy, ongeag die swaar tye wat voorlê—geen bloeisel aan die vyeboom, geen vrugte aan die wingerdstokke, geen vee in die kraal nie—steeds in Jehovah sal jubel en in die God van sy heil sal juig. Hy sluit sy lied van vervoering af met die woorde: “[Jehovah die Soewereine Heer] is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes.”—3:19, vgl. NW.
WAAROM NUTTIG
12. Watter nuttige toepassings het Paulus van Habakuk 2:4 gemaak?
12 Die apostel Paulus het erken dat Habakuk se profesie nuttig is tot lering en het by drie geleenthede uit hoofstuk 2, vers 4, aangehaal. Toe Paulus beklemtoon het dat die goeie nuus God se krag tot redding is vir almal wat geloof het, het hy aan die Christene in Rome geskryf: “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.” Toe Paulus aan die Galasiërs geskryf het, het hy daarop nadruk gelê dat seën deur geloof kom: “Dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.” Paulus het ook in sy brief aan die Hebreërs geskryf dat Christene ’n lewende geloof tot behoud van die siel moet toon, en hy het weer na Jehovah se woorde aan Habakuk verwys. Hy haal egter nie net Habakuk se woorde, “die regverdige sal uit die geloof lewe” aan nie, maar ook sy verdere woorde volgens die Griekse Septuagint: “As hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie.” Ter opsomming sê hy dan: Ons het “geloof tot behoud van die lewe”.—Rom. 1:17; Gal. 3:11; Hebr. 10:38, 39.
13. Wat omtrent God se oordele word deur die akkurate vervulling van Habakuk se profesieë teen Juda en Babel beklemtoon?
13 Habakuk se profesie is vandag uiters nuttig vir Christene, wat krag nodig het. Dit leer ons om op God te vertrou. Dit is ook nuttig om ander oor God se oordele te waarsku. Die waarskuwende les is kragtig: Moenie dink dat God se oordele te lank vertoef nie; hulle sal ‘alte seker kom’ (Hab. 2:3). Die profesie dat Juda deur Babel vernietig sou word, hét waar gekom, en Babel self ís alte seker verower toe die Meders en Perse die stad in 539 v.G.J. ingeneem het. Wat ’n waarskuwing is dít tog om God se woorde te glo! Die apostel Paulus het dit dus nuttig gevind om Habakuk aan te haal toe hy die Jode van sy dag gewaarsku het om nie ongelowig te wees nie: “Pas dan op dat daar nie oor julle kom wat deur die profete gesê is nie: Kyk dan, julle veragters, en wees verwonderd en verdwyn! Want Ek gaan iets in julle dae doen, iets wat julle sekerlik nie sal glo as iemand julle dit vertel nie” (Hand. 13:40, 41; Hab. 1:5, LXX). Die ongelowige Jode het nie na Paulus geluister nie, net soos hulle nie Jesus se waarskuwing oor Jerusalem se vernietiging geglo het nie; hulle het die gevolge van hulle ongelowigheid ervaar toe Rome se leërs Jerusalem in 70 G.J. verwoes het.—Luk. 19:41-44.
14. (a) Hoe spoor Habakuk se profesie Christene vandag aan om sterk geloof te handhaaf? (b) Watter vreugdevolle vertroue kan liefhebbers van geregtigheid nou hê, soos gemeld in die profesie?
14 Habakuk se profesie spoor hedendaagse Christene eweneens aan om sterk geloof te handhaaf terwyl hulle in ’n wêreld vol geweld lewe. Dit help hulle om ander te leer en om die vraag te beantwoord wat mense dwarsoor die wêreld gestel het: Sal God wraak op die goddeloses uitoefen? Let weer op die woorde van die profesie: “Wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie” (Hab. 2:3). Watter beroeringe ook al op die aarde plaasvind, die gesalfde oorblyfsel van Koninkrykserfgename hou Habakuk se woorde oor Jehovah se wraakoefeninge in die verlede in gedagte: “U trek uit tot redding van u volk, tot redding van u Gesalfde” (3:13). Jehovah is inderdaad van lankal af hulle “Heilige” en die “Rots”, wat die onregverdiges sal bestraf en lewe sal gee aan diegene wat hy in sy liefde opneem. Almal wat geregtigheid liefhet, kan hulle verheug in sy Koninkryk en soewereiniteit en sê: “Ek [sal] jubel in [Jehovah], ek sal juig in die God van my heil. [Jehovah die Soewereine Heer] is my sterkte.”—1:12; 3:18, 19, vgl. NW.
[Voetnoot]
a The Book of the Twelve Minor Prophets, 1868, E. Henderson, bladsy 285.