Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jv hfst. 16 bl. 236-253
  • Vergaderinge—vir aanbidding, onderrigting en aanmoediging

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vergaderinge—vir aanbidding, onderrigting en aanmoediging
  • Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Daar word in die geestelike behoeftes van die vroeë Bybelstudente voorsien
  • Die herdenking van die Here se dood
  • Waar jongmense inpas
  • Almal word toegerus om bedrywige evangeliedienaars te wees
  • Die publiek word genooi om te sien en te hoor
  • Geskikte vergaderplekke
  • ’n Eenvormige onderrigtingsprogram
  • Vergaderinge vir aanbidding
    God se Koninkryk regeer!
  • Waarom moet ons vir aanbidding bymekaarkom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Die ontwikkeling van die organisasie se struktuur
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Vergaderinge wat ‘tot liefde en goeie werke aanspoor’
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
Sien nog
Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
jv hfst. 16 bl. 236-253

Hoofstuk 16

Vergaderinge—vir aanbidding, onderrigting en aanmoediging

GEMEENTELIKE vergaderinge is ’n belangrike deel van die bedrywigheid van Jehovah se Getuies. Selfs wanneer omstandighede dit baie moeilik maak, probeer hulle hulle vergaderinge gereeld bywoon, in ooreenstemming met die Bybel se vermaning: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebr. 10:24, 25). Waar moontlik hou elke gemeente drie keer per week vergaderinge, wat altesaam 4 uur en 45 minute duur. Maar die aard van die vergaderinge sowel as hoe dikwels hulle gehou is, het gewissel na gelang van wat op ’n spesifieke tyd nodig was.

In die eerste eeu het wonderdadige gawes van die gees ’n belangrike rol tydens Christelike vergaderinge gespeel. Waarom? Omdat God deur middel van hierdie gawes bewys gelewer het dat hy nie meer die Joodse godsdiensstelsel gebruik nie, maar dat sy gees nou op die pas gestigte Christengemeente rus (Hand. 2:1-21; Hebr. 2:2-4). Tydens die vroeë Christene se vergaderinge is daar gebid, lofliedere tot God gesing en klem gelê op profesieë (dit wil sê die oordra van openbaringe van die Goddelike wil en voorneme) en onderrig wat diegene sou opbou wat dit gehoor het. Daardie Christene het gelewe in ’n tyd toe daar wonderlike ontwikkelinge ten opsigte van God se voorneme was. Hulle moes hierdie gebeure verstaan en weet hoe om in ooreenstemming daarmee te werk. Maar sommige het sake by hulle vergaderinge nie op ’n gebalanseerde wyse hanteer nie, en soos die Bybel toon, het hulle raad nodig gehad sodat dinge op die voordeligste manier gedoen sou word.—1 Kor. 14:1-40.

Het die aspekte wat die vergaderinge van daardie vroeë Christene gekenmerk het ook deel uitgemaak van die vergaderinge van die Bybelstudente in die 1870’s en daarna?

Daar word in die geestelike behoeftes van die vroeë Bybelstudente voorsien

Charles Taze Russell en ’n groepie metgeselle in en om Allegheny, Pennsilvanië, het in 1870 ’n Bybelstudieklas begin. Hulle vergaderinge het daartoe gelei dat hulle liefde vir God en sy Woord geleidelik toegeneem en dat hulle stelselmatig gesien het wat die Bybel self leer. Daar was geen wonderdadige talespraak tydens hierdie vergaderinge nie. Waarom nie? Sulke wonderdadige gawes het in die eerste eeu aan hulle doel beantwoord en het opgehou, soos die Bybel voorspel het. “Die volgende stap na vooruitgang”, het broer Russell verduidelik, “is die openbaring van die vrugte van die Gees, soos St. Paulus baie duidelik toon” (1 Kor. 13:4-10). Bowendien was daar, soos ook in die eerste eeu, dringende evangelisasiewerk wat gedoen moes word, en hiervoor het hulle aanmoediging nodig gehad (Hebr. 10:24, 25). Hulle het kort voor lank twee gereelde vergaderinge per week gehou.

Broer Russell het besef dat dit belangrik is dat Jehovah se knegte ’n verenigde volk moet wees, waar hulle ook al op die aardbol woon. In 1879, kort nadat Die Wagtoring die lig gesien het, is sy lesers dus genooi om te versoek dat broer Russell of een van sy metgeselle hulle besoek. ’n Duidelike bepaling was: “Heeltemal gratis en geen geld word aanvaar nie.” Nadat ’n aantal versoeke ontvang is, het broer Russell vertrek op ’n maand lange reis wat hom tot by Lynn, Massachusetts, geneem het, en hy het by elke stilhouplek vier tot ses uur per dag vergaderinge gehou. Die aandag is gevestig op die onderwerp: “Dinge met betrekking tot die Koninkryk van God.”

Aan die begin van 1881 het broer Russell die lesers van Die Wagtoring wat nog nie gereelde vergaderinge in hulle gebied gehou het nie, aangespoor: “Begin een in jou huis met jou gesin of selfs ’n paar belangstellendes. Lees, studeer, loof God en aanbid saam, en waar twee of drie in Sy naam vergader, sal die Here in julle midde—julle onderrigter—wees. Dit is hoe sommige van die kerk se vergaderinge in die dae van die Apostels gehou is. (Sien Filemon 2.)”

Die program vir vergaderinge het geleidelik ontwikkel. Voorstelle is gedoen, maar elke plaaslike groep kon self besluit wat die beste in hulle omstandighede is. Soms het ’n spreker ’n toespraak gehou, maar daar is groter klem gelê op vergaderinge waaraan elkeen vryelik kon deelneem. Sommige klasse Bybelstudente het aanvanklik nie juis die Genootskap se publikasies veel tydens hulle vergaderinge gebruik nie, maar die reisende bedienaars, die pelgrims, het hulle help besef hoe nuttig dit is.

Nadat party dele van die Millennial Dawn uitgegee is, is dit as ’n grondslag vir studie begin gebruik. Die studiegroepe het in 1895 die naam Dawn Circles for Bible Study gekry.a Sommige in Noorweë het dit later “lees- en geselsvergaderinge” genoem en bygevoeg: “Uittreksels uit broer Russell se boeke is voorgelees, en wanneer mense kommentaar wou lewer of vrae wou vra, het hulle hulle hand opgesteek.” Broer Russell het voorgestel dat die aanwesiges tydens hierdie studies verskillende Bybelvertalings, kanttekeninge in die Bybel en Bybelkonkordansies gebruik. Die studies is dikwels met groepe van middelmatige grootte in ’n privaat woning gehou op ’n aand wat vir die groep gerieflik was. Hierdie vergaderinge was die voorlopers van die hedendaagse Gemeentelike Boekstudie.

Broer Russell het besef dat meer as net ’n studie van leerstellige sake nodig is. Daar moes ook betuigings van toegewydheid wees sodat mense se harte geraak sou word deur waardering vir God se liefde en ’n begeerte om hom te eer en te dien. Die klasse is aangemoedig om een keer per week ’n spesiale vergadering hiervoor te reël. Hierdie vergaderinge is soms “Cottage Meetings” genoem omdat hulle in privaat wonings gehou is. Die program het bestaan uit gebede, lofgesange en getuienisse wat deur diegene teenwoordig afgelê is.b Hierdie getuienisse was soms bemoedigende ondervindinge; dit het ook die beproewinge, probleme en moeilikhede ingesluit waarmee hulle in die voorafgaande dae te kampe gehad het. Hierdie vergaderinge het op sommige plekke glad nie aan hulle doel beantwoord nie omdat daar te veel klem op die persoon self gelê is. Die Wagtoring het vriendelike voorstelle aan die hand gedoen om die situasie te verbeter.

Edith Brenisen, die vrou van een van die vroeë pelgrims in die Verenigde State, het van daardie vergaderinge gesê: “Dit was ’n aand vir bepeinsing oor Jehovah se liefdevolle sorg en vir noue omgang met ons broers en susters. Terwyl ons na party van hulle ondervindinge geluister het, het ons hulle beter leer ken. Hulle getrouheid en die manier waarop hulle hulle probleme te bowe gekom het, het ons dikwels gehelp om van ons eie probleme op te los.” Dit het egter mettertyd duidelik geword dat vergaderinge wat daarop gemik is om elkeen vir die evangelisasiewerk toe te rus nuttiger was.

Die manier waarop die Sondagvergadering op sommige plekke gehou is, het die broers bekommer. Sommige klasse het die Bybel vers vir vers probeer bespreek. Maar die meningsverskille oor die betekenis van die verse was soms glad nie opbouend nie. Om die situasie te verbeter, het sommige in die gemeente in Los Angeles, Kalifornië, onderwerpsketse vir Bybelstudie saamgestel, met vrae en verwysings wat deur die hele klas bestudeer moes word voordat hulle die vergadering bywoon. In 1902 het die Genootskap ’n Bybel beskikbaar gestel wat “Berean Bible Study Helps” bevat het, asook ’n onderwerpindeks.c Om sake verder te vergemaklik, het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Maart 1905 af sketse vir gemeentelike besprekings bevat met vrae asook verwysings na die Bybel en die Genootskap se publikasies vir navorsing. Dit het tot in 1914 verskyn, waarna studievrae oor die dele van Studies in the Scriptures gepubliseer is om as ’n grondslag vir die Bereaanse studies te dien.

Al die klasse het dieselfde materiaal tot hulle beskikking gehad, maar die aantal weeklikse vergaderinge het van een tot vier of meer gewissel, na gelang van plaaslike reëlings. In Colombo, Ceylon (nou Sri Lanka), is daar vanaf 1914 selfs sewe dae per week vergaderinge gehou.

Die Bybelstudente is aangemoedig om te leer om navorsing te doen, om “alles te bewys”, om gedagtes in hulle eie woorde uit te druk (1 Thess. 5:21, KJ). Broer Russell het hulle aangemoedig om ’n breedvoerige en vrymoedige bespreking van die studiemateriaal te hê. Hy het ook gemaan: “Moet nooit vergeet dat die Bybel ons Standaard is en dat ons hulpe, hoe godgegewe hulle ook al is, net ‘hulpe’ en nie plaasvervangers vir die Bybel is nie.”

Die herdenking van die Here se dood

Die Bybelstudente het van ongeveer 1876 af jaarliks reëlings getref om die Here se dood te herdenk.d Aanvanklik het die groep in Pittsburgh, Pennsilvanië, en omgewing in die huis van een van die vriende bymekaargekom. Teen 1883 het die bywoningsyfer daar tot ongeveer honderd gestyg en het hulle ’n gehuurde saal gebruik. Om in 1905 sitplek aan die groot gehoor wat in Pittsburgh verwag is, te verskaf, het die broers besluit om die ruim Carnegie-saal te huur.

Die Bybelstudente het besef dat dit ’n jaarlikse viering moet wees, en nie iets wat elke week gedoen moet word nie. Hulle het dit gehou op die dag wat volgens die Joodse kalender ooreenkom met 14 Nisan, die dag toe Jesus gesterf het. Deur die jare heen is die manier waarop die datum uitgewerk is, verfyn.e Maar die hoofsaak was die betekenis van die gebeurtenis self.

Hoewel Bybelstudente op baie plekke in groepe van verskillende groottes vir hierdie viering bymekaargekom het, is enigiemand verwelkom wat saam met die broers in Pittsburgh kon vergader. Lesers van Die Wagtoring is van 1886 tot 1893 spesiaal genooi om na Pittsburgh toe te kom, indien moontlik, en hulle hét ook, uit verskillende dele van die Verenigde State en Kanada. Dit het hulle nie net in staat gestel om die Gedenkmaal saam te vier nie, maar het hulle ook gehelp om bande van geestelike eenheid te verstewig. Maar namate die aantal klasse in die Verenigde State sowel as in ander wêrelddele toegeneem het, was dit nie meer prakties om op een plek te probeer vergader nie, en hulle het besef dat dit beter sou wees om saam met medegelowiges in ’n mens se tuisgebied te vergader.

Soos Die Wagtoring getoon het, was daar baie wat bely het dat hulle in die losprys glo, en nie een van hulle is van die jaarlikse viering weggewys nie. Maar die geleentheid het spesiale betekenis gehad vir diegene wat waarlik tot Christus se “klein kuddetjie” behoort het. Dit is hulle wat deel van die hemelse Koninkryk sou uitmaak. Die aand voor Jesus se dood, toe hy die Gedenkmaal ingestel het, het Christus vir persone aan wie hierdie hoop uitgehou is, gesê: “Doen dit tot my gedagtenis.”—Luk. 12:32; 22:19, 20, 28-30.

Mense wat die vooruitsig gehad het om lede van die “groot menigte” ander skape te wees, het veral in die dertigerjare op die voorgrond begin tree (Openb. 7:9, 10; Joh. 10:16). Hulle is destyds die Jonadabs genoem. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) het hulle in sy nommer van 15 Februarie 1938 vir die eerste keer spesifiek genooi om die Gedenkmaal by te woon en gesê: “Na ses nm. op 15 April moet elke groep van die gesalfdes byeenkom en die Gedenkmaal vier terwyl hulle metgeselle die Jonadabs ook teenwoordig is.” Hulle het dit bygewoon, nie as deelnemers nie, maar as waarnemers. Hulle teenwoordigheid het die getal laat styg van diegene wat die herdenking van Christus se dood bygewoon het. In 1938 het altesaam 73 420 dit bygewoon, terwyl 39 225 die sinnebeeldige brood en wyn gebruik het. In die daaropvolgende jare het die waarnemers ook groot getalle belangstellendes en ander wat nog nie bedrywige Getuies van Jehovah was nie, begin insluit. Gevolglik was daar in 1992, toe ’n hoogtepunt van 4 472 787 aan die velddiens deelgeneem het, 11 431 171 wat die Gedenkmaal bygewoon het, en net 8 683 het die embleme gebruik. In sommige lande was die bywoningsyfer tot vyf of ses keer soveel as die aantal bedrywige Getuies daar.

As gevolg van Jehovah se Getuies se diepe respek vir die belangrikheid van Christus se dood vier hulle die Gedenkmaal selfs wanneer hulle in moeilike omstandighede verkeer. Gedurende die sewentigerjare, toe oorlogsaandklokreëls dit in Rhodesië (nou bekend as Zimbabwe) onmoontlik gemaak het om in die aand uit te gaan, het die broers in sommige gebiede gedurende die dag almal in die huis van een van Jehovah se Getuies bymekaargekom en dan die Gedenkmaal in die aand gevier. Hulle kon natuurlik nie ná die vergadering huis toe gaan nie en het dan daar oornag. Hulle het die res van die aand Koninkryksliedere gesing en ondervindinge vertel, wat ’n bykomende bron van verkwikking was.

Die Gedenkmaal is gedurende die Tweede Wêreldoorlog in konsentrasiekampe gevier, selfs al kon dit tot swaar straf gelei het as die wagte dit uitgevind het. Toe Harold King van 1958 tot 1963 weens sy Christelike geloof in afsondering in ’n gevangenis in Kommunistiese China was, het hy die Gedenkmaal so goed moontlik onder die omstandighede gevier. Hy het later gesê: “Uit my tronkvenster het ek opgelet hoe die maan na die aanvang van die lente voller begin word het. Ek het die datum vir die viering so noukeurig bereken as wat ek kon.” Hy het die nodige embleme geïmproviseer deur ’n bietjie wyn van swart korente te maak en rys, wat ongesuurd is, vir die brood te gebruik. Hy het ook gesê: “Ek het gesing en gebid en ’n behoorlike toespraak vir die geleentheid gehou, net soos in enige gemeente van Jehovah se volk gedoen sou word. Dus het ek elke jaar gevoel dat ek by hierdie allerbelangrikste geleentheid saam met my broers oor die hele aarde verenig was.”

Waar jongmense inpas

Die Bybelstudente se publikasies en vergaderinge het gedurende die vroeë jare nie juis veel aandag aan jongmense geskenk nie. Hulle kon die vergaderinge bywoon, en sommige het dit wel gedoen en aandagtig geluister. Maar daar is nie ’n spesiale poging aangewend om hulle te betrek by wat daar gedoen is nie. Waarom nie?

Die broers se begrip was destyds dat daar nog net ’n baie kort tydjie oor was voordat al die lede van Christus se bruid met hom in hemelse heerlikheid verenig sou word. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) het in 1883 verduidelik: “Ons wat vir die hoë roeping opgelei word, kan ons nie afwend van die spesiale werk van hierdie eeu nie—die werk om ‘die Bruid, die Lam se vrou’, voor te berei. Die Bruid moet haarself gereed kry; en juis op hierdie oomblik, wanneer die laaste afronding ter voorbereiding van die bruilof gedoen word, word elke lid se diens in hierdie allerbelangrikste werk van vandag vereis.”

Ouers is kragtig aangespoor om self hulle godgegewe verantwoordelikheid na te kom om hulle kinders geestelik te onderrig. Afsonderlike Sondagskole vir kinders is nie aangemoedig nie. Dit was duidelik dat die Christendom se gebruik van Sondagskole baie skade aangerig het. Ouers wat hulle kinders na sulke skole toe gestuur het, het dikwels gemeen dat hierdie reëling hulle bevry van die verantwoordelikheid om hulle kinders godsdiensonderrig te gee. Die kinders weer is nie beweeg om hulle ouers te eer en te gehoorsaam soos hulle moet nie, omdat hulle nie na hulle ouers opgesien het as hulle vernaamste bron van onderrigting oor God nie.

Maar Die Wagtoring (Engelse uitgawe) het van 1892 tot 1927 wel plek gemaak vir kommentare oor die teks wat in die “Internasionale Sondagskoollesse” verskyn het, wat destyds in baie Protestantse kerke gewild was. F. N. Peloubet, ’n Kongregasionalistiese geestelike, en sy assistente, het hierdie tekste jare lank gekies. Die Wagtoring het hierdie tekste op grond van die Bybelstudente se gevorderde begrip van die Skrif, vry van die Christendom se geloofsbelydenisse, bespreek. Daar is gehoop dat Die Wagtoring sodoende in sommige van die kerke in gebruik geneem sou word, dat die waarheid so oorgedra sou word en dat sommige kerklidmate dit sou aanvaar. Die verskil was natuurlik duidelik, en dit het die Protestantse geestelikes kwaad gemaak.

Die jaar 1918 het aangebreek en die oorblyfsel, of oorblywende lede van die gesalfdes, was nog op die aarde. Die aantal kinders by hulle vergaderinge het ook grootliks toegeneem. Die kinders is dikwels toegelaat om te speel terwyl hulle ouers gestudeer het. Maar jongmense moes ook leer om ‘geregtigheid te soek, ootmoedigheid te soek’ as hulle “verborge [wou] bly op die dag van die toorn van die HERE” (Sef. 2:3). In 1918 het die Genootskap die gemeentes derhalwe aangespoor om ’n jeugklas vir kinders van 8 tot 15 te reël. Op sommige plekke was daar selfs primêre klasse vir dié wat te jonk was om die jeugklas by te woon. Ouerlike plig ten opsigte van die kinders is terselfdertyd weer beklemtoon.

Dit het tot ander ontwikkelings gelei. The Golden Age het in 1920 ’n artikel getiteld “Jeugbybelstudie” bevat, met vrae asook teksverwysings waarin die antwoorde gevind kon word. The Golden Age ABC is daardie selfde jaar uitgegee; dit was ’n geïllustreerde boekie wat ouers kon gebruik om hulle kinders basiese Bybelwaarhede en Christelike eienskappe te leer. ’n Boek getiteld The Way to Paradise, wat deur W. E. van Amburgh geskryf is, het in 1924 gevolg. Dit is geskryf vir “intermediêre studente van die Bybel”. Dit is ’n tyd lank by die vergaderinge vir kinders gebruik. Daarbenewens het “Juniorgetuies” in Amerika hulle eie velddiensreëlings gehad. In Switserland het ’n groep jongmense ’n vereniging genaamd “Jehovah se jeug” vir dié tussen 13 en 25 gestig. Hulle het hulle eie sekretariskantoor in Bern gehad, en ’n spesiale tydskrif Jehovah’s Youth is geredigeer en op die Genootskap se drukperse in daardie land gedruk. Hierdie jongmense het hulle eie vergaderinge gehou en selfs Bybeldramas opgevoer, soos die een wat hulle in die Volkshaus in Zürich voor ’n gehoor van 1 500 opgevoer het.

Maar wat gebeur het, was dat ’n organisasie besig was om binne die organisasie van Jehovah se knegte te ontwikkel. Dit sou nie tot eenheid bydra nie en is in 1936 beëindig. Toe J. F. Rutherford, die Genootskap se president, Australië in April 1938 besoek het, het hy gevind dat daar benewens die byeenkoms vir volwassenes ’n afsonderlike klas vir kinders gehou word. Hy het onmiddellik gereël dat al die kinders by die groot byeenkoms aansluit, iets wat hulle grootliks tot nut gestrek het.

Die Wagtoring het in daardie selfde jaar die hele kwessie van afsonderlike klasse vir jongmense in die gemeente hersien. Daardie studie het weer eens beklemtoon dat dit die ouers se plig is om hulle kinders te onderrig. (Ef. 6:4; vergelyk Deuteronomium 4:9, 10; Jeremia 35:6-10.) Dit het ook getoon dat daar geen presedent in die Bybel is vir die afsondering van kinders deur middel van juniorklasse nie. Hulle moes eerder saam met hulle ouers aanwesig wees om na God se Woord te luister (Deut. 31:12, 13; Jos. 8:34, 35). Wanneer studiemateriaal verder verduidelik moes word, kon die ouers dit tuis doen. Die artikels het ook verduidelik dat reëlings vir sulke afsonderlike klasse in werklikheid afbreuk doen aan die verkondiging van die goeie nuus van huis tot huis. Waarom? Omdat die onderwysers nie velddiens gedoen het nie, sodat hulle vir hierdie klasse kon voorberei en dit kon gee. Al die afsonderlike klasse vir jongmense is dus gestaak.

Dit is tot vandag toe nog die gebruik onder Jehovah se Getuies dat die hele gesin die gemeentelike vergaderinge saam bywoon. Ouers help hulle kinders voorberei sodat hulle op gepaste wyse aan die vergaderinge kan deelneem. Daarbenewens is ouers van ’n uitstekende reeks publikasies voorsien wat hulle kan gebruik om jongmense tuis te onderrig. ’n Paar van die boeke is: Kinders, in 1941; Luister na die Groot Onderwyser, in 1971 (in Engels); Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut, in 1976; My boek met Bybelverhale, in 1978 en Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, in 1989.

Almal word toegerus om bedrywige evangeliedienaars te wees

Sedert die heel eerste nommers van Die Wagtoring gedruk is, word sy lesers gereeld herinner aan die voorreg en verantwoordelikheid van alle ware Christene om die goeie nuus oor God se voorneme te verkondig. Die gemeentelike vergaderinge het gehelp om hulle harte en verstande vir hierdie bedrywigheid voor te berei deur hulle liefde vir Jehovah en hulle kennis van sy voorneme te vergroot. Maar daar is veral ná die byeenkoms in Cedar Point, Ohio, in 1922, groter klem gelê op wat in die velddiens verrig word en hoe om dit doeltreffend te doen.

Die Bulletin,f ’n voubiljet wat inligting bevat het wat regstreeks met die velddiens verband gehou het, het ’n kort getuienis bevat, destyds werwing genoem, wat gememoriseer en gebruik moes word wanneer daar vir mense getuig is. Om die broers aan te spoor om ’n verenigde poging aan te wend om die Koninkryk te adverteer, is die helfte van die Gebeds-, Lof- en Getuienisvergadering op die eerste Woensdagaand van die maand gedurende die grootste gedeelte van 1923 vir velddiensondervindinge opsygesit.

Teen ongeveer 1926 is maandelikse vergaderinge waartydens die velddiens bespreek is Werkersvergaderinge genoem. Dit was diegene wat aan hierdie diens deelgeneem het wat gewoonlik hierdie vergaderinge bygewoon het. Maniere om vir ander te getuig, is gedurende hierdie vergaderinge bespreek, en reëlings vir toekomstige bedrywigheid is getref. Teen 1928 het die Genootskap die gemeentes aangespoor om elke week sulke vergaderinge te hou. Ná nog vier jaar het gemeentes begin om die Getuienisvergadering (of, Bekendmakingsvergadering) te vervang deur wat nou die Diensvergadering genoem word, en die Genootskap het almal aangemoedig om dit by te woon. Hierdie weeklikse vergadering word nou al meer as 60 jaar deur die gemeentes gehou. Spesifieke hulp met betrekking tot alle aspekte van die Christelike bediening word deur toesprake, besprekings met gehoordeelname, demonstrasies en onderhoude voorsien.

Hierdie soort vergadering het beslis nie sy oorsprong in die 20ste eeu nie. Jesus self het vir sy dissipels breedvoerige instruksies gegee voor hy hulle uitgestuur het om te gaan preek (Matt. 10:5–11:1; Luk. 10:1-16). Later het hulle mekaar opgebou deur bymekaar te kom en ondervindinge te vertel wat hulle tydens die bediening gehad het.—Hand. 4:21-31; 15:3.

Maar opleiding in die openbare spreekkuns het gedurende die vroeë jare nie by die gereelde gemeentelike vergaderinge aandag geniet nie. Maar ten minste teen 1916 is daar voorgestel dat diegene wat meen dat hulle potensiaal as openbare sprekers het hulle eie klasse hou, miskien met ’n ouere man teenwoordig as ’n moderator om na hulle te luister en raad te gee oor hoe om die inhoud van hulle toesprake en die manier waarop hulle dit hou te verbeter. Hierdie vergaderinge, wat net deur mans in die gemeente bygewoon is, is later Skole van die Profete genoem. Toe Grant Suiter aan die gebeure van daardie dae teruggedink het, het hy gesê: “Die opbouende kritiek wat ek by die skool gekry het, was niks in vergelyking met wat ek van my vader ontvang het nadat hy een van die sessies bygewoon het om na my toespraak te luister nie.” Om diegene te help wat vooruitgang probeer maak het, het die broers self ’n handboek met instruksies oor die spreekkuns, asook sketse vir ’n verskeidenheid toesprake, saamgestel en gedruk. Hierdie Skole van die Profete is egter mettertyd afgeskaf. Ten einde in die spesiale behoefte te voorsien wat destyds bestaan het, is die aandag ten volle daarop gevestig om elke gemeentelid toe te rus om ’n volle aandeel aan die evangelisasiewerk van huis tot huis te hê.

Was dit moontlik om elke lid van hierdie groeiende internasionale organisasie toe te rus om nie net ’n kort getuienis te gee en Bybellektuur aan te bied nie, maar ook om ’n bekwame prediker en onderrigter van God se Woord te wees? Dit was die doel van ’n spesiale skool wat in 1943 in elke gemeente van Jehovah se Getuies begin is. Dit was reeds sedert Februarie 1942 by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in werking. Onderrig is elke week gegee, en studente het toesprake gehou en is raad daaroor gegee. Eers het net mans toesprake op die skool gehou, hoewel die hele gemeente aangemoedig is om dit by te woon, die lesse voor te berei en aan die hersienings deel te neem. Die susters het in 1959 ook die voorreg ontvang om in te skryf sodat hulle opgelei kon word om Bybelonderwerpe op ’n persoonlike grondslag te bespreek.

Die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Suid-Afrika het die volgende oor die uitwerking van hierdie skool gesê: “Hierdie uitstekende reëling het in ’n kort tydjie talle broers wat gedink het dat hulle nooit openbare sprekers sal wees nie, gehelp om baie bekwaam op die verhoog te word en groter welslae in die veld te behaal. Die broers in alle dele van Suid-Afrika het hierdie nuwe voorsiening van Jehovah verwelkom en dit geesdriftig in werking gestel. Dit is gedoen ten spyte van groot taalhindernisse en die feit dat sommige geen skoolopleiding gehad het nie.”

Die Teokratiese Bedieningskool is steeds ’n belangrike vergadering in die gemeentes van Jehovah se Getuies. Byna almal wat kan, skryf vir die skool in. Jonk en oud, nuwe Getuies en diegene met baie ervaring, neem deel. Dit is ’n voortgesette onderrigtingsprogram.

Die publiek word genooi om te sien en te hoor

Jehovah se Getuies is in geen opsig ’n geheime vereniging nie. Hulle Bybelse oortuigings word breedvoerig verduidelik in publikasies wat vir almal beskikbaar is. Daarbenewens wend hulle spesiale pogings aan om die publiek na vergaderinge te nooi sodat hulle self kan sien en hoor wat daar gebeur.

Jesus Christus het sy dissipels persoonlike onderrig gegee, maar hy het ook in die openbaar gepraat—langs die seestrand, op ’n berghang, in sinagoges, op die tempelterrein in Jerusalem—waar die skares hom kon hoor (Matt. 5:1, 2; 13:1-9; Joh. 18:20). Die Bybelstudente het in navolging hiervan reeds in die 1870’s vergaderinge begin reël waar vriende en bure en ander belangstellendes na ’n toespraak oor God se voorneme vir die mens kon luister.

Spesiale pogings is aangewend om hierdie toesprake op plekke te hou wat vir die publiek gerieflik was. Dit het as klasuitbreidingswerk bekend gestaan. In 1911 is die gemeentes wat genoeg bekwame sprekers gehad het, aangemoedig om te reël dat party van hulle na omliggende stede en dorpe gaan om daar vergaderinge in openbare sale te hou. Waar moontlik het hulle ’n reeks van ses toesprake gereël. Ná die laaste toespraak het die spreker dan gevra hoeveel in die gehoor genoeg in Bybelstudie belangstel om gereeld bymekaar te kom. Gedurende die eerste jaar is meer as 3 000 sulke toesprake gehou.

Die “Fotodrama van die Skepping” is van 1914 af ook aan die publiek vertoon. Die broers het geen toegangsgeld gevra nie. Hulle het sedertdien ander rolprente en skyfievertonings gebruik. Die radio is van die twintigerjare af goed deur die Wagtoringgenootskap gebruik, wat dit vir mense moontlik gemaak het om Bybeltoesprake in hulle eie huis te hoor. Toe, in die dertigerjare, is toesprake wat deur J. F. Rutherford gehou is, opgeneem en by duisende openbare samekomste gespeel.

Teen 1945 is ’n groot aantal openbare sprekers reeds in die Teokratiese Bedieningskool opgelei. In Januarie van daardie jaar is ’n goed gekoördineerde kampanje van openbare vergaderinge van stapel gestuur. Die Genootskap het sketse vir ’n reeks van agt tydige toesprake voorsien. Strooibiljette, ook plakkate, is gebruik om dit te adverteer. Die broers het nie net die gemeentes se gereelde vergaderplekke gebruik nie, maar het spesiale pogings aangewend om hierdie openbare vergaderinge te reël in gebiede waar daar geen gemeente was nie. Almal in die gemeentes kon daaraan deelneem—deur die vergaderinge te adverteer, deur hulle persoonlik by te woon sowel as deur nuwelinge te verwelkom en hulle vrae te beantwoord. Gedurende die eerste jaar van hierdie spesiale bedrywigheid is daar 18 646 openbare vergaderinge in die Verenigde State gehou, en altesaam 917 352 het dit bygewoon. Die aantal openbare vergaderinge het die volgende jaar in Amerika tot 28 703 gestyg. En in Kanada waar 2 552 sulke vergaderinge in 1945 gereël is, was daar die volgende jaar 4 645.

Openbare vergaderinge maak nou in die meeste gemeentes van Jehovah se Getuies deel uit van die gereelde rooster van weeklikse vergaderinge. Hulle is in die vorm van ’n toespraak waartydens almal aangemoedig word om die sleutelbybeltekste na te slaan wanneer hulle gelees en bespreek word. Hierdie vergaderinge is ’n ryk bron van geestelike onderrig vir die gemeente sowel as vir nuwelinge.

Mense wat die vergaderinge van Jehovah se Getuies vir die eerste keer bywoon, is dikwels aangenaam verras. ’n Vooraanstaande politikus in Zimbabwe het na ’n Koninkryksaal toe gegaan om uit te vind wat daar aangaan. Hy was ’n gewelddadige man en het opsetlik gegaan sonder om te skeer en sy hare te kam. Hy het verwag dat die Getuies hom sou wegjaag. Pleks daarvan het hulle opregte belangstelling in hom getoon en hom aangemoedig om ’n tuisbybelstudie te hê. Hy is nou ’n nederige en vredeliewende Christengetuie.

Daar is miljoene mense wat, nadat hulle die vergaderinge van Jehovah se Getuies bygewoon het, beweeg is om te sê: ‘God is werklik onder julle.’—1 Kor. 14:25.

Geskikte vergaderplekke

In die dae van Jesus Christus se apostels het Christene dikwels hulle vergaderinge in privaat wonings gehou. In sommige plekke kon hulle in Joodse sinagoges praat. In Efese het die apostel Paulus twee jaar lank toesprake in ’n skoolouditorium gehou (Hand. 19:8-10; 1 Kor. 16:19; Fil. 1, 2). Die Bybelstudente het eweneens aan die einde van die 19de eeu in privaat wonings byeengekom, soms in kapelle gepreek en ander sale gebruik wat hulle kon huur. In ’n paar gevalle het hulle later geboue gekoop wat eers deur ander godsdiensgroepe gebruik is en dit dan gereeld gebruik. Dit was die geval met die Brooklyn Tabernacle en die London Tabernacle.

Maar hulle het nie swierige geboue vir hulle vergaderinge nodig gehad nie en wou ook nie sulke geboue hê nie. ’n Paar gemeentes het gepaste geboue gekoop en opgeknap; ander het nuwe sale gebou. Die naam Koninkryksaal het ná 1935 geleidelik in gebruik gekom om hierdie plekke as gemeentelike vergaderplekke te onderskei. Die geboue is gewoonlik mooi, maar nie spoggerig nie. Die boustyl verskil miskien van plek tot plek, maar die geboue is funksioneel.

’n Eenvormige onderrigtingsprogram

Aan die einde van die 19de eeu en die begin van die 20ste eeu het die geestelike groei en bedrywigheid heelwat van gemeente tot gemeente verskil. Hulle het sekere grondleerstellings gemeen gehad wat hulle van die Christendom afgeskei het. Maar terwyl sommige broers ’n diepe waardering gehad het vir die kanaal waardeur Jehovah sy volk gevoed het, is ander maklik gelei deur die opinies van individue wat sterk persoonlike beskouings oor sake gehad het.

Jesus het voor sy dood gebid dat sy volgelinge “almal een mag wees”—in eenheid met God en Christus en met mekaar (Joh. 17:20, 21). Dit moes nie ’n gedwonge eenheid wees nie. Dit sou die gevolg wees van ’n eenvormige onderrigtingsprogram wat ontvanklike harte geraak het. Soos daar lank gelede voorspel is: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees” (Jes. 54:13). As hulle daardie vrede ten volle wou geniet, moes almal die geleentheid hê om baat te vind by die progressiewe onderrigting wat Jehovah deur sy sigbare kommunikasiekanaal voorsien.

Die Bybelstudente het die verskillende dele van Studies in the Scriptures, tesame met die Bybel, jare lank as ’n grondslag vir hulle besprekings gebruik. Dit het inderdaad geestelike “voedsel op tyd” bevat (Matt. 24:45). Maar ’n voortgesette ondersoek van die Skrif onder leiding van God se gees het dit duidelik laat blyk dat daar meer was om te leer en dat Jehovah se knegte nog baie geestelike reiniging moes ondergaan (Mal. 3:1-3; Jes. 6:1-8). Ná die oprigting van die Koninkryk in 1914 het baie profesieë boonop vinnig na mekaar in vervulling begin gaan, en hulle het getoon dat daar dringende werk is waarmee alle ware Christene besig moet wees. Hierdie tydige skriftuurlike inligting is gereeld deur middel van Die Wagtoring voorsien.

Omdat hulle besef het dat nie almal in die gemeentes by hierdie artikels baat gevind het nie, het van die reisende verteenwoordigers van die Genootskap aan die hoofkwartier voorgestel dat al die gemeentes Die Wagtoring tydens gereelde weeklikse vergaderinge bestudeer. Daardie voorstel is aan die gemeentes oorgedra, en die “Berean Questions” wat tydens die studie van die hoofartikels in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) gebruik is, het van die nommer van 15 Mei 1922 af gereeld in die tydskrif verskyn. Die meeste gemeentes het een of meer keer per week so ’n studie gehou, maar hoe deeglik hulle die inhoud van die tydskrif werklik bestudeer het, het van gemeente tot gemeente verskil. Op sommige plekke het hierdie studie twee uur of langer geduur omdat die studiehouer baie te sê gehad het.

Gedurende die dertigerjare het teokratiese organisasie egter demokratiese prosedures vervang. Dit het ’n groot invloed op die beskouing van die studie van Die Wagtoringg gehad. Daar is groter klem gelê op die begrip van die studiemateriaal wat deur die Genootskap voorsien is. Diegene wat die vergaderinge gebruik het as geleenthede om hulle eie opinies te lug en wat nie die verantwoordelikheid wou aanvaar om aan die veldbediening deel te neem nie, het hulle geleidelik onttrek. Die broers is geduldig gehelp om te leer om die studie tot ’n uur te beperk. Gevolglik was daar groter deelname; vergaderinge was lewendiger. ’n Gees van ware eenheid het ook in die gemeentes begin heers, danksy ’n eenvormige geestelike voedingsprogram waarin God se Woord die maatstaf vir waarheid was.

In 1938 is Die Wagtoring in ongeveer 20 tale gedruk. Alles het eers in Engels verskyn. Dit het soms etlike maande of selfs ’n jaar geduur voordat dit in ander tale beskikbaar was, aangesien die vertaal- en drukwerk tyd geverg het. Maar as gevolg van die verandering in drukmetodes word Die Wagtoring sedert die tagtigerjare gelyktydig in baie tale uitgegee. Teen 1992 kon gemeentes wat een van 66 tale verstaan dieselfde materiaal op dieselfde tyd bestudeer. Die meeste van Jehovah se Getuies oor die wêreld heen geniet dus week na week dieselfde geestelike voedsel. Jehovah se volk geniet ’n reëling vir die gelyktydige inname van geestelike voedsel in die hele Noord- en Suid-Amerika, in die meeste dele van Europa, in ’n aantal lande in die Ooste, op baie plekke in Afrika en op talle eilande rondom die aarde. Saam word hulle “verenig . . . in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening”.—1 Kor. 1:10.

Bywoningsyfers van hulle gemeentelike vergaderinge toon dat Jehovah se Getuies hulle vergaderinge ernstig opneem. In Italië, waar daar in 1989 ongeveer 172 000 bedrywige Getuies was, is die weeklikse Koninkryksaalvergaderinge deur 220 458 bygewoon. Daarenteen berig ’n Katolieke persburo dat 80 persent van die Italianers sê dat hulle Katolieke is, maar dat net ongeveer 30 persent kerkdienste enigsins gereeld bywoon. In Brasilië lyk die prentjie verhoudingsgewys dieselfde. In 1989 het die Nasionale Kerk in Denemarke beweer dat 89,7 persent van die bevolking lidmate daarvan is, maar net 2 persent het een keer per week kerk toe gegaan! Bywoningsyfers onder Jehovah se Getuies in Denemarke was gedurende daardie selfde tyd 94,7 persent. ’n Opname wat in 1989 in Duitsland deur die Allensbach-meningsnavorsingsinstituut gedoen is, het getoon dat 5 persent van die Lutherane en 25 persent van die Katolieke in die Bondsrepubliek gereeld kerk toe gaan. Maar daar was elke week meer mense by die Koninkryksale van Jehovah se Getuies as wat daar Getuies was.

Diegene wat die vergaderinge bywoon, doen dikwels groot moeite om daar te wees. In die tagtigerjare het ’n 70-jarige vrou in Kenia gereeld tien kilometer gestap, onder meer deur ’n rivier, om elke week by die vergaderinge te kom. ’n Koreaanse Getuie in die Verenigde State het gereeld drie uur gereis net om by vergaderinge in haar eie taal uit te kom, en dit het ’n bus-, trein- en bootrit, asook ’n entjie se stap, behels. In Suriname het ’n gesin met ’n klein inkomste elke week ’n volle dag se loon aan busgeld uitgegee om by die vergaderinge te kom. In Argentinië het ’n gesin gereeld 50 kilometer gereis en ’n kwart van die gesin se inkomste bestee om vergaderinge vir Bybelstudie by te woon. Waar sommige weens siekte glad nie gemeentelike vergaderinge kan bywoon nie, word daar dikwels reëlings getref dat hulle die program deur middel van ’n telefoonverbinding of ’n bandopname kan hoor.

Jehovah se Getuies neem die Bybel se raad ernstig op om nie die onderlinge byeenkoms vir geestelike opbouing te versuim nie (Hebr. 10:24, 25). En hulle woon nie net die vergaderinge in hulle plaaslike gemeentes by nie. Die bywoning van byeenkomste is ook ’n hoogtepunt van hulle jaarlikse program.

[Voetnote]

a Hierdie vergaderinge is later Berean Circles for Bible Study genoem, na aanleiding van die eerste-eeuse Bereane wat geprys is omdat hulle “die Skrif sorgvuldig ondersoek” het.—Hand. 17:11, NW.

b Vanweë hulle inhoud is hierdie vergaderinge ook Gebeds-, Lof- en Getuienisvergaderinge genoem. Met die oog op die belangrikheid van gebed is daar naderhand voorgestel dat die vergadering een keer elke drie maande net ’n biddiens moet wees, wat gesange maar geen ondervindinge nie insluit.

c Die Bereaanse studiehulpe is in 1907 hersien, grootliks uitgebrei en bygewerk. Nog ongeveer 300 bladsye nuttige materiaal is by die uitgawe van 1908 gevoeg.

d Dit is soms die antitipiese Pasga genoem, dit wil sê die herdenking van die dood van Jesus Christus, wat deur die Pasgalam afgeskadu is en dus in 1 Korinthiërs 5:7 “ons paaslam . . . , naamlik Christus” genoem word. Dit is in ooreenstemming met 1 Korinthiërs 11:20 ook die nagmaal van die Here genoem. Dit is soms die “Herdenkingsnagmaal” genoem om so die aandag te vestig op die feit dat dit ’n jaarlikse viering is.

e Vergelyk die nommers van Die Wagtoring (Engelse uitgawe) vir Maart 1891, bladsye 33-4; 15 Maart 1907, bladsy 88; 1 Februarie 1935, bladsy 46 en Die Wagtoring van 1 Junie 1948, bladsye 168-9 (Engelse uitgawe, 1 Februarie 1948).

f Selfs voor 1900 is ’n pamflet, Suggestive Hints to Colporteurs, aan diegene gestuur wat vir hierdie spesiale diens ingeskryf het. Die Bulletin het in 1919 verskyn as stimulus vir die velddiens, aanvanklik om The Golden Age te versprei en later met betrekking tot al die verskillende evangelisasiebedrywighede.

g Die naam Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence is op 1 Januarie 1909 verander na The Watch Tower and Herald of Christ’s Presence. Van 15 Oktober 1931 af was die naam The Watchtower and Herald of Christ’s Presence.

[Lokteks op bladsy 237]

Vergaderinge met persoonlike deelname is aangemoedig

[Lokteks op bladsy 238]

Nie net ’n verstandelike filosofie nie, maar betuigings wat die hart sou raak

[Lokteks op bladsy 246]

Almal in die gesin word aangemoedig om vergaderinge saam by te woon

[Lokteks op bladsy 252]

Die geestelike voedingsprogram word eenvormig gemaak

[Lokteks op bladsy 253]

Die Getuies neem hulle vergaderinge ernstig op

[Prente op bladsy 239]

Vroeë gemeentes

Teen 1916 was daar sowat 1 200 groepe Bybelstudente wêreldwyd

Durban, Suid-Afrika, 1915 (regs bo); Brits-Guiana (Guyana), 1915 (middel regs); Trondheim, Noorweë, 1915 (regs onder); Hamilton, Ont., Kanada, 1912 (onder); Ceylon (Sri Lanka), 1915 (links onder); Indië, 1915 (links bo)

[Venster/Prente op bladsy 240, 241]

Loof Jehovah met sang

Net soos die eertydse Israeliete en Jesus self liedere in aanbidding gebruik het, doen Jehovah se Getuies dit vandag ook (Neh. 12:46; Mark. 14:26). Terwyl hierdie sang lof aan Jehovah en waardering vir sy werke uitdruk, help dit om Bybelwaarhede in die hart sowel as die verstand in te prent.

Jehovah se Getuies het deur die jare heen al baie liederebundels gebruik. Die woorde is bygewerk in ooreenstemming met die progressiewe begrip van God se Woord.

1879: “Songs of the Bride”

(144 gesange wat die begeertes en verwagtinge van Christus se bruid weergee)

1890: “Poems and Hymns of Millennial Dawn”

(151 gedigte en 333 gesange wat sonder musiek gepubliseer is. Die meeste was werke van bekende skrywers)

1896: “Die Wagtoring” (Engelse uitgawe) van 1 Februarie is gewy aan “Zion’s Glad Songs of the Morning”

(Woorde vir 11 liedere, met musiek; die Bybelstudente het die lirieke geskryf)

1900: “Zion’s Glad Songs”

(82 liedere, waarvan baie deur een Bybelstudent geskryf is; om die vroeëre versameling aan te vul)

1905: “Hymns of the Millennial Dawn”

(Die 333 liedere wat in 1890 gepubliseer is, maar met musiek)

1925: “Kingdom Hymns”

(80 liedere, met musiek, spesiaal vir kinders)

1928: “Songs of Praise to Jehovah”

(337 liedere, ’n kombinasie van nuwes wat deur die Bybelstudente geskryf is en ouer gesange. Daar is in die lirieke ’n spesiale poging aangewend om weg te breek van die idees van valse godsdiens en van skepselaanbidding)

1944: “Koninkryksdiens—Liedereboek”

(62 liedere. Aangepas vir Koninkryksdiensbehoeftes van die tyd. Geen erkenning is gegee aan skrywers of komponiste nie)

1950: “Liedere tot lof van Jehovah” (in Engels)

(91 liedere. Hierdie liedereboek het nuwer temas gehad en weggedoen met verouderde taal. Dit is in 18 tale vertaal)

1966: “Sing en begelei julself met musiek in julle hart” (in Engels)

(119 liedere wat elke aspek van die Christen se lewe en aanbidding dek. Die musiek wat die Genootskap geweet het ’n oorsprong by sekulêre bronne of valse godsdiens gehad het, is verwyder. Orkesopnames van die hele boek is gemaak en goed gebruik as begeleiding tydens gemeentelike vergaderinge. Daar is ook sangopnames van ’n paar van die liedere gemaak. Van 1980 af is orkesopnames van “Kingdom Melodies” gemaak sodat mense opbouende musiek tuis kan geniet)

1984: “Sing lofliedere voor Jehovah” (in Engels)

(225 Koninkryksliedere met woorde en melodieë wat geheel en al deur toegewyde knegte van Jehovah in alle wêrelddele gekomponeer is. Plate en kassette is vir begeleiding gemaak)

Tydens hulle vroeë Cottage Meetings het die Bybelstudente lofliedere gesing. Sang het ook gou deel van hulle byeenkomste begin uitmaak. Sommige het voor ontbyt ’n lied gesing as deel van hulle oggendgodsdiens, soos dit baie jare lank by die Bible House gedoen is. Hoewel die meeste plaaslike gemeentes in ongeveer 1938 met sang weggedoen het, is daar in 1944 weer daarmee begin, en dit is steeds ’n belangrike deel van die gemeentelike vergaderinge en byeenkomsprogramme van Jehovah se Getuies.

[Prent]

Karl Klein dirigeer ’n byeenkomsorkes in 1947

[Grafiek op bladsy 242]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die herdenking van Christus se dood

Bedrywige Getuies

Bywoningsyfer

11,000,000

10,000,000

9,000,000

8,000,000

7,000,000

6,000,000

5,000,000

4,000,000

3,000,000

2,000,000

1,000,000

1935 1945 1955 1965 1975 1985 1992

[Prent op bladsy 243]

Hoewel Harold King in ’n Chinese gevangenis in afsondering was, het hy steeds die Gedenkmaal gevier

[Prente op bladsy 244]

Jeugbybelklas in Duitsland in die vroeë dertigerjare

[Prente op bladsy 244]

Jong Getuies het hierdie tydskrif (onder) in die middel-dertigerjare in Switserland uitgegee en Bybeldramas (middel onder) voor groot gehore opgevoer

[Prent op bladsy 247]

Die “Bulletin” (1919-35), “Director” (1935-36), “Voorligter” (1936-56) en nou “Ons Koninkryksbediening” in 100 tale—almal het nog altyd gereeld instruksies verskaf vir ’n verenigde veldbediening deur Jehovah se Getuies

[Prent op bladsy 248]

Demonstrasies by Diensvergaderinge help Getuies om hulle persoonlike veldbediening te verbeter (Swede)

[Prent op bladsy 249]

Jong Getuie in Kenia doen ondervinding op deur ’n toespraak in die Teokratiese Bedieningskool vir sy pa te hou

[Prent op bladsy 250]

Bybelstudiemateriaal vir gemeentes van Jehovah se Getuies is van 1992 af gelyktydig in 66 tale gedruk, en daar kom al hoe meer tale by

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel