Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jv hfst. 23 bl. 521-546
  • Sendelinge bevorder wêreldwye uitbreiding

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sendelinge bevorder wêreldwye uitbreiding
  • Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gileadskool
  • Hierdie sendelinge was anders
  • Lewensomstandighede en gebruike
  • Die uitdaging van ’n nuwe taal
  • Nuwe velde word geopen, ander word uitgebrei
  • Sommige het graag geluister
  • Liefdevolle hulp aan mede-Getuies
  • Hulle bied die uitdaging van reisende diens die hoof
  • Ander word aangespoor om die voltydse diens te betree
  • Die behoeftes van ’n groeiende organisasie
  • Hulle ondervind teëstand
  • Kursusse om in spesiale behoeftes te voorsien
  • “Hier is ek, stuur my”
  • Hoe daar vandag ware dissipels gemaak word
    Ontwaak!—1994
  • Sendelinge “tot in die mees afgeleë deel van die aarde”
    Hoe jou donasies gebruik word
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Voltydse bedienaars aan die spits van die predikingswerk
    Jehovah se Getuies—Verenig in die uitvoering van God se wil wêreldwyd
Sien nog
Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
jv hfst. 23 bl. 521-546

Hoofstuk 23

Sendelinge bevorder wêreldwye uitbreiding

DIE geesdriftige bedrywigheid van sendelinge wat gewillig is om te dien waar hulle ook al nodig is, het ’n belangrike rol in die wêreldwye verkondiging van God se Koninkryk gespeel.

Lank voor die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap ’n skool hiervoor gestig het, is sendelinge al na ander lande gestuur. Die Genootskap se eerste president, C. T. Russell, het besef hoe belangrik dit is dat bekwame mense met die verkondiging van die goeie nuus in die buiteland begin en die voortou daarmee neem. Hy het manne met daardie doel uitgestuur—Adolf Weber na Europa, E. J. Coward na die Karibiese gebied, Robert Hollister na die Ooste en Joseph Booth na Suidelike Afrika. Ongelukkig het Joseph Booth meer in sy eie sake belanggestel; daarom is William Johnston in 1910 uit Skotland na Njassaland (nou Malawi) gestuur waar mnr. Booth se ongunstige invloed veral ondervind is. Daarna is broer Johnston die taak gegee om ’n takkantoor vir die Wagtoringgenootskap in Durban, Suid-Afrika, te begin, en later het hy as takopsiener in Australië gedien.

Ná die Eerste Wêreldoorlog het J. F. Rutherford selfs nog sendelinge uitgestuur—byvoorbeeld, Thomas Walder en George Phillips uit Brittanje na Suid-Afrika, W. R. Brown uit ’n toewysing in Trinidad na Wes-Afrika, George Young uit Kanada na Suid-Amerika en Europa, Juan Muñiz eers na Spanje en toe na Argentinië, George Wright en Edwin Skinner na Indië, gevolg deur Claude Goodman, Ron Tippin en ander. Hulle was ware pioniers en het na gebiede gegaan waar die goeie nuus nog min of glad nie verkondig is nie en het ’n vaste grondslag vir toekomstige organisatoriese groei gelê.

Daar was ook ander wie se sendinggees hulle beweeg het om die predikingswerk in ander lande te doen. Onder hulle was Kate Goas en haar dogter Marion, wat jare lank toegewyd en ywerig in Colombia en Venezuela gedien het. Nog so iemand was Joseph Dos Santos, wat uit Hawaii op ’n predikingsreis vertrek het wat tot ’n bediening van 15 jaar in die Filippyne gelei het. Dan was daar Frank Rice wat per vragskip van Australië af gereis het om die verkondiging van die goeie nuus op die eiland Java (nou Indonesië) te begin.

In 1942 het planne egter vorm aangeneem vir ’n skool met ’n kursus wat spesifiek ontwerp is om manne sowel as vroue op te lei wat bereid is om so ’n sendingwerk te doen waar hulle ook al in die wêreldveld nodig is.

Gileadskool

Te midde van ’n wêreldoorlog het dit moontlik uit ’n menslike standpunt onprakties gelyk om vir die uitbreiding van die Koninkrykspredikingswerk in die buiteland te beplan. Tog, met vertroue op Jehovah, het die direkteure van twee van die vernaamste wetlike korporasies wat deur Jehovah se Getuies gebruik is in September 1942 N. H. Knorr se voorstel goedgekeur vir die stigting van ’n skool om sendelinge en ander vir gespesialiseerde diens op te lei. Dit sou die Wagtoring-Bybelkollege Gilead genoem word. Daardie naam is later na die Wagtoring-Bybelskool Gilead verander. Geen klasgeld sou gevra word nie, en die Genootskap sou koste vir die studente se verblyf en voedsel tydens hulle opleiding dek.

Albert D. Schroeder, wat toe reeds baie ondervinding in die Diensafdeling by die Genootskap se hoofkwartier in Brooklyn en as die Genootskap se takopsiener in Brittanje opgedoen het, was onder diegene wat genooi is om met die opstel van die studiekursus te help. Sy positiewe lewensbeskouing, sy selfopoffering en sy vurige belangstelling in die studente het hom bemind gemaak by diegene wat hy onderrig het tydens die 17 jaar wat hy as die registrateur van en as ’n instrukteur in die skool gedien het. In 1974 het hy ’n lid van die Bestuursliggaam geword, en die daaropvolgende jaar is hy aangewys om op die Bestuursliggaam se Onderrigtingskomitee te dien.

Broer Schroeder en sy mede-instrukteurs (Maxwell Friend, Eduardo Keller en Victor Blackwell) het ’n vyf maande lange studiekursus opgestel wat die aandag gevestig het op ’n studie van die Bybel self en teokratiese organisering, sowel as Bybelleerstellings, die openbare spreekkuns, velddiens, sendingdiens, godsdiensgeskiedenis, die Goddelike wet, optrede teenoor regeringsamptenare, die volkereg, die hou van verslae en ’n vreemde taal. Deur die jare heen is die leerplan verander, maar ’n studie van die Bybel self en die belangrikheid van die evangelisasiewerk het altyd die belangrikste plek beklee. Die kursus is daarop gemik om die studente se geloof te versterk en om hulle te help om die geestelike eienskappe aan te kweek wat hulle nodig het om die uitdagings van die sendingdiens met welslae die hoof te bied. Die belangrikheid van algehele vertroue op Jehovah en lojaliteit teenoor hom word beklemtoon (Ps. 146:1-6; Spr. 3:5, 6; Ef. 4:24, NW). Studente ontvang nie vooraf uitgewerkte antwoorde op alles nie, maar word geleer om navorsing te doen en gehelp om te verstaan waarom Jehovah se Getuies glo wat hulle glo en waarom hulle dinge op ’n sekere manier doen. Hulle leer om beginsels te onderskei waarmee hulle kan werk. Sodoende word ’n grondslag vir verdere groei gelê.

Uitnodigings aan voornemende studente vir die eerste klas is op 14 Desember 1942 gepos. Die 100 studente wat daardie klas uitgemaak het, het hulle in die middel van die winter ingeskryf by die skoolfasiliteite in noordelike New York, in South Lansing. Hulle was gewillig, ywerig en ’n bietjie senuweeagtig. Hoewel hulle studies die voorrang geniet het, kon hulle nie help om te wonder na watter deel van die wêreldveld hulle ná hulle graduering gestuur sou word nie.

In ’n toespraak aan die eerste klas op 1 Februarie 1943, die openingsdag van die skool, het broer Knorr gesê: “Julle word verder voorberei vir werk soortgelyk aan dié van die apostel Paulus, Markus, Timotheüs en ander wat na alle dele van die Romeinse Ryk gereis en die boodskap van die Koninkryk verkondig het. Hulle moes met die Woord van God versterk word. Hulle moes ’n helder kennis van Sy voornemens hê. Op baie plekke moes hulle alleen staan voor die hoës en magtiges van hierdie wêreld. Julle deel mag dieselfde wees; en God sal julle sterkte daartoe gee.

“Daar is baie plekke waar die getuienis aangaande die Koninkryk nog nie in ’n groot mate gegee is nie. Die mense wat in hierdie plekke woon, is in duisternis en word deur religie daar gehou. In sommige van hierdie lande waar daar ’n paar Getuies is, word gemerk dat die mense van welwillendheid geredelik gehoor gee en hulle met die Here se organisasie sou verenig, as hulle behoorlik onderrig word. Daar moet honderde en duisende meer wees wat bereik kon word as daar meer arbeiders op die veld was. Deur die Here se genade sal daar meer wees.

“Dit is NIE die doel van hierdie kollege om julle toe te rus om geordende dienaars te wees nie. Julle is reeds dienaars en is jare lank reeds in die bediening werksaam gewees. . . . Die studiekursus by die kollege is vir die uitsluitlike doel om julle voor te berei om bekwamer dienaars te wees in die gebiede waarheen julle gaan. . . .

“Julle vernaamste werk is om die evangelie van die Koninkryk van huis tot huis te verkondig soos Jesus en die apostels gedoen het. Wanneer julle ’n horende oor gevind het, tref reëlings vir ’n herbesoek, begin ’n studie tuis en organiseer ’n groep [gemeente] van al diesulkes in ’n stad of dorp. Dit sal nie alleen julle genoeë wees om ’n groep te organiseer nie, maar julle moet hulle help om die Woord te verstaan, hulle versterk, hulle van tyd tot tyd toespreek, hulle in hulle diensvergaderings en hulle organisasie help. Wanneer hulle sterk is en in staat is om op eie houtjie te werk te gaan en die gebied oor te neem, kan julle na ’n ander stad vertrek om die Koninkryk te verkondig. Dit mag vir julle nodig wees om van tyd tot tyd terug te gaan en hulle in die allerheiligste geloof op te bou en hulle in die leer op te knap; dus sal dit julle werk wees om vir die Here se ‘ander skape’ te sorg en hulle nie te verlaat nie (Joh. 10:16). Julle eintlike werk is om die mense van welwillendheid te help. Julle sal inisiatief moet gebruik, maar op Gods leiding sien.”a

Vyf maande later het die lede van daardie eerste klas hulle gespesialiseerde opleiding voltooi. Visums is verkry, reisreëlings is getref en hulle het na nege Latyns-Amerikaanse lande begin vertrek. Drie maande ná hulle graduering het die eerste Gileadopgeleide sendelinge uit die Verenigde State na Kuba vertrek. Teen 1992 is meer as 6 500 studente uit meer as 110 lande opgelei en het hulle daarna in baie meer as 200 lande en eilandgroepe gedien.

Tot sy dood 34 jaar ná die opening van die Gileadskool het broer Knorr vurige, persoonlike belangstelling in die sendelinge se werk getoon. Hy het die jongste klas elke skooltermyn ’n hele paar keer besoek indien dit enigsins moontlik was, toesprake gehou en ander hoofkwartierpersoneellede saam met hom geneem om die studente toe te spreek. Nadat die Gileadgegradueerdes hulle diens in die buiteland begin het, het hy die groepe sendelinge persoonlik besoek, hulle gehelp om hulle probleme op te los en hulle die nodige aanmoediging gegee. Namate die aantal sendelinggroepe toegeneem het, het hy gereël dat ander baie bekwame broers ook sulke besoeke doen sodat al die sendelinge, ongeag waar hulle gedien het, gereeld persoonlike aandag sou ontvang.

Hierdie sendelinge was anders

Die Christendom se sendelinge het hospitale, vlugtelingsentrums en weeshuise gestig om in mense se materiële behoeftes te voorsien. Hulle het ook as kampvegters vir die armes opgetree deur revolusies aan te blaas en aan guerrillaoorlog deel te neem. Daarteenoor leer die sendelinggegradueerdes van die Gileadskool mense die Bybel. Pleks van kerke op te rig en te verwag dat mense daarheen gaan, besoek hulle mense van huis tot huis om diegene te vind en te onderrig wat na geregtigheid honger en dors.

Getuiesendelinge bly getrou by God se Woord en toon vir mense waarom God se Koninkryk die ware en blywende oplossing vir die mensdom se probleme is (Matt. 24:14; Luk. 4:43). Peter Vanderhaegen kon die verskil tussen hierdie werk en die werk van die Christendom se sendelinge duidelik sien toe hy in 1951 op pad na sy toewysing in Indonesië was. Die enigste ander passasier aan boord van die vragskip was ’n Baptistesendeling. Hoewel broer Vanderhaegen met hom oor die goeie nuus van God se Koninkryk probeer praat het, het die Baptis dit duidelik gestel dat hy hoofsaaklik daarin belangstel om te help met die pogings om Tsjiang Kai-sjek in Taiwan weer op die vasteland aan bewind te kry.

Nogtans het baie ander mense die waarde besef van wat God se Woord sê. Toe Olaf Olson in Barranquilla, Colombia, vir Antonio Carvajalino getuig het, wat ’n vurige ondersteuner van ’n spesifieke politieke beweging was, het broer Olson hom nie ondersteun nie en het hy ook nie ’n ander politieke ideologie voorgestaan nie. Hy het eerder aangebied om die Bybel gratis met Antonio en sy susters te studeer. Antonio het spoedig besef dat God se Koninkryk werklik die enigste hoop vir die arm mense van Colombia en die res van die wêreld is (Ps. 72:1-4, 12-14; Dan. 2:44). Antonio en sy susters het ywerige knegte van God geword.

Die feit dat Getuiesendelinge afgeskeie van die Christendom se godsdiensstelsel is, het op nog ’n manier tydens ’n voorval in Rhodesië (nou Zimbabwe) sterk na vore gekom. Toe Donald Morrison een van die Christendom se sendelinge daar tuis besoek het, het die sendeling gekla dat die Getuies nie die vasgestelde grense respekteer nie. Watter grense? Wel, die godsdienste van die Christendom het die land in gebiede verdeel waarin elkeen met sy werk kon voortgaan sonder dat die ander hulle steur. Jehovah se Getuies kon nie so ’n reëling steun nie. Jesus het gesê dat die Koninkryksboodskap in die hele wêreld verkondig moet word. Die Christendom het dit beslis nie gedoen nie. In gehoorsaamheid aan Christus was die Gileadopgeleide sendelinge vasbeslote om die werk deeglik te doen.

Hierdie sendelinge is uitgestuur, nie om gedien te word nie, maar om te dien. Dat hulle dit werklik probeer doen het, het op baie maniere duidelik geblyk. Dit is nie verkeerd om materiële voorsieninge te aanvaar wat uit waardering vir geestelike hulp vrywillig (en nie omdat hulle daarom gevra het nie) aan hulle gegee word nie. Maar ten einde mense in Alaska se harte te bereik, het John Errichetti en Hermon Woodard dit nuttig gevind om ten minste ván hulle tyd te gebruik om, soos die apostel Paulus, met hulle hande te werk sodat hulle in hulle fisiese behoeftes kon voorsien (1 Kor. 9:11, 12; 2 Thess. 3:7, 8). Hulle belangrikste werk was om die goeie nuus te verkondig. Maar wanneer hulle gasvry ontvang is, het hulle ook gehelp met takies wat gedoen moes word—hulle het byvoorbeeld ’n man se dak geteer omdat hulle besef het dat hy hulp nodig gehad het. En wanneer hulle per boot van die een plek na die ander gereis het, het hulle gehelp om die vrag af te laai. Mense het gou besef dat hierdie sendelinge glad nie soos die geestelikes van die Christendom is nie.

Op sommige plekke moes die Getuiesendelinge ’n ruk lank sekulêre werk doen om in ’n land gevestig te raak sodat hulle daar met hulle bediening kon voortgaan. Toe Jesse Cantwell gevolglik na Colombia toe gegaan het, het hy Engelse lesse in die mediese afdeling van ’n universiteit gegee totdat die politieke situasie verander het en godsdiensbeperkinge opgehef is. Daarna kon hy sy ondervinding voltyds in die bediening as ’n reisende opsiener vir Jehovah se Getuies gebruik.

Op baie plekke moes die sendelinge met toeristevisums begin, wat hulle toegelaat het om ’n maand of moontlik ’n paar maande in ’n land te bly. Dan moes hulle die land verlaat en weer terugkom. Maar hulle het volhard en die proses herhaal totdat hulle die nodige verblyfpermitte kon verkry. Hulle het hulle hart daarop gesit om mense te help in die lande waarheen hulle gestuur is.

Hierdie sendelinge het nie gedink dat hulle beter as die plaaslike mense is nie. As ’n reisende opsiener het John Cutforth, wat eers ’n onderwyser in Kanada was, die gemeentes asook afgesonderde Getuies in Papoea-Nieu-Guinee besoek. Hy het saam met hulle op die vloer gesit, saam met hulle geëet en uitnodigings aanvaar om op ’n mat op die vloer in hulle huis te slaap. Hy het hulle geselskap geniet terwyl hulle saam in die veldbediening gestap het. Maar nie-Getuies wat dit gesien het, was verbaas, want die Europese leraars van die Christendom se sendings was daarvoor bekend dat hulle die plaaslike mense op ’n afstand gehou het en net kortliks tydens sommige van hulle vergaderinge met hulle gemeentelede geassosieer het, maar nooit saam met hulle geëet het nie.

Die mense onder wie hierdie Getuies gedien het, het die sendelinge en die organisasie wat hulle uitgestuur het se liefdevolle belangstelling aangevoel. In antwoord op ’n brief van João Mancoca, ’n nederige man van Afrika wat in ’n strafkolonie in Portugees-Wes-Afrika (nou Angola) gevange gehou is, is ’n sendeling van die Wagtoringgenootskap gestuur om geestelike hulp aan hom te voorsien. Broer Mancoca het later oor daardie besoek gesê: “Ek het nie meer daaraan getwyfel dat dit die ware organisasie is wat God se steun het nie. Ek het nooit gedink of geglo dat enige ander godsdiensorganisasie so iets sou doen nie: om sonder betaling ’n sendeling so ver te stuur om ’n onbelangrike persoon te besoek net omdat hy ’n brief geskryf het.”

Lewensomstandighede en gebruike

Die lewensomstandighede in lande waarheen sendelinge gestuur is, was dikwels nie so modern as dié in die plekke waarvandaan hulle gekom het nie. Toe Robert Kirk vroeg in 1947 in Birma (nou Myanma) aangekom het, was die nadraai van die oorlog steeds sigbaar, en min huise het elektriese ligte gehad. In baie lande het die sendelinge uitgevind dat wasgoed stuk vir stuk met ’n wasplank of op rotse by ’n rivier, en nie met ’n elektriese wasmasjien nie, gewas word. Maar hulle het gekom om mense Bybelwaarheid te leer; gevolglik het hulle hulle by die plaaslike omstandighede aangepas en met die bediening begin.

Dit het vroeër dikwels gebeur dat daar niemand was om die sendelinge te verwelkom nie. Hulle moes self ’n woonplek vind. Toe Charles Eisenhower, saam met 11 ander, in 1943 in Kuba aangekom het, het hulle die eerste nag op die vloer geslaap. Die volgende dag het hulle beddens gekoop en klere- en kombuiskaste van appelkratte gemaak. Elke groep sendelinge het op Jehovah vertrou om hulle pogings te seën om die huur te betaal, kos te koop en ander nodige koste te dek deur al die bydraes te gebruik wat hulle gekry het vir lektuur wat hulle versprei het, asook die beskeie toelae wat die Wagtoringgenootskap vir spesiale pioniers gegee het.

Die voorbereiding van maaltye het soms geverg dat hulle hulle denke verander. Waar daar nie verkoelingsgeriewe was nie, moes hulle daagliks mark toe gaan. In baie lande is kos oor houtskool- of houtvure gaargemaak in plaas van op ’n gas- of elektriese stoof. George en Willa Mae Watkins, wat na Liberië gestuur is, se stoof was net drie klippe waarop ’n ysterketel kon staan.

Wat van water? Toe Ruth McKay na haar nuwe tuiste in Indië gekyk het, het sy gesê: ‘Ek het nog nooit so ’n huis gesien nie. Die kombuis het nie ’n wasbak nie, maar net ’n kraan in die hoek met ’n strokie beton, effens hoër as die vloer, om te keer dat die water oor die hele vloer loop. Daar is nie 24 uur per dag water nie, maar ’n mens moet water bêre vir die tye wanneer dit afgesny word.’

Omdat sommige van die sendelinge nie aan plaaslike toestande gewoond was nie, het hulle gedurende die eerste maande van hulle toewysing met siektes te kampe gehad. Russell Yeatts het die een disenterie-aanval na die ander gekry toe hy in 1946 in Curaçao aangekom het. Maar ’n plaaslike broer het Jehovah so opreg in gebed vir die sendelinge gedank dat hulle dit nie oor hulle hart kon kry om weg te gaan nie. Toe Brian en Elke Wise in die Bo-Volta (nou Burkina Faso) aangekom het, het hulle hulle in ’n strawwe klimaat bevind wat ’n nadelige uitwerking op ’n mens se gesondheid het. Hulle moes leer om hulle by dagtemperature van 43° C aan te pas. Die intense hitte asook malaria het veroorsaak dat Elke gedurende hulle eerste jaar weke lank op ’n keer siek was. Die volgende jaar moes Brian vyf maande in die bed bly omdat hy ’n kwaai aanval van lewerontsteking gehad het. Maar hulle het gou uitgevind dat hulle soveel goeie Bybelstudies gehad het dat hulle dit nie alles kon behartig nie. Liefde vir daardie mense het hulle gehelp om te volhard, asook die feit dat hulle hulle toewysing beskou het as ’n voorreg en as goeie opleiding vir wat Jehovah ook al vir hulle in die toekoms in gedagte gehad het.

Met die verloop van jare is meer van die sendelinge deur daardie sendelinge wat voor hulle in die gebied was of deur plaaslike Getuies in hulle toewysings verwelkom. Sommige is na lande gestuur waar groot stede heel modern was. Van 1946 af het die Wagtoringgenootskap ook voorsiening probeer maak vir ’n geskikte huis en die basiese meubels vir elke groep sendelinge, asook geld vir kos, sodat hulle van hierdie bekommernis bevry is en hulle meer aandag aan die predikingswerk kon skenk.

Op etlike plekke was dit ’n beproewing om van een plek na ’n ander te reis. Nadat dit in Papoea-Nieu-Guinee gereën het, moes meer as een sendelingsuster al met voorrade in ’n rugsak deur die bosse op ’n gladde voetpaadjie geloop het wat so modderig was dat dit haar skoene daarin laat vassit het. In Suid-Amerika het baie sendelinge skrikwekkende busritte op nou paadjies hoog in die Andesgebergte meegemaak. As jou bus, aan die buitekant van die pad op ’n draai sonder ’n skutreling by ’n ander groot voertuig wat in die teenoorgestelde rigting ry, moet verbygaan en jy voel hoe die bus oor die afgrond begin hang, is dit iets wat jy nie gou vergeet nie!

Dit lyk of politieke revolusies op sekere plekke iets alledaags was, maar die Getuiesendelinge het Jesus se woorde in gedagte gehou dat sy dissipels “nie van die wêreld” sou wees nie; hulle het gevolglik neutraal ten opsigte van sulke konflikte gebly (Joh. 15:19). Hulle het geleer om enige nuuskierigheid te onderdruk wat hulle onnodig aan gevaar sou blootstel. Dit was dikwels die beste om eenvoudig uit die strate te bly totdat alles weer kalm was. Nege sendelinge in Viëtnam het in die hartjie van Saigon (nou Ho Tsji Minhstad) gewoon toe daardie stad in ’n oorlog gewikkel was. Hulle kon sien hoe bomme gegooi word, hoe brande dwarsdeur die stad woed en hoe duisende mense om hulle lewe vlug. Omdat hulle egter besef het dat Jehovah hulle gestuur het om lewegewende kennis na mense te neem wat na die waarheid honger, het hulle op Hom vir beskerming vertrou.

Self wanneer daar relatief gesproke vrede was, was dit vir die sendelinge moeilik om hulle bedieningswerk in sekere dele van die Asiatiese stede te doen. ’n Buitelander hoef maar net sy gesig in die nou strate van ’n arm deel van Lahore, Pakistan, te wys om ’n skare vuil, verwaarloosde kinders van alle ouderdomme te trek. Terwyl hulle geskreeu en mekaar verdring het, het hulle die sendeling van huis tot huis gevolg en dikwels op die verkondiger se hakke in die huise ingebars. Kort voor lank het die hele straat geweet wat die tydskrifte kos en dat die vreemdeling ‘Christene maak’. Onder sulke omstandighede was dit gewoonlik maar beter om die gebied te verlaat. Die sendelinge se vertrek het dikwels met ’n geskreeu, handegeklap en, soms, ’n klipgooiery gepaardgegaan.

Plaaslike gebruike het dikwels vereis dat die sendelinge ’n paar aanpassings maak. In Japan het hulle geleer om hulle skoene op die stoep te los wanneer hulle by ’n huis ingaan. En hulle moes daaraan gewoond raak om, indien moontlik, tydens Bybelstudies op die vloer voor ’n lae tafeltjie te sit. In sommige dele van Afrika het hulle geleer dat dit as ’n belediging beskou word as jy iemand anders iets met jou linkerhand gee. En hulle het uitgevind dat dit in daardie deel van die wêreld swak maniere is om die rede vir hulle besoek te probeer verduidelik voordat hulle ’n bietjie oor ditjies en datjies gesels het—deur oor mekaar se gesondheid uit te vra en vrae te beantwoord oor waar jy vandaan kom, hoeveel kinders jy het, ensovoorts. In Brasilië het sendelinge uitgevind dat hulle pleks van aan deure te klop gewoonlik hulle hande by die voorhek moes klap om die huisbewoner te laat kom.

In Libanon het die sendelinge egter met ander gebruike te doen gekry. Min broers het hulle vrou of dogters na die vergaderinge gebring. Die vroue wat wel die vergaderinge bygewoon het, het altyd agter gesit en nooit tussen die mans nie. Die sendelinge, wat nie van die gebruik geweet het nie, het ’n groot opskudding by hulle eerste vergadering veroorsaak. ’n Egpaar het voorlangs gesit, en die ongetroude sendelingmeisies het gaan sit waar hulle plek kon kry. Maar ná die vergadering het ’n bespreking van Christelike beginsels gehelp om die misverstand uit die weg te ruim. (Vergelyk Deuteronomium 31:12; Galasiërs 3:28.) Dit het die onderskeid beëindig. Meer vrouens en dogters het die vergaderinge bygewoon. Hulle het ook saam met die sendelingsusters aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem.

Die uitdaging van ’n nuwe taal

Die klein groepie sendelinge wat in 1949 in Martinique aangekom het, kon skaars Frans praat, maar hulle het geweet dat die mense die Koninkryksboodskap nodig het. Hulle het met ware geloof van huis tot huis begin gaan en ’n paar verse uit die Bybel of ’n stukkie uit ’n publikasie wat hulle aangebied het, probeer lees. Met geduld het hulle Frans geleidelik verbeter.

Hoewel dit die sendelinge se begeerte was om die plaaslike Getuies en ander belangstellendes te help, moes die sendelinge self dikwels eers gehelp word—met die taal. Diegene wat na Togo gestuur is, het gevind dat die grammatika van Ewe, die hooftaal van daardie land, baie van Europese tale verskil en ook dat die toonhoogte waarop ’n woord gesê word die betekenis daarvan kan verander. Sodoende kan die tweeletterwoord to, wanneer dit op ’n hoë toonhoogte gesê word, ’n oor, berg, skoonpa of nasie beteken; op ’n lae toonhoogte beteken dit buffel. Sendelinge wat in Viëtnam gaan dien het, het te doen gekry met ’n taal wat ses variasies van toonhoogte vir elke woord het, en elke toonhoogte gee die woord ’n ander betekenis.

Edna Waterfall wat na Peru gestuur is, het nie gou die eerste huis vergeet waar sy in Spaans probeer getuig het nie. Sy het paniekerig deur haar gememoriseerde aanbieding geworstel, lektuur aangebied en ’n Bybelstudie met ’n bejaarde dame gereël. Toe het die vrou in suiwer Engels gesê: “Dis alles reg. Ek sal saam met jou studeer en ons sal alles in Spaans doen om jou te help om Spaans te leer.” Edna het geskok geantwoord: “Kan jy Engels praat? En jy laat my so in Spaans sukkel?” “Dit het jou goed gedoen”, het die vrou geantwoord. En dit het inderdaad! Edna het gou besef dat dit belangrik is om ’n taal te praat as jy dit wil leer.

Toe George Fredianelli in Italië die taal probeer praat het, moes hy uitvind dat die mense dít wat hy gedink het Italiaanse uitdrukkings is (maar wat in werklikheid veritaliaanste woorde was), nie kon verstaan nie. Om die probleem die hoof te bied, het hy besluit om sy toesprake vir gemeentes heeltemal uit te skryf en hulle van die manuskrip af te hou. Maar baie in die gehoor het aan die slaap geraak. Hy het toe van die manuskrip ontslae geraak, uit die vuis gepraat en die gehoor gevra om hom te help wanneer hy vassteek. Dit het hulle wakker gehou en hom gehelp om vordering te maak.

Die Gileadstudiekursus vir die eerste klasse het tale soos Spaans, Frans, Italiaans, Portugees, Japannees, Arabies en Oerdoe ingesluit om die sendelinge te leer om die nuwe taal te begin praat. Daar is deur die jare heen in meer as 30 tale geleer. Maar omdat die gegradueerdes van ’n spesifieke klas nie almal na plekke toe gegaan het waar dieselfde taal gepraat is nie, is hierdie taalklasse later vervang met reëlings vir ’n intensiewe, gekontroleerde taalstudie wanneer hulle by hulle toewysing aangekom het. Die eerste maand het die nuwelinge hulle 11 uur per dag in taalstudie verdiep; en die volgende maand het hulle die helfte van hulle tyd die taal tuis gestudeer en die ander helfte van die tyd daaraan gewy om daardie kennis in die veldbediening te gebruik.

Daar is egter gesien dat die gebruik van die taal in die veldbediening die vernaamste sleutel tot vordering was; gevolglik is ’n aanpassing gemaak. Nuwe sendelinge wat nie die plaaslike taal geken het nie, het gedurende die eerste drie maande in hulle toewysing vier uur per dag saam met ’n bekwame onderrigter bestee, en hulle het reg van die begin af toegepas wat hulle geleer het deur vir die plaaslike mense van God se Koninkryk te getuig.

Baie sendelinggroepe het as spanne gewerk om hulle begrip van die taal te verbeter. Hulle het elke dag ’n paar, of tot 20, nuwe woorde tydens ontbyt bespreek en dan probeer om dit in hulle veldbediening te gebruik.

Dit is belangrik om die plaaslike taal te leer as hulle die mense se vertroue wil wen. Op sommige plekke word buitelanders in ’n sekere mate gewantrou. Hugh en Carol Cormican het as ongetroudes of as ’n egpaar in vyf Afrikalande gedien. Hulle weet goed watter agterdog daar dikwels tussen Afrikane en Europeërs bestaan. Maar hulle sê: “As jy die plaaslike taal praat, verdwyn hierdie gevoel gou. Boonop sal ander wat nie na die goeie nuus sal luister wanneer hulle landgenote dit aan hulle vertel nie geredelik na ons luister, lektuur neem en studeer, omdat ons die poging aangewend het om met hulle in hulle eie taal te praat.” Om dit te kan doen, het broer Cormican vyf tale benewens Engels geleer en suster Cormican ses.

Daar kan natuurlik probleme opduik wanneer ’n mens ’n nuwe taal probeer leer. In Puerto Rico het ’n broer wat aangebied het om vir huisbewoners ’n opname van ’n Bybelboodskap te speel sy grammofoon toegemaak en na die volgende huis gegaan wanneer die persoon geantwoord het: “¡Como no!” Dit het vir hom soos “Nee” geklink, en dit het ’n rukkie geduur voordat hy geleer het dat die uitdrukking “Waarom nie!” beteken. Daarenteen het sendelinge soms nie verstaan wanneer die huisbewoner gesê het dat hy nie belangstel nie, en hulle het dan bly getuig. ’n Paar simpatieke huisbewoners het gevolglik daarby baat gevind.

Daar was ook lagwekkende situasies. Leslie Franks, in Singapoer, het geleer dat hy versigtig moet wees om nie te praat van ’n kokosneut (kelapa) wanneer hy kop (kepala) bedoel en gras (rumput) wanneer hy hare (rambut) bedoel nie. ’n Sendeling in Samoa het vanweë verkeerde uitspraak vir ’n boorling gevra: “Hoe gaan dit met jou baard?” (hy het nie ’n baard gehad nie), terwyl hy eintlik bedoel het om vriendelik oor die man se vrou uit te vra. Toe ’n busbestuurder in Ecuador skielik weggetrek het, het Zola Hoffman, wat in die bus gestaan het, haar ewewig verloor en op ’n man se skoot beland. Sy het verleë probeer verskoning maak. Maar sy het gesê: “Con su permiso” (Met u toestemming). Toe die man vriendelik geantwoord het: “Jy is welkom, dame”, het die ander passasiers uitgebars van die lag.

Die sendelinge het nietemin goeie resultate in die bediening behaal omdat hulle probeer het. Lois Dyer, wat in 1950 in Japan aangekom het, onthou broer Knorr se raad: “Doen jou bes, en al maak jy foute, doen iets!” Sy het, en baie ander het ook. Gedurende die volgende 42 jaar het die sendelinge wat na Japan gestuur is, gesien hoe die aantal Koninkryksverkondigers daar van net ’n handjievol tot meer as 170 000 toeneem, en hulle neem steeds toe. Wat ’n ryke beloning tog omdat hulle, nadat hulle hulle vertroue op Jehovah gestel het, gewillig was om te probeer!

Nuwe velde word geopen, ander word uitgebrei

In baie lande en eilandgroepe was dit die Gileadopgeleide sendelinge wat die Koninkrykspredikingswerk begin het of dit die nodige momentum gegee het nadat ander al ’n bietjie getuieniswerk daar gedoen het. Hulle was blykbaar die eerste Getuies van Jehovah wat die goeie nuus in Somalië, Soedan, Laos en talle eilandgroepe oor die hele aarde verkondig het.

Daar is vroeër ’n bietjie predikingswerk gedoen in plekke soos Bolivia, die Dominikaanse Republiek, Ecuador, El Salvador, Honduras, Nicaragua, Ethiopië, Gambië, Liberië, Kambodja, Hongkong, Japan en Viëtnam. Maar daar was geen Getuies van Jehovah in daardie lande wat hulle bedrywighede gerapporteer het toe die eerste sendelinggegradueerdes van die Gileadskool daar aangekom het nie. Waar moontlik het die sendelinge die land stelselmatig gedek en hulle aanvanklik op die groter stede toegespits. Hulle het nie net lektuur by mense gelaat en dan verder gegaan soos die kolporteurs in die verlede gedoen het nie. Hulle het geduldig na belangstellendes teruggegaan, Bybelstudies met hulle gehou en hulle dan in die veldbediening opgelei.

Ander lande het net ongeveer tien Koninkryksverkondigers gehad (en in baie gevalle minder) voor die sendelinggegradueerdes van die Gileadskool daar aangekom het. Onder hulle was Colombia, Guatemala, Haïti, Puerto Rico, Venezuela, Burundi, die Ivoorkus (nou Côte d’Ivoire), Kenia, Mauritius, Senegal, Suidwes-Afrika (nou Namibië), Ceylon (nou Sri Lanka), China en Singapoer asook baie eilandgroepe. Die sendelinge het ’n ywerige voorbeeld in die bediening gestel, die plaaslike Getuies gehelp om hulle vermoëns te verbeter, gemeentes georganiseer en broers gehelp om hulle te bekwaam sodat hulle die leiding kon neem. In baie gevalle het hulle ook die predikingswerk in onaangeraakte gebiede gedoen.

Met hierdie hulp het die aantal Getuies begin toeneem. In die meeste van hierdie lande is daar nou duisende bedrywige Getuies van Jehovah. In sommige lande is daar tienduisende of selfs meer as honderdduisend lowers van Jehovah.

Sommige het graag geluister

Op sommige plekke het die sendelinge baie mense aangetref wat gewillig en gretig was om te leer. Toe Ted en Doris Klein, Gileadgegradueerdes aan die eerste klas, in 1947 op die Maagde-eilande aangekom het, was daar soveel mense wat ’n Bybelstudie wou hê dat hulle dikwels eers om middernag met hulle dag se diens klaargekry het. Duisend mense het die eerste openbare toespraak bygewoon wat broer Klein op die Markplein in Charlotte Amalie gehou het.

Joseph McGrath en Cyril Charles is in 1949 na die Amis-gebied in Taiwan gestuur. Daar moes hulle in huise met grasdakke en vloere van grond woon. Maar hulle was daar om mense te help. Party van die Amis-stamlede het Wagtoringlektuur gekoop, was verheug oor wat hulle gelees het en het die goeie nuus aan ander vertel. Nou was die sendelinge daar om hulle te help om geestelik te groei. Daar is vir hulle gesê dat 600 mense in die waarheid belangstel, maar altesaam 1 600 het die vergaderinge bygewoon wat hulle gehou het terwyl hulle van die een dorpie na die ander gegaan het. Hierdie nederige mense was gewillig om te leer, maar hulle het oor baie dinge nie juiste kennis gehad nie. Die broers het hulle geduldig begin leer en een onderwerp op ’n slag geneem, terwyl hulle in elke dorpie dikwels agt uur of langer aan ’n vraag-en-antwoord-bespreking van ’n onderwerp gewy het. Die 140 wat graag aan die huis-tot-huis-getuieniswerk wou deelneem, is ook opgelei. Wat ’n vreugdevolle ondervinding was dit tog vir die sendelinge! Maar baie moes nog gedoen word sodat daar bestendige geestelike groei kon plaasvind.

Harvey en Kathleen Logan, Gileadopgeleide sendelinge wat in Japan gedien het, is ongeveer 12 jaar later gestuur om verdere hulp aan die Amis-broers te verleen. Broer Logan het baie tyd daaraan bestee om hulle te help om basiese Bybelleerstellings en -beginsels asook organisatoriese sake te verstaan. Suster Logan het elke dag saam met die Amis-susters velddiens gedoen, waarna sy hulle basiese Bybelwaarhede geleer het. Toe, in 1963, het die Wagtoringgenootskap gereël dat afgevaardigdes uit 28 lande daar saam met die Getuies in die dorpie Sjou Feng vergader as deel van ’n byeenkoms wat om die wêreld gereis het. Dit het alles ’n vaste grondslag vir verdere groei begin lê.

In 1948 het twee sendelinge, Harry Arnott en Ian Fergusson, in Noord-Rhodesië (nou Zambië) aangekom. Daar was destyds reeds 252 gemeentes swart Getuies, maar nou is daar ook aandag geskenk aan die blankes wat as gevolg van die kopermynwerksaamhede daarheen verhuis het. Die reaksie was opwindend. Baie lektuur is versprei; diegene met wie daar Bybelstudies gehou is, het vinnig vordering gemaak. Daardie jaar het die aantal Getuies wat in die velddiens bedrywig was met 61 persent gestyg.

Dit was vir die sendelinge op baie plekke niks ongewoons om waglyste te hê van mense wat Bybelstudies wou hê nie. Soms het familielede, bure en ander vriende ook die studies bygewoon. Selfs voordat mense ’n persoonlike Bybelstudie kon hê, het hulle reeds die vergaderinge by die Koninkryksaal gereeld bygewoon.

Ten spyte van groot inspanning deur die sendelinge was die oes in ander lande egter baie klein. Wagtoringsendelinge is reeds in 1953 na Oos-Pakistan (nou Bangladesj) gestuur, waar die grootste deel van die bevolking, wat nou reeds meer as 115 000 000 tel, Moslems en Hindoes is. Baie moeite is gedoen om die mense te help. Maar teen 1992 was daar net 42 aanbidders van Jehovah in daardie land. Die sendelinge wat egter in sulke gebiede dien, beskou elkeen wat die ware godsdiens aanneem as waarlik kosbaar—omdat hulle so skaars is.

Liefdevolle hulp aan mede-Getuies

Die sendelinge se werk is hoofsaaklik om die evangelie, die goeie nuus van God se Koninkryk, te verkondig. Maar terwyl hulle hiermee besig was, kon hulle ook die plaaslike Getuies baie help. Die sendelinge het hulle genooi om saam met hulle in die veldbediening te werk en vir hulle wenke gegee oor hoe om in moeilike situasies op te tree. Deur die sendelinge dop te hou, het plaaslike Getuies dikwels geleer hoe om hulle bediening op ’n meer georganiseerde wyse te doen en hoe om bekwamer onderrigters te wees. Daarenteen het die plaaslike Getuies die sendelinge gehelp om hulle by die plaaslike gebruike aan te pas.

Toe John Cooke in 1948 in Portugal aangekom het, het hy stappe gedoen om sistematiese huis-tot-huis-werk te organiseer. Hoewel die plaaslike Getuies gewillig was, het baie van hulle opleiding nodig gehad. Hy het later gesê: “Ek sal een van my heel eerste kere in die bediening saam met die susters in Almada nooit vergeet nie. Ja, ses van hulle het saam na dieselfde huis gegaan. Jy kan jou net ’n groep van ses vroue voorstel wat by ’n deur staan terwyl een van hulle ’n prekie hou! Maar dinge het stelselmatig vorm aangeneem en begin vooruitgaan.”

Die moedige voorbeeld van sendelinge het Getuies in die Benedewindse Eilande gehelp om moedig te wees en nie geïntimideer te word deur teenstanders wat die werk probeer dwarsboom het nie. ’n Sendeling se geloof het die broers in Spanje gehelp om met die huis-tot-huis-bediening te begin ten spyte van die Katolieke Fascistiese diktatorskap waaronder hulle destyds gelewe het. Sendelinge wat ná die Tweede Wêreldoorlog in Japan gedien het, het ’n voorbeeld gestel wat takt betref—hulle het nie die aandag gevestig op die mislukking van die nasionale godsdiens nadat die Japannese keiser sy goddelikheid geloën het nie, maar het eerder oortuigende bewys vir geloof in die Skepper voorgelê.

Plaaslike Getuies het die sendelinge dopgehou en is dikwels sterk beïnvloed op maniere wat die sendelinge moontlik nie destyds besef het nie. In Trinidad word daar jare later steeds gepraat oor insidente wat getoon het hoe nederig die sendelinge is, hoe gewillig hulle is om moeilike toestande te verduur en hoe hulle ten spyte van die hitte hard in Jehovah se diens gewerk het. Getuies in Korea was diep beïndruk deur die selfopofferende gees van die sendelinge wat die land tien jaar lank nie verlaat het om hulle familie te besoek nie omdat die regering, behalwe in ’n paar “humanitêre” noodgevalle, geweier het om permitte uit te reik sodat mense weer in die land kon inkom.

Die meeste sendelinge kon tydens en ná hulle aanvanklike Gileadopleiding eerstehands sien hoe die hoofkwartier van Jehovah se sigbare organisasie werk. Hulle het dikwels heelwat geleenthede gehad om met die lede van die Bestuursliggaam te assosieer. Hulle kon later in hulle sendingtoewysings vir die plaaslike Getuies en belangstellendes ooggetuieverslae gee oor hoe die organisasie funksioneer, asook toon watter waardering hulle self daarvoor het. Die diepte van die waardering wat hulle vir die teokratiese werking van die organisasie oorgedra het, was dikwels ’n belangrike faktor in die groei wat ondervind is.

Op baie plekke waarheen die sendelinge gestuur is, was daar geen gemeentelike vergaderinge wanneer hulle daar aangekom het nie. Hulle het dan die nodige reëlings getref, die vergaderinge gehou en die meeste vergaderingdele behartig totdat ander bekwaam genoeg was om ook aan hierdie voorregte deel te neem. Hulle het voortdurend ander broers opgelei sodat hulle kon kwalifiseer om die verantwoordelikheid oor te neem (2 Tim. 2:2). Die eerste vergaderinge is gewoonlik in die sendinghuis gehou. Later is daar reëlings getref om Koninkryksale te kry.

Waar daar reeds gemeentes was, het die sendelinge gehelp om die vergaderinge interessanter en leersamer te maak. Hulle goed voorbereide kommentare is waardeer en het gou ’n voorbeeld gestel wat ander probeer navolg het. Die broers het hulle Gileadopleiding gebruik en ’n goeie voorbeeld as openbare sprekers en onderrigters gestel, en hulle het graag tyd saam met die plaaslike broers deurgebring om hulle die kuns te leer. In lande waar die mense gewoonlik sorgeloos is en nie juis van tyd bewus is nie, het die sendelinge hulle ook geduldig gehelp om te besef hoe belangrik dit is om vergaderinge op tyd te begin en almal aangemoedig om betyds te kom.

Die toestande wat hulle op sommige plekke aangetref het, het getoon dat die broers hulp nodig gehad het om waardering op te bou vir die belangrikheid daarvan om by Jehovah se regverdige standaarde te bly. In Botswana het hulle byvoorbeeld gesien dat die susters steeds stringe krale om hulle babas sit sodat hulle niks kwaads sal oorkom nie, aangesien hulle nie ten volle verstaan het dat hierdie gebruik sy oorsprong by bygeloof en toorkuns het nie. In Portugal het hulle gevind dat daar omstandighede was wat verdeeldheid veroorsaak het. Met geduld, liefdevolle hulp en ferm optrede wanneer nodig, het die broers geestelik begin herstel.

Sendelinge wat in Finland oor die werk toesig gehou het, het baie tyd daaraan gewy en moeite gedoen om die plaaslike broers op te lei om in die lig van Bybelbeginsels oor probleme te redeneer en sodoende tot ’n gevolgtrekking te kom wat met God se denkwyse ooreenstem. In Argentinië het hulle die broers ook geleer hoe belangrik ’n rooster is, hoe om verslae te hou en hoe belangrik lêers is. In Duitsland het hulle lojale broers wat, vanweë hulle stryd om voortbestaan in die konsentrasiekampe, in sommige opsigte taamlik onbuigsame beskouings gehad het, gehelp om Jesus Christus se sagmoedigheid in groter mate na te volg terwyl hulle as herders oor God se kudde toesig hou.—Matt. 11:28-30; Hand. 20:28.

Party sendelinge se werk het vereis dat hulle met regeringsamptenare moes onderhandel, hulle vrae moes beantwoord en aansoek moes doen dat die werk van Jehovah se Getuies wetlik erken word. Broer Joly, wat saam met sy vrou na Kameroen gestuur is, het byvoorbeeld oor ’n tydperk van byna vier jaar herhaaldelik wetlike erkenning vir die werk probeer kry. Hy het dikwels met Franse en Afrika-amptenare gepraat. Hulle het eindelik wetlike erkenning verkry toe daar ’n ander regering aan die bewind gekom het. Teen hierdie tyd was die Getuies in Kameroen al 27 jaar lank bedrywig en was daar reeds meer as 6 000 van hulle.

Hulle bied die uitdaging van reisende diens die hoof

Party van die sendelinge moes as reisende opsieners dien. Daar het ’n spesiale behoefte in Australië bestaan, waar sommige van die broers onwys opgetree het deur hulle aandag gedurende die Tweede Wêreldoorlog van Koninkryksbelange na sekulêre strewes te verskuif. Dit is mettertyd reggestel, en gedurende ’n besoek van broer Knorr in 1947 is daar beklemtoon hoe belangrik dit is om die Koninkrykspredikingswerk altyd eerste te stel. Daarna het die Gileadgegradueerdes wat as kring- en streekopsieners gedien het se geesdrif, goeie voorbeeld en onderrigtingsmetodes verder gehelp om ’n ware geestelike atmosfeer onder die Getuies daar te skep.

Hierdie reisende diens het al dikwels geverg dat die broers bereid moes wees om baie moeite te doen en gevare te trotseer. Wallace Liverance het uitgevind dat ’n familie afgesonderde verkondigers in Volcán, Bolivia, net bereik kon word deur die 90 kilometer daarheen en terug te stap in die skroeiende son oor ’n rotsagtige, dorre terrein op ’n hoogte van ongeveer 3 400 meter, terwyl hy sy slaapsak, kos en water, asook lektuur, gedra het. Om gemeentes in die Filippyne te bedien, het Neal Callaway dikwels in stampvol plattelandse busse gery waarin daar nie net mense nie, maar ook diere en plaasprodukte vervoer is. Richard Cotterill het sy werk as ’n reisende opsiener in Indië begin toe duisende mense weens godsdienshaat doodgemaak is. Toe hy die broers in ’n onlusgebied moes gaan besoek, het die spoorwegbesprekingsklerk hom daarvan probeer afraai. Dit was vir die meeste passasiers ’n angswekkende rit, maar broer Cotterill het sy broers innig liefgehad ongeag waar hulle gewoon of watter taal hulle gepraat het. Hy het met vertroue in Jehovah geredeneer: “As Jehovah wil, sal ek probeer om daar te kom.”—Jak. 4:15, NW.

Ander word aangespoor om die voltydse diens te betree

Die sendelinge se ywerige gesindheid het daartoe gelei dat baie wat deur hulle onderrig is hulle voorbeeld gevolg het deur die voltydse diens te betree. In Japan, waar daar al 168 sendelinge gedien het, was daar 75 956 pioniers in 1992; meer as 40 persent van die verkondigers in Japan was in die een of ander vertakking van die voltydse diens. In die Republiek van Korea was die verhouding min of meer dieselfde.

Uit lande waar die verhouding Getuies tot die bevolking baie gunstig is, is daar al baie voltydse bedienaars genooi om opleiding aan die Gileadskool te ontvang, en hulle is dan gestuur om op ander plekke te dien. Groot getalle sendelinge het uit die Verenigde State en Kanada gekom; ongeveer 400 uit Brittanje; meer as 240 uit Duitsland; meer as 150 uit Australië; meer as 100 uit Swede asook aansienlike getalle uit Denemarke, Finland, Hawaii, Nederland, Nieu-Seeland en ander lande. Party lande wat deur die sendelinge gehelp is, het later ook voornemende sendelinge vir diens in ander lande gelewer.

Die behoeftes van ’n groeiende organisasie

Namate die organisasie gegroei het, het die sendelinge nog verantwoordelikhede op hulle geneem. Baie van hulle het as ouere manne of bedieningsknegte gedien in die gemeentes wat deur hulle gehelp is. In baie lande was hulle die eerste kring- en streekopsieners. Namate verdere ontwikkeling dit vir die Genootskap raadsaam gemaak het om nuwe takkantore te stig, is die verantwoordelikheid met betrekking tot die takbestuur aan etlike sendelinge toevertrou. In sommige gevalle is diegene wat die taal goed leer ken het, gevra om met die vertaal- en proefleeswerk van Bybellektuur te help.

Maar hulle is veral beloon wanneer diegene met wie hulle God se Woord gestudeer het of broers wat deur hulle gehelp is om geestelik te groei, bekwaam geword het om sulke verantwoordelikhede te dra. ’n Egpaar in Peru was gevolglik verheug om te sien hoe sommige met wie hulle gestudeer het as spesiale pioners begin dien het en gehelp het om nuwe gemeentes te versterk en die werk in nuwe gebiede te begin. Een van die takkomiteelede in Sri Lanka was lid van ’n gesin met wie ’n sendeling ’n studie gehou het. Baie van die ander sendelinge het soortgelyke vreugdes gesmaak.

Hulle het ook met teëstand te kampe gehad.

Hulle ondervind teëstand

Jesus het vir sy volgelinge gesê dat hulle vervolg sal word net soos hy vervolg is (Joh. 15:20). Aangesien die sendelinge gewoonlik uit ander lande afkomstig was, is hulle dikwels verban wanneer daar hewige vervolging in ’n land uitgebreek het.

In 1967 is Sona Haidostian en haar ouers in Aleppo, Sirië, gearresteer. Hulle is vyf maande lank in die gevangenis opgesluit en toe sonder hulle besittings uit die land verban. Margarita Königer, van Duitsland, is na Madagaskar toe gestuur; maar omdat sy uit die een land na die ander verban is, moes sy nuwe toewysings in Kenia, Dahomey (Benin) en Bo-Volta (Burkina Faso) kry. Domenick Piccone en sy vrou Elsa is in 1957 weens hulle predikingswerk uit Spanje verban, toe in 1962 uit Portugal en in 1969 uit Marokko. Maar in elke land het daar iets goeds van gekom wanneer daar probeer is om die verbanningsopdrag te voorkom. Daar is vir amptenare getuig. In Marokko het hulle byvoorbeeld die geleentheid gehad om vir amptenare in die Sécurité Nationale te getuig, asook vir ’n regter van die Hooggeregshof, die polisiehoof van Tangier en die Amerikaanse konsuls in Tangier en Rabat.

Die verbanning van die sendelinge het nie ’n einde aan die werk van Jehovah se Getuies gemaak soos sommige amptenare gehoop het nie. Waarheidsaad wat reeds gesaai is, hou dikwels aan met groei. Vier sendelinge in Burundi was byvoorbeeld maar ’n paar maande in die bediening besig toe die regering hulle in 1964 gedwing het om die land te verlaat. Maar een van hulle het aangehou om met ’n belangstellende te korrespondeer, wat geskryf en gesê het dat hy die Bybel met 26 mense studeer. ’n Tanzaniese Getuie wat kort tevore na Burundi verhuis het, het ook aangehou preek. Hulle getalle het geleidelik toegeneem totdat honderde die Koninkryksboodskap aan nog ander verkondig het.

Op ander plekke het amptenare, voordat hulle mense verban het, brute geweld gebruik om almal aan hulle eise te probeer onderwerp. In 1963 het soldate in Gbarnga, Liberië, 400 mans, vroue en kinders aangekeer wat ’n Christenbyeenkoms daar bygewoon het. Die soldate het hulle na die leërkamp laat marsjeer, hulle gedreig, geslaan en geëis dat almal—ongeag hulle nasionaliteit of godsdiens—die Liberiese vlag salueer. Milton Henschel, van die Verenigde State, was onder diegene in daardie groep. Daar was ook ’n paar sendelinge, onder andere John Charuk van Kanada. Een van die Gileadgegradueerdes het sy geloof prysgegee, soos hy by ’n vorige geleentheid reeds gedoen het (hoewel hy dit nie openbaar gemaak het nie), en dit het ongetwyfeld daartoe bygedra dat ander wat by daardie byeenkoms was ook hulle geloof prysgegee het. Dit het duidelik geword wie God waarlik vrees en wie deur mensevrees verstrik is (Spr. 29:25). Hierna het die regering al die buitelandse Getuiesendelinge beveel om die land te verlaat, hoewel hulle later daardie selfde jaar vanweë ’n uitvoerende bevel van die president kon terugkeer.

Die druk deur geestelikes het dikwels daartoe gelei dat regeringsamptenare teen die sendelinge opgetree het. Soms is daardie druk op ’n agterbakse wyse uitgeoefen. Ander kere het almal geweet wie die opswepers was. George Koivisto sal nooit sy eerste oggend in die velddiens in Medellín, Colombia, vergeet nie. Skielik het ’n skreeuende bende skoolkinders verskyn en hom met klippe en stukke klei gegooi. Die huisbewoner, wat hom nog nooit voorheen gesien het nie, het hom in die huis ingetrek en die houtluike toegemaak, onderwyl sy heeltyd vir die gedrag van die bende buite verskoning gevra het. Toe die polisie daar aangekom het, het sommige die onderwyser daarvan beskuldig dat hy die leerlinge laat uitgaan het. Maar ’n ander stem het geskreeu: “Is nie! Dit was die priester! Hy het oor die luidspreker aangekondig dat die leerlinge uitgestuur moet word om ‘die Protestantes met klippe te gooi’.”

Godvrugtige moed gepaard met liefde vir die skape was nodig. Elfriede Löhr en Ilse Unterdörfer is na die Gastein-vallei in Oostenryk gestuur. In ’n kort tydjie is baie Bybellektuur onder mense versprei wat na geestelike voedsel gehonger het. Maar toe het die geestelikes begin optree. Hulle het skoolkinders aangespoor om in die strate op die sendelinge te skreeu en voor hulle uit te hardloop en die huisbewoners te waarsku om nie te luister nie. Die mense het bang geword. Maar met liefdevolle volharding is ’n paar goeie studies begin. Toe ’n openbare Bybeltoespraak gereël is, het die hulpprediker uitdagend reg voor die vergaderplek gestaan. Maar toe die sendelinge in die straat gaan staan het om die mense te verwelkom, het die hulpprediker verdwyn. Hy het ’n polisieman laat roep en toe teruggekom met die hoop om die vergadering te ontwrig. Maar sy pogings het misluk. Mettertyd is daar ’n sterk gemeente gevorm.

In dorpe naby Ibarra, Ecuador, het Unn Raunholm en Julia Parsons keer op keer voor bendes te staan gekom wat deur die priesters aangehits is. Omdat die priester ’n opskudding veroorsaak het elke keer wanneer die sendelinge in San Antonio was, het die susters besluit om hulle op ’n ander dorp, met die naam Atuntaqui, toe te spits. Maar eendag het die plaaslike balju daar suster Raunholm opgewonde aangepor om die dorp gou te verlaat. “Die priester reël ’n betoging teen jou, en ek het nie genoeg manne om jou te beskerm nie”, het hy gesê. Sy onthou nog duidelik: “Die skare het ons agtervolg! Die wit en geel Vatikaanvlag is voor die groep gewaai terwyl die priester slagspreuke geskreeu het soos: ‘Lank lewe die Katolieke Kerk!’ ‘Weg met die Protestante!’ ‘Lank lewe die maagdelikheid van die Maagd!’ ‘Lank lewe die belydenis!’ Die skare het die slagspreuke elke keer woord vir woord agter die priester aan gesê.” Op daardie oomblik het ’n paar mans die Getuies veiligheidshalwe in die plaaslike Arbeidershuis ingenooi. Daar het die sendelinge vir nuuskieriges getuig wat ingekom het om te sien wat aangaan. Hulle het elke stukkie lektuur uitgegee wat hulle gehad het.

Kursusse om in spesiale behoeftes te voorsien

Gedurende die jare sedert die eerste Gileadskoolsendelinge uitgestuur is, het die organisasie van Jehovah se Getuies verbasend vinnig gegroei. In 1943, toe die skool begin het, was daar net 129 070 Getuies in 54 lande (maar 103 lande volgens die manier waarop die kaart in die vroeë negentigerjare verdeel was). Teen 1992 was daar 4 472 787 Getuies in 229 lande en eilandgroepe oor die hele wêreld. Namate hierdie groei plaasgevind het, het die organisasie se behoeftes verander. Takkantore wat eers omgesien het na minder as honderd Getuies wat in ’n paar gemeentes gegroepeer was, hou nou toesig oor die bedrywighede van tienduisende Getuies, en baie van hierdie takke moes al plaaslik lektuur begin druk om diegene toe te rus wat aan die evangelisasiewerk deelneem.

Om in die veranderende behoeftes te voorsien, is daar 18 jaar nadat daar met die Gileadskool begin is ’n tien maande lange opleidingskursus by die Genootskap se wêreldhoofkwartier spesiaal vir broers voorsien wat baie groot verantwoordelikhede in die Wagtoringgenootskap se takkantore dra. Party van hulle het voorheen die vyf maande lange sendingkursus by Gilead bygewoon; ander het nie. Hulle kon almal baat vind by gespesialiseerde opleiding vir hulle werk. Besprekings oor hoe om verskillende situasies te hanteer en in ooreenstemming met Bybelbeginsels in organisatoriese behoeftes te voorsien, het ’n verenigende uitwerking gehad. Hulle kursus het ’n analitiese vers-vir-vers-studie van die hele Bybel behels. Dit het ook voorsiening gemaak vir ’n oorsig van godsdiensgeskiedenis; opleiding in die besonderhede wat betrokke is by die bestuur van ’n takkantoor, ’n Bethelhuis en ’n drukkery; en instruksies oor toesighouding oor die veldbediening, die organisering van nuwe gemeentes en die oopstelling van nuwe velde. Hierdie kursusse (asook ’n laaste een wat na agt maande verkort is) is van 1961 tot 1965 by die wêreldhoofkwartier, in Brooklyn, New York, aangebied. Baie van die gegradueerdes is teruggestuur na die lande waar hulle voorheen gedien het; sommige is na ander lande toe gestuur waar hulle waardevolle bydraes tot die werk kon lewer.

Van 1 Februarie 1976 af is daar ’n nuwe reëling by die Genootskap se takkantore ingestel ter voorbereiding van verdere uitbreiding, wat in ooreenstemming met Bybelprofesieë verwag is (Jes. 60:8, 22). Pleks van net een takopsiener en sy assistent te hê om oor elke tak toesig te hou, het die Bestuursliggaam drie of meer bekwame broers aangestel om op elke Takkomitee te dien. Groter takke kan tot sewe komiteelede hê. Om al hierdie broers op te lei, is ’n spesiale Gileadkursus van vyf weke in Brooklyn, New York, gereël. Veertien klasse wat uit Takkomiteelede uit alle wêrelddele bestaan het, het van laat 1977 tot 1980 hierdie spesiale opleiding by die wêreldhoofkwartier ontvang. Dit was ’n uitstekende geleentheid om werksaamhede gelykvormig te maak en te verfyn.

Die Gileadskool het steeds diegene opgelei wat reeds baie jare in die voltydse bediening was en bereid was om na ander lande toe gestuur te word, maar meer kon gebruik word. Om die opleiding te bespoedig, is skole in ander lande in werking gestel ter uitbreiding van Gilead, sodat studente nie Engels hoef te leer voordat hulle dit kan bywoon nie. In 1980-81 het Mexiko se Gileadkultuurskool Spaanse studente opgelei wat gehelp het om in ’n onmiddellike behoefte aan gekwalifiseerde werkers in Sentraal- en Suid-Amerika te voorsien. In 1981-82, 1984 en weer in 1992 is daar ook klasse van die Gileaduitbreidingskool in Duitsland gehou. Van daar af is die gegradueerdes na Afrika, Oos-Europa, Suid-Amerika en verskeie ander eilandnasies toe gestuur. Nog klasse is in 1983 in Indië gehou.

Namate ywerige plaaslike Getuies saam met die sendelinge begin het om die Koninkryksgetuieniswerk uit te brei, het die aantal Getuies van Jehovah vinnig toegeneem, en dit het tot die stigting van nog gemeentes gelei. Tussen 1980 en 1987 het die aantal gemeentes oor die hele wêreld met 27 persent toegeneem tot altesaam 54 911. Hoewel baie op sommige plekke die vergaderinge bygewoon en aan die velddiens deelgeneem het, was die meeste van die broers taamlik nuut. Ervare Christenmanne was dringend nodig om as geestelike herders en onderrigters te dien en die leiding in die evangelisasiewerk te neem. Om in hierdie behoefte te help voorsien, het die Bestuursliggaam in 1987 die Bedieningsopleidingskool in werking gestel as ’n afdeling van die Gileadskoolprogram vir Bybelonderrig. Die kursus van agt weke behels onder meer ’n intensiewe studie van die Bybel asook persoonlike aandag aan elke student se geestelike vordering. Organisatoriese en regterlike sake, asook die verantwoordelikhede van ouere manne en bedieningsknegte, word bespreek en spesiale opleiding in die openbare spreekkuns word gegee. Hierdie skool maak nie inbreuk op die gereelde opleidingsklasse vir sendelinge nie, maar gebruik ander fasiliteite waar hulle in die verskillende lande bymekaarkom. Gegradueerdes voorsien nou in noodsaaklike behoeftes in baie lande.

Die uitgebreide opleiding wat deur die Wagtoring-Bybelskool Gilead voorsien word, hou dus tred met die veranderende behoeftes van die snelgroeiende internasionale organisasie.

“Hier is ek, stuur my”

Die sendelinge lê dieselfde gesindheid as die profeet Jesaja aan die dag. Toe Jehovah hom die geleentheid gegee het om spesiale diens te verrig, het hy geantwoord: “Hier is ek, stuur my” (Jes. 6:8). Hierdie bereidwillige gesindheid het duisende jong mans en vroue beweeg om hulle bekende omgewing en familie agter te laat om God se wil te bevorder waar hulle ook al nodig is.

Gesinsverantwoordelikhede het die lewe van baie sendelinge verander. Party wat kinders gehad het nadat hulle sendelinge geword het, kon in die land bly waarheen hulle gestuur is, die nodige sekulêre werk doen en saam met die gemeentes werk. Sommige moes ná jare van diens na hulle tuisland terugkeer om vir bejaarde ouers te sorg of om ander redes. Maar hulle het dit as ’n voorreg beskou om so lank as wat hulle kon in die sendingdiens te bly.

Ander kon die sendingdiens hulle lewenstaak maak. Om dit te kon doen, moes hulle almal uitdagings die hoof bied. Olaf Olson, wat lank as ’n sendeling in Colombia gedien het, het erken: “Die eerste jaar was die moeilikste.” Dit was hoofsaaklik omdat hy homself nie goed genoeg in sy nuwe taal kon uitdruk nie. Hy het bygevoeg: “As ek bly dink het aan die land wat ek verlaat het, sou ek nie gelukkig gewees het nie, maar ek het my voorgeneem om liggaamlik en verstandelik in Colombia te woon, vriende met die broers en susters daar in die waarheid te maak, die bediening ’n belangrike plek in my lewe te laat beklee, en toe het my toewysing gou my tuiste geword.”

Hulle het nie noodwendig in hulle toewysings volhard omdat hulle fisiese omstandighede ideaal was nie. Norman Barber, wat van 1947 tot sy dood in 1986 in Birma (nou Myanma) en Indië gedien het, het hom so uitgespreek: “As iemand hom daarin verheug om deur Jehovah gebruik te word, dan is die een plek net so goed soos die ander. . . . Om die waarheid te sê, ek hou nou nie juis van die tropiese klimaat nie. As ek kon kies, sou ek ook nie soos die tropiese mense wou leef nie. Maar daar is belangriker dinge wat in ag geneem moet word as sulke onbeduidende sake. Om mense wat werklik geestelik arm is te kan help, is ’n voorreg wat nie in woorde uitgedruk kan word nie.”

Baie ander dink ook so, en hierdie selfopofferende gesindheid het grootliks bygedra tot die vervulling van Jesus se profesie dat hierdie goeie nuus van die Koninkryk in die hele bewoonde aarde verkondig sal word tot ’n getuienis vir al die nasies voordat die einde kom.—Matt. 24:14, NW.

[Voetnoot]

a Die Wagtoring, 1 Augustus 1943, bl. 10-12 (Engelse uitgawe, 15 Februarie 1943).

[Lokteks op bladsy 523]

Die belangrikheid van algehele vertroue op Jehovah en lojaliteit teenoor hom word beklemtoon

[Lokteks op bladsy 534]

’n Goeie sin vir humor het gehelp!

[Lokteks op bladsy 539]

Geduld, liefdevolle hulp en ferm optrede wanneer nodig

[Lokteks op bladsy 546]

‘Om mense te help wat werklik geestelik arm is, is ’n voorreg wat nie in woorde uitgedruk kan word nie’

[Venster op bladsy 533]

Gileadklasse

1943-60: Skool by South Lansing, New York. In 35 klasse het daar 3 639 studente uit 95 lande gegradueer, en die meeste van hulle het sendingtoewysings ontvang. Kring- en streekopsieners in die Verenigde State het ook deel van die klasse uitgemaak.

1961-65: Skool in Brooklyn, New York. In 5 klasse het daar 514 studente gegradueer en is hulle na lande gestuur waar die Wagtoringgenootskap takkantore gehad het; die meeste van die gegradueerdes het administratiewe toewysings ontvang. Vier van hierdie klasse het ’n 10 maande lange kursus gehad; een ’n kursus van 8 maande.

1965-88: Skool in Brooklyn, New York. In 45 klasse, wat elk uit ’n kursus van 20 weke bestaan het, is nog 2 198 studente opgelei, die meeste van hulle vir die sendingdiens.

1977-80: Skool in Brooklyn, New York. Vyf weke lange Gileadkursus vir Takkomiteelede. Veertien klasse is gehou.

1980-81: Gileadkultuurskool van Mexiko; kursus van 10 weke; drie klasse; 72 Spaanssprekende gegradueerdes is voorberei vir diens in Latyns-Amerika.

1981-82, 1984, 1992: Gileaduitbreidingskool in Duitsland; kursus van 10 weke; vier klasse; 98 Duitssprekende studente uit Europese lande.

1983: Klasse in Indië; kursus van 10 weke wat in Engels gehou is; 3 groepe; 70 studente.

1987- : Bedieningsopleidingskool met ’n kursus wat 8 weke duur, word op sleutelplekke in verskeie wêrelddele gehou. Van 1992 af dien gegradueerdes reeds in meer as 35 lande buite hulle geboorteland.

1988- : Skool by Wallkill, New York. Kursus van 20 weke ter voorbereiding van sendingdiens word tans daar aangebied. Volgens plan sal die skool na die Wagtoring-opleidingsentrum by Patterson, New York, verskuif word wanneer dit voltooi is.

[Venster op bladsy 538]

Internasionale studenteliggaam

Studente wat die Gileadskool bygewoon het, het talle nasionaliteite verteenwoordig en het uit meer as 110 lande na die skool toe gekom.

Die eerste internasionale groep was die sesde klas, in 1945-46.

Die Amerikaanse regering is gevra om buitelandse studente in die land toe te laat onder die reëling vir nie-immigrasie-studentevisums. Die Amerikaanse Buro vir Opvoeding het die Gileadskool erken as ’n skool wat onderrig voorsien wat vergelyk kan word met dié van professionele kolleges en opvoedingsinstellings. Sedert 1953 het Amerikaanse konsuls dwarsdeur die wêreld dus die Wagtoring-Bybelskool Gilead op hulle lys van goedgekeurde opvoedingsinstellings. Van 30 April 1954 af het hierdie skool verskyn in die publikasie met die titel “Educational Institutions Approved by the Attorney General”.

[Prente op bladsy 522]

Studente van die eerste klas van die Gileadskool

[Prent op bladsy 524]

Albert Schroeder bespreek aspekte van die tabernakel met Gileadstudente

[Prent op bladsy 525]

Maxwell Friend hou ’n toespraak by die Gileadskoolamfiteater

[Prente op bladsy 526]

Gileadgradueringsplegtighede was geestelike hoogtepunte

. . . sommige by groot byeenkomste (New York, 1950)

. . . sommige op die skoolkampus (met N. H. Knorr wat voor die skoolbiblioteek praat, in 1956)

[Prente op bladsy 527]

Gileadskoolkampus by South Lansing, New York, soos dit in die vyftigerjare gelyk het

[Prent op bladsy 528]

Hermon Woodard (links) en John Errichetti (regs) dien in Alaska

[Prent op bladsy 529]

John Cutforth gebruik aanskouingsmiddele in Papoea-Nieu-Guinee

[Prent op bladsy 530]

Sendelinge saam met streekopsiener in Ierland, in 1950

[Prent op bladsy 530]

Gegradueerdes op pad na sendeling- toewysings in die Ooste in 1947

[Prent op bladsy 530]

’n Paar sendelinge en medearbeiders in Japan in 1969

[Prente op bladsy 530]

Sendelinge in Brasilië in 1956

. . . in Uruguay in 1954

. . . in Italië in 1950

[Prent op bladsy 530]

Eerste vier Gileadopgeleide sendelinge wat na Jamaika gestuur is

[Prent op bladsy 530]

Eerste sendinghuis in Salisbury (nou Harare, Zimbabwe), in 1950

[Prent op bladsy 530]

Malcolm Vigo (Gilead, 1956-57), by sy vrou Linda Louise; hulle het saam in Malawi, Kenia en Nigerië gedien

[Prent op bladsy 530]

Robert Tracy (links) en Jesse Cantwell (regs), by hulle vrouens—sendelinge in die reisende werk in Colombia in 1960

[Prent op bladsy 532]

Taalklas in sendinghuis in Côte d’Ivoire

[Prent op bladsy 535]

Ted en Doris Klein, wat in 1947 baie mense op die Amerikaanse Maagde-eilande aangetref het wat graag na Bybelwaarheid wou luister

[Prent op bladsy 536]

Harvey Logan (middel voor) in die sestigerjare saam met Amis-getuies voor die Koninkryksaal

[Prent op bladsy 540]

Victor White, Gileadopgeleide streekopsiener, hou in 1949 ’n toespraak in die Filippyne

[Prent op bladsy 542]

Margarita Königer, in Burkina Faso, hou ’n tuisbybelstudie

[Prent op bladsy 543]

Unn Raunholm, wat sedert 1958 ’n sendeling is, het in Ecuador te kampe gehad met bendes wat deur die priesters gelei is

[Prente op bladsy 545]

Bedieningsopleidingskool

Eerste klas, Coraopolis, Pa., VSA, in 1987 (bo)

Derde klas in Brittanje, in Manchester, in 1991 (regs)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel