Hoofstuk Sewentien
Beoefen godvrugtige toegewydheid in die huis
1. Watter uitwerking het dit op huwelike gehad wanneer die riglyne in God se Woord gevolg is?
JEHOVAH is die Insteller van die huwelik, en sy Woord voorsien die allerbeste riglyne vir gesinne. Baie mense het ’n suksesvolle huwelik gebou omdat hulle hierdie riglyne gevolg het. Dit is prysenswaardig dat party wat bloot saamgelewe het, beweeg is om hulle huwelik wettig te laat registreer. Ander het buite-egtelike verhoudings beëindig. Gewelddadige mans wat hulle vrou en kinders mishandel het, het geleer om goedhartigheid en teerheid te bewys.
2. Wat behels Christelike gesinslewe?
2 Christelike gesinslewe behels baie dinge, soos hoe ons die permanentheid van die huwelik beskou, wat ons doen om ons gesinsverantwoordelikhede na te kom en hoe ons gesinslede behandel (Efesiërs 5:33–6:4). Ons weet dalk wat die Bybel oor gesinslewe sê, maar dit is iets heeltemal anders om die Bybel se raad toe te pas. Nie een van ons wil wees soos diegene wat deur Jesus veroordeel is omdat hulle God se gebooie omseil het nie. Hulle het verkeerdelik geredeneer dat godsdienstige toegewydheid genoeg is (Matteus 15:4-9). Ons wil nie ’n vorm van godvrugtige toegewydheid hê maar versuim om dit in ons eie huis te beoefen nie. Ons wil eerder ware godvrugtige toegewydheid openbaar, wat “’n middel tot groot gewin” is.—1 Timoteus 5:4; 6:6; 2 Timoteus 3:5.
Hoe lank sal die huwelik duur?
3. (a) Wat gebeur met baie huwelike, maar wat moet ons vasbeslote wees om te doen? (b) Gebruik jou Bybel en beantwoord die vrae onder hierdie paragraaf.
3 Huweliksbande word vandag al hoe swakker. Party egpare wat jare lank getroud is, besluit om te skei en met iemand anders te trou. Dit is ook nie meer vreemd om te hoor dat jong egpare uitmekaargegaan het nadat hulle net ’n kort rukkie getroud was nie. Ongeag wat ander doen, dit moet ons begeerte wees om Jehovah te behaag. Laat ons dus na die volgende vrae en tekste kyk om te sien wat God se Woord oor die permanentheid van die huwelik sê.
Hoe lank moet ’n man en vrou verwag om bymekaar te bly wanneer hulle trou? (Markus 10:6-9; Romeine 7:2, 3)
Wat is voor God die enigste geldige grond vir egskeiding met die moontlikheid om weer te trou? (Matteus 5:31, 32; 19:3-9)
Hoe voel Jehovah oor egskeidings wat nie deur sy Woord toegelaat word nie? (Maleagi 2:13-16)
Beveel die Bybel dit aan dat huweliksmaats uitmekaargaan om huweliksprobleme op te los? (1 Korintiërs 7:10-13)
Onder watter omstandighede kan dit geregverdig wees om uitmekaar te gaan? (Psalm 11:5; Lukas 4:8; 1 Timoteus 5:8)
4. Waarom duur party huwelike voort?
4 Party huwelike is suksesvol, blywend. Waarom? Een faktor is dat albei partye wag totdat hulle volwasse is voordat hulle trou, maar dit is ook belangrik om ’n maat te vind wat in dieselfde dinge as jy belangstel en sake openlik kan bespreek. Dit is egter van groter belang om ’n maat te vind wat Jehovah liefhet en sy Woord respekteer as die grondslag vir die hantering van probleme (Psalm 119:97, 104; 2 Timoteus 3:16, 17). So iemand sal nie die gesindheid hê dat hy altyd sy maat kan verlaat of kan skei as sake nie goed verloop nie. Hy sal nie sy maat se tekortkominge as ’n verskoning gebruik om sy eie verantwoordelikhede te ontduik nie. Hy sal eerder probleme onder die oë sien en praktiese oplossings vind.
5. (a) Hoe is lojaliteit aan Jehovah by die huwelik betrokke? (b) Watter voordele kan dit inhou as iemand ondanks teenstand by Jehovah se standaarde bly?
5 Satan beweer dat ons Jehovah se weë sal verlaat wanneer ons swaar kry (Job 2:4, 5; Spreuke 27:11). Maar die oorgrote meerderheid van Jehovah se Getuies wat swaar gekry het omdat hulle huweliksmaat hulle teëgestaan het, het nie hulle huweliksgeloftes gebreek nie. Hulle bly lojaal aan Jehovah en sy gebooie (Matteus 5:37). Party wat volhard het, het die vreugde gesmaak dat hulle huweliksmaat Jehovah saam met hulle begin dien het—selfs ná jare van teenstand! (1 Petrus 3:1, 2). Wat Christene betref wie se maat geen teken van verandering toon nie of wie se maat hulle verlaat het omdat hulle Jehovah dien, ook hulle weet dat hulle geseën sal word omdat hulle bewys lewer van godvrugtige toegewydheid in die huis.—Psalm 55:22; 145:16.
Elkeen doen sy deel
6. Watter reëling moet gerespekteer word as ’n mens ’n suksesvolle huwelik wil hê?
6 ’n Suksesvolle huwelik vereis natuurlik meer as om net bymekaar te bly. ’n Basiese vereiste vir elke maat is respek vir Jehovah se hoofskapreëling. Dit dra by tot goeie orde en ’n gevoel van veiligheid in die huis. In 1 Korintiërs 11:3 lees ons: “Die Christus [is] die hoof . . . van elke man; en die man is die hoof van die vrou; en God is die hoof van die Christus.”
7. Hoe moet hoofskap in die gesin uitgeoefen word?
7 Het jy opgemerk wat hierdie vers eerste meld? Ja, elke man het ’n Hoof, Christus, aan wie hy hom moet onderwerp. Dit beteken dat die man hoofskap moet uitoefen op ’n manier wat Jesus se eienskappe weerspieël. Christus onderwerp hom aan Jehovah, het die gemeente innig lief en sorg daarvoor (1 Timoteus 3:15). Hy het hom selfs “daarvoor oorgegee”. Jesus is nie trots en onbedagsaam nie, maar “saggeaard en nederig van hart”. Diegene wat onder sy hoofskap kom, ‘vind verkwikking vir hulle siele’. Wanneer ’n man sy gesin so behandel, toon hy dat hy hom aan Christus onderwerp. ’n Christenvrou behoort dit dan voordelig en verkwikkend te vind om met haar man saam te werk en haar aan sy hoofskap te onderwerp.—Efesiërs 5:25-33; Matteus 11:28, 29; Spreuke 31:10, 28.
8. (a) Waarom lyk dit dalk of Christelike metodes in sommige huise nie die gewenste resultate behaal nie? (b) Wat moet ons in so ’n situasie doen?
8 Maar probleme sal ontstaan. Voordat enigiemand in die gesin Bybelbeginsels begin toepas het, was daar dalk reeds in ’n mate ’n diepgewortelde afkeer daarvan om deur ander voorgeskryf te word. Vriendelike versoeke en ’n liefdevolle benadering werp oënskynlik geen vrugte af nie. Ons weet die Bybel sê dat ons “gramskap en geskreeu en smadende taal” moet aflê (Efesiërs 4:31). Maar wat moet gedoen word as dit lyk of party niks anders verstaan nie? Wel, Jesus het nie diegene nagevolg wat gedreig en uitgeskel het nie, maar het op sy Vader vertrou (1 Petrus 2:22, 23). Wanneer moeilike situasies in die gesin ontstaan, moet ons dus bewys lewer van godvrugtige toegewydheid deur eerder tot Jehovah om hulp te bid as om die weë van die wêreld na te volg.—Spreuke 3:5-7.
9. Wat het baie Christenmans geleer om te doen eerder as om fout te vind?
9 Veranderinge vind nie altyd vinnig plaas nie, maar Bybelraad werk beslis wanneer dit geduldig en ywerig toegepas word. Baie mans het gevind dat hulle huwelik begin verbeter het toe hulle tot ’n begrip gekom het van hoe Christus die gemeente behandel. Hierdie gemeente bestaan nie uit volmaakte mense nie. Tog het Jesus dit lief, stel hy die regte voorbeeld daarvoor en gebruik hy die Skrif om dit te help om te verbeter. Hy het sy lewe vir die gemeente afgelê (1 Petrus 2:21). Sy voorbeeld het baie Christenmans aangespoor om goeie gesinshoofde te wees en om liefdevolle hulp met die oog op verbetering te verleen. Dit lewer baie beter resultate as om fout te vind of te weier om te praat.
10. (a) Hoe kan ’n man of ’n vrou—selfs een wat sê dat hy of sy ’n Christen is—die lewe vir ander in die huis moeilik maak? (b) Wat kan gedoen word om die situasie te verbeter?
10 Sê nou ’n man is nie sensitief vir sy gesin se emosionele behoeftes nie of neem nie die inisiatief om gesinsbesprekings van die Bybel of ander bedrywighede te reël nie? Of sê nou ’n vrou gee nie haar samewerking deur goddelike onderdanigheid te toon nie? Party behaal goeie resultate deur probleme as ’n gesin op respekvolle wyse te bespreek (Genesis 21:10-12; Spreuke 15:22). Maar al is die resultate nie heeltemal na wense nie, kan elkeen van ons tot ’n beter atmosfeer in die huis bydra deur die vrugte van God se gees in ons lewe te openbaar en liefdevolle besorgdheid oor ander gesinslede te toon (Galasiërs 5:22, 23). Die situasie sal nie verbeter as ons vir die ander persoon wag om iets te doen nie, maar wel as ons ons deel doen en sodoende toon dat ons godvrugtige toegewydheid beoefen.—Kolossense 3:18-21.
Waar om antwoorde te kry
11, 12. Wat het Jehovah voorsien om ons te help om ’n sukses van ons gesinslewe te maak?
11 Daar is baie bronne waar mense raad soek oor hulle gesinsaangeleenthede. Maar ons weet dat God se Woord die allerbeste raad bevat, en ons is dankbaar dat God ons deur sy sigbare organisasie help om dit toe te pas. Vind jy ten volle baat by hierdie hulp?—Psalm 119:129, 130; Miga 4:2.
12 Sit jy, afgesien van die bywoning van gemeentelike vergaderinge, gereeld tyd opsy vir ’n gesinsbybelstudie? Gesinne wat dit doen, kan daarna streef om verenig te wees in hulle aanbidding. Hulle gesinslewe word verryk namate hulle God se Woord in hulle eie omstandighede toepas.—Deuteronomium 11:18-21.
13. (a) Waar kan ons dikwels die nodige hulp vind as ons vrae oor gesinsaangeleenthede het? (b) Wat moet weerspieël word in al die besluite wat ons neem?
13 Jy het dalk vrae oor gesinsaangeleenthede. Byvoorbeeld, wat van geboortebeperking? Is ’n aborsie ooit geregverdig? In watter mate moet daar van ’n kind verwag word om saam met die gesin te aanbid as hy min belangstelling in geestelike sake toon? Baie van hierdie soort vrae is al bespreek in die lektuur wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. Leer om Bybelstudiehulpe, onder andere indekse, te gebruik om die antwoorde te vind. Kyk in die biblioteek by die Koninkryksaal as jy nie die publikasies het waarna ’n indeks verwys nie. Of dalk het jy op jou rekenaar toegang tot hierdie publikasies. Jy kan ook jou vrae met ryp Christenmans en -vroue bespreek. Maar moenie altyd ’n ja- of nee-antwoord op elke vraag verwag nie. Dikwels moet jy self besluit—persoonlik of as ’n egpaar. Neem dan besluite wat toon dat jy nie net godvrugtige toegewydheid in die openbaar beoefen nie, maar ook in die huis.—Romeine 14:19; Efesiërs 5:10.
Hersieningsbespreking
• Hoe hou lojaliteit aan Jehovah verband met getrouheid aan jou huweliksmaat?
• Wat sal ons help om te doen wat God behaag wanneer ons weens gesinsprobleme onder druk verkeer?
• Wat kan ons doen om die situasie te verbeter, selfs al doen ander in die gesin nie hulle deel nie?
[Prent op bladsy 155]
’n Man se hoofskap moet Jesus se eienskappe weerspieël
[Prent op bladsy 157]
’n Gereelde gesinsbybelstudie help om die gesin te verenig