HOOFSTUK 20
Wil jy altyd eerste wees?
KEN jy iemand wat altyd eerste wil wees?— Dalk stoot hy iemand uit die pad sodat hy eerste in die tou kan wees. Het jy dit al sien gebeur?— Die Groot Onderwyser het selfs grootmense gesien wat die eerste, of belangrikste, plekke wou hê. En hy het nie daarvan gehou nie. Kom ons kyk wat het gebeur.
Het jy al gesien hoe mense eerste probeer wees?
Die Bybel vertel vir ons dat Jesus na ’n groot ete genooi is by die huis van ’n Fariseër, wat ’n belangrike godsdiensleier was. Nadat Jesus daar aangekom het, het hy gekyk hoe ander gaste inkom en die beste plekke kies. Daarom het hy vir die mense wat genooi is, ’n storie vertel. Wil jy dit graag hoor?—
Jesus het gesê: ‘Wanneer iemand jou na ’n huweliksfees toe nooi, moet jy nie die beste, of belangrikste, plek kies nie.’ Weet jy hoekom Jesus dit gesê het?— Hy het verduidelik dat iemand wat belangriker is, miskien ook genooi is. Soos jy in die prent kan sien, kom die een wat die fees hou dan en sê: ‘Gee die plek aan hierdie man, en gaan sit jy daar anderkant.’ Hoe sal die gas dan voel?— Hy sal skaam voel, want al die ander gaste sal kyk hoe hy na die minder belangrike plek gaan.
Jesus het gewys dat dit nie reg is om die beste plek te wil hê nie. Hy het gesê: ‘Wanneer jy na ’n huweliksfees toe genooi word, moet jy op die onbelangrikste plek gaan sit. Dan sal die een wat jou genooi het, miskien kom en sê: “Vriend, gaan hoër op.” Jy sal dan eer voor al die ander gaste hê wanneer jy na die beter plek gaan.’—Lukas 14:1, 7-11.
Watter les het Jesus vir mense geleer toe hy vertel het van dié wat op die beste, of eerste, sitplekke gaan sit het?
Verstaan jy waaroor Jesus se storie gaan?— Kom ons kyk na ’n voorbeeld om te sien of jy dit verstaan het. Sê nou jy klim op ’n bus wat vol is. Moet jy gou gaan sit en ’n ouer persoon laat staan?— Sal Jesus daarvan hou as jy dit doen?—
Iemand sê dalk dat dit glad nie vir Jesus saak maak wat ons doen nie. Maar glo jy dit?— Toe Jesus by die groot ete in die huis van die Fariseër was, het hy die mense dopgehou terwyl hulle hulle sitplekke gekies het. Dink jy nie hy stel net soveel belang in wat ons vandag doen nie?— Noudat Jesus in die hemel is, is hy beslis in ’n goeie posisie om ons dop te hou.
Wanneer iemand probeer om eerste te wees, kan dit moeilikheid veroorsaak. Daar is baiekeer ’n gestry, en mense word kwaad. Dit gebeur partykeer wanneer kinders saam op ’n bus gaan ry. Sodra die bus se deure oopgaan, storm die kinders om eerste te wees. Hulle wil die beste sitplekke hê, dié naby die vensters. Wat kan dan gebeur?— Ja, hulle kan kwaad word vir mekaar.
Dit kan baie moeilikheid veroorsaak as ’n mens eerste wil wees. Dit het selfs moeilikheid onder Jesus se apostels veroorsaak. Soos ons in Hoofstuk 6 van hierdie boek geleer het, het hulle onder mekaar gestry oor wie die belangrikste is. Wat het Jesus toe gedoen?— Ja, hy het hulle reggehelp. Maar later het hulle weer gestry. Kom ons kyk hoe dit begin het.
Die apostels en ander het vir die laaste keer saam met Jesus na die stad Jerusalem gereis. Jesus het met hulle oor sy Koninkryk gepraat, en daarom het Jakobus en Johannes gedink aan hoe dit sal wees om saam met hom as konings te regeer. Hulle het selfs met hulle ma, Salome, daaroor gepraat (Matteus 27:56; Markus 15:40). Toe het Salome, terwyl hulle na Jerusalem toe op pad was, na Jesus toe gekom, voor hom gebuig en hom ’n guns gevra.
“Wat wil u hê?” het Jesus gevra. Sy het geantwoord dat sy wil hê dat Jesus haar seuns reg langs hom in sy Koninkryk moet laat sit, een aan sy regterhand en die ander een aan sy linkerhand. Wel, hoe dink jy het die tien ander apostels gevoel toe hulle uitvind wat Jakobus en Johannes hulle ma laat vra het?—
Wat vra Salome vir Jesus, en wat is die gevolg?
Ja, hulle was baie kwaad vir Jakobus en Johannes. Daarom het Jesus vir al sy apostels goeie raad gegee. Jesus het vir hulle gesê dat die heersers van die nasies daarvan hou om groot en belangrik te wees. Hulle wil ’n belangrike posisie hê waar almal hulle moet gehoorsaam. Maar Jesus het vir sy volgelinge gesê dat hulle nie so moet wees nie. Jesus het gesê: “Elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees.” Dink net daaraan!—Matteus 20:20-28.
Weet jy wat ’n slaaf doen?— Hy dien ander mense en verwag nie dat ander hom moet dien nie. Hy neem die onbelangrikste plek in, nie die eerste plek nie. Hy gedra hom soos die onbelangrikste persoon, nie die belangrikste nie. En onthou, Jesus het gesê dat die een wat eerste wil wees, soos ’n slaaf vir die ander moet wees.
Wat dink jy beteken dit dan nou vir ons?— Sal ’n slaaf met sy eienaar stry oor wie die beste sitplek gaan kry? Of sal hy stry oor wie eerste gaan eet? Wat dink jy?— Jesus het verduidelik dat ’n slaaf altyd sy eienaar bo homself stel.—Lukas 17:7-10.
Wat moet ons dan doen in plaas daarvan om eerste te probeer wees?— Ja, ons moet soos ’n slaaf vir ander mense wees. En dit beteken dat ons ander bo onsself moet stel. Dit beteken ook dat ons ander belangriker as onsself moet beskou. Kan jy aan maniere dink waarop jy ander eerste kan stel?— Kom ons gaan terug na bladsye 40 en 41 en kyk weer na party van die maniere waarop jy ander eerste kan stel deur hulle te dien.
Jy sal onthou dat die Groot Onderwyser ander bo homself gestel het deur hulle te dien. Die laaste aand wat hy saam met sy apostels was, het hy selfs gekniel en hulle voete gewas. As ons ander ook eerste stel deur hulle te dien, sal ons die Groot Onderwyser sowel as sy Vader, Jehovah God, bly maak.
Kom ons lees nog Bybeltekste wat ons aanspoor om ander bo onsself te stel: Lukas 9:48; Romeine 12:3 en Filippense 2:3, 4.