Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • lr hfst. 19 bl. 102-106
  • Is dit reg om te baklei?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is dit reg om te baklei?
  • Leer by die Groot Onderwyser
  • Soortgelyke materiaal
  • Is kinders veilig by jou hond?
    Ontwaak!—1997
  • Hoe om jou hond op te lei
    Ontwaak!—2004
  • Hulle is “Seuns van die Donder” genoem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Wil jy altyd eerste wees?
    Leer by die Groot Onderwyser
Sien nog
Leer by die Groot Onderwyser
lr hfst. 19 bl. 102-106

HOOFSTUK 19

Is dit reg om te baklei?

KEN jy enige seuns of meisies wat maak of hulle groot en sterk is?— Hou jy daarvan om saam met hulle te wees? Of wil jy liewer saam met iemand wees wat vriendelik is en vrede soek?— Die Groot Onderwyser het gesê: “Gelukkig is die vredeliewendes, want hulle sal ‘kinders van God’ genoem word.”—Matteus 5:9.

Maar partykeer doen ander mense dinge wat ons kwaad maak. Dit is mos so, nè?— Dan voel ons miskien dat ons hulle wil terugkry. Dit het eenkeer met Jesus se dissipels gebeur toe hulle saam met Jesus op pad na Jerusalem toe was. Kom ek vertel jou daarvan.

Nadat hulle ’n hele ent gereis het, het Jesus ’n paar van sy dissipels vooruit gestuur na ’n Samaritaanse dorpie om vir hulle ’n plek te kry waar hulle kon rus. Maar daardie mense wou nie hê dat hulle daar moes oorbly nie, want die Samaritane het ’n ander godsdiens gehad. En hulle het nie van enigiemand gehou wat na die stad Jerusalem toe gegaan het om te aanbid nie.

Die apostels Jakobus en Johannes is kwaad

Wat wou Jakobus en Johannes doen om die Samaritane terug te kry?

Wat sou jy gedoen het as dit met jou gebeur het? Sou jy kwaad geword het? Sou jy hulle wou terugkry?— Dit is wat die dissipels Jakobus en Johannes wou doen. Hulle het vir Jesus gesê: ‘Wil u hê ons moet sê dat vuur uit die hemel neerdaal en hulle vernietig?’ Dit is geen wonder dat Jesus hulle Seuns van die Donder genoem het nie! Maar Jesus het vir hulle gesê dat dit nie reg is om ander mense so te behandel nie.—Lukas 9:51-56; Markus 3:17.

Dit is so dat mense partykeer lelik is met ons. Ander kinders wil dalk nie hê ons moet saam met hulle speel nie. Hulle sê miskien selfs: “Ons wil jou nie hier hê nie.” Wanneer so iets gebeur, kan dit ons laat sleg voel, nè? Ons voel dalk lus om iets te doen om hulle terug te kry. Maar moet ons?—

Kry gou jou Bybel. Kom ons blaai na Spreuke hoofstuk 24, vers 29. Dit sê daar: “Moenie sê nie: ‘Net soos hy aan my gedoen het, so gaan ek aan hom doen. Ek sal elkeen volgens sy optrede vergeld.’”

Wat beteken dit vir jou?— Dit sê dat ons nie ander mense moet probeer terugkry nie. Ons moenie lelik wees met iemand net omdat hy lelik was met ons nie. Maar sê nou iemand soek skoor met jou? Hy probeer dalk om jou kwaad te maak deur jou sleg te sê. Hy lag miskien vir jou en sê dat jy bang is. Sê nou hy noem jou ’n papbroek. Wat moet jy doen? Moet jy met hom baklei?—

Kom ons kyk weer wat die Bybel sê. Blaai na Matteus hoofstuk 5, vers 39. Daar sê Jesus: “Moenie die een wat goddeloos is, teëstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang klap, draai die ander een ook na hom toe.” Wat dink jy het Jesus hiermee bedoel? Het hy bedoel dat as iemand jou met sy vuis op die een kant van jou gesig slaan, jy hom moet toelaat om jou ook op die ander kant te slaan?—

Nee, Jesus het dit glad nie so bedoel nie. ’n Klap is nie soos ’n hou met die vuis nie. Dit is meer soos ’n stamp of ’n stoot. Iemand klap ons dalk om skoor te soek. Hy wil hê ons moet kwaad word. En wat gebeur as ons kwaad word en hom dan stamp of stoot?— Ons sal heel moontlik begin baklei.

Maar Jesus wou nie hê dat sy volgelinge moet baklei nie. Daarom het hy gesê ons moenie iemand wat ons klap, terugklap nie. Ons moenie kwaad word en baklei nie. As ons dit doen, wys ons dat ons niks beter is as die een wat die bakleiery begin het nie.

Wat dink jy is die beste ding om te doen wanneer ’n stryery begin?— Om weg te loop. Die ander persoon stamp of stoot jou miskien nog ’n paar keer. Maar dit is moontlik al wat sal gebeur. As jy wegloop, beteken dit nie dat jy swak is nie. Dit beteken dat jy sterk is vir wat reg is.

’n Seun loop weg wanneer ander seuns met hom skoor soek

Wat moet ons doen as iemand met ons skoor soek?

Maar sê nou jy begin baklei en jy wen? Wat kan dan gebeur?— Die een wat jy geslaan het, kan terugkom met ’n paar van sy maats. Hulle kan jou selfs met ’n groot stok of ’n mes seermaak. Kan jy dan nou sien hoekom Jesus nie wil hê ons moet baklei nie?—

Wat moet ons doen wanneer ons ander mense sien baklei? Moet ons een van hulle se kant kies?— Die Bybel sê vir ons wat reg is. Blaai na Spreuke hoofstuk 26, vers 17. Dit sê: “Soos iemand wat ’n hond aan die ore gryp, is ’n verbyganger wat woedend word oor ’n rusie wat nie syne is nie.”

’n Seun gryp ’n hond aan die ore en die hond word kwaad

Hoe is dit soos om ’n hond aan die ore te gryp as ons inmeng wanneer ander mense baklei? Jy kan seerkry; moet dit dan nie doen nie!

Wat sal gebeur as jy ’n hond aan die ore gryp? Dit sal die hond seermaak en hy sal jou probeer byt, nè? Hoe meer die hond probeer loskom, hoe stywer sal jy aan sy ore moet vashou en hoe kwaaier sal die hond word. As jy hom los, sal hy jou moontlik seer byt. Maar kan jy net daar staan en sy ore vir ewig vashou?—

Wel, dit is die soort moeilikheid waarin ons kan beland as ons inmeng wanneer ander mense baklei. Ons weet dalk nie wie die bakleiery begin het of hoekom hulle baklei nie. Die een word miskien geslaan, maar dalk het hy iets by die ander een gesteel. As ons hom help, sou ons ’n dief help. Dit sou nie goed wees nie, nè?

Wat moet jy dan doen as jy ’n bakleiery sien?— As dit by die skool is, kan jy gou vir ’n onderwyser gaan vertel. En as dit nie by die skool is nie, kan jy een van jou ouers of ’n polisieman gaan roep. Ja, selfs wanneer ander mense wil baklei, moet ons vredeliewend wees.

’n Seun loop weg wanneer hy twee seuns sien baklei terwyl ander toekyk

Wat moet jy doen as jy ’n bakleiery sien?

Ware dissipels van Jesus doen hulle bes om nie te baklei nie. Op dié manier wys ons dat ons sterk is vir wat reg is. Die Bybel sê ’n dissipel van Jesus “hoef nie te stry nie, maar moet teer wees teenoor almal”.—2 Timoteus 2:24.

Kom ons kyk na nog goeie raad wat ons sal help om nie te baklei nie: Romeine 12:17-21 en 1 Petrus 3:10, 11.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel