Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 2/1 bl. 31-32
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Soortgelyke materiaal
  • Aanvaar altyd Jehovah se dissipline
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Hoe om liefde en genade aan sondaars te betoon
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Jehovah wil hê dat almal berou moet toon
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Hoe om swakheid, goddeloosheid en berou te onderskei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 2/1 bl. 31-32

Vrae van lesers

• Kan ’n man (of, ’n vrou) wat saam met iemand se huweliksmaat wegloop, vergewe en in die Christengemeente teruggeneem word?

Hierdie soort ding kom taamlik gereeld voor onder diegene wat nie probeer om volgens Bybelstandaarde te lewe nie. Dit gebeur daarenteen selde onder diegene wat met Jehovah se volk assosieer, wat dit nog skokkender maak wanneer dit wel gebeur. Dit is egter nie nodig om te dink dat so ’n geval volgens die een of ander menslike standaard behartig moet word nie. Net soos in die geval van ander sondes sal so ’n sondaar, voordat hy deur God en sy volk aanvaar kan word, berou moet toon en duidelik die vrugte moet dra wat by berou pas.

God se handelinge met die Israeliete toon dat hy soms selfs skokkende en volgehoue sonde vergewe het (Deut. 4:30; Jes. 55:7; 57:16-18; Sag. 1:3, 4). Jesus het melding gemaak van die ‘blydskap in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer’. Toe het hy die gedagte toegelig met die verhaal van die verlore seun wat sy geld op ’n losbandige lewe saam met hoere verkwis het. Toe die seun tot besinning gekom het, teruggekeer het en om vergifnis gesmeek het vir sy sonde teen die hemel en teen sy vader, het die vader hom uit die hart vergewe.—Luk. 15:1-7, 11-24.

Die Bybel toon egter dat ’n Christen wat sondig en nie berouvol is nie, uit die gemeente gesit moet word om dit geestelik rein te hou (1 Kor. 5:1-5, 11-13). Dit het gebeur met ’n man in Korinthe wat openlik ’n onsedelike lewe gelei het. Die Skrif toon dat so ’n man berou moet toon, sy onsedelike weg moet verwerp, hom moet bekeer en die vrugte moet dra wat by berou pas voordat hy deur die gemeente teruggeneem kan word. Hy het dit klaarblyklik kort daarna gedoen. In Tweede Korinthiërs, wat moontlik minder as ’n jaar later geskryf is, het die apostel Paulus die gemeente aangespoor om ’n sondaar te vergewe, en hy het klaarblyklik verwys na daardie uitgesette man wat berou moes gehad het.—2 Kor. 2:5-10; Matt. 3:7, 8; Hand 26:20.

Hierdie Skriftuurlike prosedure om mense uit te sit, word vandag ook deur gemeentes van Jehovah se Getuies gebruik. En ooreenkomstig hierdie voorbeeld is daar geen bepaalde tyd wat moet verstryk voordat ’n persoon herstel kan word nie; daar moet net opregte berou wees, en dit kan dalk eers na etlike jare betoon word.

In die buitengewone geval wat in die vraag gemeld is, was daar heel moontlik ’n geknoeiery en bedrog. Byvoorbeeld, ’n man (moontlik self getroud) raak verlief op iemand anders se vrou. Dan volg daar moontlik ’n geheime flirtasie, geheime ontmoetings en ongeopenbaarde betonings van hartstog. Leuens en bedrog word gebruik om dit vir ander, veral die onskuldige huweliksmaat of huweliksmaats, geheim te hou. Mettertyd loop die twee saam weg en trou hulle met mekaar na ’n onskriftuurlike egskeiding. Hulle was heel moontlik bedag op die gevolge en het besef dat hulle uitgesit sou word. Maar hulle dink dat hulle “moontlik oor ’n jaar of wat” kan sê dat hulle berouvol is en herstel kan word sodat dinge is net soos hulle dit wil hê. Dit is egter ’n ernstige fout om misbruik te maak van goddelike barmhartigheid. Galasiërs 6:7 verseker ons: “God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit al hy ook maai.” Dit blyk uit talle tekste dat Jehovah hoerery afkeur, en diegene wat verkeerde begeertes koester, moet dit nie uit die oog verloor nie.—Vergelyk Openbaring 21:8; 22:15.

Indien so ’n uitgesette persoon later na die geestelike ouere manne wat die gemeente verteenwoordig, kom en versoek om herstel te word, moet die dinge wat gebeur het, sowel as die oortreder se gesindheid in aanmerking geneem word. In verband met die eenheid van die geloof het Paulus gesê dat ons nie beïnvloed moet word deur “die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring” nie (Ef. 4:13, 14). Dit is waar wanneer ’n mens leerstellige dwaling moet vermy en dit is net so waar wanneer ’n mens moet verhoed dat daar persone in die gemeente kom wat moedswillig van misleiding en bedrieëry gebruik maak om verkeerde dinge te doen.—Vergelyk 2 Korinthiërs 11:13; Psalm 101:7; 119:118.

Die komitee van ouere manne wat so ’n versoek om herstelling behartig, sal aandag wil skenk aan die verskil tussen ’n persoon wat in ’n oomblik van swakheid voor sonde swig en iemand wat konkel om te sondig. Ons kan onthou dat God Petrus genade betoon het nadat hy Jesus drie keer verloën het; maar God het Ananias en Saffira, wat in hulle harte planne beraam het om bedrog te pleeg, tereggestel.—Hand. 5:1-11.

Ouere manne moet dus groot versigtigheid aan die dag lê in gevalle waar geveinsdheid en sameswering betrokke is. ’n Persoon kan droefheid en berou veins, maar sal hy, indien hy weer aan die begin was, “alles weer net so doen”? Sal hy sy maat vir ’n ander een verlaat? Hy het natuurlik nou ’n nuwe huweliksverhouding betree en kan nie sommer ’n einde daaraan maak en weer soos tevore begin lewe nie; die vorige huwelik het geëindig met die egskeiding, owerspel en nuwe huwelik (Matt. 19:9). Toon hy egter opregte berou en is hy ‘verbrysel’ van hart en diep bedroef? (Jes. 57:15). Het hy ’n weersin teen die sonde wat hy gepleeg het, of is hy net jammer dat hy uitgesit is en nie Christelike omgang kan geniet nie? Het hy oor ’n voldoende tydperk, wat nie vooraf bepaal kan word me, die vrugte gedra wat by berou pas? Die ouere manne moet oortuig wees en glad nie twyfel dat daar ware berou is nie. Indien hulle nie opreg sekerheid oor die saak het nie, kan hulle besluit om te wag en later weer vergader om die saak te hersien wanneer daar meer getuienis is.

Die ouere manne moet diep bewus wees van hulle verantwoordelikheid om die gemeente te beskerm, en nogtans altyd bewus wees van God se barmhartigheid en begeerte dat persone die lewe moet kry (Rom. 2:4). Hulle besef dat hulle nie bomenslike vermoë het om soos Jehovah, voor wie die sondaar aanspreeklik is, harte en beweegredes volmaak te beoordeel nie (Hebr. 4:13). Hulle sal dus daarna streef om hulle bespreking en besluit deur God se Woord te laat lei asook deur wat hulle kan vasstel oor die uitgesette persoon se gesindheid en harttoestand. Indien die komitee van ouere manne mettertyd tot die gevolgtrekking kom dat die sondaar hom waarlik bekeer het en hom daarop toegelê het om sy hart te reinig, is herstelling in die haak, soos dit die geval was met die man in Korinthe (Jak. 4:8). Maar daar is geen bepaalde tyd waarna dit moet plaasvind nie. En hoewel die gemeente so ’n sondaar herstel, moet ons onthou dat hy of sy nog “voor die regterstoel van God moet verskyn” om rekenskap te gee.—Rom. 14:10-12, NAB.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel