Is daar ’n beter manier om liefde te bewys?
Van al die eienskappe wat ons kan aankweek, ‘is die liefde die grootste’ (1 Kor. 13:13). Die soort liefde waarvan die apostel Paulus hier gepraat het, was nie éros, ’n liefde gebaseer op geslagsaantrekking en waarvandaan ons die woord “eroties” kry nie; dit was ook nie storgé, die liefde wat gebaseer is op gesinsverwantskap nie; dit was ook nie philia, die liefde wat gebaseer is op eenderse smaak nie. Die Griekse woord wat die apostel hier gebruik het, is agápe, die positiewe liefde wat op beginsel gebaseer en volkome altruïsties is.
Een van die maniere waarop ons liefde kan bewys, is deur dinge van ’n materiële aard of met materiële waarde te gee. Dit is op sigself goed. Maar is daar dalk ’n beter manier? ’n Geliefde Bybelstudent van jare gelede het na bewering gesê: ‘Indien ons kon kies of ons meer geld aan die Here se werk wou gee of meer van ons tyd en energie, sou dit verstandiger wees om laasgenoemde te doen—om meer van ons tyd en energie te gee.’ Waarom? Omdat dit heel moontlik meer eer en lof vir God en meer geluk vir onsself sal meebring.
Die Christengetuies van Jehovah is oor die algemeen bewus van hierdie beginsel. ’n Paar jaar gelede het ’n Pittsburghse koerantopskrif gesê: “Jehovah se Getuies gee hulle arbeid om Byeenkomssaal naby lughawe te bou.” Die artikel het ’n groot foto geplaas van hoe daar by die byeenkomssaal gewerk word en gesê dat letterlik duisende hulle hulp aangebied het en dat daar soms meer opgedaag het om te help as wat gebruik kon word. Nadat hy hierdie berig gelees het, het ’n diaken van ’n Protestantse kerk gekla oor die swak reaksie op ’n oproep om hulp met ’n sekere projek waaroor hy toesig moes hou: “Dink aan die groot aantal Protestantse kerke en al die verwante groepe wat by die projek betrokke is . . . [nogtans] is dit vir my moeilik om ses mans op ’n slag te kry om ’n dag lank gratis aan die projek te werk.” Hierdie talle kerkgangers het klaarblyklik gemeen dat dit makliker is om hulle geld te gee as om van hulleself—van hulle tyd en energie—te gee.
Eerlikheid, soos aan die dag gelê is deur God se skrywers, die geïnspireerde Bybelskrywers, vereis dat daar melding gemaak word van die feit dat diegene wat bely dat hulle ten volle toegewyde knegte van Jehovah God is, ook soms nie heeltemal die regte beskouing het nie. In verband met die bou van ’n Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies wat onlangs voltooi is, het die bou-opsiener byvoorbeeld gesê dat die broers op ’n wonderbaarlike wyse geld bygedra het; hoewel die saal amper ’n miljoen rand sou gekos het, was dit so te sê afbetaal teen die tyd dat die gebou voltooi is. Maar wanneer hulle hierdie bouprojek met hulle tyd en krag moes ondersteun, was dieselfde waardering nie daar nie.
Wat was die probleem? Baie het klaarblyklik gemeen dat hulle milddadige geldelike bydraes genoeg was. Milddadige bydraes is weliswaar ’n baie goeie ding. Maar geldelike bydraes op sigself het hulle nie onthef van die verantwoordelikheid om hulle tyd en energie te gee wanneer hulle dit kon doen nie. Daar kan gesê word dat Jesus Christus hierdie punt gestel het toe hy vir ’n sekere jong owerste gesê het om nie alleen sy besittings te verkoop en die geld aan die armes te gee nie, maar om hom dan te volg.—Luk. 18:18-23.
Hierdie selfde beginsel is op alle aspekte van Christelike diens van toepassing. Trouens, sal dit nie beter wees indien dit vir ’n persoon moontlik is om al sy tyd en energie aan God se diens te wy nie? Dit is miskien geriefliker om geld in die bydraebus by die Koninkryksaal te gooi as om op te daag om die Koninkryksaal skoon te maak en die Koninkryksaalterrein te versorg wanneer dit jou beurt is. Maar sal laasgenoemde nie meer liefde betoon nie? Dit is dalk makliker om geld by te dra vir die druk van Bybels en Bybellektuur as om tyd opsy te sit om hierdie gedrukte materiaal na die huise van die mense te neem, die goeie nuus van God se koninkryk te verkondig en om dissipels te probeer maak. Maar is die laasgenoemde nie weer eens ’n beter manier om liefde te bewys nie, en is dit nie wat Jesus voorspel en beveel het sy volgelinge moet doen nie? Dit is, soos ons kan sien uit Mattheüs 24:14 en Mattheüs 28:19, 20.
Hierdie beginsel geld ook in die gesinskring. Dit is prysenswaardig as ‘n man geld aan sy vrou bestee. Maar bewys hy nie meer liefde wanneer hy vir haar van sy tyd, aandag en belangstelling gee nie? Hy kan inderdaad baie vrygewig met sy geld wees en nie waarlik sy vrou liefhê nie. Daar was byvoorbeeld eenkeer ’n prokureur wat groot aansien op politieke gebied geniet het en wat op materiële gebied baie vrygewig teenoor sy vrou was. Maar eendag was sy geskok om te hoor dat hy in die stilligheid ’n minnares gehad het. Materiële geskenke hoef dus nie eens ’n blyk van ware liefde te wees nie. Eggenote kan, afhangende van omstandighede, meer of minder op ’n materiële wyse voorsien; maar wat die “uitnemender weg” betref, het ryk en arm dieselfde geleenthede.—1 Kor. 12:31-13:13.
Die situasie is soortgelyk wanneer ouers liefde aan hulle kinders moet betoon. Omdat party ouers nie baie wêreldsgoed gehad het toe hulle kinders was nie, het hulle hulle voorgeneem dat hulle kinders ’n oorvloed goeie dinge sal hê—mooi klere, speelgoed, geld vir stokperdjies en dies meer. Maar as dit al is wat hulle doen, is hulle baie onverstandig. Dit is baie belangriker dat hulle van hulleself—hulle tyd, belangstelling en energie—aan hulle kinders gee. Dit verg inderdaad meer selfopoffering, maar so ’n weg is ook lonender. Met ander woorde, moenie dat die TV of ’n kinderoppasser jou plek inneem nie, behalwe in noodgevalle of by ander seldsame geleenthede; nie sodat die ouers ’n nagklub kan besoek nie!
Laat ons dus altyd in gedagte hou dat die beter manier waarop ons liefde kan bewys, is deur van onsself te gee—ons tyd, ons energie, ons belangstelling, ons aandag. Dit is goed om dinge met materiële waarde vir God se werk of aan diegene vir wie ons lief is, te gee, want dit is nodig; maar ons wil nooit met sulke gawes tevrede wees indien ons ook van die waardevoller dinge kan gee nie. En as ons die geleentheid het om tussen die twee te kies, laat ons dan die groter liefde asook die groter wysheid betoon deur van onsself te gee en selfs “ons eie lewe” mee te deel. Dit is wat die apostel Paulus gedoen het, en hoe ryklik het God hom tog nie daarvoor geseën nie!—1 Thess. 1:6-10; 2:8.