Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 10/1 bl. 24-30
  • Die “goeie herder” en sy “ander skape”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die “goeie herder” en sy “ander skape”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “EK HET NOG ANDER SKAPE”
  • Die onlangse kraal vir “ander skape”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die goeie herder en die skaapkrale
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • ’n Groot menigte ware aanbidders—Waar kom hulle vandaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Die skaapstalle en die herder
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 10/1 bl. 24-30

Die “goeie herder” en sy “ander skape”

“Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei.”—Joh. 10:16

1. Hoe verskil die “goeie herder” van ’n “huurling”?

’N GOEIE herder verskil van ’n huurling wat net belangstel in sy betaling. Jesus het gesê: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe [siel, NW] af vir die skape. Maar die huurling en hy wat nie ’n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug, en die wolf vang hulle en jaag die skape uitmekaar. En die huurling vlug, omdat hy ’n huurling is en niks vir die skape omgee nie.”—Joh. 10:11-13.

2. (a) Na watter persoonlike ervaring het Jesus verwys toe hy gesê het dat die “goeie herder” sy lewe ‘vir die skape aflê’? (b) Watter doel sou Jesus se aflegging van sy menselewe oor die algemeen dien?

2 In die Midde-Ooste het herderswerk in die weivelde met gevare gepaard gegaan. Ons onthou hoe die herderseun Dawid eenkeer ’n beer en ’n leeu moes doodmaak om die lewens van sy vader Isai se skape te red (1 Sam. 17:34-36). Jesus het gepraat van wolwe wat die skape vang. Wanneer ’n herder ’n wolf verdryf het, kon hy beseer word. ’n Goeie herder sal nie soos ’n huurling vir sy eie veiligheid weghardloop nie, maar sal die skape teen roofdiere beskerm. ’n “Goeie herder” sal selfs bereid wees om ‘sy lewe vir die skape af te lê’ sodat nie eens een van hulle verlore gaan nie. Deur die aandag hierop te vestig, het Jesus sy eie dood as ’n mensesiel vir Jehovah se “skape” voorspel. Maar Jesus was bereid om aan hierdie kenmerk van ’n “goeie herder” te voldoen. Sy hemelse Vader, Jehovah God, wat die Eienaar van die aardse “skape” is, was bereid dat sy Seun sy mensesiel aflê vir die “skape” vir wie sy Vader so lief was. Jesus se menslike “lewe” is as ’n losprys gegee om die mensdom van die dood terug te koop wat hulle van sondige Adam geërf het.

3. (a) Waarmee het Jesus hom in Johannes 10:14, 15 ten opsigte van sy Vader vergelyk? (b) Wat was Jesus bereid om te doen om die Abrahamitiese belofte met die “klein kuddetjie” te deel?

3 ’n “Goeie herder” leer ken ook elke skaap van die kudde goed en gee dit ’n naam waarop hy dit kan noem en streel dit en sorg daarvoor. Met hierdie karaktertrek van ’n Midde-Oosterse herder in gedagte, het Jesus voorts gesê: “Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken. Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape” (Joh. 10:14, 15). Jesus het homself as ’n figuurlike “skaap” beskou. Hy was die “Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1:29). In die laaste boek van die Bybel, Openbaring, word hy 28 keer die “Lam” genoem. Jesus het homself beskou as die teenbeeld van die ram wat die aartsvader Abraham geoffer het in die plek van sy seun Isak, wat Abraham bereid was om op Jehovah se bevel op te offer (Gen. 22:1-13). Isak het die Abrahamitiese belofte ontvang en aan Jakob oorgedra. Net soos Isak het Jesus die Abrahamitiese belofte geërf en was hy bereid om opgeoffer te word om die belofte met sy “klein kuddetjie” te deel.

4. Het Jesus die “klein kuddetjie” uit sy Vader se hand ‘geruk’, en hoe het Jesus daardie “kudde” beskou?

4 Dit is dus duidelik dat Jesus opreg belanggestel het in die redding van die “klein kuddetjie” in die “skaapstal”, die Abrahamitiese Verbondsreëling. Hy het hulle waardeer as ’n baie kosbare gawe van sy hemelse Vader. Net soos hy gesê het: “Die skape wat die Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal. Niemand kan hulle uit die hande van die Vader uitruk nie.”—Joh. 10:29, Die lewende Nuwe Testament.

“EK HET NOG ANDER SKAPE”

5. Wat dui aan dat Jesus nie net daarin belang gestel het om mense wat met skape vergelyk is tot hemelse lewe te red nie?

5 Hoewel die kerke van die Christendom nie so dink nie en dit nie leer nie, stel Jesus nie net daarin belang om mense tot hemelse lewe te red nie. Jesus het gesê: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (Joh. 10:16). Wie is daardie “ander skape”?

6. (a) Wat leer die Christendom se kerke aangaande “hierdie stal” en die “ander skape”? (b) Wat dui Jesus se vermelding van die Paradys in Lukas 23:43 [NW] en sy gelykenis van die skape en die bokke aan?

6 Die kerke van die Christendom beweer dat die “stal” waarvan Jesus daar gepraat het slegs Joodse Christene sou bevat, terwyl die “ander skape” diegene onder die nie-Jode of Heidene is wat Christene word; en dat beide gelowige Jode en gelowige nie-Jode “een kudde” onder die “een herder” in die een geestelike stal word. Maar hierdie leerstelling is strydig met ander Bybeltekste oor die onderwerp. Hoewel die apostel Johannes dit nie in sy Evangelieverslag meld nie, het Jesus van ’n aardse Paradys onder sy koninkryk gepraat en ander benewens die “klein kuddetjie” van sy mede-erfgename as “skape” bestempel. Toe Jesus sy profesie oor die “teken” van sy destyds toekomstige teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge gegee het, het hy dit volgens Mattheüs se verslag afgesluit met die gelykenis van die skape en die bokke. Die “skape” was nie dieselfde as Christus se geestelike “broeders” aan wie hierdie “skape” goed gedoen het nie.—Luk. 23:43, NW; Matt. 24:3; 25:31-46.

7. Waarom kon Johannes heel moontlik Jesus se gelykenis van die skape en die bokke herroep het en besef het hoeveel “hierdie stal”” ingesluit het?

7 Die apostel Johannes was bekend met daardie gelykenis, want hy en sy broer Jakobus en ook Petrus en Andreas het Jesus se profesie uitgelok deur hom afsonderlik uit te vra ook die “teken”, en Johannes het daardie hele profesie gehoor (Mark. 13:3, 4). Toe hy dus Jesus se woorde oor die “ander skape” neergeskryf het, kon hy moontlik Jesus se gelykenis van die skape en die bokke herroep het. Hy was die bejaarde apostel wat die Openbaring ontvang het wat geopenbaar het dat die 12 stamme van geestelike Israel slegs uit 144 000 lede sou bestaan. Hy het dus geweet dat die “skaapstal” wat die “klein kuddetjie” bevat slegs ’n beperkte aantal van almal wat gered word, sou insluit.

8. Met watter dele van ’n boom vergelyk die apostel Paulus die twaalf stamme van geestelike Israel, en wat het die vernaamste dele van daardie “boom” tipies afgebeeld?

8 In Romeine hoofstuk 11 vergelyk die apostel Paulus daardie 12 stamme van geestelike Israel met die takke van ’n mak olyfboom. Die wortel van daardie simboliese olyfboom het die aartsvader Abraham, die voorvader van die nasie Israel na die vlees, voorgestel. Die stam van die boom het dus die daaropvolgende aartsvaders, Isak, Jakob en die 12 aartsvaderlike hoofde van die 12 stamme van natuurlike Israel afgebeeld (Hand. 7:8). Die takke wat uit hierdie stam gegroei het, het die Joodse lede van die 12 stamme van natuurlike, besnede Israel afgebeeld. Hulle was van nature erfgename van die Abrahamitiese belofte oor die “saad” waardeur alle geslagte en nasies van die aarde hulself sou seën om die ewige lewe te verkry. Daarom was die natuurlike, besnede Jode die eerstes wat die geleentheid gebied is om daardie ‘saad van Abraham’ uit te maak.

9. Wat was die aard van daardie simboliese “takke”, en wie was dus die werklike “wortel”, en wie die boomstam?

9 Ons weet egter dat daardie “saad” ’n geestelike saad is, ’n saad wat deur Jehovah God verwek is om sy geestelike seuns te wees. Hy was die werklike “wortel” van daardie geestelike olyfboom. Sy Seun, Jesus Christus, was die vernaamste en essensiële lid van daardie “saad” van die Grotere Abraham, Jehovah God, en dus is Jesus Christus afgebeeld deur die stam van hierdie simboliese olyfboom. Gevolglik beeld die “takke” van so ’n boom die getroue dissipels af wat sy mede-erfgename word as mindere lede van die geestelike ‘saad van Abraham’. Wel, was daar ’n onbeperkte aantal “takke”?

10. Hoe toon Paulus in Romeine 11:11-32 dat daardie simboliese olyfboom slegs ’n beperkte aantal “takke” sou hê?

10 Die apostel Paulus toon dat daardie geestelike olyfboom slegs ’n beperkte aantal takke sou hê. Hoe so? Omdat hy daarop wys dat wanneer een van die natuurlike takke afgebreek word, daar nie nog ’n natuurlike tak op daardie plek uitgroei nie. ’n Tak van ’n wilde olyfboom sou eerder op sy plek ingeënt word. Hierdie ingeënte tak van ’n wilde olyfboom sou dus nie die aantal takke van die boom vermeerder nie. Die aantal takke aan die stam van daardie boom sou dieselfde bly. Toe natuurlike, besnede Jode van daardie geestelike boom afgekap is omdat hulle Jesus Christus as die Vernaamste Saad van die Grotere Abraham ongelowig verwerp het, is nie-Jode dus in die plek van daardie afgekapte natuurlike “takke” ingeënt.—Rom. 11:11-32.

11. Hoe toon Paulus in Galasiërs 3:26-29 dat diegene in die kudde van geestelike Israel nie as Jode en nie-Jode geklassifiseer moet word nie?

11 Die takke van daardie Abrahamitiese Verbondsboom sou tereg nie as natuurlike Jode en vreemde nie-Jode beskou word nie. Hulle sou almal as geestelike Israeliete beskou word. Dit is die apostel Paulus wat hierdie einste punt aanvoer. Nadat hy die Abrahamitiese belofte en die saad van Abraham bespreek het, sê hy: “Julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”—Gal. 3:8, 16, 26-29.

12-14. (a) Wie is die Christene in Galasië se geestelike moeder volgens wat Paulus in Galasiërs 4:21-31 gesê het? (b) Beklemtoon Paulus aldus enige Joodse element in die “klein kuddetjie” in “hierdie stal”?

12 Die apostel Paulus het die brief aan die Galasiërs omstreeks die jare 50-52 G.J. geskryf. Dit was ten minste 17 jaar nadat Jehovah die Wetsverbond aan die paal genael het waarop sy Seun Jesus Christus vasgenael is. Daar was egter party Christene in die gemeentes in Galasië wat die slawe wou word van die Wet van daardie Wetsverbond waarvan Moses by die berg Sinai in Arabië die middelaar was. Hierin wou hulle saamgaan met die anti-Christelike Jode wat gekleef het aan die aardse Jerusalem en die stoflike tempel wat daar gebou is deur koning Herodes die Grote wat probeer het om die jong kind Jesus dood te maak. Daardie Jerusalem is afgeskadu deur Hagar, Abraham se slavin, en was soos ’n moeder vir die Jode wat wou voortgaan in slawerny aan die Mosaïese wet eerder as om Jesus Christus as die Grotere Moses te aanvaar. Gevolglik het Paulus die volgende hieromtrent geskryf:

13 “Maar Jerusalem daarbo is vry: en dit is die moeder van ons almal. . . . Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte: . . . Daarom, broeders, ons is nie kinders van die slavin nie, maar van die vrye. Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.”—Gal. 4:21-5:1.

14 Isak, die seun van Abraham, was nie ’n Jood of ’n Israeliet nie. As die seun van Abraham se vry vrou Sara was hy die vader van Jakob, aan wie die naam Israel gegee is en wat die vader van Juda geword het. Christene wat behoort tot die “klein kuddetjie” in “hierdie stal” van die Goeie Herder Jesus Christus is soos Isak daar hulle erfgename van die Abrahamitiese belofte is. Hemelse Jerusalem is hulle geestelike moeder, wat afgebeeld is deur Sara, die moeder van Isak die Hebreër, nie ’n Jood nie.

15, 16. Sê Jesus in Johannes 10:16-18 dat hy die “ander skape” in een “stal” moet inlei sodat hulle “een herder” kan hê?

15 Nadat hy die “skaapstal” bespreek het wat die lede van die samegestelde ‘saad van Abraham’ bevat, slaan Jesus ’n ander rigting in wanneer hy sê: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder. Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.”—Joh. 10:16-18.

16 Ons merk op dat Jesus nie sê dat hy daardie “ander skape” in “hierdie stal” ‘moet inlei’ nie. Hy sê eerder dat dit ‘een kudde sal wees’ omdat daar net die “een herder” sal wees.

17. Wat kan beweer word omdat Jesus gladweg en sonder onderbreking van die “ander skape” begin praat nadat hy “hierdie stal” bespreek het, maar is dit noodwendig waar?

17 Omdat Jesus so gladweg na die onderwerp van die “ander skape” oorslaan nadat hy “hierdie stal” bespreek het, sal die leser dalk dink dat die twee handelinge kort op mekaar volg, sonder ’n groot tydsverloop, beslis nie eeue nie. Ook dat Jesus om daardie rede moet verwys na die byvoeging van nie-Joodse volke, die Heidene, tot “hierdie stal”, volgens die geskiedenis van die uitbreiding van die Christengemeente in die dae van die apostels. ’n Persoon kan dus die gevolgtrekking maak dat Jesus nie hier ’n profesie gemaak het oor iets wat in die verre toekoms sou gebeur nie. Maar so ’n gevolgtrekking is nie noodwendig die regte nie. Dit tref nie ’n onderskeid tussen “hierdie stal” en “een kudde” nie.—Vergelyk Openbaring 7:8, 9.

18. Kon Jesus ’n profesie oor die verre toekoms maak, en wat moes eers gebeur voordat al die geslagte van die aarde hulself kon seën?

18 Jesus was begaaf met profetiese gesig en was dus in staat om sy gelykenis van die skape en die bokke te gee alhoewel dit eers 1 900 jaar later vervul sou word. Hy was die basiese lid van die beloofde ‘saad van Abraham’ en het dus intens belanggestel in die redding van al die geslagte en nasies van die mensdom wat hulself vir die ewigheid deur daardie saad sou seën. So ’n seën moes wag tot die voltooiing van daardie samegestelde ‘saad van Abraham’ van 144 000 lede onder hom. Dit sou 19 eeue duur, soos die geskiedenisfeite toon. Diegene wat hulleself seën, sou weliswaar “skape” uit alle geslagte en nasies wees, maar hulle sou “ander skape” wees omdat hulle nie behoort het aan “hierdie stal” erfgename van die Abrahamitiese belofte nie. Hulle kon dus nie geestelike Israeliete wees nie, maar hulle was as’t ware nie-Jode.

19. Wie maak die “groot menigte” wat in Openbaring 7:9-17 beskryf word uit in die lig van wat vroeër in Openbaring hoofstuk 7 beskryf word?

19 Dit strook volkome met die feit dat die apostel Johannes, nadat hy gesien het hoedat die 12 stamme van geestelike Israel verseël word, iets wat in Openbaring 7:1-8 beskryf word, die gesig gehad het van die tallose “groot menigte” mense wat nie geestelike Israeliete is nie en wat gevolglik “ander skape” is. Hy het gesien hoedat hulle voor die goddelike troon staan en sê: “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” Daar word gesê dat hulle die “groot verdrukking” oorlewe en begin om dag en nag heilige diens aan Jehovah God in sy tempel te lewer. Hierdie “ander skape” ontvang tere sorg van die “goeie herder”, want ons lees: “Die Lam . . . sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei.”—Openb. 7:9-17.

20. Wanneer en waar is die gesig van die “groot menigte” begin vervul, en met watter demonstrasie?

20 Dit was in ooreenstemming met daardie volgorde van dinge wat in Openbaring hoofstuk 7 uiteengesit is dat die verduideliking van die Openbaring-gesig van die “groot menigte” in die noordelike lente van 1935, 20 jaar nadat die “voleinding van die wêreld” in 1914 begin het, gegee is. Dit was op 31 Mei 1935, tydens die byeenkoms in die hoofstad van die Verenigde State van Amerika. By daardie geleentheid het J. F. Rutherford, die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, sy lesing gegee oor die onderwerp “Die groot menigte” en het verduidelik dat dit nie ‘n ondergeskikte hemelse klas is nie, maar ’n aardse klas, die “ander skape” van die “goeie herder”. Hierdie informasie is later in Die Wagtoring gepubliseer. Die “goeie herder” het toe inderdaad sy “ander skape” begin lei en hulle het begin om na sy stem te luister en hom te volg, want die dag na daardie verduideliking van Openbaring 7:9-15 het 840 hulle toewyding aan God deur Christus met waterdoop gesimboliseer. Die meerderheid van hulle het bely dat hulle lede van die “groot menigte” van Christus se “ander skape” was.

21. (a) Vir wie benewens die “klein kuddetjie” het die “goeie herder” dus sy lewe afgelê? (b) Hoe het hierdie herder sy lewe weer ontvang, en as ’n blyk van wie se liefde?

21 Die “goeie herder” het sy “lewe” ook vir hierdie “ander skape” afgelê wat nie aan die “stal” erfgename van die Abrahamitiese belofte behoort nie. Die apostel Johannes, wat ’n lid van die Abrahamitiese “saad”-klas was, het geskryf: “Hy [Jesus Christus] is ’n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Joh. 2:1, 2). Jehovah God, die hemelse Vader, het sy Seun liefgehad omdat hy dit gedoen het. Omdat Jesus, die “goeie herder”, dit uit die hart waardeer het, het hy voor sy haters onder die Jode gesê: “Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem” (Joh. 10:17). Die Vader het sy liefde vir die selfopofferende “goeie herder” bewys deur hom op die derde dag uit die dode op te wek. Sodoende het die Seun van God sy “lewe” of siel teruggekry, maar op ’n hemelse lewensvlak.

22. Waarom het geen mens, ondanks pogings om Jesus dood te maak, Jesus se menslike lewe van hom af weggeneem voordat hy die woorde in Johannes 10:18 gespreek het nie?

22 Tot op die tyd dat Jesus oor die “ander skape” gepraat het, was pogings al aangewend om die lewe van hierdie “goeie herder” te neem. Maar hy het nooit iets gedoen waarvoor hy deur mense gedood moes word nie. Dit verduidelik waarom hy gesê het: “Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.”—Joh. 10:18.

23. Wanneer het Jesus sy menslike lewe uit sy eie afgelê, en waarom?

23 ’n Paar maande later is bewys van hierdie verklaring gelewer. Op die nag dat hy in die tuin van Getsemane verraai is, toe sy dissipel Petrus probeer het om hom met ’n swaard te beskerm, het Jesus gesê: “Dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie? Hoe sou die Skrifte dan vervul word as dit so moet gebeur?” (Matt. 26:53, 54). Nadat hy sy apostels laat vlug het, het Jesus hom uit sy eie oorgegee aan die skare wat hom in hegtenis kom neem het en ’n laaste poging aangewend het om hom te laat doodmaak. Deur dit te doen, het Jesus nie sy lewe weggegooi nie.

24. Watter volle gesag het Jesus in verband met sy siel van sy Vader ontvang, en hoe het die laaste poging om te voorkom dat hy daardie gesag uitoefen, gefaal?

24 Jesus is deur sy hemelse Vader gemagtig om hierdie weg in te slaan, maar dit is aan sy vrye wil oorgelaat om dit te doen. Sy mag of gesag om sy lewe deur ’n opstanding terug te kry, het afgehang van sy gewillige selfoorgawe. Omdat hy sy lewe afgelê het, het sy Vader hom met die gesag beklee om dit weer te ontvang van die enigste Een wat hom uit die dode kon opwek. Geen mag in hemel of op aarde kon hierdie gesag vir Jesus om sy “lewe” of siel weer te neem, stuit nie. Nòg die goewerneur se seël op die groot klip voor die ingang na die graf waar hy begrawe is nadat hy aan die paal gesterf het, nòg die wag wat by die graf uitgesit is om te voorkom dat sy dissipels die lyk steel, het verhoed dat Jesus sy Godgegewe gesag op die derde dag uitoefen.—Matt. 27:62-28:15.

25. Hoe het Jesus sy lewe ontvang om dit vir die mensdom te gebruik aangesien hy nie sy menselewe deur ongehoorsaamheid aan God verbeur het nie?

25 Jesus was in werklikheid onder sy hemelse Vader se gebod om al hierdie dinge te doen. Op die derde dag van sy dood het Jehovah God dus die bevel gegee dat sy gehoorsame Seun uit die dode moes opstaan en weer die lewe ontvang, hierdie keer in die geesteryk saam met sy hemelse Vader. Aangesien hy nie sy menselewe deur ongehoorsaamheid aan God verbeur het nie, het hy ook die reg en titel op volmaakte menselewe ontvang sodat hy dit aan Jehovah God in sy hemelse tempel kon aanbied en vir die hele wêreld se sonde versoening kon doen.

26. (a) Waarvoor is die weg dus vir al die geslagte van die aarde geopen? (b) Veral wanneer het die “groot menigte” van Jesus se “ander skape” begin om hulself te seën?

26 Sodoende is die weg geopen vir al die geslagte en nasies van die wêreld om “hulself te seën” deur die Vernaamste Lid van ‘Abraham se saad’ (Gen. 12:1-3; 22:15-18, vgl. NW). Die “groot menigte” “ander skape” van die Goeie Herder het begin om ‘hulleself deur hom te seën’ toe hulle hulself deur hom aan Jehovah God toegewy het en hierdie toewyding deur waterdoop gesimboliseer het. Toe het hulle na die stem van die Goeie Herder geluister en hom gevolg, tesame met die gesalfde oorblyfsel van die Abrahamitiese saad. Dit het veral met die byeenkoms te Washington (D.C.) in 1935 begin. Sedertdien het die gesalfde oorblyfsel al die “ander skape” verwelkom en was daar, net soos Jesus voorspel het, “een kudde” onder die “een herder”.

27. Wie benewens die “groot menigte” wat die “groot verdrukking” oorlewe, sal deel word van die Goeie Herder se “ander skape”, en wanneer?

27 Gedurende die duisendjarige bewind van die “een herder”, die gekroonde Jesus Christus, sal al die vrygekoopte mensedode uit hulle doodslaap gewek word en sal hulle die geleentheid hê om “hulself te seën” deur deel te word van die Goeie Herder se “ander skape”. Dit sal die eertydse “deurwagter” van die “skaapstal” wat die Abrahamitiese Verbondsreëling afgebeeld het, naamlik Johannes die Doper, insluit (Joh. 10:1-3). Jesus sal die gehoorsames na “lewende waterfonteine” lei. Die “groot menigte” wat die komende “groot verdrukking” oorlewe, sal die verrese miljoene tot seën strek sodat hulle die “lewende waterfonteine” kan benut (Openb. 7:9-17). Al die “skape” sal saam met die “groot menigte” kan sê: “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!”—Openb. 7:10; 20:11-14.

[Diagram op bladsy 28]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Jehovah se reëling vir sy “skape”

(1) Die “goeie herder”: Jesus Christus, wat sy lewe vir die “skape” aflê

(2) “Die deurwagter”: Johannes die Doper, wat die “herder” aan die “skape” voorstel

(3) “Die skaapstal” of “skaapkraal” (NAB): Die Koninkrykstal van die Abrahamitiese Verbondsreëling

(4) Die “skape” in hierdie stal: Die “klein kuddetjie”, uit Jode en nie-Jode

(5) “Die deur van die skape”: Jesus

(6) Die “vreemde”, “dief”, “huurling”: Afvalliges en valse herders

(7) Die “ander skape”: Die “groot menigte” en ander wat die Koninkryk se aardse ryk beërwe

(Kyk ook “Die Wagtoring” van 15 September 1946, bladsye 275-286)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel