Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 1/15 bl. 8-11
  • Hawaii hoor die goeie nuus oor ’n globale paradys

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hawaii hoor die goeie nuus oor ’n globale paradys
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Die goeie nuus bereik Hawaii
  • ’n Deeglike getuienis
  • Die “pioniergees” neem toe
  • Blydskap oor vooruitgang
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 1/15 bl. 8-11

Hawaii hoor die goeie nuus oor ’n globale paradys

WAIKIKI-strand, Diamond Head, Pearl Harbor. Waaraan laat dit jou dink? Mark Twain het dit beskryf as “die pragtigste vloot eilande wat in enige oseaan voor anker lê”. Ander het al die uitdrukking gebruik “die paradys van die Stille Oseaan”. Ja, die Hawaiiese eilande is alom bekend vir hulle natuurskoon—wit en swart sandstrande, kokospalms, eksotiese blomme, vulkaankraters, watervalle, groot branders en kleurryke sonsondergange.

Hoewel baie dink dat Hawaii in die Suidsee lê, is dit in werklikheid meer as 1 600 kilometer noord van die ewenaar in die Stille Oseaan geleë. Die hele Hawaiiese eilandgroep bestaan uit 132 eilande, atolle, riwwe en rotse wat oor ’n afstand van 2 400 kilometer van noordwes na suidoos strek. ’n Veelrassige bevolking van 981 000 woon op sewe van die grootste eilande—Niihau, Kauai, Oahu, Molokai, Lanai, Maui en Hawaii.

Daar word gemeen dat Hawaii aanvanklik ontdek en gekoloniseer is deur Polinesiese boorlinge van die Marquesaseilande, en dat hulle gevolg is deur die Tahitiane. Die naam Hawaii kom van die Tahitiane. Dit was eers die naam van die grootste eiland van die groep en het later die naam van die hele eilandreeks geword. Hoewel dit eens deur ’n monargie geregeer is en bekend gestaan het as die Koninkryk van Hawaii, is dit nou die 50ste staat van die Verenigde State.

Die goeie nuus bereik Hawaii

Die goeie nuus is in 1915 na hierdie eilande gebring toe “pelgrim” Walter Bundy en sy vrou, asook Ellis Fox, in Hawaii aangekom het. Met die eerste vergadering van die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies toe bekend gestaan het) op die eerste Sondag in Februarie 1915, was daar vyf aanwesig. Daaropvolgende besoeke deur pelgrims in die vroeë twintigerjare het bygedra tot die uitbreiding van ware aanbidding in Hawaii. In 1928 is die eerste byeenkoms in Hawaii in die skoolsaal van McKinley-Hoërskool gehou, met ’n opkoms van 150 persone.

Nog ’n mylpaal is in 1935 bereik met die besoek van J. F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoringgenootskap. Hawaii het toe slegs 12 Koninkryksverkondigers gehad. Vir die nuwe tak in Honolulu het broer Rutherford die aankoop van die eiendom op die hoek van Pensacola- en Kinaustraat goedgekeur. Die predikingswerk in Hawaii word nog steeds hiervandaan bestuur.

terwyl broer Rutherford hier was, het hy ook gereël dat ’n saal as deel van die nuwe tak gebou word. Daardie vergaderplek is die “Koninkryksaal” genoem, en van 1935 af noem Jehovah se Getuies oor die hele wêreld hulle vergaderplekke Koninkryksale.

Ses jaar later is Hawaii en die Verenigde State by die Tweede Wêreldoorlog betrek as gevolg van die aanval op Pearl Harbor op 7 Desember 1941. ’n Paar dae na die bomaanval het soldate na die tak gekom en Don Haslett, die eerste takopsiener, weggeneem vir lang ondervraging by die leërhoofkwartier. Hy is later vrygelaat. Ondanks brandstofrantsoenering, aandklokreëls en invoerprobleme, het die Getuies voortgegaan om Koninkryksbelange eerste te stel. In 1946 het die broers in Hawaii met ‘n hoogtepunt van 129 verkondigers uit die jare van krygswet en oorlogstoestande gekom.

In die na-oorlogse jare het sendelinge wat by die Wagtoring-Bybelskool Gilead opgelei is, in Hawaii begin aankom. Hulle ywerige en heelhartige diens het wonderlike vermeerderinge meegebring, en teen 1957 het Hawaii 1 019 verkondigers gehad. Die goeie voorbeeld van die sendelinge het ook baie daartoe bygedra dat ander, veral jongmense, in die voltydse predikingswerk getree het. Baie pioniers (voltydse Koninkryksverkondigers) het die eilande verlaat om by die Brooklynse Bethel, die Genootskap se hoofkwartier, en in sendingvelde in Japan, Taiwan, Mikronesië, Samoa, Afrika en Suid-Amerika te dien.

’n Deeglike getuienis

Hawaii is al dikwels ’n smeltkroes van talle rasse genoem. Volgens die sensus van 1980 is 26,3 persent van die bevolking Kaukasiërs, 23,5 persent Japannese, 18,9  persent Hawaiïers of baster-Hawaiïers en 11,2 persent Filippyners. Hierdie groot verskeidenheid sluit ook nog Chinese, Koreane, Samoane, Porto-Ricane, Negers en, heel onlangs, Vietnamese, Kambodjane en Lao’s in.

Spesiale pogings word aangewend om die goeie nuus aan hierdie groot verskeidenheid taalgroepe te verkondig. Daar is reeds Japannese, Koreaanse, Spaanse en Samoaanse gemeentes asook agt Filipino-gemeentes wat die Iloko-dialek gebruik. Wanneer individue wat nie Engels verstaan nie belangstelling in die goeie nuus toon, word hulle na die gepaste gemeente verwys. Selfs die plaaslike telefoongids word gebruik om andertaliges te vind. Sodoende word geen steen onaangeroer gelaat om Koninkrykswaarheid na “alle mense” te bring nie.—1 Timotheus 2:4.

In die laaste jare is baie kondominiuras en hoë woonstelgeboue opgerig om in die toenemende aanvraag na woonplek te voorsien. Gemeentes moes verskeie benaderinge gebruik om toe te sien dat die inwoners van hierdie ontoeganklike geboue ’n getuienis ontvang. Een sodanige benadering is tydskrifwerk op straat. Op sekere weeksdae is die verkondigers om sesuur in die oggend voor die kondominiums. Wanneer inwoners werk toe gaan, word Die Wagtoring en Ontwaak! vir hulle aangebied. Die resultate van hierdie werk is baie bevredigend, ’n Pioniersuster vertel hoedat ’n kort getuienis in die oggend tot ‘n tuisbybelstudie gelei het:

“’n Egpaar met ’n baba het uit hulle kondominium gekom en na hulle motor geloop. Ek het die man genader en begin verduidelik waarom ons daar was. Hy het die tydskrifte geken en was verbaas dat ons so vroeg in die oggend tydskrifwerk gedoen het. Hy was bly om die tydskrifte te sien aangesien hy hulle ’n ruk lank nie gekry het nie. . . 

Ek het van die geleentheid gebruik gemaak om vir die egpaar ’n tuisbybelstudie aan te bied. Hulle het dit geredelik aanvaar en my hulle woonstelnommer gegee. Nadat ek hulle ses keer nie by die huis aangetref het nie, het ek eindelik daarin geslaag om die studie saam met hulle te begin. Nou bespreek ek en my man die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe elke Sondag met hierdie egpaar.”

Die meeste kondominiums het ’n binnetelefoon wat ’n besoeker in staat stel om ’n inwoner te roep. Party verkondigers gebruik hierdie reëling om met mense in aanraking te kom en gee ’n kort getuienis aan enigiemand wat antwoord.

Een broer het besluit om hierdie metode op die proef te stel. Met sy eerste poging was daar niemand tuis nie. Toe hy die tweede nommer geskakel en ’n man geantwoord het, het die broer gesê: “Goeiemore. Ek bring ’n boodskap van hoop wat in die Bybel gevind word, en ek soek na mense wat nog in God en die Bybel belangstel.” Die man het die broer na sy woonstel genooi waar hy meer as ’n uur lank sy vrae beantwoord het.

Toe die broer die volgende week teruggekeer het, was die man se vrou ook daar, met haar eie vrae. Voordat die egpaar tot ’n tuisbybelstudie ingestem het, het hulle besluit om ’n vergadering by die Koninkryksaal by te woon om te sien wat daar gebeur. Daardie Sondag het hulle die openbare toespraak en die Wagtoring-studie bygewoon. Hulle het nie alleen albei vergaderinge geniet nie, maar hulle is so beïndruk deur die hartlikheid en vriendelikheid van die Getuies dat hulle geredelik tot ’n tuisbybelstudie ingestem het. Hulle het vinnig gevorder en veranderinge in hulle lewens aangebring. Hoewel hulle later na die vasteland verhuis het, is die studie daar voortgesit en is hulle minder as ’n jaar later gedoop. Die jong man is nou ’n bedieningskneg, en sy vrou ’n gewone pionier.

Sulke lonende ondervindings het die broers aangespoor om voort te gaan en elke moontlike metode te gebruik om ’n deeglike getuienis te gee. Dit het meegebring dat die gebied goed gedek word. Die gemeentes dek hulle toegewese gebied gemiddeld een keer elke vier tot ses weke, terwyl sommige dit elke twee weke dek.

Die “pioniergees” neem toe

Deur die jare was die pioniers ’n groot hulp vir die gemeentes. Ondanks die hoë lewensduurte en ander ekonomiese probleme het persone van verskillende stande en ouderdomsgroepe die voltydse diens betree. Rapporte vir 1982 toon dat gemiddeld 20 persent van Hawaii se verkondiger in die gewone of hulppionierdiens was en dat hulle aan feitlik al 59 gemeentes in die staat verbonde was.

Een van hierdie gemeentes het 95 verkondiger en 29 pioniers. ’n Ouere man in daardie gemeente, wat al 20 jaar lank pionierdiens doen (17 daarvan as ’n spesiale pionier), verduidelik hoe hy ander help om pioniers te word:

“Een voordeel omdat ek ’n pionier sowel as ’n ouere man is, is dat ek elke dag saam met die verkondigers in die velddiens kan werk en hulle en hulle omstandighede goed kan leer ken . . . Maar voordat ek saam met iemand werk om hom aan te spoor om pionierdiens te doen, bid ek altyd om Jehovah se leiding om die regte dinge te sê en dat Jehovah se gees die verkondiger se hart moet open. Met Jehovah se hulp probeer ek om die persoon se hart te bereik deur uit die Skrif te verduidelik hoe dringend die tye is, hoe belangrik die predikingswerk is, waarom pioniers nodig is en hoe die pionierdiens hom tot groot voordeel sal strek.

“As hy meen dat hy nie 90 uur per maand aan die predikingswerk kan wy nie, bespreek ek ’n praktiese rooster met hom en wys ek vir hom hoe hy 90 uur daaraan kan wy met nog tyd oor vir homself en sy ander verantwoordelikhede.

“As hy sy bedenkinge het as gevolg van die ekonomiese situasie, gebruik ek die Genootskap se publikasies om ondervindinge met hom te bespreek van persone in soortgelyke omstandighede wat nou pionierdiens doen. Daarbenewens gebruik ek tekste wat hom sal help om nader aan Jehovah te kom en wat hom die nodige aansporing sal gee om die saak positief te benader.

“As hy dink dat hy sonder vervoer of ander hulp sal wees, verseker ek hom dat al die broers en susters in die gemeente hom op enige manier moontlik sal help om die pionierdiens te geniet. Negatiewe denke word dus te bowe gekom deur middel van die praktiese oplossings wat aan die hand gedoen word.”

Onder die 90 wat deur hierdie ouere man gehelp is om as pioniers in te skryf, is broers en susters wat nou by die Bethel in Brooklyn werk en as sendelinge in Japan en Mikronesië dien. Die ouere man sê ten slotte: “Die hoofsaak is om saam met verskillende persone in die veld te werk en die gemeente met die ‘pioniergees’ te besiel.”

Blydskap oor vooruitgang

Baie is gedoen sedert daardie eerste vergadering in Honolulu in 1915. Met die Herdenking van Jesus se dood op 29 Maart 1983 was die totale opkoms vir die Hawaiiese eilande 14 151, ’n vermeerdering van 9 persent vergeleke met 1982. En ’n hoogtepunt van 4 937 Koninkryksverkondigers was in Julie 1983 aktief. Hulle bring meer as ’n miljoen uur per jaar in die Christelike bediening deur. Die tak in Hawaii kan nou berig dat die verhouding verkondigers tot bevolking ongeveer 1 tot 200 persone in die staat is. Die vermeerdering is waarlik ’n blyk van die 68 jaar van Jehovah se seën op die predikingswerk.

Daar moet nog baie werk op hierdie pragtige eilande gedoen word. Die veld is steeds vrugbaar. Die Koninkryksverkondigers in die Hawaiiese eilande nooi ander met blydskap: “Kom laat ons optrek na die berg van die HERE . . . dat Hy ons sy weë kan leer” (Jesaja 2:3). Ons hoop dat nog baie hierdie uitnodiging sal aanvaar en gevolglik die voorreg sal hê om te lewe wanneer nie alleen Hawaii nie, maar die hele aarde in ’n paradys omgeskep word.

[Kaart/Prent op bladsy 9]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

KAULA

NIIHAU

LEHUA

KAUAI

OAHU

MOLOKAI

LANAI

MAUI

KAHOOLAWE

HAWAII

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel