Die “nasie” wat die aardbodem met vrugte vul
“In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak.”—JESAJA 27:6.
1. Wat het die apostel Petrus die nasie van geestelike Israel genoem?
AANGAANDE die geboorte van die gemeente van Christus se dissipels as ’n “nasie” in 33 G.J. het die apostel Petrus kort voor die vernietiging van Jerusalem in die jaar 70 G.J. die volgende woorde geskryf: “Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige [nasie], ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is” (1 Petrus 2:9, 10, vgl. NW). Watter barmhartigheid het God tog op daardie manier getoon!
2, 3. Watter verantwoordelikheid rus op geestelike Israel as die eiendom van Jehovah God, en waarmee het Jesus Christus hulle in Johannes hoofstuk 15 vergelyk?
2 Vandag, 19 eeue nadat Petrus daardie woorde gespreek het, is daar nog steeds ’n oorblyfsel van daardie geesverwekte “nasie” op aarde. Hulle getal het nou afgeneem tot minder as tienduisend, volgens die verslae van die jaarlikse viering van die Here se Aandmaal. Hulle is ‘’n volk deur Jehovah as eiendom verkry’, en as sodanig moet hulle die deugde verkondig van Jehovah God, wat hulle uit wêreldlike “duisternis geroep het tot sy wonderbare lig”. Hierdie “lig” skyn veral sedert die einde van “die tye van die nasies”, of “tye van die heidene”, in die jaar 1914a (Lukas 21:24, vgl. King James Version). As die “eiendom” van die Goddelike Gewer van daardie wonderbare lig, is hulle vir hom kosbaar. Vir hom is hulle soos ’n geestelike wingerd.
3 Hier dink ons terug aan Jesus Christus se woorde aan sy apostels, wat al sy geesverwekte volgelinge verteenwoordig het: “Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, die maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het. Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”—Johannes 15:1-5.
4. (a) Aan watter beskrywing in Jesaja 27 herinner Jesus se gelykenis ons? (b) Wanneer ondergaan hierdie profesie sy hedendaagse vervulling, en ten opsigte van wie? (c) Watter gesindheid het God nie meer teenoor sy volk nie?
4 Daardie gelykenis van Jesus Christus herinner ons aan Jehovah se woorde in Jesaja 27:2-4, waar ons lees:
“In die dag sal daar wees ’n wingerd van skuimende wyn—sing daarvan! Ek, die HERE, bewaak dit: elke oomblik sal Ek hom bevogtig; Ek sal hom nag en dag bewaak, sodat niks hom kan tref nie. Geen grimmigheid is by My nie.”
Die “wingerd van skuimende wyn” wat vandag op aarde is, kan vergelyk word met die oorblyfsel van die takke in daardie simboliese “wynstok” waarin die geesverwekte Christene van die “heilige nasie” produktiewe lede is. Gevolglik het hulle die verantwoordelikheid om veel vrug te dra (Johannes 15:5). Volgens Jesaja se profesie sou dit gedurende die tyd van die herstel van Jehovah se volk tot sy guns wees dat die lied oor die “wingerd van skuimende wyn” gesing sou word. (Vergelyk Jesaja 27:13.) Dit beteken dat die hedendaagse vervulling van hierdie opwindende profesie in die na-oorlogse jaar 1919 begin het, en die geskiedenis bewys dat daardie vervulling tot vandag toe voortduur. Vandag is daar by Jehovah geen “grimmigheid” teen sy volk nie, hetsy teen die oorblyfsel van sy “heilige nasie”, sy “volk as eiendom verkry”, of teen die lojale Christene wat uitsien na die ewige lewe op aarde. Hy het barmhartig sy guns op hulle uitgestort, wat verklaar waarom hulle geestelik so voorspoedig en vrugbaar is.
5. Wat uit hierdie figuurlike wingerd maak mense vrolik, en wat kan hulle daaromtrent vertel?
5 Hierdie geestelike “nasie”, tesame met sy hardwerkende metgeselle, is soos ’n vrugbare wingerd wat baie “skuimende wyn” gelewer het. Dit is ’n geestelike wyn wat die hart van Jehovah en die mense vrolik maak (Rigters 9:13). Om hierdie geldige rede kan die volk wat vrolik gemaak is omdat hulle hierdie geestelike drank gedrink het, met vreugde daarvan sing en vertel wat die Goddelike Verbouer van die “wingerd” alles vir hierdie simboliese “wingerd” gedoen het. Figuurlik gesproke het hy hierdie “wingerd” “bevogtig” sodat dit voortdurend verkwik sou wees, en sodat sappige, heerlike vrugte voortgebring kon word, met verblydende gevolge.
’n Kontras—“Die wingerdstok van die aarde”
6. Wat sal egter die ondervinding van “die wingerdstok van die aarde” wees, volgens Openbaring hoofstuk 14?
6 Dit was nie die geval met wat die laaste boek van die Bybel “die wingerdstok van die aarde” noem nie. Binnekort sal die goddelike bevel aan die hemelse teregstellingsmag gegee word: “Slaan jou skerp sekel in en samel die trosse van die wingerdstok van die aarde in, want sy druiwe het ryp geword.” Die profetiese Openbaring sê voorts: “Die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God. En die parskuip is buitekant die stad getrap, en die bloed het uit die parskuip gekom tot aan die tooms van die perde, tweehonderd myl ver” (Openbaring 14:18-20). So sal dit gaan met die politieke deel van die Duiwel se sigbare organisasie op aarde; dit is iets waarvan hy die verbouer is, en dit is in teenstelling met “die ware wynstok” waarvan Jehovah God die Verbouer is. Daar sal hoegenaamd geen herstel vir “die wingerdstok van die aarde” wees nie!
7-9. Watter dubbele vervulling het Jesaja 27:7-13, en wanneer?
7 Hierdie profesie van Jesaja hoofstuk 27 is in werklikheid ’n herstellingsprofesie, eers oor die nasie van natuurlike Israel en dan oor geestelike Israel in ons 20ste eeu. Dit blyk duidelik uit die bewoording van die profesie van vers 7 tot vers 13, die laaste vers van die hoofstuk. Daardie verse lui:
8 “Het Hy hom geslaan met die slag wat sy teëstander getref het? Of is hy gedood met ’n slagting soos die wat deur Hom gedood is? Met mate [“met ’n skrikaanjaende kreet”, NW] het U met hom afgereken toe U hom verstoot het; Hy het hom verdrywe met sy geweldige wind op die dag van die oostewind. Daarom sal hiermee die skuld van Jakob versoen word, en dit is die volle vrug van die wegneming van sy sonde: as hy al die altaarklippe maak soos verbryselde kalkklippe, die heilige boomstamme en die sonpilare nie meer oprys nie. Want die versterkte stad is eensaam, ’n woning wat ontvolk en verlate is soos die woestyn; daar wei kalwers en daar lê hulle, en hulle eet sy takke af. As sy takke verdor het, word hulle afgebreek; vroue kom en steek dit aan die brand; want dit is ’n volk sonder verstand. Daarom sal hulle Maker Hom nie oor hulle ontferm nie en sal hulle Formeerder aan hulle geen genade bewys nie.
9 “En in die dag sal die HERE vrugte afslaan, van die stroom van die Eufraat af tot by die spruit van Egipte, en julle sal ingesamel word, een vir een, o kinders van Israel! En in die dag sal daar met ’n groot basuin geblaas word; dan sal kom die wat verlore is in die land Assur en die wat verdryf is in Egipteland, en hulle sal die HERE aanbid op die heilige berg in Jerusalem.”
10. Watter wêreldmoondheid was ten tye van Jesaja se profesie prominent, en hoe het hy gevaar met sy voorgenome aanval op die hoofstad van die koninkryk van Juda?
10 In die dae van hierdie profesie van Jesaja was Assirië (Assur) die heersende wêreldmoondheid op aarde, aangesien dit die eerste van die reeks van sewe wêreldmoondhede verdring het, ofskoon Egipte nog as ’n ondergeskikte moondheid bestaan het. Die tienstammeryk van Israel het weggebreek van die heerskappy van die koninklike huis van koning Dawid van die stam van Juda. Dit was derhalwe teen die stad Jerusalem dat die koning van Assirië gekom het met sy eis van algehele oorgawe, indien die stad vernietiging wou vryspring. Maar Jehovah het vir die koninkryk van Juda geveg en het die hoogmoedige koning Sanherib druipstert huis toe gestuur na ’n vernederende neerlaag.—Jesaja, hoofstukke 36 en 37.
11. Deur die koning van watter wêreldmoondheid is die koninkryk van Juda omvergewerp, en hoe maak Jesaja 27 van hierdie gebeurtenis melding?
11 Dit was ’n heerser van die daaropvolgende wêreldmoondheid, die Babiloniese wêreldmoondheid, wat gemagtig is om die heilige stad Jerusalem en sy tempel te vernietig. Volgens Bybelse aanduidings het dit in die jaar 607 v.G.J. deur die toedoen van Nebukadnesar plaasgevind. Hy was die een wat gevangenes na die land Babilonië weggevoer het, waar hulle 70 jaar in ballingskap deurgebring het. Dit was met die oog op die naderende vernietiging van Jerusalem en die wegvoer van ballinge in Babiloniese gevangenskap vir 70 jaar dat die vrae tereg geopper is:
“Het Hy hom [die nasie van Israel] geslaan met die slag wat sy teëstander getref het?” (Jesaja 27:7).
Soos nooit tevore in die nasie se geskiedenis sedert 1513 v.G.J. nie is God se volk in 607 v.G.J. met ’n rampspoedige slag getref, ’n slag wat byna sy vernietiging beteken het. Die lewensverlies in die beleërde stad Jerusalem was groot. Ja, Jehovah het gesien dat hierdie drastiese optrede noodsaaklik was, en dit moes plaasvind. Hy het die dringende behoefte gevoel om af te reken met diegene wat sy vriende moes gebly het, sy begunstigde volk, met wie hy deur die middelaar Moses die Wetsverbond gesluit het.
12. Watter vraag kon Jehovah die profeet Jesaja inspireer om in verband met Israel se ondervinding te stel, en hoe is Israel se verhouding met Jehovah gevolglik geraak?
12 Daarom kon Jehovah vervolgens vra:
“Of is hy [die nasie van Israel, of Jakob] gedood met ’n slagting soos die wat deur Hom gedood is?” (Jesaja 27:7).
A, ja, want nou het dit nodig geword dat Jehovah met sy eens begunstigde volk afreken, dat hy ’n skrikwekkende uitroep, ’n “skrikaanjaende kreet”, opwek uit die krygsmagte van die Babiloniese wêreldmoondheid, die derde in Bybelgeskiedenis. Vandaar die goddelike verklaring:
“Met [’n skrikaanjaende kreet] het U met hom afgereken toe U hom verstoot het; Hy het hom verdrywe met sy geweldige wind op die dag van die oostewind [om aan te dui uit watter rigting die skrikwekkende oorlogskreet sou kom]” (Jesaja 27:8).
Op hierdie wyse sou hy die ontroue nasie verstoot wat eens, as sy sigbare organisasie op aarde, soos ’n sinnebeeldige vrou vir hom was. Nou het hy haar uit haar Godgegewe tuisland verdryf en haar saam met die Babiloniese gevangenemers na ’n ver land weggestuur, asof hy tydelik van haar geskei het.—Vergelyk Jesaja 50:1.
13. Hoe sou die nasie van Israel, volgens Jesaja se profesie, vir sy skending van God se verbond versoening doen?
13 Die tyd het nou aangebreek dat die nasie van Israel, of Jakob, versoening doen vir sy “skuld” deur middel van kosbaarder dinge as diereoffers wat op die altaar van die tempel in Jerusalem geoffer word. Dit is wat Jehovah ten behoewe van sy gemalin-organisasie voorgeskryf het:
“Daarom sal hiermee die skuld van Jakob versoen word, en dit is die volle vrug van die wegneming van sy sonde: as hy al die altaarklippe maak soos verbryselde kalkklippe, die heilige boomstamme en die sonpilare nie meer oprys nie” (Jesaja 27:9).
Wat ’n blyk van goddelike toorn of grimmigheid sal die vervulling van hierdie profesie tog nie wees nie, en heel tereg ook! Die afgodiese heilige boomstamme en die sonpilare sou nie weer in sy getugtigde nasie opgerys word nie.
14. Hoe woes sou die land van Israel gelaat word, en waarop sou haar ontwikkeling as ’n figuurlike boom uitloop?
14 Waar hy die verwoesting beskryf wat oor hierdie tipiese gemalin-nasie, eertydse Israel, sou kom, voeg Jehovah by:
“Want die versterkte stad is eensaam, ’n woning wat ontvolk en verlate is soos die woestyn.”
Die eens volkryke land sal verlate wees en tydelik ’n blote weiplek vir vee word.
“Daar wei kalwers en daar lê hulle, en [“hy”, NW] [Jehovah, deur sy instrument] eet sy takke af. As sy takke verdor het, word hulle afgebreek; vroue kom en steek dit aan die brand” (Jesaja 27:10, 11).
Jehovah se tipiese gemalin-nasie sou aldus blote vuurmaakhout word, want die vroulike geslag sou sterk genoeg wees om sonder moeite te gebruik wat daarvan oorgebly het. Wat ’n treurige toestand sou dit tog nie vir die tipiese gemalin-organisasie van Israel wees nie! Maar waarom sou Jehovah, wat soos ’n eggenoot vir hulle was, sulke verbryselende stappe doen? Luister:
15. Watter soort volk moes die nasie van Israel gewees het, met die oog op die spesiale behandeling wat hulle van Jehovah ontvang het, maar waarom het hulle soos die afgodsaanbiddende nasies geword?
15 “Want dit is ’n volk sonder verstand. Daarom sal hulle Maker Hom nie oor hulle ontferm nie en sal hulle Formeerder aan hulle geen genade bewys nie” (Jesaja 27:11).
Met alles wat Jehovah voorsien het vir die opvoeding en voorligting van sy wonderlik gevormde organisasie moes die Israeliete ’n volk met groot intelligensie gewees het. Hulle moes skrander en skerpsinnig genoeg gewees het om die nutteloosheid van afgodediens te besef, ja, skerpsinnig genoeg om die sinloosheid te sien van die afgodiese aanbidding van die onkundige nasies buite die verbondsverhouding met die een lewende en ware God, Jehovah. Maar weens die onsigbaarheid van hulle hemelse Maker en Formeerder het hulle geloof verloor en hulle tot sigbare, mensgemaakte gode gewend, tot hulle ondergang. Dit is waarom verdere guns en goddelike barmhartigheid aan hierdie eiesinnige volk onttrek is.
Verlossing uit ballingskap
16. Waarheen moes Jehovah sy aandag wend indien hy sy volk wou herstel?
16 Om hulle tot sy aanbidding in hulle tuisland te herstel, moes Jehovah dus nou sy aandag wend tot die land Babilonië waardeur die groot Eufraat gevloei het. Hy sou sy aandag suidwaarts rig tot in die land Egipte, want selfs daar het hy sy volk in ballingskap laat kom om hulle te tugtig. Met hierdie doel voor oë moes Jehovah sy volgende verklaring van voorneme vervul:
“En in dié dag sal die HERE vrugte afslaan, van die stroom van die Eufraat af tot by die spruit van Egipte [die wadi aan die suidwestelike grens van die Beloofde Land], en julle sal ingesamel word, een vir een, o kinders van Israel.”—Jesaja 27:12; vergelyk Numeri 34:2, 5.
17. Hoe het Jehovah sy volk uit hulle ballingskap bevry, en deur watter Instrument?
17 Jehovah sou die gevange volk soos vrugte moes afslaan en sodoende bevry alvorens hy hulle na hulle tuisland Juda kon repatrieer. Dit het hy gedoen deur die Babiloniese wêreldmoondheid omver te werp en die Medo-Persiese Ryk, die vierde wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis, in te bring. Aan die begin van sy heerskappy het die Persiese koning Kores die Grote die bevel uitgevaardig dat Jehovah se volk bevry kon word en na eertydse Jerusalem kon terugkeer om Jehovah se tempel te herbou. Hierdie terugkeer het in 537 v.G.J. plaasgevind, ná 70 jaar van Joodse ballingskap.—Jesaja 45:1-7.
18. Wat was waarskynlik die reaksie van die ballinge op die bevel dat hulle vrygelaat moes word?
18 Die getugtigde Israeliete in Babilonië, asook in Assirië en Egipte, was Jehovah se eiendom, en hy het die reg gehad om hulle soos simboliese vrugte af te slaan en te bevry uit gedwonge ballingskap en verstrooiing en sodoende aan hulle barmhartigheid, onverdiende goedheid, te bewys. Hoe bly moes daardie eertydse Israeliete tog nie gewees het oor daardie bevel van Kores nie, en hoe ywerig moes hulle tog nie daardie heerlike geleentheid aangegryp het nie! Wat kon dan gesê word van daardie heuglike “dag”?
19. (a) Vir wie sou die Israeliete wat in Assirië en Egipte verstrooi was volgens die profesie aanbid? (b) Wat sou dit beteken in verband met die aanbidding van Jehovah by die oorspronklike tempelterrein, en vir watter hedendaagse, geestelike nasie hou dit implikasies in?
19 “En in dié dag sal daar met ’n groot basuin geblaas word; dan sal kom die wat verlore is in die land Assur en die wat verdryf is in Egipteland, en hulle sal die HERE aanbid op die heilige berg in Jerusalem” (Jesaja 27:13).
Wat anders het dit beteken as die herbevolking van die Beloofde Land en die herbouing van die tempel in Jerusalem, herstel vir die aanbidding van die Formeerder en Maker van die verlewendigde nasie van Israel? Dit moes plaasvind volgens die vroeëre woorde van die profeet Jesaja, soos opgeteken in vers 6. Die land van sy gerepatrieerde volk moes ’n land vol inwoners word wat hom eendragtig by sy tempel dien, al het hierdie herstelde plek van aanbidding nie dieselfde prag gehad as die luisterryke tempel wat deur koning Salomo gebou is nie. Op hierdie wyse sou dit ’n skaduwee wees van die hedendaagse geestelike vervulling waarby “die Israel van God” betrokke is en waartydens “die wêreld” met lewegewende “vrugte” gevul sou word.—Galasiërs 6:16; Jesaja 27:6.
[Voetnote]
a Die Oxford NIV Scofield Study Bible (1984) lewer hierdie interessante kommentaar oor Lukas 21: 24: “Die ‘tye van die heidene’ het begin met die gevangenskap van Juda onder Nebukadnesar (2 Kron. 36:1-21). Sedert daardie tyd is Jerusalem, soos Christus gesê het, ‘deur die heidene vertrap’.”
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wanneer en hoe het natuurlike Israel ’n “slag” ondervind, soos Jesaja 27:7 voorspel het?
◻ Hoe het Israel ‘wortel geskiet’? (Jesaja 27:2, 6)
◻ Wie is in die nuwere tyd betrokke by die vervulling van die profesie in Jesaja 27?
◻ Hoe het hulle soos ’n vrugbare wingerd geword wat “skuimende wyn” lewer?
[Prent op bladsy 13]
Deur die Babiloniërs het Jehovah sy volk in 607 v.G.J. ’n swaar slag toegebring