Vrae van lesers
◼ Wat was Moses se fout wat hom die voorreg gekos het om die Beloofde Land binne te gaan? Was dit dat hy die rots geslaan het pleks van dit eenvoudig aan te spreek of dat hy Jehovah God nie verheerlik het nie?
Dit lyk asof Moses se fout meer behels het as bloot die feit dat hy die rots geslaan het in plaas van dit aan te spreek, soos God beveel het.
Teen die einde van die Israeliete se swerftog van 40 jaar het hulle by Kades-Barnea in die woestyn Sin (of, Paran) laer opgeslaan. Hulle het dekades vroeër daar laer opgeslaan, waarskynlik omdat drie fonteine in die omgewing ’n grasryke oase vorm, soos in die bygaande foto gesien kan word. By hierdie geleentheid was water egter skaars, sodat die mense dalk nie veel voedsel kon vind nie. Hulle het dus met Moses, Jehovah se verteenwoordiger, getwis en gesê: “Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om ons in hierdie slegte plek te bring? Dit is geen plek van graan of van vye of van wingerdstokke of van granate nie; ook is daar geen water om te drink nie.”—Numeri 20:5.
Toe het God vir Moses en Aäron gesê: “Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, . . . en spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee. So moet jy dan vir hulle water uit die rots laat vloei en die vergadering en hulle vee laat drink” (Numeri 20:8). Wat het toe gebeur?
“Moses en Aäron het die vergadering voor die rots laat byeenkom, en hy het vir hulle gesê: Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei? Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom.”—Numeri 20:10, 11.
Sommige het opgemerk dat God Moses en Aäron beveel het om ‘die rots aan te spreek’, maar hulle het ‘die rots geslaan’. Het hierdie verskil Jehovah dermate mishaag dat hy vir Moses en Aäron gesê het dat Hy hulle nie sou toelaat om Israel in die Beloofde Land in te lei nie?
Blykbaar nie. In werklikheid het die volk net ’n paar maande ná die Uittog oor ’n gebrek aan water begin kla. Dit was naby die berg Sinai (Horeb), by ’n plek wat later Meriba genoem is (in die gebied wat hieronder gesien kan word). Let op wat God by daardie geleentheid vir Moses gesê het: “Ek sal daar voor jou by die rots op Horeb staan; dan moet jy die rots slaan, en daar sal water uit kom, dat die volk kan drink” (Exodus 17:2-7; 33:6). Toe Moses dus by Kades aangesê is om die rots aan te spreek, was hy dalk geneig om te doen wat hy vroeër op God se bevel gedoen het, al het God bedoel dat dit genoeg sou wees om die rots aan te spreek.
Dit lyk asof iets meers tot God se veroordeling van Moses en Aäron aanleiding gegee het. Wat kon dit gewees het? Moses het vir die twissoekerige volk gesê: “Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?” Psalm 106:33 gee ons insig hierin, want dit toon dat Moses met bitterheid opgetree het en dat hy “onverskillig gepraat het met sy lippe”. Hy het met toornige woorde die aandag op homself en Aäron gevestig eerder as op die Een wat werklik op wonderdadige wyse water kon voorsien. Net voordat Moses by die grens van die Beloofde Land gesterf het, het God dus die voorval by Kades-Barnea gemeld en getoon dat Moses se fout was dat hy versuim het om ‘God voor die oë van die volk te heilig’.—Numeri 27:12-14.
Ons kan ’n les hieruit leer. Hoewel dit beslis belangrik is om ons van toornige dade te weerhou, is dit ewe noodsaaklik om ons gees te beheers, veral wanneer ander te kort skiet. As ons toelaat dat dit ons oormatig ontstel, kan ons God se knegte uit ’n menslike oogpunt begin beskou pleks van te besef dat hulle steeds God se “skape” is. Hulle is weliswaar onvolmaak en doen moontlik dinge wat ons irriteer, maar hulle is “sy volk en die skape van sy weide” (Psalm 100:3). God het sy Seun vir sulke persone laat sterf. Behoort ons dan nie daarna te strewe om geduldig met hulle te wees en minder aandag te skenk aan hoe ons voel of geraak word en meer aandag skenk aan hulle posisie voor God nie?
[Prente op bladsy 31]
Lente by ’n oase om een van die fonteine in die omgewing van Kades-Barnea
[Erkenning]
Foto’s bladsye 10, 31: Prente-argief (Nabye-Oosterse geskiedenis)