Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 10/15 bl. 27-30
  • Hoe die weg tot vermeerdering in Gibraltar gebaan is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe die weg tot vermeerdering in Gibraltar gebaan is
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Bybelwaarheid bereik Gibraltar
  • Afsondering—’n unieke probleem
  • Die oopstelling van die grens lei tot teokratiese vermeerdering
  • Vooruitsigte
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 10/15 bl. 27-30

Hoe die weg tot vermeerdering in Gibraltar gebaan is

DIE stadion kan van Gibraltar af gesien word—dit is net sowat 1,5 kilometer daarvandaan. Tog moes die Gibraltarese vir meer as 13 jaar ’n reis van ten minste tien uur onderneem om daar te kom. Dit het eers ’n seereis na Noord-Afrika, dan terug na Spanje, en uiteindelik ’n busrit behels. Waarom so ’n lang reis om by so ’n nabygeleë plek uit te kom?

In 1969 het Spanje se Franco-regime die grens by die smal landengte tussen Spanje en Gibraltar gesluit. Dit was weens ’n dispuut tussen Spanje en Brittanje oor gebiedsoewereiniteit ten opsigte van die Rots, soos Gibraltar dikwels genoem word. So ’n ongerief was egter nie vir die Gibraltarese iets nuuts nie. Vanweë sy unieke strategiese belang is Gibraltar ’n vesting wat al dikwels van buurlande afgesonder is.

Vroeg in die agtste eeu het Moorse invallers onder Ṭārik hierdie stuk land verower en dit “Jabal Ṭāriq” (Ṭārik se berg) genoem, wat sedertdien tot “Gibraltar” gewysig is. Die More het die Rots, wat ongeveer 430 meter bo seevlak uitstyg, sterk verskans. Dit was deur die eeue heen die toneel van talryke beleëringe deur die More en die Spanjaarde. Die Spanjaarde het Gibraltar uiteindelik in 1462 oorgeneem en dit tot 1704 behou, toe die Britte dit verower en ’n vlootbasis aldaar opgerig het.

Benewens die garnisoen het mense uit baie lande hulle in die dorp aan die voet van die Rots gevestig en is daar gevolglik ’n gemengde bevolking wat hoofsaaklik van Moorse, Spaanse, Britse, Hebreeuse en Genuese setlaars afkomstig is. Die meerderheid van die bevolking praat nou Spaans en Engels.

Bybelwaarheid bereik Gibraltar

Saadjies van Bybelwaarheid is in ons tyd in die noordelike somer van 1958 in Gibraltar geplant. Jehovah se Getuies wat op reis was om ’n byeenkoms in Londen, Engeland, by te woon, het die geleentheid benut toe hulle Gibraltar aangedoen het om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. ’n Paar inwoners het op Die Wagtoring ingeteken.

’n Sendelingegpaar het die daaropvolgende jaar in Gibraltar aangekom om hierdie “saadjies” nat te maak. Maar die owerheid het geswig voor die druk van godsdiensleiers en het die egpaar na twee jaar weggestuur. ’n Groepie van sowat 25 Getuies was egter reeds gevorm, en hulle getroue werk deur die jare heen is beloon deur ononderbroke vermeerdering, sodat daar in Maart vanjaar 132 Koninkryksverkondigers was. Hierdie groei getuig beslis van die volharding van die gemeente ondanks die probleme eie aan Gibraltar.

Afsondering—’n unieke probleem

Benewens die ekonomiese en maatskaplike probleme wat ontstaan het toe die grens gesluit is, is Jehovah se Getuies in groot mate verhinder om met medegelowiges in naburige gemeentes in Spanje om te gaan. Gedurende die 13 jaar lange landblokkade het hulle egter steeds die ryk, geestelike voedsel wat by die kring- sowel as streekbyeenkomste voorsien is, geniet. Die program is altyd later by die plaaslike Koninkryksaal in Gibraltar herhaal.

Die gedwonge afsondering het vir die jongmense in die gemeente ’n besondere toets opgelewer. Omdat hulle tot Gibraltar se oppervlakte van 5,8 vierkante kilometer beperk was, moes hulle verstandig optree om die geskille ten opsigte van nasionalisme, materialisme en die huwelik die hoof te bied.

Die huwelik? Ja, omdat hulle net tot hulle gemeentetjie beperk was, was daar vir hulle min geleenthede om ’n geskikte huweliksmaat te vind. Jong vroue in die gemeente is oorlaai met uitnodigings van wêreldse jongmans wat afsprake met hulle wou maak. Die jong Getuies in Gibraltar moes die wyse raad van die Bybel om “net in die Here” te trou ter harte neem.—1 Korinthiërs 7:39; vergelyk Genesis 24:1-4.

In een geval het ’n jong Getuie die raad van die Insteller van die huwelik veronagsaam en met ’n plaaslike meisie wat nie ’n lid van die gemeente was nie, begin uitgaan. Maar die geduldige hulp van die ouere manne in die gemeente het hom ernstiger oor die betrokke gevare laat nadink. Hy het sy vriendin uiteindelik genader en vir haar gesê dat hoewel hy haar baie liefhet sy Bybelkennis hom verplig om hulle verhouding te beëindig. ‘Ek wil met ’n meisie trou saam met wie ek vir ewig kan lewe, nie net ’n paar jaar lank nie’, het hy verduidelik.

Hoewel sy verbaas en ontsteld was, was sy nuuskierig oor presies wat dit was wat hom meer kon interesseer as haar geselskap. Sy het uiteindelik begin om die Bybel te bestudeer. Wat as nuuskierigheid begin het, het tot opregte belangstelling ontwikkel, en sy het vinnig vordering in die waarheid gemaak en is gedoop. Na hierdie duidelike teken van haar begeerte om Jehovah te dien, het die broer haar weer die hof begin maak. Hulle is later getroud en het die seëninge ontvang wat spruit uit gehoorsaamheid aan Jehovah se wyse raad oor die huwelik.

Die oopstelling van die grens lei tot teokratiese vermeerdering

Op 14 Desember 1982 is ’n voetgangerhek op die grens oopgestel. Toe, op 6 Februarie 1985, is vrye deurgang heeltemal herstel. ’n Meer ontspanne atmosfeer het onder die bevolking geheers. Die plaaslike gemeente het uit hierdie ontwikkeling munt geslaan deur hulle getuieniswerk uit te brei en het die geleenthede benut om in groter groepe te vergader. Mense wat die waarheid goedgesind was, het nou groter geleenthede gehad om die liefde en eensgesindheid onder Jehovah se vergaderde menigte te sien.

’n Man wie se vrou sowat 20 jaar lank ’n Getuie was, het byvoorbeeld besluit om die uitnodiging aan te neem om saam met sy vrou en kinders ’n kringbyeenkoms in Spanje by te woon. Hy het die program en omgang so baie geniet dat hy besluit het om die tweede dag ook by te woon. Na afloop van die byeenkoms is hy ’n tuisbybelstudie aangebied. “Waarom nie?” het hy geantwoord en bygevoeg: “Kan ons hierdie week begin?” Sy vrou, wat jare lank om so ’n resultaat gebid het, was verheug.

Ten einde die bykomende geleenthede vir die predikingswerk ten volle te benut, het al hoe meer Getuies as hulppioniers (diegene wat 60 uur per maand aan die openbare bediening wy) begin dien. Sulke ywerige bedrywigheid het sedert 1982 ’n vermeerdering van 35 persent in die gemeente meegebring.

Informele getuieniswerk het ook grootliks tot die groei van die gemeente bygedra. Twee Getuies wat tydens hulle sekulêre werk inspeksie by die hawe gedoen het, het ’n New World Translation van die Bybel opgemerk wat net-net deur die patryspoort van ’n seiljag sigbaar was. Hulle het onmiddellik die eienaar besoek. Hy was die kaaimeester, wat in Brittanje met Jehovah se Getuies gestudeer het voordat hy hom pas tevore in Gibraltar gevestig het. Hy het sy studie geredelik hervat en het saam met sy vriendin vinnig gevorder. Hulle het kort daarna getrou en is gedoop. Hierdie Britse egpaar bestee nou baie van die tyd wat hulle in die bediening deurbring aan predikingswerk onder die Engelssprekende gemeenskap en het daartoe bygedra dat ’n studiegroep aldaar gevorm word.

Een Bybelstudie wat hulle begin het, was met Tim en Tracy, ’n jong egpaar wat in ’n militêre kaserne gewoon het. Hoewel Tim die skuiftrompet in die regimentsorkes bespeel het, het hy hom voorgeneem om hom volkome aan die vreedsame Koninkryksbelange van Jehovah te wy. Familielede het druk op die egpaar uitgeoefen en hulle aangespoor om nie meer met die Getuies om te gaan nie. Maar hulle het hulle Bybelstudie voortgesit, en hulle geloof het sterker geword.

Tim het aansoek gedoen om ontslag, hoewel hy hom oorspronklik vir ’n tydperk van ses jaar laat inskryf het. Toe dit gelyk het asof die hersiening van sy geval onnodig sloer, het Tim die inisiatief geneem om met die militêre dokter te praat en het hy verduidelik dat die onsekerheid van hulle toekoms sy vrou se gesondheid benadeel. Die dokter het saamgewerk en sy invloed gebruik om die hersiening te verhaas. Tim is kort daarna saam met sy regiment na Engeland teruggestuur, waar hy uiteindelik sy ontslag gekry het. Hulle dien nou albei as toegewyde Getuies.

Vooruitsigte

Toe die grens oopgestel is, kon die Getuies in Gibraltar ook aan nabygeleë Spaanse gemeentes hulp verleen. Hulle preek langs die beroemde Costa del Sol (Sonkus) waar daar talle Engelssprekendes is.

Hoewel die “Gibraltarkwessie” steeds uit ’n politieke oogpunt onopgelos is, is Jehovah se Getuies in Gibraltar en Spanje geestelik volkome verenig, soos dit wêreldwyd die geval is. Hulle vertrou op die ‘Rots’ wie se krag ewig is en maak die woorde van die psalmis hulle eie: “Kom, laat ons jubel tot eer van die HERE, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil!”—Psalm 95:1.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel