Jesus se lewe en bediening
Jesus gee ’n les in nederigheid
NADAT Jesus die demonbesete seun in die omgewing van Cesarea-Filippi genees het, wil hy na Kapernaüm terugkeer. Hy wil egter alleen saam met sy dissipels reis sodat hy hulle verder op sy dood en op hulle verantwoordelikhede daarna kan voorberei. “Die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van die mense”, verduidelik hy aan hulle, “en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy opstaan.”
Ofskoon Jesus vroeër hiervan gepraat het, en drie apostels sy verheerliking gesien het, waartydens sy “heengaan” bespreek is, kan sy volgelinge dit nog nie verstaan nie. Hoewel nie een van hulle probeer ontken dat hy doodgemaak gaan word, soos Petrus vroeër gedoen het nie, is hulle bang om hom verder daaroor uit te vra.
Hulle kom uiteindelik in Kapernaüm aan, wat ’n soort tuisbasis tydens Jesus se bediening was. Dit is ook Petrus en ’n paar van die ander apostels se tuisdorp. Daar kom die mans wat die tempelbelasting invorder na Petrus toe. Hulle probeer moontlik om Jesus by die een of ander skending van ’n erkende gebruik te betrek en vra: “Betaal julle Meester nie die tempelbelasting [twee dragme] nie?”
“Ja”, antwoord Petrus.
Jesus, wat moontlik kort daarna by die huis aangekom het, is bewus van wat gebeur het. Jesus vra dus, nog voor Petrus die saak kan aanroer: “Wat dink jy, Simon? Van wie neem die konings van die aarde tol of belasting—van hulle seuns of van die vreemdelinge?”
“Van die vreemdelinge”, antwoord Petrus.
“Dan is die seuns vry”, merk Jesus op. Aangesien Jesus se Vader die Koning van die heelal is, die Een wat in die tempel aanbid word, is dit nie regtig ’n wetlike vereiste dat God se Seun die tempelbelasting moet betaal nie. “Maar dat ons hulle geen aanstoot mag gee nie”, sê Jesus, “gaan na die see toe, gooi ’n hoek uit en neem die eerste vis wat opkom; en as jy sy bek oopmaak, sal jy ’n stater [vier dragme] kry; neem dit en gee dit aan hulle vir My en vir jou.”
Toe die dissipels na hulle terugkeer na Kapernaüm bymekaar kom, moontlik by Petrus se huis, vra hulle: “Wie is tog die grootste in die koninkryk van die hemele?” Jesus weet wat tot hulle vraag aanleiding gee, want hy weet wat hulle bespreek het toe hulle op pad terug van Cesarea-Filippi agter hom aangekom het. Daarom vra hy: “Wat het julle op die pad met mekaar geredeneer?” Die dissipels bly verleë stil, want hulle het onder mekaar geredeneer oor wie die vernaamste is.
Lyk dit ongelooflik dat die dissipels oor so iets kon redeneer nadat Jesus hulle bykans drie jaar lank onderrig het? Wel, dit wys watter sterk invloed menslike onvolmaaktheid en godsdienstige agtergrond kan uitoefen. Die Joodse godsdiens waarin die dissipels grootgemaak is, het in al hulle omgang posisie of rang beklemtoon. Bowendien het Petrus moontlik meerderwaardig gevoel vanweë Jesus se belofte dat hy sekere “sleutels” tot die Koninkryk sou ontvang. Jakobus en Johannes kon sulke idees gehad het omdat hulle begunstig is om Jesus se verheerliking te aanskou.
Hoe dit ook sy, Jesus gee ’n treffende demonstrasie om hulle te probeer help om die regte gesindheid te hê. Hy roep ’n kind, laat hom tussen hulle staan, sit sy arms om hom en sê: “As julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie! Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele. En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My.”
Wat ’n wonderlike manier om sy dissipels tereg te wys! Jesus word nie vir hulle kwaad en sê nie dat hulle aanmatigend, hebsugtig of eersugtig is nie. Nee, maar hy gebruik jong kinders, wat kenmerkend beskeie en vry van eersug is en gewoonlik onder mekaar nie van rang bewus is nie, om sy korrektiewe les toe te lig. Jesus toon sodoende dat sy dissipels hierdie selfde kenmerkende eienskappe van nederige kinders moet ontwikkel. Soos Jesus ten slotte sê: “Wie die kleinste onder julle almal is, hy sal groot wees.” Mattheüs 17:22-27; 18:1-5; Markus 9:30-37; Lukas 9:43-48.
◆ Wat herhaal Jesus toe hulle na Kapernaüm terugkeer, en wat is die reaksie daarop?
◆ Waarom is Jesus nie verplig om die tempelbelasting te betaal nie, maar waarom betaal hy dit?
◆ Wat het moontlik tot die dissipels se redenering aanleiding gegee, en hoe het Jesus hulle tereggewys?