Hoofstuk 16
Ywer vir Jehovah se aanbidding
JESUS se halfbroers—Maria se ander seuns—is Jakobus, Joses, Simon en Judas. Voor hulle almal saam met Jesus en sy dissipels na Kapernaüm, ’n stad naby die See van Galilea, reis, gaan hulle dalk eers by hulle huis in Nasaret aan sodat die gesin kan pak wat hulle nodig sal hê.
Maar waarom gaan Jesus eerder na Kapernaüm as om sy bediening in Kana, in Nasaret of in die een of ander plek in die heuwels van Galilea voort te sit? Om maar een ding te noem, Kapernaüm is beter geleë en is klaarblyklik ’n groter stad. Die meeste van Jesus se nuwe dissipels woon ook in of naby Kapernaüm, en gevolglik sal hulle nie hulle huise hoef te verlaat om deur hom opgelei te word nie.
Gedurende sy verblyf in Kapernaüm verrig Jesus wonderwerke, soos hy self maande later getuig. Maar Jesus en sy metgeselle val weldra weer in die pad. Dit is lente, en hulle is op pad na Jerusalem om die Pasga van 30 G.J. by te woon. Terwyl hulle daar is, sien sy dissipels iets omtrent Jesus wat hulle miskien nie tevore gesien het nie.
Volgens God se Wet moet die Israeliete diereoffers bring. Daarom het handelaars in Jerusalem diere of voëls vir die Israeliete se gerief verkoop. Maar hulle verkoop dit binne-in die tempel, en hulle kul die mense deur hulle te veel te vra.
Jesus is diep verontwaardig. Hy maak ’n sweep van toutjies en dryf die verkopers uit. Hy gooi die geldwisselaars se geld uit en keer hulle tafels om. “Neem daardie dinge hier weg”, sê hy vir die duiweverkopers. “Moenie die huis van my Vader ’n handelshuis maak nie.”
Toe Jesus se dissipels dit sien, onthou hulle die profesie oor God se Seun: “Die ywer vir u huis het my verteer.” Maar die Jode vra: “Watter teken toon U aan ons, dat U hierdie dinge doen?” Jesus antwoord: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig.”
Die Jode neem aan dat Jesus van die letterlike tempel praat en daarom vra hulle: “Ses-en-veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig?” Maar Jesus praat van die tempel van sy liggaam. En toe Jesus drie jaar later uit die dode opgewek word, onthou sy dissipels hierdie woorde van hom. Johannes 2:12-22; Mattheüs 13:55; Lukas 4:23.
▪ Na watter plekke reis Jesus ná die bruilof in Kana?
▪ Waarom is Jesus verontwaardig, en wat doen hy?
▪ Wat onthou Jesus se dissipels toe hulle sy optrede sien?
▪ Wat sê Jesus oor “hierdie tempel”, en wat bedoel hy?