Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 4/1 bl. 30
  • “Die vrou Isebel”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die vrou Isebel”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 4/1 bl. 30

“Die vrou Isebel”

“EK HET enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isebel, wat haarself ’n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet” (Openbaring 2:20). Jesus het dit aan die Christen- ouere manne in Thiatire gesê. Die gemeente was baie bedrywig en het liefde, geloof en volharding geopenbaar. Maar hulle het ’n verderflike Isebel-invloed geduld. Waarom? En kan so iets vandag gebeur?—Openbaring 2:19.

Waarskynlik is niemand in Thiatire Isebel genoem nie. Jesus het die naam gebruik om ons te herinner aan die geskiedkundige koningin Isebel, die vrou van koning Agab. Daardie baasspelerige vrou het God se volk deur en deur verderf toe sy onsedelike Baäl-aanbidding in Israel ingebring het in ’n doelgerigte veldtog om ware aanbidding uit te wis.—1 Konings 16:31-33; 21:1-7.

Die Isebel in Thiatire—hetsy een vrou of ’n groep vroue—het eweneens onsedelikheid en afgodediens onder God se volk aangemoedig. Sommige in die gemeente het na haar geluister, aangesien Jesus van “haar kinders”, waarskynlik haar volgelinge, praat (Openbaring 2:22, 23). Die gevaar het bestaan dat haar invloed die gemeente in Thiatire net so verdorwe sou maak soos Israel in Agab se dag was.

Waarom was die Isebel van Thiatire so invloedryk? Sommige wat na die parallel met eertydse Isebel gekyk het, het gedink dat sy die vrou van die vernaamste ouere man in Thiatire was. Maar die Bybel sê dit nie. Haar sterk persoonlikheid en die feit dat sy beweer het dat sy ’n profetes is, was heel waarskynlik verantwoordelik vir haar status in die gemeente.

Daar is al beweer dat die verkeerde gebruike wat sy aangemoedig het met handelsgildes verband gehou het. Volgens dr. W. M. Ramsay “was daar meer handelsgildes in Thiatire as in enige ander Asiatiese stad”. The Interpreter’s Dictionary of the Bible sê hieroor: “Elk van hierdie gildes het sy beskermgod en sy feeste en sy sosiale geleenthede gehad, wat soms onsedelike swelgerye geword het. ‘Isebel’ het moontlik geredeneer dat . . . hierdie swelgerye nie veroordeel moes word nie, aangesien elke werker by ’n gilde moes aansluit om ’n bestaan te kon maak.” The Expositor’s Greek Testament stem hiermee saam en gee te kenne dat diegene wat Isebel gevolg het “trots was op hulle verligte liberalisme”.

Trouens, die leer van Isebel in Thiatire het ooreengekom met “die leer van Bileam” in Pergamus (Openbaring 2:14). Die gemeente in Pergamus het baie vervolging verduur, maar sommige aldaar het eertydse Bileam nagevolg deur hoerery en afgodediens te bevorder. Daar is te kenne gegee dat die Bileam-invloed in Pergamus ’n kompromis aangemoedig het om hewige vervolging te vermy, terwyl Isebel in Thiatire om ekonomiese redes ’n kompromis aangemoedig het. Wat die geval ook al was, albei leerstellings was afvalligheid wat tot die dood gelei het.

Is daar dalk vandag ’n Isebel- of Bileam-invloed? Ja, beslis. Baie leiers van die Christendom volg Isebel na deur homoseksualiteit, hoerery, owerspel, aborsie en soortgelyke dinge wat deur God veroordeel word in hulle gemeentes te duld. Selfs binne die Christengemeente het ’n paar individue ’n “liberalisering” van ware aanbidding voorgestaan deur Christene aan te moedig om nie te streng in hulle toepassing van Bybelstandaarde te wees nie en selfs onsedelikheid te bevorder.

Almal wat Jehovah wil behaag, moet sulke idees vermy, selfs as dit deur mense—mans of vroue—met ’n aangename of sterk persoonlikheid aangemoedig word. Hierdie denke is vandag net so dodelik as wat dit in die eerste eeu was.—Openbaring 2:22, 23.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel