Vrae van lesers
◼ Wanneer het die sewe basuinstote van Openbaring begin weerklink?
In Openbaring hoofstukke 8, 9 en 11 lees ons van sewe engele wat sewe basuine geblaas en verskriklike plae oor dele van die mensdom aangekondig het. Hierdie plae verteenwoordig die verkondiging van Jehovah se oordele wat in die tyd van die einde deur Jehovah se volk bekendgemaak is en wat op merkwaardige wyse met die byeenkoms in Cedar Point in 1922 begin het.—Sien Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, hoofstukke 21 tot 23 en hoofstuk 26.
Die eerste vier basuinstote ontmasker die geestelik dooie toestand van die Christendom se deel van “die aarde” en “die see”, asook die gevalle toestand van die geestelikes en die Christendom se geestelike duisternis.—Openbaring 8:7-12.
Die geskiedenis toon dat die openbare bekendmaking van hierdie feite eintlik voor 1922 begin het. Die toespraak “Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterwe nie”, wat vir die eerste keer in 1918 gehou is en in 1920 in die vorm van ’n boekie uitgegee is, het byvoorbeeld van die Christendom se mislukking en van die naderende einde van hierdie wêreld gepraat. The Golden Age van 29 September 1920 het die Christendom duidelik as ’n hoereerder, ’n leuenagtige bedrieër en ’n misleier van die mense aan die kaak gestel.
Waarom sê die Openbaring-boek dan dat hierdie vier basuinstote eers by die byeenkoms in Cedar Point in 1922 begin het? Want die uitnodiging “Adverteer, adverteer, adverteer die Koning en die Koninkryk” is toe gerig en dit het die predikingswerk ’n groot stoot gegee. The Watch Tower van 1 November 1922 sê: “Vir die vriende . . . was die sleutelgedagte van die byeenkoms dat die toegewydes op aarde nou die ware voorreg en plig het om die teenwoordigheid van die Heer, die groot Koning van konings, sowel as die feit dat sy koninkryk hier is te adverteer, en dat dit die belangrikste ding is wat hulle moet doen.”
Let ook daarop dat hoewel al vier hierdie oordeelsboodskappe sedert 1922 deur Jehovah se Getuies bekendgemaak is, elkeen op sy beurt ’n kragtige stoot gekry het met die aanvaarding van vier resolusies by byeenkomste wat tussen 1922 en 1925 gehou is. Tienmiljoene eksemplare van hierdie resolusies is gevolglik in gedrukte vorm versprei, en dit het die Christendom se geestelik dooie toestand met welslae aan die kaak gestel.—Sien die Openbaring-boek, bladsy 133, paragraaf 15.
Die laaste drie basuinstote sluit ‘weë’ in (Openbaring 8:13). Hulle is anders as die eerste vier basuinstote in die sin dat hulle op spesifieke gebeure betrekking het. Die vyfde basuinstoot hou verband met die vrylating van God se volk uit “die afgrond” in 1919. Die sesde het te doen met die “perderuiters” en die ontsaglike internasionale predikingskampanje wat in 1922 begin het. Die sewende slaan op die oprigting van God se Koninkryk in 1914.—Openbaring 9:1-19; 11:15-19.
Elk van hierdie gebeure het wee vir Satan en sy wêreld gebring. Die vrylating van die gesalfdes uit die afgrond van onbedrywigheid in 1919 het die Christendom se geestelikes gepynig en getoon dat Jehovah hulle geheel en al verwerp het. Van 1922 tot vandag toe het die groot leërs van perderuiters die Christendom, geestelik gesproke, doodgemaak deur haar dooie toestand oop te vlek en teen haar komende vernietiging te waarsku. En na die oprigting van die Koninkryk in 1914 is Satan uit die hemel gewerp en het hy verderflike probleme onder die mensdom aangestook. Die Koninkryk sal binnekort die oënskynlik stabiele mensegemeenskap wat Satan opgebou het (die aarde), uitwis en die opstandige mensdom (die see) by Armageddon vernietig.—Openbaring 11:17–12:12; 21:1.
By die Cedar Point-byeenkoms in 1922 het al drie ‘weë’ vir die wêreld in die algemeen duidelik geword. Die predikingskampanje wat toe van stapel gestuur is, het duidelik getoon dat “die sprinkane” uit “die afgrond” was en dat die stormloop deur die “perderuiters” aan die gang was. En die roerende uitnodiging om die Koning en die Koninkryk te adverteer was volkome in harmonie met die sewende basuinstoot. The Watch Tower van 1 Maart 1925 het verduidelik dat gebeure in 1914, 1919 en 1922 in Openbaring 12 voorspel is. Dit was ’n dieper begrip van die oprigting van die Koninkryk, en dit is getrou deur Jehovah se Getuies bekendgemaak. Daarbenewens het die verkondiging van hierdie informasie oor die plae ’n groot stoot gekry met die aanvaarding van kragtige resolusies en die daaropvolgende verspreiding daarvan gedurende byeenkomste wat van 1926 tot 1928 gehou is.—Sien Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, bladsye 147, 149, 172.
Die sewe basuinstote het dus in 1922 begin en het gedurende die twintigerjare goed op dreef gekom. Sedertdien het Jehovah se volk onverskrokke met die engele saamgewerk om die hele mensdom mee te deel dat die Christendom geestelik dood en haar geestelikes gevalle leiers is en dat sy en die res van hierdie sataniese wêreld binnekort vernietig sal word.