Die derde millennium—Sal dit jou verwagtinge verwesenlik?
DIE aftelling het begin. ’n Syferklok teen die voorkant van die kultuursentrum Beaubourg in Parys, Frankryk, dui die sekondes aan wat nog oor is. Dié sal met sy meedoënlose aftelling voortgaan tot op middernag 31 Desember 1999. Op daardie tydstip sal iets gebeur wat nog net een keer tevore in ons Gewone Jaartelling gesien is: ’n nuwe millennium, die derde millennium, sal ingelui word.
“In een opsig is 2000 ‘die grootste gebeurtenis’ wat nog ooit in die mens se geskiedenis verwag is”, beweer die maatskaplike navorser Bernward Joerges van Berlyn, Duitsland. Waarom hierdie afwagting? Die jaar 2000 is tog maar net nog ’n jaartal in die tydstroom. Die jaartal word buitendien net erken deur diegene wat die Westerse kalender volg. Volgens die Islamitiese kalender val 2000 G.J. in die Islamitiese jaar 1420; volgens die Joodse kalender, is dit 5760 A.M.
Maar professor Joerges verduidelik in ’n onderhoud in die Sweedse dagblad Dagens Nyheter: “Ons Gregoriaanse chronologie, wat met die veronderstelde geboortedatum van Christus begin, het vanweë kolonialisme en imperialisme in groot dele van die wêreld veld gewen.” Die jaar 2000 sal dus vir ’n groot deel van die mensdom ’n globale epogmerker wees. Professor Joerges sê: “Almal sal hulle eie lewensbeskrywing asook alle ander dinge met hierdie gebeurtenis verbind.”
Maar baie dink aan veel meer as net tydrekening. “Daar is reeds in alle lewenskringe en op alle sosiale vlakke grootskaalse ondernemings en programme aan die gang om hierdie geleentheid te ‘merk’, betekenis daaraan te gee en dit te vier”, beweer Joerges. Hy voeg by: “Oor die hele wêreld is die groot ondernemingskeppers en ‘vertoonbase’ besig om groot dinge te prakseer en te beplan.” Ander voorspellers sê: “Ons sal verdrink in die stroom boeke wat oor die afgelope eeu handel. Al die massamedia sal met die wisseling van die millennium dol raak. ’n TV-stasie in Wes-Duitsland beplan ’n 24-uur beeldsending van sonopkomste om die aarde heen.”
Die media sal beslis ook ’n groot ophef maak van die laaste baba wat in 1999 gebore word en van die eerste een wat in 2000 gebore word. Joernaliste sal ook graag die enkele oorlewendes wil opspoor wat in die 19de eeu gebore is om aan hulle te vra hoe dit voel om in drie eeue en in twee millenniums te gelewe het! Party mense dink selfs dat hierdie millenniumkoors ’n soort massahisterie sal veroorsaak. Volgens een sombere voorspelling sal baie selfmoord pleeg wanneer die horlosie op daardie Oujaarsaand middernag slaan.
Dit is, ondanks sulke ooglopende oordadighede, verstaanbaar dat die gebeurtenis groot belangstelling wek. Baie in ons probleemsatte wêreld sien die nuwe millennium as ’n baken van hoop, ’n poort tot ’n beter toekoms. Sommige vertrou op die wetenskap en tegnologie om ’n toekoms te skep waarin ons beter sal eet en langer sal lewe, minder sal werk en meer tuis sal kan bly; waar robots ons van vervelige take sal verlos; waar beheerde kernfusie water in brandstof sal verander. Hulle voorsien ’n toekoms met holografiese TV, beeldtelefone, kleurfaksmasjiene en kitsvertalingstelefone. Hulle droom daarvan om die Maan, Mars of ander hemelligame te gaan verken en hulle rykdom te ontgin.
Maar nie almal is so optimisties nie. Sommige navorsers voorsien dat die nuwe millennium ’n tyd van onbeheerste aanwas van die wêreldbevolking en omgewingsverval sal inlui. Lugbesoedeling sal die aarde se atmosfeer in ’n stomende kweekhuis verander. Yskappe sal smelt en oseane sal styg sodat die vrugbare, bewoonde gebiede oorstroom sal word maar miljoene hektare plaasgrond in woestyne omskep sal word. Hulle voorsien ’n ineenstorting van die wêreldekonomie, politieke onbestendigheid wat regerings en gemeenskappe sal skud, onkeerbare misdaad en nog die ergste, ’n kernslagting wat alle menselewe sal uitwis.
Voorspellers bespiegel baie maar is van min dinge seker sover dit die naderende millennium aangaan. Daar is net té veel onvoorsiene faktore by betrokke om die toekoms akkuraat te voorspel. ’n Beroepstoekomskundige vergelyk dit met skaakspel: “Voordat ek my volgende set doen, kyk ek eers na soveel skuiwe vorentoe as wat ek kan. Maar nadat my teëstander geskuif het, doen ek dit maar weer.”
Net die tyd sal leer wat die jaar 2000 presies inhou. Dit beteken egter nie dat jou toekoms onseker hoef te wees nie. Die Bybel verskaf voldoende bewys dat ons baie na aan die begin is van ’n baie betekenisvoller millennium as die een wat in minder as ’n dekade gaan aanbreek. Hierdie naderende Millennium sal alle menslike verwagtinge ver oortref. Wat beteken dit presies? Wat sal dit behels? Ons nooi jou om ons volgende artikel aandagtig te lees en uit te vind wat die Bybel hieroor te sê het.