Die millennium—wat is dit?
Hoe is dit al beskou? Kan ons dit in die toekoms verwag?
“’n Tyd wanneer die mens se hunkering na vrede, vryheid van boosheid en die bewind van geregtigheid op aarde uiteindelik deur die mag van God verwesenlik word.”
DIT is hoe die Encyclopœdia Britannica die Bybelleerstelling oor die “tydperk van 1 000 jaar, bekend as die millennium” beskryf.
Stem jy nie saam dat ons graag so ’n beskrywing verwesenlik sal wil sien nie? Ons sal beslis graag, ‘vrede, vryheid van boosheid en geregtigheid op aarde’ wil geniet. Maar is daardie vooruitsig deel van jou opvatting oor die millennium?
Vir baie mense is dit nie, want hulle weet weinig of niks van die millennium af nie. Dit geld selfs van miljoene wat kerk toe gaan, want talle gelowe roer feitlik nooit die onderwerp aan nie. Dit is amper asof dit iets is wat God in die Bybel ingesluit het maar wat nie langer van belang is nie.
Maar soos ons gesien het, verbind God se Woord die millennium met ’n beskrywing van hoe hy droefheid, trane en die dood sal wegneem. Ons het dus goeie rede om te wil verstaan wat Jehovah God omtrent die millennium sê en wat hy daarmee bedoel. Ons toekoms en dié van ons gesin sal moontlik daardeur geraak word.
Jy kan jou Bybel by Openbaring hoofstuk 20 oopmaak waar ons die meeste inligting vind wat die Bybel oor die duisendjarige bewind van Christus verstrek. Die apostel Johannes vertel vir ons wat hy bevoorreg was om te sien:
“Ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp—die ou slang wat die duiwel en die Satan is—en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. . . .
“En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, . . . en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus . . . en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. . . .
“En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, . . . en vuur het van God in die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp . . .
“En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; . . . En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur [die tweede dood] gewerp.”—Openb. 20:1-15.
Volgens die Bybel is die millennium dus ’n tydperk waartydens Satan nie vry sal wees om mense te mislei nie, die dode opgewek en geoordeel sal word en Christus en sy mede-erfgename in geregtigheid oor die mensdom sal heers.
Maar jy wonder dalk tereg waarom daar in die kerke en in godsdienskringe so min hieroor gehoor word. Indien jy navraag doen, sal jy vind dat party gelowe leer dat die millennium nie ’n letterlike tydperk van 1 000 jaar is waartydens Christus gaan regeer nie. Nog ’n algemene leerstelling is dat die millennium slegs ’n simbool is van Christus se bewind wat amper 2 000 jaar gelede begin het en steeds voortduur. Wat moet jy nou eintlik glo? Dit sal ons baie help om hierdie belangrike saak te verstaan as ons kyk wat die apostel Johannes en sy mede-apostels geglo het en ook na wat ná die dood van Jesus se getroue apostels teen die einde van die eerste eeu ontstaan het.
KONINKRYKSWAARHEDE VERDRAAI
Wanneer ons vandag die Bybel lees, is dit maklik om te besef dat die hemelse koninkryk van God een van die vernaamste dinge was wat Jesus vir sy dissipels geleer het. Trouens, hy het begin met die boodskap: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt. 4:17; Joh. 18:36). Hy het vir sy apostels gesê dat hy moes sterf, maar dat hy opgewek sou word en dat hy vir hulle ’n plek in die hemel sou berei (Matt. 16:21; Luk. 22:28-30; Joh. 14:2, 3). Die apostels het hom aanvanklik nie verstaan nie, want hulle het gemeen dat die Koninkryk op aarde opgerig sou word (Joh. 20:9; Hand. 1:6, 7). Maar nadat hulle die heilige gees ontvang het, het hulle besef dat die Koninkryk in die hemel sou wees. Die apostel Paulus het gevolglik geskryf: “Ons burgerskap is in die hemele.” Om hemelse lewe te verkry, sou hulle moes sterf en as geesskepsele opgewek moes word, omdat “vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie”.—Filip. 3:20; 1 Kor. 15:50.
Hierdie duidelike Bybelwaarhede het egter na die dood van Jesus se apostels vervaag. Hoe het dit gebeur? Paulus het gesê: “Ná my vertrek . . . sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20:29, 30). Ja, gedurende die eerste eeu het die apostels ’n teëhoudende invloed uitgeoefen wat gehelp het om die Christelike leer suiwer te hou. Maar nadat hulle almal gesterf het, het ’n afval ingetree (2 Thess. 2:3-8; 1 Tim. 4:1-4). Dit het ’n bepaalde invloed gehad op wat omtrent die millennium geleer is. Ons tas hier nie in die duister rond nie, want geskrifte uit die tweede en derde eeu wat behoue gebly het, help ons om na te speur wat gebeur het.
SEKTARIESE BESKOUINGS VAN DIE MILLENNIUM
In die eeu na die dood van die apostel Johannes het die beskouing posgevat dat Christus gedurende die millennium op aarde sou heers, moontlik uit herboude Jerusalem. Geskiedkundige J. Mosheim meen dat hierdie gedagte voortgespruit het uit ’n samesmelting van die Christelike hoop op “ons Verlosser se koninkryk van die hemele” en ’n heersende Joodse hoop op “’n aardse koninkryk van die Messias”. Die sekte genaamd die Montaniste het in Klein Asië ontstaan en geleer dat Jesus aldaar vanuit Frigië sou regeer. Hulle, en ander, het geleer dat talle fantastiese dinge sou gebeur wanneer Christus en sy mede-erfgename gedurende die millennium op aarde regeer. Sulke heersers sou byvoorbeeld allerhande vorme van sinsgenot, onder andere dié tussen die geslagte, geniet. En hulle sou stoflike liggame, voortrefliker en meer eteries as ons s’n’ hê. Sulke oordrewe opvattings is beskou as tipies van diegene wat aan die millennium glo. Gevolglik, het die hele millenniumleerstelling sy reputasie verloor’, berig dr. A. Neander.
’n Tweede beskouing het ontstaan, en dit het tot die verwarring bygedra. Daarvolgens was die “duisend jaar” bloot simbolies. Die invloedrykste leraar hiervan was waarskynlik die Katolieke teoloog Augustinus. Die Encyclopædia Britannica deel ons mee:
“Na sy bekering tot die Christelike geloof het Augustinus, ’n gewese losbol, konsekwent ’n wêreldverloënende en asketiese lewenswyse voorgestaan. Trouens, sy afkeer van wêreldse waardes was groter as dié van die chiliaste, want hy het enige verwagtings van ’n hernieude en gereinigde wêreld wat die gelowiges kon verwag om te geniet, as iets sinliks verwerp.”
Die New Catholic Encyclopedia berig dat Augustinus “die teorie geopper het dat die millennium in werklikheid met Christus se geboorte begin het”. Die feit dat jy dalk nie veel oor die millennium gehoor het nie, is waarskynlik aan hierdie verwikkeling toe te skryf, want die Katolieke Kerk beweer nou dat die “duisendjarige bewind van Jesus ’n simbool van die hele lewensduur van die Kerk is . . . Die ketening van Satan gedurende hierdie selfde tydperk dui aan dat die invloed van Satan aansienlik verminder is.”
Hierdie teenstrydige sektariese beskouings het bygedra tot die ondermyning van belangstelling in die millennium. Maar laat ons hierdie twee beskouings oor die millennium ondersoek en vasstel wat ons moet glo na aanleiding van wat God se Woord die Bybel sê, aangesien ons eie toekoms dalk geraak kan word.
WAAR EN WANNEER?
Baie kerke leer dat Christus in die vlees sal terugkeer, net soos die gedagte in die tweede eeu ontstaan het dat Jesus en sy medekoning-priesters gedurende die millennium in die vlees op aarde sou regeer. Jesus het egter self gesê: “Nog ’n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle [vir wie hy ’n plek in die hemel sou gaan berei] sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe” (Joh. 14:2, 3, 18, 19). Jesus het egter aangedui dat hy in die hemel sou regeer. Is dit wat ons moet verstaan wanneer ons Openbaring hoofstuk 20 lees? Ja, want die Bybel weerspreek homself nie.
In ’n argument teen ’n duisendjarige bewind in die vlees op aarde, verduidelik Hastings se Encyclopædia of Religion and Ethics:
“In hierdie verslag [Openbaring 20] is die nuwe aspek die duisendjarige bewind van die martelaars saam met Christus . . . Daar word nie gesê dat hierdie bewind op aarde geskied nie, en daar word ook nie gesê dat die eerste opstanding ’n liggaamlike is nie . . . Indien die martelaars wat herleef die heiliges is wat in Jerusalem woon en wat deur Gog en Magog aangeval word, is dit eienaardig dat Christus [saam met wie hulle regeer] nie daardie vyande aanval nie. Hulle word uit die hemel vernietig.”—DI. V, bl. 387.
Dit stem ooreen met wat ons reeds in die Bybel gesien het, naamlik dat Jesus en sy mede-erfgename in die hemelse koninkryk sal heers, nie waar nie? Die Bybel sê nie dat sulke “deelgenote van die hemelse roeping” ooit, selfs nie eens 1 000 jaar lank, menseliggame sal ontvang nie (Hebr. 3:1). Dit toon eerder dat geesgesalfde Christene net soos Jesus Christus met “’n geestelike liggaam” opgewek sal word om die hemel self in te gaan.—1 Kor. 15:42-49; Hebr. 9:24.
Aangesien diegene wat die Koninkryk beërf hemel toe gaan, is al die sektariese fantasieë dat Jesus en die “heiliges” in die vlees uit aardse Jerusalem of Frigië sal regeer en hulself sal oorgee aan die sinlike genot van die vlees, heeltemal ongegrond.
Sulke beskouings is blykbaar ’n verdraaiing van twee Bybelleerstellings: (1) Die Koninkryk is ’n hemelse regering wat bestaan uit Jesus, die apostels en ander wat in die “eerste opstanding” tot die hemel opgewek word (Openb. 20:6). (2) Onder daardie hemelse regering sal die aarde, wat dan van goddelose persone gereinig is, omskep word in ’n vreedsame paradys wat deur God se menseknegte geniet sal word.—Luk. 23:43, NW; Openb. 19:11—20:3; 22:1, 2, 17.
Jy kan sien dat die tweede van hierdie verwikkelinge nog nie plaasgevind het nie. Dit dui daarop dat die millennium nog voorlê, nie waar nie?
Soos ons reeds gemeld het, sê party dat die millennium nie ’n werklike tydperk van 1 000 jaar is nie, maar net ’n lang, onbepaalde tydperk wat eeue gelede begin het. Kan dit reg wees? Dit is waar dat sekere getalle of tydperke in die boek Openbaring figuurlik is, want die boodskap van die boek is in baie “tekens” oorgedra (Openb. 1:1, 4, NW; 2:10). Bestaan daar egter rede om te glo dat die, “duisend jaar” nie ’n simbool is nie?
In Openbaring hoofstuk sewe tref die apostel ’n onderskeid tussen die bepaalde getal wat saam met Christus gaan regeer (144 000) en die onbepaalde groter aantal wat die “groot verdrukking” oorleef. Hoe doen Johannes dit? Hy noem die laasgenoemde groep die “groot menigte wat niemand kon tel nie” (Openb. 7:4, 9). Later verwys hy weer na die bepaalde getal, “die honderd-vier-en-veertigduisend” (Openb. 14:3). In Openbaring 20:8 sê Johannes eweneens dat die onbepaalde groot aantal persone wat aan die einde van die millennium in opstand kom, “soos die sand van die see” is. En die apostel Johannes gebruik ook nie in Openbaring hoofstuk 20 die meervoudsvorm “duisende” wat soms elders gebruik word om ’n groot en moontlik onbepaalde aantal aan te dui nie (Openb. 5:11; Dan. 7:10; 1 Sam. 18:7; Ps. 68:18; 119:72). Daar is dus oënskynlik geen goeie rede om tot die gevolgtrekking te kom dat die uitdrukking, “duisend jaar” in hoofstuk 20 na ’n lang maar onbepaalde tydperk verwys nie. Johannes gebruik eerder die uitdrukking op ’n wyse wat ’n tydperk met ’n bepaalde lengte—“die duisend jaar”—aandui.—Openb. 20:4.
Kan ons egter seker wees oor die duur van daardie vasgestelde tydperk? Met die beskouing dat Openbaring betrekking gehad het op die Jode omstreeks die einde van die eerste eeu, het J. J. Wettstein beweer dat die millennium die 50 jaar tussen keiser Domitianus se dood (96 G.J.) en die Joodse oorlog tydens Hadrianus se bewind was. Nog ’n gedagte was dat ’n dag ’n jaar voorstel. Aangesien ’n maanjaar 360 dae het, sou die millennium, volgens hierdie beskouing, 360 000 jaar lank wees (360 x 1 000). Van sulke vertolkings het professor A. T. Robertson geskryf: “Allerhande teorieë word geopper, waarvan nie een bevredigend is nie.”
Die mees regstreekse benadering is om Johannes se woorde te aanvaar vir wat hulle inderdaad sê—1 000 jaar. Talle sien hierin ’n gepaste bewind vir Jesus Christus, wat die Bybel die “Here van die sabbat” noem (Matt. 12:8). Dit sal soos ’n sabbatdag van rus wees na sowat 6 000 jaar waartydens menslike onvolmaaktheid op die aardse toneel hoogty gevier het.—2 Pet. 3:8.
Johannes self toon dat die millennium op Christus se geslaagde oorlog teen al sy aardse vyande sal volg (Openb. 19:11-21). Aangesien dit nog nie plaasgevind het nie, kan ons daarvan seker wees dat die millennium nog voorlê. Die vervulling van Bybelprofesie in ons tyd lewer bewys dat Christus binnekort teen God se aardse vyande oorlog sal voer en hulle sal vernietig, soos deur Jesus se eie profetiese woorde beskryf word.—Matt. 24:3-22.
Al die Bybelse en geskiedkundige getuienis wat daarop dui dat ons in die laaste dae van hierdie goddelose stelsel van dinge lewe, bied ons ’n vaste grondslag om te verwag dat die millennium van vrede in die nabye toekoms gaan begin (2 Tim. 3:1-5). Hoe sal die aarde dan daar uitsien?