Vrae van lesers
◼ Hoe kragtig moet ’n Christen ’n bloedoortapping teenstaan wat deur ’n hof beveel of gemagtig is?
Elke situasie is uniek; gevolglik is daar geen allesomvattende reël hieroor nie. Christene is bekend daarvoor dat hulle eerbiedig “aan die keiser [betaal] wat die keisier toekom” en die wette van die wêreldlike regering gehoorsaam. Hulle besef nietemin dat dit hulle oorheersende verpligting is om “aan God [te betaal] wat God toekom” en nie sy wet te verbreek nie.—Markus 12:17.
Romeine 13:1-7 bespreek die verhouding van Christene tot die ‘magte wat oor hulle gestel is’, oftewel die regering. Sulke regerings het die gesag om wette te maak of opdragte te gee, gewoonlik om die algemene welsyn van die bevolking te bevorder. En regerings “dra die swaard” om hulle wette toe te pas en ‘die een wat volgens hulle wette kwaad doen, te straf’. Omdat hulle hul onderwerp aan die owerhede wat oor hulle gestel is, wil Christene wette en hofbevele gehoorsaam, maar hierdie onderworpenheid moet relatief wees. As ’n Christen gevra sou word om hom te onderwerp aan iets wat ’n skending van God se hoër wet is, kom die goddelike wet eerste; dit kry voorkeur.
Party hedendaagse wette wat in wese goed is, kan misbruik word om magtiging te gee dat ’n bloedoortapping aan ’n Christen opgedwing kan word. In hierdie geval moet Christene dieselfde standpunt as die apostel Petrus inneem: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”—Handelinge 5:29.
Jehovah het die Israeliete beveel: “Bly daar net vas by dat jy die bloed nie eet nie, want die bloed is die siel, en jy mag die siel nie saam met die vleis eet nie” (Deuteronomium 12:23). ’n Joodse Bybelvertaling van 1917 sê: “Wees net vasbeslote om nie die bloed te eet nie.” En Isaac Leeser het die vers soos volg vertaal: “Neem jou net vas voor om nie die bloed te eet nie.” Klink dit of God se knegte ongeërg of passief kon wees in die onderhouding van sy wet?
Christene was dus tereg absoluut vasbeslote om God te gehoorsaam, al het ’n regering hulle anders beveel. Professor Robert L. Wilken skryf: “Christene het nie alleen geweier om [Romeinse] militêre diens te doen nie, hulle het ook nie politieke ampte of enige verantwoordelikheid vir stadsbestuur aanvaar nie” (The Christians as the Romans Saw Them). Weiering kon beteken dat hulle as wetsoortreders gebrandmerk is of tot die Romeinse arena veroordeel is.
Vandag moet Christene net so vasbeslote wees, onwrikbaar in hulle voorneme om nie die goddelike wet te skend nie, selfs al plaas dit hulle in gevaar wat die wêreldlike regerings betref. Die hoogste wet in die heelal—God se wet—vereis dat Christene hulle van bloed onthou, net soos hulle beveel is om hoerery (geslagsonsedelikheid) te vermy. Die Bybel noem hierdie verbodsbepalings “noodsaaklike dinge” (Handelinge 15:19-21, 28, 29). So ’n goddelike wet moet nie lig opgeneem word as iets om te gehoorsaam slegs as dit geleë is of geen probleme skep nie. God se wet moet gehoorsaam word!
Ons kan dus verstaan waarom die jong Christin wat op bladsy 17 gemeld word vir ’n hof gesê het dat sy “’n oortapping as ’n skending van haar liggaam beskou en dit met verkragting vergelyk” het. Sal enige Christin, jonk of oud, haar gedwee aan verkragting onderwerp, selfs al was daar wetlike toestemming dat die hoerery deur seksuele aanranding gepleeg word?
Die 12-jarige wat op dieselfde bladsy gemeld word, het eweneens geen twyfel gelaat dat ‘sy enige hofgemagtigde oortapping met al haar mag sal beveg nie, dat sy sal skreeu en worstel en dat sy die inspuittoestel uit haar arm sal ruk en sal probeer om die bloed in die sak oor haar bed te laat uitloop’. Sy was vasbeslote om die goddelike wet te gehoorsaam.
Jesus het weggegaan toe ’n skare hom wou koning maak. Indien dit lyk of ’n hof toestemming sal gee dat ’n oortapping toegedien word, kan ’n Christen eweneens sorg dat hy nie opgespoor kan word vir so ’n skending van God se wet nie (Mattheüs 10:16; Johannes 6:15). Terselfdertyd moet ’n Christen verstandig na alternatiewe mediese behandeling soek en sodoende ’n opregte poging aanwend om lewe te onderhou en algehele gesondheid te herwin.
As ’n Christen hom baie kragtig ingespan het om ’n skending van God se wet oor bloed te vermy, sal die owerheid hom dalk as ’n wetsoortreder beskou en hom vervolg. As hy wel gestraf word, kan ’n Christen dit beskou as lyding ter wille van geregtigheid. (Vergelyk 1 Petrus 2:18-20.) Maar in die meeste gevalle het Christene oortappings vermy en het hulle met bekwame mediese sorg herstel sodat daar geen blywende regsprobleme was nie. En van die grootste belang is dat hulle hul onkreukbaarheid aan hulle goddelike Lewegewer en Regter gehandhaaf het.