Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 11/15 bl. 13-18
  • Kweek die vrug van selfbeheersing aan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kweek die vrug van selfbeheersing aan
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrees vir God en haat vir wat sleg is
  • Selfbeheersing, die verstandige weg
  • Onselfsugtige liefde help
  • Hoe geloof en nederigheid kan help
  • Selfbeheersing in die gesinskring
  • Gebruik die hulp wat God voorsien
  • Selfbeheersing—Waarom so belangrik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Beoefen selfbeheersing en verwerf die prys!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Selfbeheersing noodsaaklik vir Christene
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Voeg by julle kennis selfbeheersing
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 11/15 bl. 13-18

Kweek die vrug van selfbeheersing aan

“Die vrug van die gees is liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is geen wet nie.”—GALASIËRS 5:22, 23, NW.

1. Wie het vir ons die beste voorbeelde van selfbeheersing gestel, en uit watter tekste sien ons dit?

JEHOVAH GOD en Jesus Christus het vir ons die beste voorbeelde van selfbeheersing gestel. Sedert die mens se ongehoorsaamheid in die tuin van Eden het Jehovah hierdie eienskap deurentyd beoefen. (Vergelyk Jesaja 42:14.) Ons lees nege keer in die Hebreeuse Geskrifte dat hy “lankmoedig” is (Exodus 34:6). Dit verg selfbeheersing. En God se Seun het beslis groot selfbeheersing beoefen, want “toe Hy uitgeskel is, [het] hy nie terug uitgeskel nie” (1 Petrus 2:23). Ja, Jesus kon sy hemelse Vader “meer as twaalf legioene van engele” gevra het om hom by te staan.—Mattheüs 26:53.

2. Watter uitstekende skriftuurlike voorbeelde het ons van onvolmaakte mense wat selfbeheersing beoefen het?

2 Ons het ook etlike uitstekende skriftuurlike voorbeelde van onvolmaakte mense wat selfbeheersing beoefen het. Josef, ’n seun van die patriarg Jakob, het byvoorbeeld hierdie eienskap aan die dag gelê tydens ’n merkwaardige voorval in sy lewe. Watter selfbeheersing het Josef tog nie beoefen toe Potifar se vrou hom probeer verlei het nie! (Genesis 39:7-9). Daar was ook die pragtige voorbeeld van die vier Hebreeuse jongmanne wat selfbeheersing beoefen het deur te weier om die lekkernye van die Babiloniese koning te eet omdat die Mosaïese Wet dit verbied het.—Daniël 1:8-17.

3. Wie is bekend vir hulle goeie gedrag, en watter aanhalings staaf dit?

3 Ons kan na Jehovah se Getuies in die geheel wys as hedendaagse voorbeelde van selfbeheersing. Hulle verdien die lof wat hulle deur die New Catholic Encyclopedia toegeswaai is—naamlik dat hulle “een van die groepe met die beste gedrag ter wêreld is”. ’n Filippynse universiteitsdosent het gesê dat “die Getuies dit wat hulle uit die Skrif leer” streng uitleef. ’n Poolse verslaggewer het die volgende oor die Getuies se streekbyeenkoms in 1989 in Warskou geskryf: “55 000 mense het drie dae lank nie ’n enkele sigaret gerook nie! . . . Hierdie betoning van bomenslike dissipline het my met ’n kombinasie van bewondering en ontsag vervul.”

Vrees vir God en haat vir wat sleg is

4. Wat is een van die grootste hulpe in die beoefening van selfbeheersing?

4 Een van die grootste hulpe om selfbeheersing aan te kweek is vrees vir God, die diepgewortelde besorgdheid dat ons ons liefdevolle hemelse Vader sal mishaag. Die feit dat die Skrif talle kere melding maak van die eerbiedige vrees vir God toon hoe belangrik dit vir ons is. Toe Abraham op die punt gestaan het om sy seun Isak te offer, het God gesê: “Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie” (Genesis 22:12). Abraham het ongetwyfeld groot emosionele spanning ervaar, met die gevolg dat dit geweldige selfbeheersing van hom moes geverg het om God se bevel so ver uit te voer dat hy sy mes gelig het om sy geliefde seun Isak om die lewe te bring. Ja, vrees vir God sal ons help om selfbeheersing te beoefen.

5. Watter rol speel haat vir wat sleg is in ons beoefening van selfbeheersing?

5 Om te haat wat sleg is, is nou verwant aan die vrees vir Jehovah. Ons lees in Spreuke 8:13: “Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is.” Haat vir wat sleg is, help ons weer om selfbeheersing te beoefen. Die Skrif maan ons keer op keer om te haat—ja, te verafsku—wat sleg is (Psalm 97:10; Amos 5:14, 15; Romeine 12:9). Slegte dinge is dikwels so genotvol, so verloklik, so verleidelik dat ons dit eenvoudig móét haat om ons daarteen te kan versterk. Al sulke haat vir wat sleg is, lei daartoe dat ons vasberadenheid om selfbeheersing te beoefen versterk word, en gevolglik dien dit as ’n beskerming vir ons.

Selfbeheersing, die verstandige weg

6. Waarom is dit die verstandige weg om ons selfsugtige neigings te bedwing deur selfbeheersing te beoefen?

6 Iets wat ons help om selfbeheersing te beoefen, is die besef dat dit verstandig is om hierdie eienskap aan die dag te lê. Jehovah vra ons om selfbeheersing te beoefen ten einde onsself te bevoordeel. (Vergelyk Jesaja 48:17, 18.) Sy Woord bevat baie raad wat toon hoe verstandig dit is om ons selfsugtige neigings te bedwing deur selfbeheersing te beoefen. Ons kan eenvoudig nie God se onveranderlike wette vryspring nie. Sy Woord sê vir ons: “Net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in die vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Galasiërs 6:7, 8). ’n Ooglopende voorbeeld is die kwessie van voedsel en drank. Ooretery en -drinkery het baie euwels tot gevolg. Wanneer ’n mens voor selfsug swig, beroof dit jou van jou selfrespek. Wat meer is, ’n mens kan nie voor selfsug swig sonder om ook jou verhouding met ander mense te skaad nie. En die ernstigste gevolg is dat ’n gebrek aan selfbeheersing ons verhouding met ons hemelse Vader skaad.

7. Wat is ’n belangrike tema van die boek Spreuke, en watter Bybeltekste toon dit?

7 Daarom moet ons ons voortdurend daaraan herinner dat selfsug selfverydelend is. ’n Belangrike tema van die boek Spreuke, wat selfdissipline beklemtoon, is dat selfsug eenvoudig nie die moeite werd is nie en dat dit verstandig is om selfbeheersing te beoefen (Spreuke 14:29; 16:32). En let daarop dat selfdissipline baie meer behels as om bloot te vermy wat sleg is. Selfdissipline, of selfbeheersing, is ook nodig as ons wil doen wat reg is, en dit kan moeilik wees omdat dit strydig is met ons sondige neigings.

8. Watter voorval beklemtoon dat dit verstandig is om selfbeheersing te beoefen?

8 ’n Voorval wat toelig dat dit verstandig is om selfbeheersing te beoefen, is die geval van een van Jehovah se Getuies wat by ’n bank in ’n tou gestaan het toe ’n man voor hom indruk. Hoewel die Getuie ietwat ergerlik was, het hy selfbeheersing beoefen. Hy moes nog daardie selfde dag ’n sekere ingenieur gaan sien om goedkeuring vir ’n klompie Koninkryksaalplanne te kry. En wie was die ingenieur toe? Niemand anders nie as die man wat by die bank voor hom ingedruk het! Die ingenieur was nie net baie vriendelik nie, maar hy het die Getuie ook minder as ’n tiende van die gewone tarief gevra. Hoe bly was die Getuie tog dat hy vroeër die dag selfbeheersing beoefen het en nie toegelaat het dat hy kwaad raak nie!

9. Wat is die verstandige weg wanneer ons in die predikingswerk uitgeskel word?

9 Ons word dikwels uitgeskel wanneer ons die goeie nuus van God se Koninkryk van deur tot deur verkondig of op ’n straathoek staan en probeer om verbygangers se belangstelling in ons boodskap gaande te maak. Wat is die verstandige weg? Hierdie verstandige opmerking word in Spreuke 15:1 gemaak: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af.” Met ander woorde, ons moet selfbeheersing beoefen. En dit is nie net Jehovah se Getuies wat gevind het dat dit waar is nie, ander het ook. In die mediese wêreld word die genesende waarde van selfbeheersing al hoe belangriker geag.

Onselfsugtige liefde help

10, 11. Waarom help liefde ’n mens waarlik om selfbeheersing te beoefen?

10 Paulus se beskrywing van liefde in 1 Korinthiërs 13:4-8 toon dat die krag van liefde ons kan help om selfbeheersing te beoefen. “Die liefde is lankmoedig.” Dit verg selfbeheersing om lankmoedig te wees. “Die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie.” Die eienskap liefde help ons om ons denke en emosies te beheers, om enige neiging te bedwing om jaloers te wees, groot te praat of opgeblase te wees. Liefde beweeg ons om net die teenoorgestelde te wees; dit maak ons nederig, ootmoedig, net soos Jesus was.—Mattheüs 11:28-30.

11 Paulus sê voorts die liefde “handel nie onwelvoeglik [onbetaamlik, NW] nie”. Dit verg ook selfbeheersing om te alle tye betaamlik op te tree. Die eienskap liefde weerhou ons van hebsug, dit weerhou ons daarvan om alleenlik ‘ons eie belang te soek’. Die liefde “word nie verbitterd nie [“raak nie ergerlik nie”, NW]”. Hoe maklik is dit tog om ergerlik te raak oor wat ander sê of doen! Maar liefde sal ons help om selfbeheersing te beoefen en om nie dinge te sê of te doen waaroor ons later spyt sal kry nie. Die liefde “reken die kwaad nie toe nie”. Die mens is van nature geneig om ’n wrok te koester of wrewelrig te wees. Maar liefde sal ons help om sulke gedagtes uit ons verstand te weer. Die liefde “is nie bly oor die ongeregtigheid nie”. Dit verg selfbeheersing om nie behae in ongeregtigheid, soos pornografie of verdorwe TV-strooisages, te skep nie. Ook ‘bedek die liefde alles’ en ‘verdra dit alles’. Dit verg selfbeheersing om sekere dinge te verdra, om dinge te verduur wat ons beproef of swaar op ons druk, en om nie toe te laat dat ons deur sulke dinge ontmoedig word sodat ons ander met gelyke munt wil betaal of so beïnvloed word dat ons ons diens aan Jehovah wil staak nie.

12. Wat is een manier waarop ons waardering kan toon vir alles wat Jehovah God en Jesus Christus vir ons gedoen het?

12 As ons ons hemelse Vader werklik liefhet en waardering het vir sy wonderlike eienskappe en alles wat hy vir ons gedoen het, sal ons hom wil behaag deur te alle tye selfbeheersing te beoefen. En as ons ons Heer en Meester, Jesus Christus, werklik liefhet en alles waardeer wat hy vir ons gedoen het, sal ons sy opdrag gehoorsaam om ons ‘folterpaal op te neem en hom voortdurend te volg’ (Markus 8:34, vgl. NW). Dit vereis beslis dat ons selfbeheersing beoefen. Liefde vir ons Christenbroers en -susters sal ons ook daarvan weerhou om hulle seer te maak deur die een of ander selfsugtige weg in te slaan.

Hoe geloof en nederigheid kan help

13. Waarom kan geloof ons help om selfbeheersing te beoefen?

13 Nog iets wat ons baie kan help om selfbeheersing te beoefen is geloof in God en sy beloftes. Geloof sal ons in staat stel om op Jehovah te vertrou en te wag op sy vasgestelde tyd om sake reg te stel. Die apostel Paulus stel dieselfde punt wanneer hy in Romeine 12:19 sê: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, . . . want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” In dié verband kan nederigheid ons ook help. As ons nederig is, sal ons nie gou aanstoot neem weens vermeende of werklike onregte nie. Ons sal nie oorhaastig wees en eiemagtig optree nie, maar sal selfbeheersing beoefen en bereid wees om op Jehovah te wag.—Vergelyk Psalm 37:1, 8.

14. Watter ondervinding toon dat selfbeheersing selfs deur diegene aangeleer kan word wat ver te kort skiet in hierdie verband?

14 Dat ons wel kan leer om selfbeheersing te beoefen is op kragtige wyse tuisgebring in die ondervinding van ’n man met ’n gewelddadige humeur. Hy het so ’n slegte humeur gehad dat hy, toe die polisie ontbied is weens die rumoer wat hy en sy pa veroorsaak het, drie polisiemanne katswink geslaan het voordat die ander hom kon vaspen! Met verloop van tyd het hy egter met Jehovah se Getuies in aanraking gekom en geleer om selfbeheersing, een van die vrugte van God se gees, te beoefen (Galasiërs 5:22). Vandag, 30 jaar later, dien hierdie man Jehovah steeds getrou.

Selfbeheersing in die gesinskring

15, 16. (a) Wat sal ’n getroude man help om selfbeheersing te beoefen? (b) In watter situasie is selfbeheersing veral nodig, en watter ondervinding bewys dit? (c) Waarom het ’n getroude vrou selfbeheersing nodig?

15 Selfbeheersing is beslis in die gesinskring nodig. As ’n man sy vrou soos homself wil liefhê, moet hy baie selfbeheersing ten opsigte van sy denke, woorde en dade beoefen (Efesiërs 5:28, 29). Ja, dit verg selfbeheersing van mans om ag te gee op die apostel Petrus se woorde in 1 Petrus 3:7: “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe.” Veral wanneer die gelowige man se vrou nie ook ’n gelowige is nie, sal hy selfbeheersing moet beoefen.

16 Ter toeligting: ’n Sekere ouere man het ’n ongelowige vrou gehad wat baie humeurig was. Maar hy het selfbeheersing beoefen, en dit het soveel tot sy welsyn bygedra dat sy dokter vir hom gesê het: “John, jy is óf van nature ’n baie, baie geduldige man, óf jy het ’n kragtige godsdiens.” Ons het inderdaad ’n kragtige godsdiens, want “God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag en van liefde en van gesonde verstand” (2 Timotheüs 1:7, NW). Daarbenewens verg dit selfbeheersing van ’n vrou om onderdanig te wees, veral as haar man nie ’n gelowige is nie.—1 Petrus 3:1-4.

17. Waarom is selfbeheersing belangrik in die ouer-kindverhouding?

17 Selfbeheersing is ook nodig in die ouer-kindverhouding. As ouers kinders wil hê wat selfbeheersing aan die dag lê, moet hulle self eers ’n goeie voorbeeld stel. En wanneer kinders die een of ander vorm van tug nodig het, moet dit altyd op ’n kalm en liefdevolle manier gegee word, wat ware selfbeheersing verg (Efesiërs 6:4; Kolossense 3:21). Daarteenoor verg dit gehoorsaamheid van kinders om te toon dat hulle hul ouers werklik liefhet, en om gehoorsaam te wees vereis beslis selfbeheersing.—Efesiërs 6:1-3; vergelyk 1 Johannes 5:3.

Gebruik die hulp wat God voorsien

18-20. Van watter drie geestelike voorsienings moet ons gebruik maak sodat ons die eienskappe kan aankweek wat ons sal help om selfbeheersing te beoefen?

18 As ons wil toeneem in vrees vir God, in onselfsugtige liefde, in geloof, in haat vir wat sleg is en in selfbeheersing, moet ons gebruik maak van al die hulp wat Jehovah God voorsien het. Kom ons beskou drie geestelike voorsienings wat ons kan help om selfbeheersing te beoefen. Eerstens is daar die kosbare voorreg van gebed. Ons moet nooit te besig wees om te bid nie. Ja, dit moet ons begeerte wees om te “bid sonder ophou” en te “volhard in die gebed” (1 Thessalonicense 5:17; Romeine 12:12). Kom ons maak ons strewe om selfbeheersing aan te kweek ’n saak van gebed. Maar wanneer ons in selfbeheersing te kort skiet, moet ons ons hemelse Vader berouvol om vergifnis smeek.

19 Die tweede ding wat die beoefening van selfbeheersing makliker maak, is die hulp wat ons kry as ons ons gereeld voed met God se Woord en die lektuur wat ons in staat stel om die Skrif te verstaan en toe te pas. Dit is so maklik om hierdie deel van ons heilige diens te verwaarloos! Ons moet selfbeheersing beoefen en ons voortdurend daaraan herinner dat geen leesstof belangriker is as die Bybel en dít wat deur die “getroue en verstandige dienskneg” voorsien word nie, en daarom moet ons voorkeur daaraan gee (Mattheüs 24:45-47). Daar is al tereg gesê dat hierdie lewe nooit ’n kwessie van dit en dat is nie, maar van dit of dat. Is ons waarlik geestelike manne en vroue? As ons bewus is van ons geestelike behoefte sal ons die nodige selfbeheersing beoefen om die TV af te skakel om vir ons vergaderinge voor te berei of Die Wagtoring te lees wat dalk so pas deur die pos gekom het.

20 Derdens moet ons reg laat geskied aan ons gemeentelike vergaderinge en die groter byeenkomste. Is alle sulke vergaderinge waarlik vir ons ’n absolute moet? Kom ons voorbereid om daaraan deel te neem, en doen ons dit dan wanneer ons die geleentheid het? In die mate dat ons reg laat geskied aan ons vergaderinge sal ons versterk word in ons voorneme om onder alle omstandighede selfbeheersing te beoefen.

21. Wat is party van die belonings wat ons kan geniet as ons selfbeheersing as ’n vrug van die gees aankweek?

21 Watter belonings kan ons verwag indien ons hard probeer om te alle tye selfbeheersing te beoefen? Vir eers sal ons nooit die wrange vrugte van selfsug pluk nie. Ons sal selfrespek en ’n rein gewete hê. Ons sal talle probleme vryspring en op die pad na die lewe bly. Daarbenewens sal ons die grootste goedheid moontlik aan ander kan betoon. En ons sal bowenal Spreuke 27:11 uitleef: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee.” En dít is die allergrootste beloning wat ons kan ontvang—die voorreg om ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, se hart te verbly!

Onthou jy?

◻ Hoe help vrees vir God ons om selfbeheersing te beoefen?

◻ Waarom help liefde ons om selfbeheersing te beoefen?

◻ Watter nut het selfbeheersing in ons gesinsverhoudings?

◻ Van watter voorsienings moet ons ten volle gebruik maak as ons selfbeheersing wil aankweek?

[Prent op bladsy 15]

Josef het selfbeheersing beoefen toe hy versoek is

[Prent op bladsy 17]

Dit verg ware selfbeheersing om ’n kind op ’n kalm en liefdevolle manier te tugtig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel