Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 8/1 bl. 8-12
  • ‘Laat jou vooruitgang duidelik wees’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Laat jou vooruitgang duidelik wees’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Tyd vir selfondersoek
  • “Dinge van ’n kind”
  • Hoe jou vooruitgang duidelik word
  • Aanvaar die uitdaging van Christelike rypheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Is jy ’n “volgroeide” Christen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Laat jou vooruitgang duidelik wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Wees progressief—Maak vooruitgang
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 8/1 bl. 8-12

‘Laat jou vooruitgang duidelik wees’

“Nou dat ek ’n man is, het ek die dinge van ’n kind afgelê.”—1 KORINTHIËRS 13:11.

1. Hoe getuig die groeiproses van die wonder van die skepping?

UIT ’n eiersel wat só klein is dat dit net onder ’n mikroskoop gesien kan word, ontwikkel ’n walvis wat tot ’n lengte van oor die 30 meter en ’n gewig van meer as 80 ton kan groei. Net so kan die reuse-sequoia uit een van die kleinste saadjies tot ’n hoogte van oor die 90 meter groei. Waarlik, die groeiproses is een van die wonders van die lewe. Soos die apostel Paulus dit gestel het, kan ons plant en natmaak, maar dit is “God wat laat groei”.—1 Korinthiërs 3:7.

2. Watter soort groei is in die Bybel voorspel?

2 Maar daar is ’n ander soort groeiproses wat net so verbasend is. Dit is die een wat deur die profeet Jesaja voorspel is: “Die kleine self sal duisend word, en die geringe ’n magtige nasie. Ek self, Jehovah, sal dit op sy tyd bespoedig” (Jesaja 60:22, NW). Hierdie profesie het betrekking op die groei wat onder God se volk sou plaasvind, en die groter vervulling daarvan vind in ons dag plaas.

3. Hoe het die rapport vir die 1991-diensjaar getoon dat Jehovah die werk van sy volk bespoedig?

3 Die rapport van die wêreldwye bedrywighede van Jehovah se Getuies vir die 1991-diensjaar toon dat die getal Koninkryksverkondigers ’n nuwe hoogtepunt van 4 278 820 bereik het, en dat altesaam 300-945 gedurende die jaar gedoop is. Met die instroming van soveel nuwelinge is 3 191 nuwe gemeentes gestig, sowel as die nodige aantal nuwe kringe en streke. Dit is meer as agt nuwe gemeentes per dag, amper een nuwe kring elke twee dae. Watter wonderlike groei! Jehovah is ongetwyfeld besig om dinge te bespoedig, en sy seën rus op die werk van sy volk.—Psalm 127:1.

’n Tyd vir selfondersoek

4. Watter vrae moet ons in gedagte hou wanneer ons na die toekoms kyk?

4 Hoewel dit hartverblydend is om te aanskou, bring hierdie seën ook sekere verantwoordelikhede mee. Sal daar genoeg ryp en gewillige persone wees om na die geestelike behoeftes van al hierdie nuwelinge om te sien? As ons na die toekoms kyk, is dit verbysterend om te dink aan al die pioniers, bedieningsknegte, ouere manne en reisende opsieners wat nodig sal wees om na die groei en uitbreiding om te sien, sowel as al die vrywillige werkers wat in die takkantore en Bethelhuise oor die hele wêreld nodig sal wees om daardie werk te ondersteun. Waar sal al hierdie mense vandaan kom? Die oes is beslis groot. Maar wie is vandag in ’n posisie om na al die werkers om te sien wat nodig is om hierdie oes in te samel?—Mattheüs 9:37, 38.

5. Watter situasies bestaan in sommige gebiede as gevolg van die vinnige groei wat nou plaasvind?

5 Daar word byvoorbeeld berig dat daar in sommige wêrelddele gemeentes is waar slegs een ouere man en een of twee bedieningsknegte na tot honderd Koninkryksverkondigers omsien. Soms moet een ouere man in twee gemeentes dien. Op ander plekke is daar so ’n groot behoefte aan bekwame Christenbedienaars wat Bybelstudies kan hou dat belangstellendes op ’n waglys geplaas moet word. In nog ander gebiede word soveel nuwe gemeentes gestig dat drie, vier of selfs vyf gemeentes een Koninkryksaal moet deel. Jy het moontlik sulke groei in jou eie gebied gesien.

6. Waarom is dit nou die tyd om onsself te ondersoek?

6 Wat leer ons uit die voorgaande? Dat ons almal, met die oog op die tyd waarin ons leef, ons omstandighede moet ondersoek om te kyk of ons ons tyd en bates ten beste benut sodat ons ons deel kan doen om in die behoefte te voorsien (Efesiërs 5:15-17). Die apostel Paulus het aan Hebreeuse Christene van die eerste eeu geskryf: “Hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ’n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie” (Hebreërs 5:12). Soos daardie woorde aandui, moet individuele Christene ook groei. En daar bestaan ’n wesenlike gevaar dat ’n mens ’n geestelike baba kan bly in plaas van tot Christelike rypheid te groei. In ooreenstemming hiermee moedig Paulus ons aan: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef” (2 Korinthiërs 13:5). Het jy jouself al ondersoek om vas te stel of jy geestelik gegroei het vandat jy gedoop is? Of het jy stilgestaan? Maar hoe kan ’n mens dit vasstel?

“Dinge van ’n kind”

7. Wat moet ons doen as ons wil hê dat ons geestelike vooruitgang duidelik moet wees?

7 “Toe ek ’n kind was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind; maar nou dat ek ’n man is, het ek die dinge van ’n kind afgelê” (1 Korinthiërs 13:11). Wat ons geestelike ontwikkeling betref, was ons almal vroeër soos kinders in ons denke en gedrag. Maar as ons wil hê dat ons vooruitgang duidelik moet wees, moet ons “die dinge van ’n kind” aflê, soos Paulus gesê het. Wat is sommige van hierdie dinge, of kenmerke?

8. Wat is volgens Paulus se woorde in Hebreërs 5:13, 14 een kenmerk van iemand wat ’n geestelike kind is?

8 Let eerstens op Paulus se woorde in Hebreërs 5:13, 14: “Elkeen wat melk gebruik, is onbekend met die woord van regverdigheid, want hy is ’n klein kindjie. Vaste voedsel behoort egter aan ryp mense, aan diegene wat deur gebruik hulle waarnemingsvermoëns geoefen het om goed sowel as kwaad te onderskei” (NW). Is jy ‘bekend met die woord van regverdigheid’? Ken jy God se Woord, die Bybel, goed genoeg dat jy dit kan gebruik om “goed sowel as kwaad te onderskei”? Paulus het gesê dat ryp Christene dit kan doen omdat hulle gereeld “vaste voedsel” inneem. ’n Mens se begeerte na of aptyt vir vaste geestelike voedsel is dus ’n goeie aanduiding daarvan of jy geestelike volwassenheid bereik het en of jy ’n geestelike kind gebly het.

9. Hoe is ’n mens se geestelike aptyt ’n aanduiding van jou geestelike vordering?

9 Watter soort geestelike aptyt het jy dan? Hoe beskou jy die oorvloed geestelike voedsel wat Jehovah gereeld deur Bybelse publikasies en die Christelike vergaderinge en byeenkomste voorsien? (Jesaja 65:13). Jy is ongetwyfeld baie verheug as nuwe publikasies by die jaarlikse streekbyeenkomste uitgereik word. Maar wat doen jy daarmee wanneer jy by die huis kom? Wat doen jy wanneer jy ’n nuwe nommer van Die Wagtoring of die Ontwaak! ontvang? Ruim jy tyd in om hierdie publikasies te lees of blaai jy hulle net deur om na die glanspunte te kyk voor jy hulle saam met die ander op jou boekrak sit? Soortgelyke vrae kan aangaande die Christelike vergaderinge gevra word. Woon jy al die vergaderinge gereeld by? Berei jy vir hulle voor en neem jy aan hulle deel? Sommige het blykbaar in slegte geestelike eetgewoontes verval deur sommer so oppervlakkig te lees en as ’t ware in die verbygaan te eet. Hoe anders was dit tog in die geval van die psalmis wat gesê het: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.” Daarbenewens het Koning Dawid gesê: “Ek sal U loof in ’n groot vergadering; onder ’n groot skare sal ek U prys” (Psalm 35:18; 119:97). Die diepte van ons waardering vir geestelike voorsienings is ongetwyfeld ’n aanduiding van ons geestelike vordering.

10. Watter kenmerk van iemand wat ’n geestelike kind is, word in Efesiërs 4:14 aangedui?

10 Paulus het op ’n ander kenmerk van ’n geestelike kind gewys toe hy gewaarsku het: “Sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring” (Efesiërs 4:14). Soos ouers maar alte goed weet, is kinders baie nuuskierig. In sekere sin is dit ’n positiewe karaktertrek omdat dit hulle in staat stel om dinge te ondersoek en te leer en geleidelik tot volwassenes te ontwikkel. Maar die gevaar lê daarin dat hulle aandag maklik deur die een ding ná die ander afgelei kan word. Wat nog erger is, is dat hierdie nuuskierigheid hulle dikwels weens hulle onervarenheid in ernstige moeilikheid laat beland, wat hulle en ander selfs in gevaar kan stel. Dit is ook die geval met Christene wat geestelike kinders is.

11. (a) Wat het Paulus in gedagte gehad toe hy die uitdrukking “elke wind van lering” gebruik het? (b) Met watter ‘winde’ het ons vandag te kampe?

11 Wat het Paulus egter in gedagte gehad toe hy gesê het dat Christene wat geestelike kinders is deur “elke wind van lering” heen en weer gedryf word? Hier word “wind” gebruik om die Griekse woord aʹne·mos te vertaal, en die International Critical Commentary sê dat hierdie woord blykbaar “gekies is omdat dit die gedagte van veranderlikheid gepas weergee”. Dit word goed toegelig deur Paulus se volgende woorde: “Deur die bedrieëry van die mense”. Die grondbetekenis van die woord “bedrieëry” in die oorspronklike taal is “dobbelsteen” of “dobbelspel”, dit wil sê ’n gelukspel. Die punt is dat ons voortdurend voor nuwe idees en belange te staan kom wat dalk onskadelik, aanloklik en selfs nuttig lyk. Paulus se woorde het hoofsaaklik betrekking op dinge wat met ons geloof verband hou—ekumeniese bewegings, sosiale en politieke ideale en dies meer. (Vergelyk 1 Johannes 4:1, NW.) Maar die beginsel kan ook toegepas word op die wispelturige giere en modes van die wêreld—die style, vermaak, kosse, gesondheids- of oefenprogramme, ensovoorts. Weens ’n gebrek aan ervaring en goeie oordeel kan die Christen wat ’n geestelike kind is maklik met sulke dinge behep raak, en dit kan verhinder dat hy geestelike vooruitgang maak en dat hy sy belangriker Christelike verpligtinge nakom.—Mattheüs 6:22-25.

12. Hoe verskil jong kinders van volwassenes as dit by verantwoordelikheid kom?

12 Nog ’n kenmerk van jong kinders is dat hulle voortdurend hulp en aandag nodig het. Hulle is nie bewus van of bekommerd oor verantwoordelikhede nie; ’n mens se kinderjare is die tyd van jou lewe wanneer omtrent alles net pret en jolyt is. Paulus het gesê dat ‘hulle praat soos ’n kind, dink soos ’n kind, redeneer soos ’n kind’. Hulle neem dit as vanselfsprekend aan dat ander na hulle sal omsien. Dieselfde kan gesê word van iemand wat ’n geestelike kind is. Wanneer ’n nuweling sy eerste Bybeltoespraak hou of vir die eerste keer in die veldbediening uitgaan, doen die geestelike ouer maar te graag alles in sy vermoë om te help. Wat gebeur as die nuweling aanhou om op sulke hulp staat te maak en nie die verantwoordelikheid kan aanvaar om na homself om te sien nie? Dit sal ongetwyfeld toon dat die nuweling hom nie daarop toelê om vordering te maak nie.

13. Waarom moet elkeen leer om sy eie pak te dra?

13 In hierdie opsig kan ons dink aan die apostel Paulus se vermaning dat hoewel ons ‘mekaar se laste moet dra’ elkeen nogtans ‘sy eie pak sal dra’ (Galasiërs 6:2, 5). Dit kos natuurlik tyd en inspanning om te leer om jou Christelike verantwoordelikhede na te kom, en dit kan beteken dat ’n mens op sekere gebiede opofferings sal moet maak. Maar dit sal ’n ernstige fout wees om toe te laat dat ’n mens só betrokke raak by die pret en jolyt van die lewe, of dit nou ontspanning, reise, onnodige toestelle in die huis of selfs onnodige sekulêre werk is, dat jy as ’t ware net ’n toeskouer is met geen begeerte om jou deelname aan die dissipelmaakwerk te vergroot of om geestelike vooruitgang en verantwoordelikheid na te streef nie. “Word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie”, het die dissipel Jakobus aangespoor.—Jakobus 1:22; 1 Korinthiërs 16:13, NW.

14. Waarom moet ons nie daarmee tevrede wees om die kenmerke van iemand wat ’n geestelike kind is aan die dag te lê nie?

14 Ja, daar is talle opvallende kenmerke wat ’n kind van ’n volwassene onderskei. Die belangrike saak is nietemin, soos Paulus dit gestel het, dat ons moet grootword en geleidelik die dinge van ’n kind moet aflê (1 Korinthiërs 13:11; 14:20). Anders kan ons in geestelike sin gestremd raak. Maar hoe maak ’n mens vordering? Wat behels dit om geestelik aan te hou groei tot jy rypheid bereik het?

Hoe jou vooruitgang duidelik word

15. Wat is die basiese stappe in die groeiproses?

15 Wel, hoe vind die groeiproses in die natuur plaas? “Elke mens begin sy lewe as ’n enkele sel”, verduidelik The World Book Encyclopedia. “Die sel neem stowwe op en omskep hulle tot die boustene wat hy nodig het vir groei. Die enkele sel groei sodoende van binne. Hierdie sel kan vermeerder en verdeel om ander selle te vorm. Die proses van bou, vermeerdering en verdeling is groei.” Wat hier merkwaardig is, is die feit dat groei van binne plaasvind. Wanneer behoorlike voeding ingeneem, verwerk en gebruik word, lei dit tot groei. Dit kan duidelik gesien word in die geval van ’n pasgebore baba. Soos ons weet, neem ’n pasgebore baba met gereelde tussenpose spesiaal geformuleerde voedsel in, naamlik melk, wat ryk is aan vet en proteïene, die boustowwe wat nodig is vir groei. Met watter resultaat? Die mate waarin ’n baba in die eerste jaar in gewig en lengte groei, word nooit weer in enige ander jaar van normale groei geëwenaar nie.

16. Watter soort groei word in die meeste nuwe Bybelstudente gesien, en hoe is dit moontlik?

16 Daar is heelwat wat ons uit hierdie natuurlike groeiproses leer wat ons op ons geestelike vordering, van die basiese leerstellings tot rypheid, kan toepas. Eerstens is ’n gereelde voedingsprogram noodsaaklik. Dink terug aan die tyd toe jy die Bybel die eerste keer begin bestudeer het. As jy soos die meeste ander mense is, het jy heel waarskynlik nie veel van God se Woord geweet nie. Maar week na week het jy jou les voorberei en jou Bybelstudie gehad, en in ’n betreklik kort tydjie het jy al die grondleerstellings van die Skrif begryp. Dit, moet jy erken, was wonderbaarlike groei, en alles omdat jy jou gereeld met God se Woord gevoed het!

17. Waarom is ’n gereelde geestelike voedingsprogram onontbeerlik?

17 Maar wat doen jy nou? Volg jy steeds ’n gereelde voedingsprogram? ’n Mens moet nooit dink dat jy, net omdat jy gedoop is, nou nie meer ’n gereelde en doelgerigte studieprogram nodig het om voedsame geestelike voedsel in te neem nie. Al was Timotheüs ’n ryp Christenopsiener het Paulus hom aangespoor: “Peins oor hierdie dinge, gaan daarin op, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees” (1 Timotheüs 4:15, NW). Hoeveel te meer moet elkeen van ons dit tog nie doen nie! As jy wil hê dat jou geestelike vooruitgang duidelik moet wees, is sulke inspanning onontbeerlik.

18. Hoe word ’n mens se geestelike vooruitgang duidelik?

18 Om jou vooruitgang duidelik te laat wees, beteken nie dat jy ’n spesiale poging moet aanwend om te wys wat jy weet of om ander te probeer beïndruk nie. Jesus het gesê: “Julle is die lig van die wêreld. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie” en “uit die oorvloed van die hart praat die mond” (Mattheüs 5:14; 12:34). Wanneer ons hart en verstand met die goeie dinge van God se Woord gevul is, kan ons nie anders as om dit te weerspieël deur wat ons doen en sê nie.

19. Wat moet ons vasbeslote wees om aangaande ons geestelike vooruitgang te doen, en met watter resultaat in gedagte?

19 Die vraag is dus: Bestudeer jy die Bybel gereeld en woon jy Christelike vergaderinge by om die voedsame materiaal in te neem wat jou interne, geestelike, groei kan stimuleer? Moenie tevrede wees om net ’n passiewe toeskouer te wees wat jou geestelike ontwikkeling betref nie. Doen positiewe stappe om te verseker dat jy ten volle gebruik maak van die oorvloed geestelike voedsel wat Jehovah voorsien. As jy iemand is wie se ‘behae in die wet van Jehovah is, en wat sy wet dag en nag oordink’, kan die volgende ook van jou gesê word: “Hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Psalm 1:2, 3). Maar wat kan jy doen om te verseker dat jy sal aanhou om geestelike vooruitgang te maak? Dit sal ons in die volgende artikel bespreek.

Kan jy die volgende beantwoord?

◻ Waarom is dit nou die tyd om ons geestelike vooruitgang te ondersoek?

◻ Hoe hou ’n mens se geestelike groei met jou geestelike aptyt verband?

◻ Wat word bedoel met “elke wind van lering”?

◻ Waarom moet elkeen sy eie pak dra?

◻ Hoe maak ’n mens geestelike vooruitgang?

[Prent op bladsy 10]

Ruim jy tyd in om Bybelse publikasies te lees?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel