Waarom jy dit moet bywoon
JY SAL vier opbouende dae van geestelike onderrigting by die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkoms geniet, wat hierdie jaar in stede regdeur die wêreld gehou gaan word. In die meeste gevalle sal die program Donderdag om 1:20 nm. begin en Sondag om 4:15 nm. eindig. Ondervindinge deur sendelinge, wat gehelp is om vir hierdie vreugdevolle geleentheid na hulle tuisland terug te keer, sal ’n hoogtepunt by sommige byeenkomste wees.
Of jy oud of jonk is—’n eggenoot, eggenote, vader, moeder, tiener of kind—jy sal nuttige onderrigting ontvang wat op ’n duidelike, hartlike manier aangebied sal word. Baie vra byvoorbeeld vandag: Wat is die doel van die lewe? Jy sal dit geniet om Vrydagoggend na die bespreking oor hierdie vraag te luister en jy sal verheug wees oor wat jy gaan ontvang om ander te help om die onderwerp te verstaan.
Vrydagmiddag sal die volgende programdele aangebied word: “Maak die huwelik ’n blywende verbintenis”, “Werk hard vir die redding van julle huisgesin” en “Ouers—julle kinders het gespesialiseerde aandag nodig.” Net daarna sal spesifieke aandag geskenk word aan die probleme waarmee jongmense te kampe het en hoe hulle dit te bowe kan kom. Hulle sal bemoedig word deur die hedendaagse drama Jongmense wat nou aan hulle Skepper dink.
Saterdag se program sal die aandag vestig op Jesus se profesie oor die laaste dae en veral op sy woorde: “Dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word” (Mattheüs 24:29). Jy sal sekerlik wil luister na die bespreking oor wanneer daardie verdrukking gaan plaasvind. Die program vir Saterdag sal ook die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies hersien en toon wat hulle al bereik het.
Sondag sal nog ’n drama, met die titel Moenie mislei word of God bespot nie, handel oor die gevaar wat vandag se gewilde video’s en musiek vir ’n mens se Christelike onkreukbaarheid inhou. Die openbare toespraak in die middag sal handel oor die tema: “Nuttige onderrigting vir ons kritieke tye.” Die program sal afsluit met die vermaning: “Hou vas aan Goddelike onderrigting.”
Jy sal beslis daarby baat vind as jy al vier dae teenwoordig is! Jy word hartlik uitgenooi om daar te wees. As jy wil uitvind waar die byeenkoms naaste aan jou huis gehou gaan word, kan jy by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gaan vra of aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf.