Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 10/15 bl. 8-11
  • Leer om te wag—Hoe belangrik is dit?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Leer om te wag—Hoe belangrik is dit?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die wysheid daarvan om te leer wag
  • Vir baie ’n nuwe uitdaging
  • Leer by ander
  • Stry die goeie stryd
  • Leer om in alle opsigte te wag
  • Deel 6—Ekonomiese kommer—Wanneer sal dit eindig?
    Ontwaak!—1992
  • Is jy bereid om geduldig te wag?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Is ’n regverdige ekonomiese stelsel moontlik?
    Nog onderwerpe
  • Deel 1a—In die greep van geldsorge
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 10/15 bl. 8-11

Leer om te wag—Hoe belangrik is dit?

EEN van die moeilikste lesse wat ooit van ons as mense verwag word om te leer, is moontlik dat ons moet leer om te wag. Kindertjies is van nature ongeduldig. Wat hulle ook al sien, wil hulle hê, en hulle wil dit dadelik hê! Maar soos jy moontlik uit ondervinding weet, is dit ’n feit van die lewe dat ’n mens nie alles kan kry wat jy wil hê nie. Selfs in die geval van gepaste begeertes moet ons leer om vir die regte tyd te wag om hulle te vervul. Talle leer hierdie les; ander leer dit nooit nie.

Mense wat God se goedkeuring wil wegdra, het spesifieke redes waarom hulle moet leer om te wag. Jeremia, ’n voor-Christelike kneg van Jehovah, het dit beklemtoon: “Dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.” Later het die Christendissipel Jakobus gesê: “Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here.”—Klaagliedere 3:26, NAV; Jakobus 5:7.

Jehovah het sy eie rooster vir die uitvoering van Goddelike voornemens. As ons nie kan wag vir sy bestemde tyd om sekere dinge te doen nie, sal ons ontevrede en misnoeg raak, en dit sal ons van ons vreugde beroof. Sonder vreugde sal ’n kneg van God geestelik swak raak, soos Nehemia vir sy landgenote gesê het: “Die vreugde in die HERE is julle sterkte.”—Nehemia 8:10, The New English Bible.

Die wysheid daarvan om te leer wag

Dit is ’n natuurlike begeerte dat ongetroudes wil trou of kinderlose egpare kinders wil hê. Daar is bowendien niks daarmee verkeerd as ons graag gepaste materiële behoeftes of begeertes wil vervul nie. Maar omdat ons glo dat hierdie stelsel van dinge se dae getel is en dat God in die komende nuwe stelsel ‘sy hand sal oopmaak en alles wat lewe met welbehae sal versadig’, het baie Christene besluit om te wag sodat hulle party van hierdie begeertes op ’n meer gepaste tyd kan vervul.—Psalm 145:16.

Maar mense wat nie hierdie gegronde Christelike hoop het nie, sal geen rede sien waarom hulle dinge moet uitstel nie. Omdat hulle nie geloof in Jehovah het nie, van wie “elke goeie gif en elke volmaakte gawe” kom, bevraagteken hulle die wysheid daarvan om dinge uit te stel na ’n toekoms wat hulle twyfel ooit sal aanbreek. Hulle lewe volgens hierdie credo: “Laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons.”—Jakobus 1:17; 1 Korinthiërs 15:32; Jesaja 22:13.

In ontwikkelde lande buit die advertensiewese die onmiskenbare neiging tot onmiddellike bevrediging uit. Mense word aangemoedig om hulleself te bederf. Die handelswêreld wil hê ons moet glo dat moderne geriewe absoluut noodsaaklik is. Waarom daarsonder klaarkom, word daar geredeneer, veral wanneer kredietkaarte, afbetalingstelsels, en “koop nou—betaal later”-stelsels dit moontlik maak om alles te hê en dit nou te hê? Buitendien: ‘Jy verdien die beste; wees goed vir jouself! Onthou, geniet dit nou of nooit!’ Dit is wat gewilde slagspreuke sê.

Intussen kom tienmiljoene mense in ontwikkelende lande klaar met die allernodigste—of selfs minder. Kan enigiets anders ’n beter aanduiding wees van hoe onvolmaak en onregverdig die mens se politieke en ekonomiese stelsels is?

Die wysheid daarvan om te leer wag, kan gesien word aan die feit dat miljoene wat nie wil wag nie—of ten minste geen rede sien waarom hulle moet wag nie—al groot skuld gemaak het om hulle onmiddellike begeertes te vervul. Onvoorsiene omstandighede, soos siekte of werkloosheid, kan ’n ramp beteken. Die Duitse koerant Frankfurter Allgemeine Zeitung het verduidelik waarom eenmiljoen mense volgens berig in Duitsland haweloos is: “Dit is kenmerkend dat haweloosheid dikwels deur werkloosheid of buitensporige skuld voorafgegaan word.”

Omdat baie van hierdie ongelukkiges nie hulle rekeninge kan betaal nie, verloor hulle hulle huis en besittings op tragiese wyse. Alte dikwels lei groter druk tot spanning in die gesin. Wankelrige huwelike verbrokkel. Terneergedruktheid en ander gesondheidsprobleme word iets algemeens. In die geval van Christene kan hulle geestelikheid daaronder ly, wat weer tot verkeerde denke en onbehoorlike gedrag kan lei. Mense wat onverstandig begin het deurdat hulle altyd alles wou hê, het op die ou end byna niks nie.

Vir baie ’n nuwe uitdaging

Jesus het dit duidelik gestel dat ons op ons hoede moet wees, want “die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar” (Markus 4:19). Ons moet in gedagte hou dat geen politieke stelsel die sorge, onder andere ekonomiese sorge, waarvan Jesus gepraat het met welslae kon verwyder nie.

Die Kommunisme wat nou deur die Oos-Europese lande verwerp is, het dinge deur middel van ’n Staatsbeheerde ekonomie probeer gelykstel. In teenstelling met die stelsel van bedryfsvryheid het die vroeëre stelsel mense in daardie lande ’n mate van ekonomiese sekuriteit gebied wat kapitalisme hulle dikwels nie bied nie. Die sorge waarvan Jesus gepraat het, het nogtans steeds in die vorm van ’n gebrek aan verbruikersgoedere en die inperking van persoonlike vryheid bestaan.

Tans stel baie van daardie lande ’n markekonomie in, wat vir hulle burgers ’n nuwe uitdaging bied. ’n Onlangse verslag sê: “Naïwiteit word gekombineer met die begeerte om gou die Westerse verbruikstandaard te bereik.” Om dit te kan doen, “beland al hoe meer mense in die nuwe Länder in oostelike Duitsland in die maalstroom van skuld”. Die verslag voeg by: “Ná die aanvanklike euforie oor die nuwe ekonomiese vryhede neem vrees en wanhoop nou toe.” Hoewel daar nou ’n kapitalistiese stelsel is, het die sorge nie verdwyn nie.

Groter politieke en ekonomiese vryheid het nuwe moontlikhede vir ekonomiese vooruitgang ontsluit. Baie mense kan derhalwe in die versoeking kom en dit ernstig oorweeg om hulle eie sakeonderneming te begin of na ’n ander land met beter werksgeleenthede te verhuis.

Sulke besluite is iets persoonliks. Dit is nie verkeerd as ’n Christen sy ekonomiese situasie wil verbeter nie. Hy word moontlik beweeg deur ’n begeerte om na sy gesin om te sien omdat hy weet dat ‘iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, die geloof verloën het en slegter as ’n ongelowige is’.—1 Timotheüs 5:8.

Dit is dus nie gepas om ander se besluite te kritiseer nie. Christene moet terselfdertyd onthou dat dit onverstandig is om ekonomiese verligting te soek deur buitensporig skuld te maak waardeur hulle verstrik kan word. Dit sal eweneens verkeerd wees om ekonomiese verligting te soek op ’n manier wat sal behels dat jy jou geestelike verpligtinge en belange verwaarloos.

Leer by ander

Gedurende die jare ná die Tweede Wêreldoorlog het duisende Duitsers uit die oorloggeteisterde Europa na ander lande geëmigreer, veral na Australië en Kanada. Baie kon sodoende hulle ekonomiese situasie verbeter, maar nie een van hulle kon die ekonomiese sorge waarvan Jesus gepraat het heeltemal vryspring nie. Die oplossing van ekonomiese probleme het soms nuwe probleme geskep—heimwee, ’n vreemde taal, om aan nuwe kossoorte en gebruike gewoond te raak, om by nuwe vriende aan te pas of om ander gesindhede te leer ken.

Party van hierdie emigrante was Getuies van Jehovah. Dit is prysenswaardig dat die meeste van hulle nie toegelaat het dat die probleme wat met emigrasie verband hou hulle geestelikheid verstik nie. Maar daar was uitsonderings. Party het die slagoffers van die verleiding van die rykdom geword. Hulle teokratiese vooruitgang het nie met hulle ekonomiese welstand tred gehou nie.

Dit lig beslis toe hoe verstandig dit is dat ons ons situasie noukeurig ondersoek voordat ons moontlik onverstandige besluite neem. Materialistiese neigings sal ons laat verslap in die dissipelmaakwerk wat Christene as toewysing ontvang het en wat nooit herhaal sal word nie. Dit is die geval waar ons ook al woon, aangesien daar geen land is waar die burgers vry van ekonomiese sorge is nie.

Stry die goeie stryd

Paulus het Timotheüs gemaan: “Jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is.” Aan die Korinthiese Christene het hy gesê: “Wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here.”—1 Timotheüs 6:11, 12; 1 Korinthiërs 15:58.

Om hierdie goeie raad te volg, is die beste manier om materialisme met welslae te bekamp, en daar is beslis ’n oorvloed van dinge wat ’n Christen kan doen! In sommige lande waar daar nie baie Koninkryksverkondigers is nie, het menigtes mense nog net beperkte toegang tot die waarheid gehad. Jesus se voorspelling was akkuraat: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min.”—Mattheüs 9:37.

Pleks van toe te laat dat ekonomiese sorge in hierdie lande hulle aandag van die geestelike werk daar aflei, benut Jehovah se Getuies die situasie deur bestaande geleenthede ten volle te gebruik. Wanneer hulle ’n ruk lank werkloos is, brei baie van hulle hulle predikingsbedrywigheid uit. Hulle diens gee hulle die nodige vreugde om hulle eie ekonomiese probleme die hoof te bied en strek boonop tot groter lof van Jehovah.

Hierdie Getuies gee voorkeur aan die predikingswerk en stel ekonomiese ontberinge tweede, wat vir die wêreldwye broederskap toon dat hulle volkome op Jehovah vertrou om vir hulle te sorg. Sy belofte is: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Mattheüs 6:33.

Sedert ware aanbidding in 1919 herstel is, het Jehovah nie toegelaat dat sy volk wankel nie. Hy het hulle deur kwaai vervolging en op sommige plekke deur dekades van ondergrondse bedrywigheid beskerm. Jehovah se Getuies is vasbeslote dat die Duiwel nie deur die subtieler strik van materialisme sal regkry wat hy nie deur vervolging reggekry het nie!

Leer om in alle opsigte te wag

Ruim Koninkryksale, duur klanktoerusting, Byeenkomssale en mooi Bethelhuise verheerlik God en is ’n stilswyende getuienis dat hy sy volk seën. In lande waar die werk lank verbied was, meen Jehovah se Getuies dalk dat hulle in hierdie verband baie het om in te haal. Maar die allerbelangrikste is dat hulle geestelik byhou. Die uiterlike aanduidings dat God hulle op materiële gebied seën, sal mettertyd volg.

Toegewyde knegte van Jehovah moet waaksaam wees, anders kan hulle in die najaging van persoonlike belange begin dink dat hulle lank genoeg sonder sekere materiële dinge klaargekom het. Dit is verstaanbaar dat mense verligting van ekonomiese en sosiale ongelykhede wil hê, maar Jehovah se volk vergeet nie dat al God se knegte na verligting smag nie. Die blindes wil graag weer sien, dié wat aan chroniese siektes ly, wil graag weer gesond wees, die terneergedruktes wil graag weer ’n positiewe beskouing hê en treurendes wil graag weer hulle geliefdes sien.

Weens omstandighede moet elke Christen noodgedwonge in die een of ander opsig op Jehovah se nuwe wêreld wag om sy probleme op te los. Dit moet ons ons laat afvra: ‘Moet ek nie, as ek voedsel en klere het, met hierdie dinge vergenoeg wees en bereid wees om op verligting van ekonomiese probleme te wag nie?’—1 Timotheüs 6:8.

Christene wat ten volle op Jehovah vertrou, kan seker wees dat al hulle gepaste begeertes en behoeftes binnekort vervul sal word as hulle bereid is om te wag. Niemand sal tevergeefs gewag het nie. Ons herhaal Paulus se woorde: “Wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”—1 Korinthiërs 15:58.

Moet dit dan werklik so ’n groot probleem wees om te leer wag?

[Prent op bladsy 10]

As jy leer om te wag, kan dit jou lewe red

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel