Ons hou ons oog “suiwer” in die Koninkrykswerk
DIE Duitse Demokratiese Republiek (DDR), of wat as Oos-Duitsland bekend gestaan het, het skaars middelbare leeftyd gehaal. Sy bestaan van een-en-veertig jaar het op 3 Oktober 1990 geëindig toe sy gebied, wat ongeveer so groot soos Liberië of soos die staat Tennessee in die Verenigde State was, verenig is met die Bondsrepubliek Duitsland, wat voorheen Wes-Duitsland genoem is.
Die hervereniging van die twee Duitslande het al geweldig baie hervormings vereis. Dit was nie net ’n landsgrens wat die twee lande geskei het nie, maar ook ’n ideologiese grens. Wat het dit alles vir die mense daar beteken, en hoe het dit die lewe vir Jehovah se Getuies verander?
Die Wende, die revolusie in November 1989 wat die hervereniging moontlik gemaak het, het kort ná vier dekades van onbuigsame sosialisme plaasgevind. Gedurende daardie tydperk was die bedrywighede van Jehovah se Getuies verbied, en hulle is met tye hewig vervolg.a Nadat die DDR vryheid verkry het, is die bevolking deur ’n gevoel van euforie meegevoer. Maar namate dié gevoel verflou het, het baie gedisoriënteerd, teleurgesteld en selfs ontnugterd geraak. Om die twee Duitslande tot een maatskaplike, politieke en ekonomiese entiteit te verenig, blyk ’n gedugte taak te wees.
Volgens die spesiale verslag “162 Tage Deutsche Geschichte” (162 dae van Duitse geskiedenis) in Der Spiegel het daar ná die hervereniging vrees vir werkloosheid, inflasie en verhoging in huurgelde geheers. “Sal my pensioen voldoende wees?” het baie in die voormalige DDR gevra. Wat van behuising? “Dwarsdeur die DDR raak ou geboue in verval, en hele strate raak onbewoonbaar.” Besoedeling het afgryslike afmetings aangeneem.
Hoe vaar Jehovah se Getuies in die voormalige DDR ondanks sulke maatskaplike en ekonomiese verwarring?
Hulle hou hulle oog behoorlik ingestel
Jehovah se Getuies het geen ideologiese grense nie. Hulle geloof wat op die Bybel gegrond is, is dieselfde, hetsy hulle in die Ooste of in die Weste woon. Terwyl hulle maatskaplike milieu in ’n oorgangstadium is, handhaaf die meeste Getuies hulle geestelike balans deur hulle oë op die belangrikste doelwit gevestig te hou, naamlik om Jehovah te dien. Waarom is dit noodsaaklik?
Omdat ‘die toneel van hierdie wêreld aan die verander is’ (1 Korinthiërs 7:31, NW). Een Christen- ouere man sê dat die predikingswerk tydens die verbod voor die Wende moed geverg het; dit het die Getuies geleer om op Jehovah te vertrou en om bedrewe te raak in die gebruik van die Bybel. Maar nou “moet ons versigtiger wees dat ons nie deur materialisme en die sorge van die lewe van koers gebring word nie”.
Vryheid en vooruitgang word dikwels aan materiële voorspoed gemeet. Baie mense in hierdie wêrelddeel dink hulle moet vir verlore tyd of miskien vir verlore genot vergoed. Dit is duidelik wanneer ’n mens deur die keisteenstrate van die dorpe en gehuggies van Turinge en Sakse in die suide ry. Die strate is miskien in ’n swak toestand, die wonings eenvoudig, maar wat ’n mag der menigte televisie-skottelantennes pryk daar tog! ’n Mens kan maklik mislei word om te glo dat dit sekuriteit en geluk sal meebring as jy alles het wat jou oë sien. Wat ’n gevaarlike strik is dit tog nie!
In die Bergpredikasie het Jesus gewys op die gevare daarvan om te veel aandag aan materiële dinge en die sorge van die lewe te wy. “Hou op om vir julle skatte op die aarde te vergaar”, het hy gewaarsku. Hy het bygevoeg: “Die lamp van die liggaam is die oog. Wanneer jou oog dan suiwer is, sal jou hele liggaam lig wees” (Mattheüs 6:19, 22, NW). Wat het hy bedoel? ’n Suiwer oog is een wat behoorlik ingestel is en wat skerp beelde na die brein toe oorsein. ’n Geestelike oog wat suiwer is, hou die beeld van God se Koninkryk skerp. ’n Christen se besluit om sy oog suiwer te hou, dit wil sê, sy oog skerp op God se Koninkryk ingestel te hou, en om sorge op die agtergrond te skuif, help hom dus om sy geestelike balans te behou.
Dit kan toegelig word deur die ondervinding van ’n egpaar van Zwickau, Sakse, wat gedurende die Wende in die Bybel begin belangstel het. Hulle sakeonderneming was baie tydrowend, maar hulle het geestelike belange eerste gestel en al die Christelike vergaderinge bygewoon. “Met ons onderneming kan ons eintlik nie die tyd afstaan nie”, het hulle erken, “maar ons het dit geestelik nodig.” Wat ’n verstandige besluit!
Neem ook ’n gesin in Plauen, wat insgelyks in Sakse geleë is. Die man was ’n horlosiemaker, ’n meestervakman met sy eie onderneming. Ná die Wende het die huurgeld vir sy winkelperseel skerp gestyg. Wat moes hy doen? “Dit sou baie geld kos, en ek het die waarheid geleer om vir die waarheid te lewe.” Hy het dus na ’n gebou verskuif wat nie so goed geleë is nie, maar wat goedkoper is. Ja, die horlosiemaker het baie gou geleer hoe belangrik dit is om sy oog suiwer te hou.
’n Paar het dit egter te laat geleer. Een Christen- ouere man wat gemeen het dat die vryemarkekonomie wat pas tevore ingestel is belowend lyk, het sy eie onderneming begin. ’n Reisende opsiener het hom liefdevol gemaan om nie toe te laat dat sakeverpligtinge geestelike belange verdring nie. Maar, helaas, dit is wat gebeur het. ’n Paar maande later het die broer as ouere man bedank. Later het hy geskryf: “Uit eie ondervinding sal ek enige broer wat diensvoorregte nastrewe, aanraai om nie sy eie sakeonderneming te begin nie.” Dit wil nie sê dat dit verkeerd is as ’n Christen vir homself werk nie. Maar of ons ons eie onderneming het of nie, as ons té veel aandag aan finansiële sorge wy, kan dit ons onwillekeurig slawe van die rykdom maak. Jesus het getoon wat die gevolge daarvan is: “Niemand kan twee here dien nie; want óf hy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag” (Mattheüs 6:24). Die Duitse digter Goethe het gesê: “Niemand is in groter slawerny as dié wat onder die wanindruk verkeer dat hulle vry is nie.”
As ons deur ’n letterlike storm oorval word, moet ons miskien ons oë op skrefies trek of hulle met ons hande beskerm om ons eindpaal in sig te hou. Wanneer ons deur politieke, ekonomiese of maatskaplike beroeringe omring is, vereis dit konsentrasie om ons geestelike doelwit voor oë te hou. Wat doen sommige Christene om hulle oog suiwer te hou in die Koninkrykswerk?
Groter Koninkryksbedrywigheid
Deur die hele voormalige DDR heen bestee Getuies nou meer tyd aan die predikingswerk as ooit tevore. Gedurende die afgelope twee jaar het die gemiddelde tyd wat aan die velddiens bestee is met 21 persent vermeerder. Dié vermeerdering het tot ’n dramatiese toename van 34 persent in tuisbybelstudies gelei. Daar is tans vier keer meer gewone pioniers as wat daar slegs twee jaar gelede was! Terwyl ander mense hulle bekommer en kla, bied meer as 23 000 Christene in die voormalige DDR die situasie die hoof deur hulle oog suiwer te hou. Dit het bygedra tot die verbasende vermeerdering in Koninkryksbedrywigheid.—Vergelyk Josua 6:15.
Die groter bedrywigheid beteken dat die gebied in die suide, waar die meeste Getuies woon, deeglik gedek word. Baie van die plekname klink bekend vanweë hulle geskiedenis. As jy van fyn porselein hou, sal jy die dorp Meissen, naby Dresden, herken as die plek waarvandaan van die wêreld se fynste porselein kom. Daar is nou ongeveer 130 Koninkryksverkondigers in Meissen. Of neem Weimar, “die klassieke hoofstad van Duitsland”. Die Goethe-Schiller-gedenkteken in die middestad getuig van Weimar se waardige verbintenis met hierdie twee skrywers en is iets waarop baie mense daar trots is. Vandag kan Weimar trots wees op sy meer as 150 verkondigers van die goeie nuus.
Maar in die noorde lyk sake heeltemal anders omdat daar minder verkondigers is en die gemeentes verder van mekaar af is. Werkgeleenthede is veral skaars. Baie wat wel werk het, is onder druk om oortyd te werk as hulle hulle werk wil behou. Een broer wat as ’n voltydse prediker in die noorde dien, verduidelik: “Gedurende die verbod moes elke broer op Jehovah se beskerming in die velddiens staatmaak, maar dit was nie moeilik om werk te kry nie. Nou is die teenoorgestelde die geval. Ons het vryheid om te preek, maar ons het sy leiding nodig wat werk betref. Dit is nogal moeilik om aan so ’n verandering gewoond te raak.”
Is die verkondigers verheug omdat hulle nou meer dikwels aan die predikingswerk kan deelneem? Wolfgang sê: “Dit is baie beter as dieselfde verkondiger dieselfde gebied oor en oor deurwerk. Hy wen die mense se vertroue en hulle is meer bereid om met hom te praat.” Daarbenewens is huisbewoners “nie meer skaam om godsdiens by die deur te bespreek nie, selfs al kan verbygangers die gesprek hoor. Godsdiens is nie meer ’n verbode onderwerp nie.” Ralf en Martina stem met hom saam. “Ons geniet dit om ons gebied meer dikwels te werk. Ons leer die mense ken en is ook verheug oor die groot verskeidenheid lektuur wat beskikbaar is.”
Waardering vir ons lektuur
Ralf en Martina waardeer veral die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? Vir baie mense wat in die voormalige DDR ateïsme voorgestaan het, is hierdie boek ’n wonderlike Bybelhandleiding. Hulle wou ook graag ’n korter publikasie hê wat soortgelyke stof dek. “Hoe opgewonde was ons tog toe die brosjure Gee God werklik vir ons om? tydens die ‘Ligdraers’-Streekbyeenkoms van 1992 in Dresden vrygestel is. Dit was ’n antwoord op ons gebede.”
Talle mense wat nie Getuies is nie, het die Wagtoringpublikasies begin waardeer. In Julie 1992 het ’n dosent in die sosiale opvoedkunde geskryf en haar “hoogste agting en innigste dank” betuig vir die publikasies, wat sy in die voorbereiding van lesings gebruik. In Januarie 1992 het ’n vrou in Rostock ’n eksemplaar van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe by twee Getuies geneem wat haar besoek het. Sy het aan die takkantoor in Duitsland geskryf: “Ek behoort aan die Lutherse Kerk. Ek het die hoogste agting vir die werk wat die organisasie van Jehovah se Getuies doen. Hulle sê onomwonde dat die mens nie langer sonder God se leiding kan bestaan nie.”
Hoeveel geestelike leiding gee die Christendom se kerke aan hulle lidmate? Die invloedryke koerant Die Zeit het in Desember 1991 gesê dat hoewel die Lutherse Kerk “’n rukkie lank roem as die moeder van die vreedsame revolusie geniet het, lyk dit of die kerk se gewildheid onder die mense vinnig afneem”. Trouens ’n verteenwoordiger van die Lutherse Kerk het gekla: “Mense het die lewe in die vryemarkstelsel vir die paradys aangesien.” ’n Kerklidmaat in Maagdenburg het geskryf en inligting gevra. Waarom? “Nadat ek jare lank ongelowig geglimlag het”, het die man geskryf, “is ek nou vas oortuig dat hierdie wêreld betreklik na aan sy einde is en dat ons in die nabye toekoms voor groot probleme te staan gaan kom.”—2 Timotheüs 3:1-5.
Bouwerk met die oog op uitbreiding
Voor die Wende is Koninkryksale nie in die DDR toegelaat nie. Nou word hulle dringend benodig; en die bou van sale geniet nou voorrang. Dit is nog ’n aspek van ware aanbidding wat ’n merkwaardige verandering ondergaan het. Die ondervinding van een broer illustreer hoe vinnig hierdie verandering in werklikheid plaasgevind het.
In Maart 1990, slegs ure nadat Jehovah se Getuies wetlike erkenning in die DDR ontvang het, is ’n broer genooi om ’n groep Getuies toe te spreek en het hy vir die eerste keer in sy lewe ’n mikrofoon gebruik. Twee en ’n half jaar later het die gemeente waaraan hy verbonde is ’n splinternuwe Koninkryksaal toegewy. Teen die einde van 1992 is sewe Koninkryksale vir 16 gemeentes reeds gebou. Meer as 30 ander, en ook ’n aantreklike Byeenkomssaal, se planne word opgetrek.
Die oog gevestig op God se Koninkryk
“Kort na die Wende”, sê ’n Christen- ouere man, “het baie mense die Bybel verwerp. Hulle het hulle hoop gevestig op die nuwe regering wat beloof het om uiteindelik beter toestande tot stand te bring.” Is hulle hoop verwesenlik? “Binne twee jaar het hulle van gedagte verander. Mense is dit nou met ons eens dat menseregerings nooit vrede en regverdigheid tot stand kan bring nie.”
Menigtes het hulle verheug toe onbuigsame sosialisme in die DDR tot ’n val gekom het en dit na hulle mening ’n goue eeu van Westerse ideologie ingelui het. Maar hulle is teleurgestel. Jehovah se Getuies hou, ongeag watter regering aan bewind is, hulle oog suiwer en stip gevestig op God se Koninkryk wat soos ’n ster aan die hemel skitter. Hierdie hoop sal nooit beskaam nie.—Romeine 5:5.
[Voetnoot]
a Sien “Jehovah het na ons omgesien terwyl die werk verbied was”, Dele 1-3, in Die Wagtoring se nommers van 15 April, 1 Mei en 15 Mei 1992.
[Prente op bladsy 26]
Getuies in Duitsland gebruik hulle vryheid om al hoe meer Koninkrykswerk te doen