Welkom by die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms!
JA, DIT is amper tyd vir die 1994-streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies. Van Junie 1994 af tot Januarie 1995 sal die driedaagse byeenkomsprogram in honderde stede oor die wêreld heen gehoor word—eers in Noord-Amerika, dan in Oos- en Wes-Europa, Asië, Sentraal- en Suid-Amerika, Afrika, Australië en die eilande van die see.
“Godvrugtige Vrees”—gewis ’n tema om oor na te dink! Dit is nie die morbiede vrees van iemand wie se lewe bedreig word nie, maar die vrees van God, ’n vrees wat gemoedsrus en vreugde verskaf. Die Bybelspreuk sê: “Die loon van nederigheid [en] die vrees van die HERE, is rykdom en eer en die lewe” (Spreuke 22:4, vgl. NW). Hoe kan die vrees van God tot “rykdom en eer en die lewe” lei? Dit sal duidelik word namate die byeenkomstema ontwikkel word gedurende die drie dae wat gevul sal wees met toesprake, besprekings, demonstrasies en ’n drama.
Die apostel Paulus het geskryf ons moet nie ‘ons onderlinge byeenkoms versuim’ nie (Hebreërs 10:25). Jehovah se Getuies neem hierdie woorde ernstig op en kom drie keer per week byeen vir gemeentelike studie en aanbidding. Maar die jaarlikse streekbyeenkoms is iets spesiaals. Hulle sien met afwagting daarna uit en bespreek dit nog maande lank daarna. Ons nooi jou hartlik om, ongeag aan watter godsdiens jy behoort, saam met hulle hulle byeenkoms by te woon en die liefdevolle Christelike omgang en lewensbelangrike geestelike inligting te geniet. Een van Jehovah se Getuies van die plaaslike gemeente sal jou met genoeë inlig oor waar en wanneer die byeenkoms naaste aan jou gehou gaan word.