Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 6/1 bl. 28-31
  • ‘Jesus Christus is Here’—Hoe en wanneer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Jesus Christus is Here’—Hoe en wanneer?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jesus Christus as “Here”
  • Hoe Jesus Christus as Here onderskei kan word
  • Jehovah die Opperwese
  • God die Seun of “die Seun van God”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Waarom moet ons “die Christus” volg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Wat sê die Skrif oor “die godheid van Christus”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Die waarheid oor God en Jesus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 6/1 bl. 28-31

‘Jesus Christus is Here’—Hoe en wanneer?

“DIE HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete.” Dit is hoe Psalm 110:1 in die King James Version vertaal is. Wie is “die HERE” en met wie praat hy?

’n Akkurater vertaling van die Hebreeuse teks beantwoord gou die eerste vraag. “Die uitspraak van Jehovah tot my Here is: . . . ” “HERE” in hoofletters verwys dus na die almagtige God, Jehovah self. Hoewel die King James Version erkenning verleen aan die Goddelike naam deur hoofletters “HERE” in teenstelling met “Here” te gebruik, was dit nie die eerste vertaling wat hierdie titels verwar het nie, want die ou Griekse Septuagint, wat uit die Hebreeus vertaal is, het in sy latere kopieë “Here” vir Jehovah gebruik. Waarom? Omdat die titel “Here” gebruik is om die Goddelike naam, die Tetragrammaton (יהוה), te vervang. Die geleerde A. E. Garvie sê: “Die maklikste en waarskynlikste verduideliking vir die gebruik van die titel Here [kyʹri·os] is die feit dat hierdie titel in plaas van die verbondsnaam Yahveh [Jehovah] gebruik is wanneer die Skrif in die Joodse sinagoge voorgelees is.”

Die Bybel identifiseer Jehovah as die “Soewereine Heer” (Genesis 15:2, 8, NW; Handelinge 4:24, NW; Openbaring 6:10, NW). Hy word ook “die ware Here” en “die Here van die hele aarde” genoem (Exodus 23:17, NW; Josua 3:13, NW; Openbaring 11:4, NW). Wie is dan die ander “Here” na wie Psalm 110:1 verwys, en hoe het dit gekom dat hy deur Jehovah as “Here” erken word?

Jesus Christus as “Here”

Jesus word in al vier die Evangelies as “Here” aangespreek, maar meermale in Lukas en Johannes. In die eerste eeu G.J. was die titel ’n aanspreekvorm van eerbied en beleefdheid, net soos “Meneer” (Johannes 12:21, NAV; 20:15). In Markus se Evangelie word Jesus meer dikwels as “Meester”, of Rab·boʹni, aangespreek. (Vergelyk Markus 10:51 met Lukas 18:41.) Selfs Saulus se vraag op die pad na Damaskus: “Wie is U, Here?” het hierdie selfde algemene strekking van ’n beleefde vraag gehad (Handelinge 9:5). Maar dit is duidelik dat Jesus se volgelinge, namate hulle hulle Meester leer ken het, die titel “Here” gebruik het om baie meer as blote eerbied te betuig.

Ná sy dood en opstanding, maar voor sy hemelvaart, het Jesus aan sy dissipels verskyn en hierdie verbasingwekkende aankondiging gedoen: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde” (Mattheüs 28:18). Daarná het Petrus op Pinksterdag, onder die invloed van die heilige gees wat op hulle uitgestort is, na Psalm 110:1 verwys en gesê: “Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle [aan ’n paal gehang] het” (Handelinge 2:34-36, vgl. NW). Omdat hy getrou gebly het totdat hy ’n smadelike dood aan ’n folterpaal gesterf het, is Jesus uit die dood opgewek en is die hoogste beloning aan hom gegee. Dit is toe dat hy sy heerskappy in die hemele ontvang het.

Die apostel Paulus het Petrus se woorde bevestig toe hy geskryf het dat God “Hom [Christus] laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige” (Efesiërs 1:20, 21). Jesus Christus se heerskappy is bo dié van alle ander here en sal tot in die nuwe wêreld voortbestaan (1 Timotheüs 6:15). Hy is tot “’n hoër posisie” verhef en “die naam gegee wat bo elke ander naam is” sodat almal sou erken “dat Jesus Christus Here is tot die heerlikheid van God die Vader” (Filippense 2:9-11, NW). Die eerste deel van Psalm 110:1 is sodoende vervul en “engele en magte en kragte” is aan Jesus se heerskappy onderwerp.—1 Petrus 3:22; Hebreërs 8:1.

In die Hebreeuse Geskrifte is die uitdrukking “Here van die here” net op Jehovah van toepassing (Deuteronomium 10:17; Psalm 136:2, 3). Maar Petrus het onder inspirasie aangaande Christus Jesus gesê: “Hy is die Here van almal [of, “die Here van ons almal”, Goodspeed]” (Handelinge 10:36). Hy is inderdaad die “Here oor sowel die dooies as die lewendes” (Romeine 14:8, 9, NW). Christene erken met graagte Jesus Christus as hulle Here en Eienaar en toon aan hom gewillige gehoorsaamheid as sy onderdane wat hy met sy kosbare bloed gekoop het. En sedert Pinkster 33 G.J. heers Jesus Christus al as Koning van die konings en Here van die here oor sy gemeente. Maar nou, sedert 1914, het hy koninklike gesag ontvang om in hierdie hoedanigheid te heers met sy vyande wat as ’n ‘voetbank vir sy voete’ gestel is en om ‘te midde van hulle te gaan onderwerp’, alles ter vervulling van Psalm 110:1, 2, NW.—Hebreërs 2:5-8; Openbaring 17:14; 19:16.

Hoe moet ons dan Jesus se woorde voor sy dood en opstanding, naamlik “alles is aan My oorgegee deur my Vader”, verstaan? (Mattheüs 11:25-27; Lukas 10:21, 22). Dit is nie so ’n omvattende verklaring soos die verklarings wat ons reeds bespreek het nie. Die konteks in Mattheüs sowel as in Lukas toon dat Jesus gepraat het van kennis wat vir die wêreldlike wyses verberg is, maar deur hom geopenbaar is omdat hy die Vader “ten volle ken” (NW). Toe Jesus in water gedoop is en as ’n Geesseun van God verwek is, kon hy sy voormenslike bestaan in die hemel en al die kennis wat daarmee gepaardgegaan het, onthou, maar dit was iets anders as die heerskappy wat hy later sou ontvang.—Johannes 3:34, 35.

Hoe Jesus Christus as Here onderskei kan word

Sommige weergawes van die Christelike Griekse Geskrifte skep ’n probleem wanneer hulle aanhalings uit die Hebreeuse Geskrifte vertaal wat duidelik na die “HERE”, Jehovah God, verwys. Vergelyk byvoorbeeld Lukas 4:19 met Jesaja 61:2 in die Afrikaanse Bybel of The New Jerusalem Bible. Sommige mense hou vol dat Jesus die titel “Here” van Jehovah oorgeneem het en dat Jesus in die vlees in werklikheid Jehovah was, maar dit is ’n bewering wat geensins deur die Skrif gestaaf word nie. In die Skrif word daar altyd ’n duidelike onderskeid getref tussen Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus. Jesus het sy Vader se naam bekend gemaak en hom verteenwoordig—Johannes 5:36, 37.

Let in die volgende voorbeelde op die aanhalings uit die Hebreeuse Geskrifte soos hulle in die Griekse Geskrifte voorkom. Jehovah God en sy Gesalfde, of Messias, word albei gemeld in Handelinge 4:24-27 wat uit Psalm 2:1, 2 aanhaal. Die konteks van Romeine 11:33, 34 verwys onteenseglik na God, die Bron van alle wysheid en kennis, met ’n aanhaling uit Jesaja 40:13, 14. In sy brief aan die gemeente in Korinthe herhaal Paulus die aanhaling: “Wie het die sin van die Here [“Jehovah”, NW] geken?” en dan voeg hy by: “Maar ons het die sin van Christus.” Die Here Jesus het die sin van Jehovah oor soveel belangrike sake aan sy volgelinge geopenbaar.—1 Korinthiërs 2:16.

Soms verwys ’n teks in die Hebreeuse Geskrifte na Jehovah, maar op grond van die mag en gesag wat Hy aan Jesus Christus oorgedra het, is dit in Jesus Christus vervul. Psalm 34:9 nooi ons byvoorbeeld om ‘te smaak en te sien dat die HERE goed is’. Maar Petrus pas dit op die Here Jesus Christus toe wanneer hy sê: “As julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is” (1 Petrus 2:3). Petrus neem ’n beginsel en toon hoe dit ook in die geval van Jesus Christus waar is. Deur kennis van Jehovah God sowel as van Jesus Christus op te doen en dienooreenkomstig te handel, kan Christene ryk seëninge van die Vader asook van sy Seun geniet (Johannes 17:3). Petrus se toepassing van die teks maak nie die Soewereine Heer Jehovah en die Here Jesus Christus een persoon nie.—Sien voetnoot in NW by 1 Petrus 2:3.

Die relatiewe posisies van Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, word deur die apostel Paulus baie duidelik uiteengesit wanneer hy sê: “Daar [is] vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom” (1 Korinthiërs 8:6; 12:5, 6). In sy brief aan die Christengemeente in Efese het Paulus ’n duidelike onderskeid getref tussen die “een Here”, Jesus Christus, en die “een God en Vader van almal”.—Efesiërs 4:5, 6.

Jehovah die Opperwese

Sedert 1914 is die woorde van Openbaring 11:15 bewaarheid: “Die koninkryk van die wêreld het die koninkryk van ons Here [Jehovah God] en van sy Christus geword, en hy sal vir ewig en altyd as koning heers” (NW). The New International Dictionary of New Testament Theology (Deel 2, bladsy 514) sê: “Wanneer Christus alle magte oorwin het (1 Kor. 15:25), sal hy hom aan God die Vader onderwerp. Sodoende sal Jesus se heerskappy sy doel bereik het, en God sal dan alles in almal wees (1 Kor. 15:28).” Aan die einde van sy Duisendjarige Heerskappy sal Christus Jesus die mag en gesag wat voorheen aan hom oorgedra is aan sy Vader, die almagtige God, oorgee. Alle heerlikheid en aanbidding word daarom tereg aan Jehovah, “die God van onse Here Jesus Christus”, gegee.—Efesiërs 1:17.

Hoewel Jesus nou die Here van die here is, word hy nooit die God van die gode genoem nie. Jehovah bly steeds die Opperwese. So sal Jehovah “alles wees vir almal” (1 Korinthiërs 15:28, NW). Jesus se heerskappy gee aan hom sy regmatige posisie as Hoof van die Christengemeente. Hoewel ons talle magtige “here” in hoë posisies in hierdie wêreld sien, vestig ons steeds ons vertroue op die een wat die Here van die here is. Maar Jesus Christus bly ondanks sy hoë en verhewe posisie steeds onderworpe aan sy Vader “sodat God oor almal kan regeer” (1 Korinthiërs 15:28, The Translator’s New Testament). Watter pragtige voorbeeld van nederigheid het Jesus tog vir sy dissipels gestel om na te volg terwyl hulle hom as hulle Here erken!

[Venster op bladsy 30]

“Wanneer die skrywers van die Nuwe Testament van God praat, bedoel hulle die God en Vader van ons Here Jesus Christus. Wanneer hulle van Jesus Christus praat, praat hulle nie van hom en dink hulle ook nie aan hom as God nie. Hy is God se Christus, God se Seun, God se Wysheid, God se Woord. Selfs die Voorwoord tot St. Johannes wat die naaste aan die Niceense Leerstelling kom, moet in die lig van die duidelike ondergeskiktheidsleer van die Evangelie in sy geheel gelees word; en die Voorwoord is minder spesifiek in die Grieks met die [the·osʹ] sonder ’n lidwoord as wat dit in Engels lyk.”—“The Divinity of Jesus Christ”, deur John Martin Creed.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel