Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 5/15 bl. 4-6
  • Die Bybel—’n Boek wat gelees moet word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bybel—’n Boek wat gelees moet word
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geen wonder dit het behoue gebly nie!
  • Die gewoonte om die Bybel te lees
  • Lees dit gereeld
  • Die Bybel—’n boek wat verdien om gelees te word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Vind baat by daaglikse Bybellees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Bybellees—nuttig en aangenaam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Skep behae in God se Woord
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 5/15 bl. 4-6

Die Bybel—’n Boek wat gelees moet word

DAAR is nie genoeg woorde in die oortreffende trap om die Bybel te beskryf nie. Dit is die boek wat verreweg die grootste verspreiding in die geskiedenis geniet. Die Bybel is die oudste, mees vertaalde, mees aangehaalde, invloedrykste en mees gerespekteerde boek wat daar is. Dit is waarskynlik ook die mees omstrede boek wat bestaan. En dit is beslis die boek wat deur die meeste verbooie en verbrandings en die kwaaiste teëstand behoue gebly het. Maar ongelukkig is daar een woord in die oortreffende trap wat nie meer vir die Bybel geld nie. Dit is onwaarskynlik dat dit nog die boek is wat die meeste ter wêreld gelees word.

Hoewel baie mense ’n Bybel iewers in die huis het, meen baie dat hulle te besig is om tyd daaraan te bestee om dit te lees. Lees was vroeër ’n gewilde tydverdryf. Maar nou verkies die meeste mense dit om in hulle vrye tyd televisie te kyk of iets anders te doen. Diegene wat wel nog ’n bietjie lees, verkies gewoonlik ligte en maklike leesstof. Wanneer ’n mens die Bybel lees, moet jy konsentreer, en die meeste mense lees nie meer met groot konsentrasie nie.

Maar die Bybel het nie behoue gebly net sodat dit op ons boekrak kan staan nie. Daar is goeie redes waarom dit gelees moet word. Beskou ’n paar feite daaroor.

Geen wonder dit het behoue gebly nie!

Die woord “Bybel” kom van die Griekse woord bi·bliʹa wat “klein boekies” beteken. Dit herinner ons daaraan dat die Bybel uit ’n aantal boeke bestaan—waarvan sommige nie so klein is nie! Hulle is oor ’n tydperk van sestienhonderd jaar geskryf. Hoewel die skrywers mense was, is hulle deur ’n hoër Bron geïnspireer. Een Bybelskrywer het gesê: “Geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:21). Wat vir skriftuurlike profesieë geld, geld ook vir die res van die Bybel. Hierdie Goddelik geïnspireerde “klein boekies” is vol van die verhewe gedagtes van Jehovah God (Jesaja 55:9). Dit is geen wonder dat die Bybel so lank behoue gebly het nie!

Vir God se knegte was die Bybel nog altyd die belangrikste boek. Hulle stem saam met die apostel Paulus, wat self een van die Bybelskrywers was. Hy het gesê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig” (2 Timotheüs 3:16, NW). Die Bybel is dus vandag die grondslag van Jehovah se Getuies se geloof. Dit bepaal hulle leerstellings en beïnvloed hulle gedrag. Hulle beveel heelhartig aan dat elkeen daagliks ’n gedeelte uit God se Woord lees en met waardering oor die inhoud daarvan peins.—Psalm 1:1-3.

Die gewoonte om die Bybel te lees

Die gewoonte om die Skrif te lees, was nuttig in die verlede. Konings van Israel is beveel om hulle eie handgeskrewe afskrif van die Wet—nou ’n belangrike deel van die Bybel—te maak en dit daagliks te lees as ’n voortdurende herinnering aan wat God se wil vir hulle was (Deuteronomium 17:18-20). Versuim om dit te doen, het die ondergang van baie konings veroorsaak.

Die waarde daarvan om die Skrif te bestudeer, word toegelig in die geval van die bejaarde profeet Daniël. Deur Daniël se persoonlike studie van die dele van die Bybel wat in sy dag bestaan het, kon hy, terwyl hy in ballingskap in Babilon was, ‘in die boeke merk’ dat ’n belangrike profesie wat deur Jeremia opgeteken is spoedig in vervulling sou gaan.—Daniël 9:2.

Ten tye van Jesus se geboorte het die ‘regverdige en vroom’ man Simeon vol vertroue verwag om die een te sien wat die Christus, of die Messias, sou word. Simeon het die belofte ontvang dat hy nie sou sterf voordat hy die Christus gesien het nie. Die feit dat hy van Jesaja se profesie melding gemaak het toe hy die kindjie Jesus in sy arms vasgehou het, toon dat Simeon ’n aandagtige leser was van die Bybelboeke wat in sy dag reeds geskryf was.—Lukas 2:25-32; Jesaja 42:6.

Toe Johannes die Doper gepreek het, was “die volk in verwagting” van die Messias. Waarvan is dit ’n aanduiding? Dit gee te kenne dat baie onder die Jode met die Messiaanse profesieë in die Skrif vertroud was (Lukas 3:15). Dit is interessant, want destyds was boeke nie geredelik beskikbaar nie. Afskrifte van Bybelboeke moes noukeurig en moeisaam met die hand gemaak word, en as gevolg daarvan was hulle duur en moeilik bekombaar. Hoe het mense dan met die inhoud daarvan vertroud geraak?

In baie gevalle deur openbare voorlesing. Moses het byvoorbeeld beveel dat die hele Wet wat God aan hulle gegee het op vasgestelde tye aan die vergaderde Israeliete voorgelees moes word (Deuteronomium 31:10-13). Teen die eerste eeu G.J. was die openbare voorlesing van Bybelboeke iets algemeens. Die dissipel Jakobus het opgemerk: “Want van ouds af het Moses in stad na stad dié gehad wat hom verkondig, omdat hy elke sabbat in die sinagoges voorgelees word.”—Handelinge 15:21, NW.

Vandag is dit maklik om jou eie eksemplaar van die Bybel te hê. Van hierdie “klein boekies” is ten minste party in die tale van 98 persent van die wêreldbevolking beskikbaar. Daarom is dit jammer dat baie nie daarin belangstel om uit te vind wat die Bybel vir hulle te sê het nie. Ons leef miskien in ’n wetenskaplike eeu, maar God se Woord, die Bybel, is steeds by uitstek “nuttig om te onderrig” (NW). Dit gee goeie raad oor sedes, menseverhoudings en baie ander onderwerpe. Daarbenewens bied die Bybel die enigste ware hoop op ’n vreedsame toekoms.

Lees dit gereeld

Jehovah se Getuies het dit dus ’n belangrike deel van hulle werk gemaak om mense aan te moedig om die Bybel gereeld te lees. Hierdie vermaning verskyn in groot letters op die fabrieksgebou by hulle wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York: “LEES GOD SE WOORD DIE HEILIGE BYBEL DAAGLIKS.” Miljoene verbygangers het al hierdie woorde gesien, en hopelik het baie daarop ag geslaan.

Die Teokratiese Bedieningskool word elke week in die meer as 73 000 gemeentes van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld gehou. Die openbare voorlesing van ’n gekose gedeelte van die Bybel maak deel uit van die kursus. Almal wat die skool bywoon, het ook ’n toewysing om elke week ’n paar hoofstukke van die Bybel tuis te lees. Diegene wat hierdie rooster volg, lees uiteindelik die Bybel deur.

Hierdie reëling is in ooreenstemming met een van die handboeke wat in hierdie skool gebruik word. Die Teokratiese Bedieningskool-handleiding sê: “Jou persoonlike rooster moet ook voorsiening maak vir tyd om die Bybel self te lees. Dit is van groot waarde om dit van voor tot agter deur te lees. . . . Jou doel wanneer jy lees, moet egter nie net wees om stof deur te gaan nie, maar om die saak in sy geheel te sien met die bedoeling om dit te onthou. Neem tyd om te bepeins wat dit sê.”

Ander publikasies wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, moedig ook Bybellees aan. Die volgende aanmoediging vir jongmense het byvoorbeeld in hierdie tydskrif se medetydskrif, die Ontwaak!, verskyn: “Het jy . . . die Bybel al deurgelees? Ja, die Bybel is ’n dik boek, maar waarom deel jy dit nie in kleiner dele op wanneer jy dit lees nie? . . . Die ‘edelmoedige’ Bereane het ‘die Skrifte elke dag ondersoek’ (Handelinge 17:11). As jy ’n daaglikse leesrooster van 15 minute volg . . . , kan jy die Bybel binne ’n jaar deurlees.” Ja, Jehovah se Getuies is van mening dat hedendaagse Christene, net soos God se knegte in die ou tyd, die Skrif goed moet ken.

Hiermee in gedagte het die Getuies ’n 20ste-eeuse vorm van openbare Bybelvoorlesing beskikbaar gestel. Hulle het in verskeie tale kassetopnames gemaak waarop die hele Bybel voorgelees word. Dit was vir talle mense al ’n groot hulp om struikelblokke in verband met Bybellees te oorkom. Party luister na die opnames terwyl hulle huiswerk doen, hulle motor bestuur of allerlei ander dinge doen. Dit is ’n genotvolle ondervinding om rustig te sit en luister hoe ’n gedeelte uit die Bybel gelees word terwyl jy in jou Bybel volg.

As jy nie reeds daagliks die Bybel lees nie, kan jy dit gerus ’n gewoonte maak. Dit hoef nie elke dag lank te duur nie, maar dit sal van groot nut wees omdat die toepassing van die Skrif jou in staat sal stel om verstandig op te tree en ’n geestelik lonende lewe te geniet. Jy sal ook ooreenkomstig hierdie bevel handel wat lank gelede aan die Israelitiese leier Josua gegee is: “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.”—Josua 1:8.

Die Bybel se bladsye openbaar Jehovah se liefdevolle voorneme met die gehoorsame mensdom. Juiste kennis van sy geïnspireerde Woord lei tot ware geluk en die hoop op die ewige lewe in die Paradys in ’n wonderlike nuwe wêreld van eindelose seëninge (Lukas 23:43, NW; 2 Petrus 3:13). Mag jy die geleentheid aangryp om die Bybel te lees en te bestudeer en na hierdie wonderlike lewe uit te reik.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel