Abraham—Hier begrawe, en tog lewe hy?
Jode, Moslems en Christene kom besoek hierdie plek al eeue lank.
Jy kan dit in die ou stad Hebron, suid van Jerusalem, besoek. Hierdie gebou word Haram el-Chalil sowel as die Graf van die Aartsvaders genoem. Ja, dit word allerweë aanvaar as die plek waar die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob sowel as hulle onderskeie vrouens Sara, Rebekka en Lea begrawe is.
Die Bybel sê dat Abraham by Magpela, naby Hebron, ’n spelonk en ’n stuk grond as ’n begraafplek gekoop het toe sy geliefde vrou, Sara, gesterf het (Genesis 23:2-20). Later is Abraham, sowel as ander familielede, ook hier begrawe. Eeue later het Herodus die Grote ’n indrukwekkende gebou om die tradisionele graf opgerig wat mettertyd deur veroweraars verbou en vergroot is en hulle eie godsdiensoortuiging weerspieël het.
Wanneer ’n mens die gebou binnegaan, sien jy ses senotawe (monumente of leë grafte). Die inlasfoto wys die een vir Isak, die seun van Abraham. Daar naby is gate in die vloer, wat gebruik is om onder die gebou in te gaan. Navorsers het vertrekke ontdek wat moontlik talle ou bene bevat het.
Wat van Abraham? As hy in ’n spelonk begrawe is wat nou onder hierdie gebou is, is hy al lank dood, nie waar nie? Die meeste besoekers sal saamstem. Tog het ’n profeet groter as Abraham gesê dat Abraham in ’n sin nog lewe. In watter opsig? En watter invloed kan dit op jou geloof hê?
Lees asseblief die artikel “Jou afgestorwe dierbares—Waar is hulle?” (Bladsy 3). Dit verduidelik wat daardie groot profeet gesê het omtrent Abraham wat nog lewe, en hierdie inligting kan vir jou en jou gesin van groot waarde wees.