Beskou die “Huis van God” met waardering
“EEN ding het ek van Jehovah gevra—dit is waarna ek sal soek: dat ek al die dae van my lewe in die huis van Jehovah mag woon, om die aangenaamheid van Jehovah te aanskou en om sy tempel met waardering te beskou.”—Psalm 27:4, NW.
Koning Dawid het waardering vir Jehovah se tempel gehad en dit met genot, of welgevalle, beskou. Voel jy ook so oor hedendaagse sentrums vir ware aanbidding? Die meer as 95 Bethelhuise by takke van die Wagtoringgenootskap tel onder die fasiliteite wat met die aanbidding van Jehovah in ons tyd geassosieer word.
“As ek terugkyk oor die baie jare wat ek al in Betheldiens is, vervul dit my met innige dankbaarheid en groot waardering, wat jaar na jaar toeneem”, verduidelik Helga, wat in 1948 by die Bethelhuis in Duitsland begin werk het. Helga is een van die 13 828 vreugdevolle Bethelwerkers rondom die wêreld wat gedurende die 1993-diensjaar ‘die aangenaamheid van Jehovah aanskou’ het. Wat beteken die naam Bethel presies? Hoe kan elke Getuie van Jehovah, of hy God in Bethel of elders dien, hierdie reëling met waardering beskou?
’n Naam wat toegewydheid vereis
“Bethel” is ’n baie gepaste naam, aangesien die Hebreeuse woord Behth-ʼElʹ “Huis van God” beteken (Genesis 28:19, voetnoot in NW). Ja, Bethel is soos ’n goed georganiseerde huis, of ‘’n huisgesin wat deur wysheid opgebou is’, en God en sy wil vorm die kern daarvan (Spreuke 24:3, NW). “Dit is soos om deel van ’n gesin te wees. Ons het ’n goed georganiseerde daaglikse roetine”, sê Herta met waardering. Sy dien al meer as 45 jaar by dieselfde Bethel as Helga. Elke lid van hierdie groot gesin vervul ’n funksie en het sy plek, wat hom gelukkig en veilig laat voel. In ooreenstemming met die naam Bethel word elke afdeling deur ordelikheid en organisasie gekenmerk. Dit bevorder vrede, maak doeltreffende verkondiging van die goeie nuus moontlik en gee die gemeentes grondige rede om die grootste waardering vir die “Huis van God” te hê.—1 Korinthiërs 14:33, 40.
Waarom is sulke fasiliteite nodig? Hierdie tydskrif is byvoorbeeld in ’n Betheldrukkery gedruk. Die verkondiging van die Koninkryksboodskap en die verspreiding van geestelike voedsel, wat albei deur Jesus Christus voorspel is, maak organisatoriese reëlings soos Bethel onontbeerlik—reëlings wat deur gewillige werkers ondersteun word en wat alle aanbidders van Jehovah baie waardeer.—Mattheüs 24:14, 45.
Wil jy graag meer uitvind oor die werksdagroetine wat hier gevolg word? Waar Helga en Herta woon, lui ’n melodieuse klokkie om 6:30 vm. in al die woongeboue, hoewel baie van die meer as 800 gereelde werkers selfs vroeër opstaan om vir die dag voor te berei. Teen 7:00 vm., van Maandag tot Saterdag, vergader die gesin in die eetsale vir ’n bespreking van die dagteks, of oggendaanbidding. Dan volg ’n voedsame ontbyt. Elke werksdag begin om 8:00 vm., is agt uur lank en word slegs deur middagete onderbreek. (Die gesin werk gewoonlik net halfdag op ’n Saterdag.) Of dit nou in die kombuis, die drukkery, die wassery, die kantore, die werkswinkels, die boekbindery of enige ander afdeling is, daar is baie om te doen.
Saans en oor naweke assosieer lede van die gesin met plaaslike gemeentes by vergaderinge en in die openbare predikingswerk. Baie Bethelbroers is ouere manne of bedieningsknegte in hierdie gemeentes. Die plaaslike Getuies waardeer hierdie samewerking baie—die feit dat albei groepe eensgesind saamwerk as een liggaam, met wedersydse respek en begrip (Kolossense 2:19). Elke Bethelwerker weet dat sy toewysing in die “Huis van God” voorkeur bo ander bedrywighede moet geniet. Maar geesdrif vir die predikingswerk en betrokkenheid by die gemeente, tesame met ’n gebalanseerde gesindheid, versterk die Bethelwerker se geestelikheid, vergroot sy vreugde en maak hom ’n produktiewer lid van die gesin. Hoe uiters belangrik is hierdie eienskappe tog wanneer ’n mens in ’n “huis” werk waarvan die naam regstreeks met heelhartige toegewydheid verband hou!
Suksesvolle Betheldiens
Wat het tallose Getuies van Jehovah gehelp om ’n sukses van Betheldiens te maak? Gesinslede in die Bethel in Frankryk wat jare lange ondervinding het, lewer die volgende kommentare: “Liefde vir Jehovah. Die vasbeslotenheid om te volhard ongeag waar hy ons gebruik; nederigheid, onderworpenheid en gehoorsaamheid aan die riglyne wat die Genootskap ons gee” (Denise). “Ek het gesien hoe belangrik dit is om ag te gee op die beginsel wat Paulus in Romeine 12:10 meld: ‘Die een moet die ander voorgaan in eerbetoning.’ Hierdie teks toon hoe belangrik dit is om nie daarop aan te dring dat ons persoonlike opinie aanvaar word nie, maar eerder die opinies van ander in ag te neem. Met ander woorde, ons moenie die meerdere wil wees nie” (Jean-Jacques). “Ons kan ons respek vir Betheldiens verloor as ons sake vanuit ’n vleeslike, menslike oogpunt beskou”, sê Barbara, “want ons kan dan uit die oog begin verloor dat Jehovah sy organisasie rig. Ons kan hierdie respek verloor as ons ons deur die onvolmaakthede van ander laat struikel.”
Almal by Bethel is onvolmaak, en daarom moet ’n mens noukeurig op jou assosiasie let. Dit is goed as jongmense of nuwelinge nie hulle assosiasie net tot hulle portuurs beperk nie. Diegene wat dalk ’n neiging het om te kla of om negatief te dink, is nie opbouende geselskap in Bethel of in die gemeente nie. As ons daarenteen die “wysheid van bo” navolg, wat in Jakobus 3:17 beskryf word, bring dit seëninge mee. Dit is “ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins”. Sulke eienskappe, tesame met lankmoedigheid en goedhartigheid, kan in die “Huis van God” gesien word en maak ’n mens se verblyf daar aangenaam en opbouend. Selfs besoekers wat nie Getuies is nie, spreek dikwels hulle bewondering uit vir die werkers se goeie gedrag, vriendelikheid en vreugdevolle gees.
Anny, wat oor die 70 is en al sedert 1956 ’n lid van die Bethelgesin in Duitsland is, verduidelik hoe sy haar gewilligheid om te dien, behou: “Om geestelik sterk te bly, probeer ek hard om nie met die Genootskap se publikasies agter te raak nie, om vergaderinge gereeld by te woon en om gereeld aan die predikingswerk deel te neem. Ek probeer ook om fiks te bly deur elke oggend oefeninge te doen, deur meestal nie die hysbak te gebruik nie en deur so dikwels as moontlik te stap, veral in die velddiens.”
Baie wat al jare in Bethel is, sal met Anny saamstem. Hulle hou nooit op leer nie en hou nooit op werk nie. Om fisies gesond te bly, moet hulle genoeg slaap sowel as oefening kry en matig eet en drink. Dit is van die allergrootste belang dat hulle nie hulle persoonlike gebed en studie van die Bybel nalaat nie.
Groot waardering vir heilige diens in Bethel
“Waar werk jy?” is ’n vraag wat dikwels aan lede van die Bethelgesin gevra word. Die werkstoewysings is uiteenlopend, maar elkeen van hierdie toewysings moet deur almal as baie belangrik beskou word. Waarom? Want al die toewysings is heilige diens—of ’n mens nou die operateur van ’n masjien is wat geestelike voedsel druk en of jy klere was, vir die gesin kook of skoonmaakwerk doen of kantoorwerk doen. Soos hierbo gemeld is, tref Christene nie partydige onderskeid nie. Hou in gedagte dat al die nodige take wat die priesters en Leviete by die tempel, in sy voorhof en eetsale, uitgevoer het as heilige diens aan Jehovah beskou is. Dit het die slag en voorbereiding van diere vir die offers, die hervulling van die olielampe en selfs die skoonmaakwerk en die pligte as wagte ingesluit. Elke toewysing by Bethel is eweneens ’n bevredigende en waardevolle bedrywigheid “in die werk van die Here” en derhalwe ’n uitsonderlike voorreg.—1 Korinthiërs 15:58.
Kom ons kyk kortliks na een eienskap wat kan verhoed dat ons die “Huis van God” met waardering beskou. Christene, hetsy hulle Bethelwerkers is of nie, moet op hulle hoede wees teen afguns en jaloesie, wat “’n verrotting vir die gebeente” is (Spreuke 14:30). Niemand het rede om afgunstig te wees op diensvoorregte wat Bethelwerkers geniet nie. Daar is ook in ’n Bethelgesin geen plek vir jaloesie nie—wat een van die werke van die vlees is. Wag nederig—dit is goeie raad vir iemand wat oënskynlik oorgeslaan is toe ander groter voorregte gegee is. Daarbenewens lewe mense wie se finansiële agtergronde grootliks verskil baie na aan mekaar by Bethel. Hoe frustrerend sal dit tog wees as iemand sy omstandighede ‘met dié van ’n ander vergelyk’! Vergenoegdheid met “voedsel en klere” het talle al gehelp om dekades lank getrou in die “Huis van God” te dien.—Galasiërs 5:20, 26; 6:4; 1 Timotheüs 6:8.
Jehovah se Getuies en miljoene ander vind baie baat by die onbetaalde dienste wat by Bethel gelewer word—werk wat onbaatsugtig uit liefde vir God en naaste gedoen word. Die Bethelhuise en drukkerye van die Wagtoringgenootskap word, soos ander teokratiese fasiliteite, deur vrywillige bydraes gefinansier (2 Korinthiërs 9:7). Soos koning Dawid en die prinse en hoofmanne van Israel kan ons ons respek en waardering vir die “Huis van God” toon deur die Genootskap ons morele en finansiële ondersteuning te gee (1 Kronieke 29:3-7). Kom ons kyk nou hoe dit moontlik is “om die aangenaamheid van Jehovah te aanskou” by Bethel.
Seëninge in die “Huis van God”
Ondervind jy, wanneer jy ’n byeenkoms bywoon, ’n diep innerlike tevredenheid omdat jy tussen gelukkige aanbidders van Jehovah is? Dink net, ’n Bethelwerker het die voorreg om Jehovah elke dag tussen ander broers te dien! (Psalm 26:12). Watter uitstekende geleenthede bied dit tog vir geestelike groei! Een broer het gesê dat hy in een jaar by Bethel meer geleer het wat hom gehelp het om sy persoonlikheid te verander as wat hy in drie jaar elders geleer het. Waarom? Want hy het nêrens anders die geleentheid gehad om die geloof van soveel ryp Christene waar te neem en na te volg nie.—Spreuke 13:20.
By Bethel is ’n mens as ’t ware omring deur ervare raadgewers. Daarbenewens het jy die voordeel dat jy na goed voorbereide kommentare tydens oggendaanbidding en by die Bethelgesin se Wagtoring-studie sowel as gedurende toesprake op ’n Maandagaand kan luister. Nuwelinge ontvang onderrigting by die Bethelintreeskool en moet die Bybel binne die eerste 12 maande deurlees.
Verslae en ondervindinge van besoekers uit ander lande verskaf verdere bemoediging. Daarbenewens besoek lede van die Bestuursliggaam of hulle verteenwoordigers die takkantore. “Hoewel die broers baie besig is”, sê Helga, “het hulle altyd tyd vir ’n vriendelike woord of ’n glimlag.” Hoe bemoedigend is dit tog om persoonlik te sien hoe verkwikkend en beskeie hierdie getroue manne is!
’n Mens kan veral by Bethel van naderby sien hoe God se organisasie werk en hoe sy heilige gees gewillige harte en hande tot aksie aanspoor. “By Bethel voel ’n mens nader aan ‘die spil waarom alles draai’”, verduidelik ’n broer, wat al sedert 1949 by die Bethel in Frankryk dien. Hy sê voorts: “Ek kan werklik sê dat Bethel vir my die aspek van voltydse diens is waarin ek die meeste tyd en krag aan Jehovah se diens kan wy en die meeste broers kan dien.” En is ons ware doel in die lewe dan nie om God se wil te doen nie? By Bethel kan jy ‘God die hele dag roem’. Wat ’n seën!—Psalm 44:9.
Soos ons gesien het, kan iemand wat by ’n Bethelhuis werk die aangenaamheid van Jehovah aanskou en ’n groot verskeidenheid seëninge geniet (Hebreërs 6:10). Is diens by die “Huis van God” iets wat vir jou die moeite werd kan wees? Diegene onder Jehovah se Getuies wat minstens 19 jaar oud is, wat geestelik sterk en fisies gesond is en van wie die broers, soos in die geval van Timotheüs, ‘goed praat’, kan aansoek doen om by Bethel te dien (Handelinge 16:2, NAV). Baie het Betheldiens hulle lewenswerk gemaak, soos diegene wat hierbo aangehaal is. Vir hulle het die psalmis se innige begeerte—om ‘al die dae van sy lewe in die huis van Jehovah te woon’—’n werklikheid geword.
Jehovah se Getuies het groot respek vir die selfopofferende gees wat aan die dag gelê word deur hulle broers en susters by Bethel, wat hulle werk gewillig en met vreugde doen. Of ons Jehovah by Bethel of elders dien, ons het almal goeie rede om soos koning Dawid te voel—om die “Huis van God” met waardering, of welgevalle, te beskou.
[Prent op bladsy 31]
Hierdie Christene put al dekades lank vreugde uit hulle heilige diens by die Bethel in Duitsland