Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 7/1 bl. 18-23
  • Die Christelike beskouing van gesag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Christelike beskouing van gesag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Geen gesag behalwe deur God nie”
  • Vroeë Christene en die Romeinse owerheid
  • Gepaste eerbied vir gesag
  • Gesag in Christenhuise
  • Gesag in die gemeente
  • Die Christen se beskouing van die hoër owerhede
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Wie se gesag moet jy erken?
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Respek vir gesag—Waarom is dit noodsaaklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Waarom moet ons gesag respekteer?
    ‘Hou julle in God se liefde’
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 7/1 bl. 18-23

Die Christelike beskouing van gesag

“Daar is geen gesag behalwe deur God nie.”—ROMEINE 13:1, NW.

1. Waarom kan daar gesê word dat Jehovah die Oppergesag is?

GESAG hou verband met skepperskap. Die Allerhoogste wat die hele skepping, die lewende en die lewelose skeppingswerke, tot stand gebring het, is Jehovah God. Hy is onteenseglik die Oppergesag. Ware Christene voel ook soos die hemelse skepsele wat sê: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”—Openbaring 4:11.

2. Hoe het vroeë menseheersers in sekere sin erken dat hulle geen natuurlike reg gehad het om hulle medemens te oorheers nie, en wat het Jesus vir Pontius Pilatus gesê?

2 Die blote feit dat baie van die vroegste menseheersers hulle gesag probeer wettig het deur te beweer dat hulle gode is of gode verteenwoordig, was ’n onuitgesproke erkentenis dat geen mens ’n inherente reg het om oor ander mense te heers nie (Jeremia 10:23).a Jehovah God is die enigste wettige bron van gesag. Christus het vir Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur van Judea, gesê: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie.”—Johannes 19:11, NAV.

“Geen gesag behalwe deur God nie”

3. Wat het die apostel Paulus oor “die hoër owerhede” gesê, en watter vrae laat Jesus en Paulus se woorde ontstaan?

3 Die apostel Paulus het aan Christene wat onder die heerskappy van die Romeinse Ryk gelewe het, geskryf: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede, want daar is geen gesag behalwe deur God nie; die bestaande owerhede is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas” (Romeine 13:1, NW). Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat Pilatus sy gesag “van Bo” ontvang het? En wat het Paulus in gedagte gehad toe hy gesê het dat die politieke owerhede van sy dag deur God in hulle posisies geplaas is? Het hulle bedoel dat Jehovah persoonlik vir die aanstelling van elke individuele politieke leier van hierdie wêreld verantwoordelik is?

4. Wat het Jesus en Paulus Satan genoem, en watter bewering van Satan is nie deur Jesus ontken nie?

4 Hoe kon dit wees, aangesien Jesus Satan “die owerste van hierdie wêreld” genoem en die apostel Paulus hom as “die god van hierdie wêreld” beskryf het? (Johannes 12:31; 16:11; 2 Korinthiërs 4:4). Verder het Satan Jesus, toe hy hom versoek het, “mag”, oftewel gesag, oor “al die koninkryke van die wêreld” aangebied en beweer dat hierdie gesag aan hom oorgegee is. Jesus het sy aanbod verwerp, maar hy het nie ontken dat Satan wel hierdie gesag kan oorgee nie.—Lukas 4:5-8.

5. (a) Hoe moet ons Jesus en Paulus se woorde oor menseheerskappy verstaan? (b) In watter opsig is die hoër owerhede “deur God in hulle relatiewe posisies geplaas”?

5 Jehovah het die heerskappy van hierdie wêreld aan Satan oorgegee deur hom te laat lewe ná sy opstand en nadat hy Adam en Eva versoek het en veroorsaak het dat hulle teen Sy soewereiniteit in opstand kom. (Genesis 3:1-6; vergelyk Exodus 9:15, 16.) Jesus en Paulus se woorde moet dus beteken dat Jehovah—nadat die eerste mensepaar in Eden teokrasie, of heerskappy deur God, verwerp het—vervreemde mense toegelaat het om gesagstrukture te skep wat hulle die geleentheid sou gee om in ’n ordelike gemeenskap te woon. Soms het Jehovah sekere heersers of regerings tot ’n val laat bring om sy voorneme te vervul (Daniël 2:19-21). Hy het ander toegelaat om aan die bewind te bly. Daar kan gesê word dat die heersers wat deur Jehovah toegelaat word om te bly regeer “deur God in hulle relatiewe posisies geplaas” is.

Vroeë Christene en die Romeinse owerheid

6. Hoe het die vroeë Christene die Romeinse owerheid beskou, en waarom?

6 Die vroeë Christene het nie saamgespan met die Joodse sektes wat teen die Romeine wat Israel beset het, saamgesweer en geveg het nie. In soverre die Romeinse owerheid, met hulle gekodifiseerde regstelsel, die orde op land en see gehandhaaf het; talle nuttige akwadukte, paaie en brûe gebou het en in die reël vir die algemene welsyn gesorg het, het Christene hulle as ‘God se dienaar [of, “kneg”, voetnoot in NW] vir hulle, tot hulle beswil’ beskou (Romeine 13:3, 4, NW). Reg en orde het ’n omgewing geskep waarin Christene die goeie nuus wyd en syd kon verkondig, soos Jesus hulle beveel het (Mattheüs 28:19). Hulle kon die belastings wat deur die Romeine opgelê is met ’n rein gewete betaal, selfs wanneer van die geld vir dinge gebruik is wat God nie goedkeur nie.—Romeine 13:5-7.

7, 8. (a) Wat sien ’n mens as jy Romeine 13:1-7 noukeurig lees, en wat toon die konteks? (b) Onder watter omstandighede het die Romeinse owerheid nie as “God se dienaar” opgetree nie, en watter gesindheid het die vroeë Christene in hierdie verband aan die dag gelê?

7 As ’n mens die eerste sewe verse van Romeine hoofstuk 13 noukeurig lees, toon dit dat die politieke “hoër owerhede” “God se dienaar” is om dié wat goed doen te loof en dié wat slegte dinge beoefen te straf. Die konteks toon dat God, en nie die hoër owerhede nie, bepaal wat goed en wat sleg is. As die Romeinse keiser of enige ander politieke owerheid derhalwe dinge vereis het wat deur God verbied is of, omgekeerd, dinge verbied het wat deur God vereis is, het hy nie meer as God se dienaar opgetree nie. Jesus het gesê: “Betaal . . . aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom” (Mattheüs 22:21). As die Romeinse Staat dinge vereis het wat God toegekom het, soos aanbidding of iemand se lewe, het ware Christene die apostoliese raad gevolg: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”—Handelinge 5:29.

8 Die vroeë Christene se weiering om keiseraanbidding en afgodediens te beoefen en om op te hou om hulle Christelike vergaderinge te hou en die goeie nuus te verkondig, het vervolging oor hulle gebring. Daar word algemeen aangeneem dat die apostel Paulus op bevel van keiser Nero tereggestel is. Ander keisers, veral Domitianus, Marcus Aurelius, Septimius Severus, Decius en Diocletianus, het ook die vroeë Christene vervolg. Wanneer hierdie keisers en hulle ondergeskikte owerhede Christene vervolg het, het hulle beslis nie as “God se dienaar” opgetree nie.

9. (a) Wat geld steeds vir die politieke hoër owerhede, en van wie kry die politieke dier sy mag en gesag? (b) Wat kan logieserwys omtrent ’n Christen se onderdanigheid aan die hoër owerhede gesê word?

9 Al hierdie dinge lig toe dat hoewel die politieke hoër owerhede in sommige opsigte as “die reëling van God” dien om ’n ordelike mensegemeenskap te handhaaf hulle steeds ’n deel van die wêreldstelsel van dinge is waarvan Satan die god is (1 Johannes 5:19). Hulle behoort aan die wêreldwye politieke organisasie wat deur “die dier” van Openbaring 13:1, 2 voorgestel word. Daardie dier kry sy mag en gesag van “die groot draak”, Satan die Duiwel (Openbaring 12:9). Dit is dus logies dat Christene se onderdanigheid aan sulke owerhede relatief is en nie absoluut nie.—Vergelyk Daniël 3:16-18.

Gepaste eerbied vir gesag

10, 11. (a) Hoe het Paulus getoon dat ons respek vir mense in gesagsposisies moet hê? (b) Hoe en waarom kan gebede “vir konings en almal wat hooggeplaas is”, gedoen word?

10 Maar dit beteken nie dat Christene ’n parmantige, uitdagende houding teenoor die politieke hoër owerhede moet inneem nie. Baie van hierdie mense verdien weliswaar nie eintlik respek as ’n mens hulle private, of selfs hulle openbare, lewe in ag neem nie. Tog het die apostels deur hulle voorbeeld en hulle raad getoon dat mense in gesagsposisies met eerbied behandel moet word. Toe Paulus voor die bloedskender koning Herodes Agrippa II verskyn het, het hy hom met die gepaste eerbied aangespreek.—Handelinge 26:2, 3, 25.

11 Paulus het selfs gesê dat dit gepas is om wêreldse owerhede in ons gebede te noem, veral wanneer daar ’n beroep op hulle gedoen word om besluite te neem wat ons lewe en Christelike bedrywighede raak. Hy het geskryf: “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle [“soorte”, NW] mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Timotheüs 2:1-4). Ons eerbiedige gesindheid teenoor sulke owerhede kan daartoe lei dat hulle ons toelaat om ons werk om “alle soorte mense” te probeer red meer vryelik te doen.

12, 13. (a) Watter gebalanseerde raad het Petrus oor gesag gegee? (b) Hoe kan ons “die onkunde van die dwase mense” teenwerk wat vooroordeel teen Jehovah se Getuies wek?

12 Die apostel Petrus het geskryf: “Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here—of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys. Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ’n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God. Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer” (1 Petrus 2:13-17). Watter gebalanseerde raad tog! Ons is algehele onderdanigheid aan God as sy diensknegte verskuldig en ons toon relatiewe en eerbiedige onderdanigheid aan politieke owerhede wat gestuur is om kwaaddoeners te straf.

13 Daar is al gevind dat baie sekulêre owerhede die vreemdste misvattings oor Jehovah se Getuies het. Dit is gewoonlik die geval omdat bose vyande van God se volk hulle mislei het. Of dit kan wees dat hulle alles wat hulle van ons weet deur die massamedia, wat nie altyd onpartydig in hulle dekking is nie, gehoor het. Ons kan soms hierdie vooroordeel afbreek deur ons eerbiedige gesindheid en deur, waar moontlik, die owerhede ’n juiste beeld van die werk en opvattinge van Jehovah se Getuies te gee. Die brosjure Jehovah se Getuies in die twintigste eeu voorsien ’n beknopte verduideliking vir besige amptenare. Vir meer inligting kan die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk aan hulle gegee word, ’n goeie instrument wat ’n plek op die boekrakke van plaaslike en nasionale openbare biblioteke verdien.

Gesag in Christenhuise

14, 15. (a) Wat is die grondslag van gesag in ’n Christenhuisgesin? (b) Watter gesindheid moet Christenvrouens teenoor hulle mans hê, en waarom?

14 Dit spreek vanself dat as God van Christene verwag om wêreldse owerhede die verskuldigde eerbied te betoon hulle eweneens die gesagstruktuur moet eerbiedig wat God in Christenhuisgesinne ingestel het. Die apostel Paulus het die beginsel van hoofskap wat onder Jehovah se volk geld bondig uiteengesit. Hy het geskryf: “Ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus” (1 Korinthiërs 11:3). Dit is die beginsel van teokrasie, of heerskappy deur God. Wat behels dit?

15 Eerbied vir teokrasie begin tuis. ’n Christenvrou wat nie die gepaste eerbied vir haar man se gesag toon nie—of hy nou ’n medegelowige is of nie—is nie teokraties nie. Paulus het Christene vermaan: ‘Wees aan mekaar onderdanig in die vrees van Christus. Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees’ (Efesiërs 5:21-24, vgl. NW). Net soos Christenmans hulle aan Christus se hoofskap moet onderwerp, moet Christenvrouens besef dat dit verstandig is om hulle aan die godgegewe gesag van hulle man te onderwerp. Dit sal hulle diep innerlike tevredenheid verskaf en, nog belangriker, Jehovah se seën meebring.

16, 17. (a) Hoe kan kinders wat in Christenhuise grootword, toon dat hulle anders as talle hedendaagse jongmense is, en wat is hulle beweegrede? (b) Hoe was Jesus ’n goeie voorbeeld vir hedendaagse jongmense, en wat word hulle aangemoedig om te doen?

16 Teokratiese kinders betoon graag die gepaste eerbied teenoor hulle ouers. Daar is voorspel dat die jong geslag in die laaste dae “ongehoorsaam aan hulle ouers” sal wees (2 Timotheüs 3:1, 2). Maar die geïnspireerde Woord van God sê vir jong Christene: “Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik” (Kolossense 3:20). Eerbied vir ouerlike gesag behaag Jehovah en bring sy seën mee.

17 Dit word in die geval van Jesus toegelig. Lukas se verslag sê: “Hy het saam met hulle [sy ouers] afgegaan en in Nasaret gekom, en hy het aan hulle onderdanig gebly. . . . En Jesus het deurentyd toegeneem in wysheid en in fisieke groei en in guns by God en die mense” (Lukas 2:51, 52, NW). Jesus was destyds 12, en die Griekse werkwoordvorm wat hier gebruik word, beklemtoon dat hy aan sy ouers “onderdanig gebly” het. Sy onderdanigheid het dus nie geëindig toe hy sy tienderjare binnegegaan het nie. As julle jongmense in geestelikheid en in guns by Jehovah en godvrugtige mense wil toeneem, moet julle eerbied vir gesag binne en buite julle huis toon.

Gesag in die gemeente

18. Wie is die Hoof van die Christengemeente, en aan wie het hy gesag oorgedra?

18 Paulus het oor die noodsaaklikheid van orde in die Christengemeente gepraat en geskryf: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede. . . . Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan” (1 Korinthiërs 14:33, 40). Sodat alles ordelik kan plaasvind, het Christus, die Hoof van die Christengemeente, gesag aan getroue manne oorgedra. Ons lees: “Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk . . . [sodat ons] terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus.”—Efesiërs 4:11, 12, 15.

19. (a) Wie het Christus oor al sy aardse besittings aangestel, en wie het hy spesiale gesag gegee? (b) Hoe word gesag in die Christengemeente oorgedra, en wat vereis dit van ons?

19 In hierdie tyd van die einde het Christus die saamgestelde “getroue en verstandige dienskneg” oor “al sy besittings”, of Koninkryksbelange op aarde, aangestel (Mattheüs 24:45-47). Soos in die eerste eeu, word hierdie dienskneg verteenwoordig deur ’n bestuursliggaam van gesalfde Christenmanne aan wie Christus die verantwoordelikheid gegee het om besluite te neem en ander opsieners aan te stel (Handelinge 6:2, 3; 15:2). Die Bestuursliggaam dra op sy beurt gesag oor aan Takkomitees, streek- en kringopsieners en ouere manne in elk van die meer as 73 000 gemeentes van Jehovah se Getuies oor die hele aarde. Al hierdie toegewyde Christenmanne verdien ons steun en eerbied.—1 Timotheüs 5:17.

20. Watter voorbeeld toon dat dit Jehovah mishaag wanneer iemand oneerbiedig is teenoor mede-Christene in gesagsposisies?

20 ’n Interessante vergelyking kan getrek word tussen die eerbied wat ons aan diegene in gesagsposisies in die Christengemeente verskuldig is en die onderdanigheid wat ons aan die sekulêre owerhede verskuldig is. Wanneer iemand ’n mensewet oortree wat deur God goedgekeur word, is die straf wat deur “dié wat heers”, toegedien word in werklikheid ’n indirekte uiting van God se gramskap “oor die een wat beoefen wat sleg is” (Romeine 13:3, 4, NW). As Jehovah toornig is wanneer iemand mensewette verbreek en nie die gepaste eerbied teenoor wêreldse owerhede betoon nie, hoeveel te meer moet dit hom nie mishaag as ’n toegewyde Christen Bybelbeginsels verontagsaam en oneerbiedig teenoor mede-Christene in gesagsposisies is nie!

21. Watter skriftuurlike raad sal ons graag wil volg, en wat sal in die volgende artikel bespreek word?

21 Pleks van ons God se misnoeë op die hals te haal deur ’n opstandige of onafhanklike houding in te neem, sal ons Paulus se raad aan Christene in Filippi ter harte neem: “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld” (Filippense 2:12-15). In teenstelling met die hedendaagse krom en verdraaide geslag wat hulleself in ’n gesagskrisis gedompel het, onderwerp Jehovah se volk hulle geredelik aan gesag. Hulle maai dus groot voordele, soos ons in die volgende artikel sal sien.

[Voetnoot]

a Sien die vorige artikel.

Ter hersiening

◻ Wie is die Oppergesag, en waarom is sy gesag wettig?

◻ In watter opsig is die hoër owerhede “deur God in hulle relatiewe posisies geplaas”?

◻ Wanneer hou die hoër owerhede op om “God se dienaar” te wees?

◻ Watter gesagstruktuur bestaan daar in Christengesinne?

◻ Hoe word gesag in die Christengemeente oorgedra?

[Prente op bladsy 18]

Jesus het gesê: “Betaal . . . aan die keiser wat die keiser toekom”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel