Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 10/15 bl. 14-17
  • Alle soorte mense word in hedendaagse Atene bereik

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Alle soorte mense word in hedendaagse Atene bereik
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • ’n Uiteenlopende gebied
  • Die skatte van die nasies kom in
  • Geseën met goeie resultate
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 10/15 bl. 14-17

Alle soorte mense word in hedendaagse Atene bereik

TOE die apostel Paulus Atene in ongeveer 50 G.J. besoek het, was die stad steeds ’n belangrike handelsentrum, hoewel het hy nie meer die glorie van sy klassieke verlede gehad het nie. Een geskiedkundige werk sê: “[Atene] was steeds die geestelike en kunsryke metropool van Griekeland, asook ’n plek waarheen die geleerdes en die magtiges van daardie tydperk graag wou gaan.”

Terwyl Paulus daar was, het hy waarskynlik die geleentheid gehad om vir Jode, heidense Ateners en mense van baie verskillende plekke te preek. Omdat hy so ’n wakker en bekwame onderrigter was, het hy in een toespraak gesê dat God aan “almal lewe en asem” gegee het, dat hy “uit een mens elke nasie van die mense gemaak” het en dat “hulle almal oral berou moet hê”, omdat Hy “die bewoonde aarde” gaan oordeel.—Handelinge 17:25-31.

’n Uiteenlopende gebied

Atene het in onlangse dekades weer eens ’n stad geword wat mense van oral lok. Diplomate en militêre personeel het as deel van buitelandse sendings opgedaag. Jongmense uit Afrika en die Midde-Ooste het as universiteitstudente daar gaan woon. Immigrante uit Afrika, Asië en die Oos-Europese lande het daarheen gestroom vir werk. Daar is baie Filippyners en ander uit Suidoos-Asië wat as huishulpe werk kom soek het. En daar is ’n voortdurende toevloei van vlugtelinge uit buurlande en onrusgebiede rondom die aarde.

Hierdie situasie bied ’n uitdaging vir die plaaslike verkondigers van die goeie nuus van die Koninkryk. Die meeste van die tydelike inwoners praat Engels, maar party praat net hulle moedertaal. Hierdie mense verteenwoordig baie verskillende kulturele en godsdiensagtergronde. Onder die besoekers is daar verklaarde Christene, Moslems, Hindoes, Boeddhiste, animiste, agnostici en ateïste. Jehovah se Getuies moet leer om hulle aanbiedings by die verskeie agtergronde van hierdie mense aan te pas.

Aangesien baie van hierdie nuwe aankomelinge moeilike tye deurgemaak het, het hulle dikwels vrae oor die betekenis van die lewe en die vooruitsigte vir die toekoms. Party heg groot waarde aan die Bybel en aanvaar sonder meer wat dit sê. Die meeste mense in hierdie uiteenlopende gebied is nederig, sagmoedig en honger na die waarheid. Dis vir hulle makliker om na die waarheid te soek omdat hulle van hulle familie en hulle tuisomgewing af weg is.

Die eerste Engelse gemeente is in 1986 in Atene gestig om hierdie gebied te dek. Daar het wonderlike groei plaasgevind. Gedurende die afgelope vyf jaar is ongeveer 80 nuwelinge gedoop. Gevolglik is daar in Atene ’n Arabiese gemeente, ’n Poolse gemeente en was daar ’n ruk lank ’n Franse groep. Party van die Engelse gemeente het verhuis om ander soortgelyke gemeentes en groepe te help in Tessalonika in die noorde, in Iraklion, Kreta en Piraeus, die hawe van Atene. Wil jy graag van die buitelanders ontmoet wat die waarheid in Atene geleer het?

Die skatte van die nasies kom in

Thomas is in Asmara, Eritrea, gebore en het as ’n vroom Katoliek grootgeword. Op 15-jarige ouderdom het hy lid van ’n klooster geword. Hy het die kloostervader gevra: “Hoe is dit moontlik dat een God drie Gode is?” Die kloostervader het geantwoord: “Omdat ons aanvaar wat die pous oor geestelike dinge sê. Dit is buitendien ’n verborgenheid, en jy is te jonk om dit te begryp.” Ná vyf jaar het Thomas die klooster verlaat, ontnugter en gefrustreerd deur die optrede en die leerstellings van die kerk. Maar hy het na die ware God bly soek.

Op ’n dag, kort nadat hy na Atene verhuis het, het hy by sy deur ’n eksemplaar van Die Wagtoring gekry met die voorbladtitel “Jy kan gesondheid en geluk geniet”. Hy het dit verskeie kere gelees. In dieselfde tydskrif het hy gelees dat ons eers God se Koninkryk en sy regverdigheid moet soek (Matteus 6:33). Thomas het gekniel en God gevra om hom te wys hoe om dit te doen en toe belowe: “As u my wys hoe om u Koninkryk te soek, sal ek ses maande van my lewe daaraan wy om u te leer dien.” Ongeveer vier weke daarna het twee Getuies aan sy deur geklop. Thomas het dadelik ’n Bybelstudie aanvaar, en tien maande later is hy gedoop. Hy sê: “Jehovah het werklik my gebed verhoor, en hy het my die geleentheid gegee om een van sy Getuies te wees. Nou beweeg sy liefde my om eers sy Koninkryk en regverdigheid in my lewe te soek.”

Terwyl twee ander Getuies van deur tot deur gewerk het, het hulle ’n vreemde naam langs ’n deurklokkie gesien.

“Wat wil julle hê?” het ’n vrou se stem oor die interkom gevra.

Een van die Getuies het gesê dat hulle op soek is na Engelssprekende mense wat in die Bybel belangstel.

“Van watter godsdiens is julle?” het die vrou gevra.

“Ons is Jehovah se Getuies.”

“O, dis goed! Kom na die boonste vloer.”

Hulle het soontoe gegaan, en toe die deur van die hyser oopgaan, het ’n baie groot man met ’n ietwat negatiewe houding daar gestaan. Maar die vrou het van binne af geroep.

“Laat hulle inkom. Ek wil met hulle praat.”

Sy sê toe vir hulle dat sy die wêreld deur reis saam met haar man se sportspan en dat sy net die vorige dag gebid het om Getuies van Jehovah te vind. ’n Bybelstudie is dus onmiddellik begin. Omdat hulle nog net ’n rukkie in Griekeland sou wees, is daar gereël dat hulle drie keer per week ’n studie hou, met die gevolg dat die Paradys op aarde-boek in net tien weke voltooi is.

Die volgende sportseisoen was hulle terug in Griekeland. Die vrou het haar studie hervat en uitstekende vooruitgang gemaak. Ná ’n paar maande het sy saam met die Getuies as ’n ongedoopte verkondiger aan die predikingswerk begin deelneem en gou haar eerste Bybelstudie begin. Met wie? Met haar man, wat baie beïndruk is deur die Getuies en die veranderinge in sy vrou.

Allan, die seun van ’n Protestantse leraar, het in Suid-Afrika grootgeword. Van ’n baie jong ouderdom af was hy oortuig daarvan dat die Bybel die geïnspireerde openbaring van God is. Omdat hy met sy godsdiens ontevrede was, het hy hom tot filosofie en die politiek gewend, maar dit het ’n groter leemte as ooit in hom gelaat. Nadat hy na Griekeland verhuis het, het die leemte groter geword. Sy lewe het vir hom doelloos gevoel, asof hy op ’n pad was wat nêrens heen gelei het nie.

Een nag het iets gebeur. “Ek het op my knieë gegaan en my hart aan God uitgestort”, vertel Allan. “Met trane van droefheid oor my lewenswandel het ek God gesmeek om my na sy ware volgelinge te lei. Ek het belowe dat ek in die lig van sy riglyne sou wandel.” Gedurende daardie week was hy in ’n winkel waar hy ’n gesprek gevoer het met die eienaar, ’n vrou, wat toevallig ’n Getuie is. Daardie gesprek was ’n ware keerpunt in Allan se lewe. “In die daaropvolgende dae het ek gesien hoe my kosbare oortuigings verpletter word: die Drie-eenheid, helse vuur, onsterflikheid van die siel—leerstellings wat glad nie in die Bybel gevind word nie.” By die Koninkryksaal het ’n Getuie-egpaar aangebied om die Bybel met hom te studeer. Hy het ingestem en vinnig vooruitgang gemaak. “Die waarheid het my van blydskap laat huil”, sê Allan, “en dit het my vrygemaak.” ’n Jaar later is hy gedoop. Vandag is hy verheug om as ’n bedieningskneg in die plaaslike gemeente te dien.

Elizabeth kom van Nigerië, waar sy in verskeie kerke na God gesoek het, maar steeds ontevrede was. Wat haar die meeste ontstel het, was die leerstelling van ewige pyniging in ’n helse vuur. Toe sy saam met haar familie na Atene gekom het, het twee Getuies aan haar deur geklop, en ’n Bybelstudie is begin. Elizabeth was verheug om te leer dat God nie mense pynig nie, maar dat hy die hoop op ewige lewe op ’n paradysaarde bied. Sy het haar vierde kind verwag, en sy wou die swangerskap beëindig. Toe het sy uit die Bybel Jehovah se beskouing oor die heiligheid van lewe geleer. Nou het sy ’n pragtige dogter. Elizabeth het baie vinnig vooruitgang gemaak en is kort daarna gedoop. Hoewel sy vier kinders en ’n voltydse werk het, is dit vir haar moontlik om feitlik elke maand aan die hulppionierdiens deel te neem. Sy het die voorreg gehad om te sien hoe haar man die Bybel begin bestudeer. Sy sê: “Ek het uiteindelik die ware God en ware aanbidding gevind danksy Jehovah en sy liefdevolle organisasie.”

Baie van die mense in hierdie uiteenlopende gebied word tydens straatwerk gevind, maar dit verg deursettingsvermoë om hulle belangstelling te ontwikkel. Dit was die geval met ’n jong vrou genaamd Sallay, van Sierra Leone. ’n Getuie het vir haar ’n traktaat gegee, haar adres geneem en gereël dat sy besoek word. Sallay het belanggestel en ’n Bybelstudie aanvaar, maar weens druk by die werk en ander probleme is dit nie gereeld gehou nie. Toe het sy skielik verhuis sonder om ’n nuwe adres te verstrek. Die Getuie het volgehou om na die ou adres toe te gaan, en uiteindelik het Sallay ’n boodskap vir die Getuie gestuur om na haar nuwe huis toe te kom.

Die studie is toe baie gereelder gehou, al was Sallay in die laaste maande van haar swangerskap. Ná die baba se geboorte het Sallay ’n ongedoopte verkondiger geword. Al hierdie dinge klink dalk maklik, maar dit was beslis nie die geval nie. Teen 6:30 vm. moet sy gereed wees om ’n halfuur per bus te ry om haar baba kleuterskool toe te neem, en daarna nog ’n uur per bus om by die werk te kom. Nadat haar werk as skoonmaker klaar is, gaan sy weer al die pad terug huis toe. Op vergaderingaande, of wanneer sy in die velddiens uitgaan, ry sy nog twee uur per bus heen en weer, ondanks teenkanting van haar man. Terwyl sy liefdevol en geduldig teenoor hom was, het sy vooruitgang gemaak tot sy die punt bereik het waar sy haar toegewy het en gedoop is. Wat van haar man? Hy het die herdenking van Christus se dood bygewoon en tot ’n Bybelstudie ingestem.

Geseën met goeie resultate

Die meeste van hierdie mense woon net tydelik in Atene. Baie keer na hulle vaderland terug om die goeie nuus aan familielede en vriende te verkondig. Sommige verhuis na ander Westerse lande en gaan voort om Jehovah te dien. Diegene wat in Griekeland bly, geniet goeie resultate deur vir hulle landgenote te getuig wat ook daarheen geïmmigreer het. In ander gevalle het die saadjies van waarheid eers vrugte afgewerp nadat die besoekers na ’n ander land verhuis het en dáár met die Getuies in aanraking gekom het.

Al hierdie dinge bewys dat Jehovah nie partydig is nie. Mense in elke nasie wat hom vrees en regverdigheid liefhet, is vir hom aanneemlik (Handelinge 10:34, 35). Vir sulke skaapgeaardes het hulle verhuising na ’n ander land ter wille van materiële voordele tot baie groter seëninge gelei as wat hulle verwag het—kennis van die ware God, Jehovah, en sy belofte van ewige lewe in ’n regverdige nuwe wêreld. Ja, Jehovah het inderdaad die pogings om anderstaliges in hedendaagse Atene te bereik ryklik geseën!

[Prente op bladsy 16]

Mense uit baie lande hoor die goeie nuus in Atene

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel