Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 4/15 bl. 8-10
  • ’n Suksesvolle getuieniskampanje in Griekeland

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Suksesvolle getuieniskampanje in Griekeland
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Regeringsamptenare reageer
  • Staatsaanklaers reageer
  • Bibliotekarisse reageer
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 4/15 bl. 8-10

’n Suksesvolle getuieniskampanje in Griekeland

JEHOVAH SE GETUIES ondervind al lank teenstand in Griekeland. Sommige polisie-, hof- en regeringsbeamptes het die Getuies vervolg, dikwels weens druk van die Grieks-Ortodokse geestelikes. Soms was die verskoning Griekeland se wet teen proselitisme en dan weer die Getuies se Bybelse weiering om oorlog te voer of ’n bloedoortapping te aanvaar.—Jesaja 2:2-5; Handelinge 15:28, 29.

In ’n poging om groter begrip te bevorder onder gesaghebbendes in Griekeland wat opreg is van hart, het ongeveer 200 Getuies wat deur die Griekse regering as godsdiensbedienaars erken word, sowel as sommige wat regsgeleerdes is, onlangs aan ’n landwye kampanje deelgeneem. Hulle het ’n spesiaal saamgestelde brosjure, Jehovah se Getuies in Griekeland, asook die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk aangebied. Hulle het ook ’n stel dokumente verskaf wat bewys lewer dat daar geen gegronde wetlike rede vir die vervolging van Jehovah se Getuies is nie. Die Getuies het polisiehoofde, burgemeesters, staatsaanklaers en ander amptenare besoek.

Wat was die reaksie? Honderde goeie ondervindinge. Beskou ’n paar voorbeelde.

Die bevelvoerder van ’n polisiekantoor in Wes-Masedonië het die broers verwelkom en gesê: “Ek ken julle mense al lank, . . . en ek bewonder julle ordelikheid. . . . Ek stem nie saam met die wet in verband met proselitisme nie, en as dit van my afgehang het, sou ek dit opgehef het.”

Bevelvoerders van verskeie polisiekantore in baie stede het opmerkings soos die volgende gemaak: “Ek prys julle vir die maatskaplike diens wat julle lewer.” “Julle mense skep nooit vir die polisie werk nie; julle verrig ’n maatskaplike werk.” “Ons het absoluut geen probleem met julle nie. Ons respekteer en bewonder julle.”

In Piraeus het ’n hooggeplaaste offisier in die geheime polisie met trane in sy oë vir die broers gesê dat hy weet hy moet tot Jehovah God by sy naam deur Jesus Christus bid. Hy het die Getuies selfs verder verras toe hy vir hulle gesê het dat hy weet hulle verwag vervolging voor Armageddon en dat hy hoop God sal hom gebruik om hulle gedurende daardie tyd te help! Hy het die broers se uitnodiging aanvaar om verdere besprekings te hê.

Regeringsamptenare reageer

’n Burgemeester in Tessalië het aangaande die Verkondigers-boek gesê: “Dit verdien ’n plek in die munisipale biblioteek—die vernaamste plek!” Toe het hy boeke uit ’n rak gehaal en die Verkondigers-boek so daarop gesit dat die omslag gesien kon word.

In Noord-Griekeland het ’n burgemeester die broers se besoek hartlik verwelkom en gesê: “Julle is die beste mense om in my munisipaliteit te hê.” ’n Vriendelike burgemeester in Noord-Euboea het vir die broers gesê: “Ek is ’n oudleëroffisier. Maar julle—ek bewonder julle baie.” Hy het geesdriftig saamgestem met die punte wat die Getuies gemeld het. Toe hulle hom ’n versameling boeke wys wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word, het hy gesê: “Sal julle hulle vir my gee as ek beloof om hulle almal te lees?” Hulle het geantwoord: “Maar natuurlik—hulle is joune!” Hy was verheug en wou skaars die broers laat gaan.

In ’n voorstad in Attika het ’n burgemeester met genoeë die lektuur geneem wat die broers aangebied het en gevra dat hulle altyd die Genootskap se publikasies vir hom bring. Toe hulle op pad uit was, het hy vir hulle gesê: “Die mense is diep teleurgestel in die politici en soek op ander plekke na wat werklik die waarheid is. Ek is seker dat julle voortaan baie besig gaan wees, want julle het die waarheid.”

Staatsaanklaers reageer

Die broers wat ’n adjunk-staatsaanklaer in noordelike Griekeland besoek het, het gesê: “Hy was beïndruk deur ons publikasies en die aanbieding, sowel as deur ons pogings om te verseker dat ons mense nie sonder hulp gelaat word wanneer hulle voor die ernstige kwessie van ’n bloedoortapping te staan kom nie. Hy het ons laastens bedank en hartlik geprys omdat ons die inisiatief geneem het om hom te besoek en in te lig. Ons het later uitgevind dat hy vier jaar tevore die polisie ontbied en gelas het dat twee broers, wat aan die velddiens deelgeneem het, in hegtenis geneem moet word.”

Twee Getuie-regsgeleerdes wat die staatsaanklaer se kantoor in Atene besoek het, was verbaas toe ’n bekende en hoogaangeskrewe ouer staatsaanklaer hulle nader. Hy het hulle opsy geneem en vir hulle gesê dat die wet teen proselitisme geen grondslag het nie en verwarring in die Griekse regstelsel veroorsaak. Hy het hulle met ’n hartlike handdruk bedank.

In die noorde van Griekeland was ’n staatsaanklaer baie vriendelik en het lektuur geneem. Terwyl hy deur die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk geblaai het, was hy verbaas oor die verskeidenheid hoofstukke in die inhoudsopgawe. Hy het gesê: “Ek het nog nooit in die ganse Ortodokse Kerk gesien dat hulle dít behandel wat in hierdie boek bespreek word nie.”

’n Staatsaanklaer in Beosië het erken dat hy in die verlede hofbevele uitgereik het om bloedoortappings teen die Getuies se sin te gee. Maar nadat die broers met hom oor die saak geredeneer het, het hy gesê: “Ek sal in die toekoms nooit weer so ’n bevel uitreik nie!” Hy het besluit dat die plaaslike Hospitaalskakelkomitee vir Jehovah se Getuies geraadpleeg sal word sodat alle alternatiewe behandeling eers ondersoek kan word. Hy het met graagte ’n Jongmense vra-boek geneem.

Bibliotekarisse reageer

Die leesstof is ook vir baie bibliotekarisse aangebied. In een biblioteek in Atene het ’n beleefde bibliotekaris lektuur geneem en gesê: “Dit is baie goed dat julle julle boeke vir ons gebring het, want die meeste van die boeke in ons biblioteek, is teen julle geskryf. . . . ’n Priester was baie omgekrap om julle boeke in die biblioteek te sien. . . . Dit maak nie saak nie. Alle stemme moet gehoor word.”

’n Amptenaar in ’n munisipale biblioteek in Kreta, wat Jehovah se Getuies in ’n militêre kamp leer ken het, het vir die broers gesê dat hy beïndruk was deur die Getuies se weiering om aan oorlog deel te neem. Hy het hom oor en oor afgevra: ‘Waarom moet hierdie mense ly?’ Hy het lektuur by die broers geneem en oor hulle huidige kampanje gesê: “Julle het uitstekende werk verrig en moes dit jare gelede al gedoen het. . . . Daar is baie vooroordeel in Griekeland.” Hy het die broers gevra om hom gou weer te besoek.

Gedurende hierdie spesiale kampanje het die broers meer as 1 000 Verkondigers-boeke, 1 600 eksemplare van die brosjure Jehovah se Getuies in Griekeland, sowel as honderde boeke en tydskrifte versprei. Nog beter, hulle het van aangesig tot aangesig met honderde Griekse amptenare gesels. Dit is nou die hoop van getroue knegte van Jehovah in Griekeland en oor die hele wêreld dat gesaghebbendes in Griekeland wat opreg is van hart ’n onpartydiger beskouing van Jehovah se Getuies sal hê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel