Hoe reisende opsieners as getroue bestuurders dien
“Na die mate waarin elkeen ’n gawe ontvang het, moet julle dit gebruik om mekaar te dien as voortreflike bestuurders van God se onverdiende goedhartigheid wat op verskillende maniere tot uiting gebring word.”—1 PETRUS 4:10.
1, 2. (a) Hoe sal jy die woord “bestuurder” omskryf? (b) Wie tel onder die bestuurders wat deur God gebruik word?
JEHOVAH gebruik alle getroue Christene as bestuurders. ’n Bestuurder is dikwels ’n kneg wat in beheer van ’n huishouding is. Hy kan ook sy heer se sakebedrywighede bestuur (Lukas 16:1-3; Galasiërs 4:1, 2). Jesus het sy liggaam van lojale gesalfdes op aarde “die getroue bestuurder” genoem. Hy het aan hierdie bestuurder “al sy besittings” toevertrou, met inbegrip van die Koninkrykspredikingswerk.—Lukas 12:42-44; Matteus 24:14, 45.
2 Die apostel Petrus het gesê dat alle Christene bestuurders is van God se onverdiende goedhartigheid wat op verskillende maniere tot uiting gebring word. Elke Christen het ’n plek waarin hy ’n getroue bestuurderskap kan uitoefen (1 Petrus 4:10). Aangestelde Christen- ouer manne is bestuurders, en onder hulle is reisende opsieners (Titus 1:7). Hoe moet hierdie reisende ouer manne beskou word? Watter eienskappe en oogmerke moet hulle hê? En hoe kan hulle die grootste nut stig?
Dankbaar vir hulle diens
3. Waarom kan reisende opsieners “voortreflike bestuurders” genoem word?
3 ’n Christenegpaar het aan ’n reisende opsiener en sy vrou geskryf en gesê: “Ons wil graag ons dankbaarheid uitspreek vir al die tyd en liefde wat julle ons gegee het. As ’n gesin het ons grootliks baat gevind by al julle aanmoediging en raad. Ons weet dat ons moet aanhou om geestelik te groei, maar met Jehovah se hulp en met broers en susters soos julle, word die groeipyne draagliker gemaak.” Uitdrukkings soos dié word dikwels gehoor omdat reisende opsieners persoonlike belangstelling in medegelowiges toon, net soos ’n goeie bestuurder goed na ’n huishouding se behoeftes omsien. Party is uitstekende sprekers. Baie is besonder bedrewe in die predikingswerk, terwyl ander bekend is vir hulle hartlikheid en medelye. As reisende opsieners hierdie gawes ontwikkel en gebruik om ander te dien, kan hulle tereg “voortreflike bestuurders” genoem word.
4. Watter vraag sal ons nou bespreek?
4 “Wat . . . van bestuurders verwag word, is dat ’n man getrou bevind moet word”, het die apostel Paulus geskryf (1 Korintiërs 4:2). Dit is ’n unieke en vreugdevolle voorreg om week na week mede-Christene in ’n verskillende gemeente te dien. Maar dit is ook ’n groot verantwoordelikheid. Hoe kan reisende opsieners dan hulle bestuurderskap getrou en met sukses uitvoer?
Hoe hulle hulle bestuurderskap met sukses uitvoer
5, 6. Waarom is biddende vertroue op Jehovah so belangrik in die lewe van ’n reisende opsiener?
5 Biddende vertroue op Jehovah is noodsaaklik as reisende opsieners suksesvolle bestuurders wil wees. As gevolg van hulle rooster en baie verantwoordelikhede kan hulle soms beswaard voel. (Vergelyk 2 Korintiërs 5:4.) Hulle moet dus in ooreenstemming met die psalmis Dawid se lied optree: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Psalm 55:23). Dié woorde van Dawid is ook vertroostend: “Geseënd sy Jehovah‚ wat daagliks die vrag vir ons dra.”—Psalm 68:19, NW.
6 Waar het Paulus die krag gekry om na sy geestelike verantwoordelikhede om te sien? “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee”, het hy geskryf (Filippense 4:13). Ja, Jehovah God was die Bron van Paulus se krag. Petrus het eweneens hierdie raad gegee: “As iemand dien, laat hom dien as afhanklik van die krag wat God verskaf; sodat God in alles deur middel van Jesus Christus verheerlik kan word” (1 Petrus 4:11). ’n Broer wat jare lank ’n reisende opsiener was, het die belangrikheid van vertroue op God beklemtoon deur te sê: “Steun altyd op Jehovah wanneer jy probleme hanteer en kry die hulp van sy organisasie.”
7. Hoe speel balans ’n rol in ’n reisende opsiener se werk?
7 ’n Suksesvolle reisende opsiener moet gebalanseerd wees. Soos ander Christene strewe hy daarna om ‘seker te maak van wat die belangriker dinge is’ (Filippense 1:10).a Wanneer die plaaslike ouer manne vrae oor ’n sekere saak het, sal dit verstandig van hulle wees om die besoekende kringopsiener daaroor te raadpleeg (Spreuke 11:14; 15:22). Sy gebalanseerde opmerkings en skriftuurlike raad sal waarskynlik baie nuttig wees wanneer die ouer manne die saak verder hanteer nadat hy die gemeente verlaat het. Paulus het iets soortgelyks vir Timoteus gesê: “Die dinge wat jy by my gehoor het met die ondersteuning van baie getuies, vertrou dié aan getroue mense toe, wat op hulle beurt voldoende bekwaam sal wees om ander te leer.”—2 Timoteus 2:2.
8. Waarom is Bybelstudie, navorsing en bepeinsing noodsaaklik?
8 Bybelstudie, navorsing en bepeinsing is vereistes om goeie raad te gee (Spreuke 15:28). ’n Streekopsiener het gesê: “Wanneer ons met die ouer manne vergader, moet ons nie bang wees om te erken dat ons nie weet wat die antwoord op ’n sekere vraag is nie.” Deur moeite te doen om “die denke van Christus” oor ’n saak te kry, sal Bybelse raad gegee kan word wat ander sal help om hulle aan God se wil te onderwerp (1 Korintiërs 2:16). Soms moet ’n reisende opsiener na die Wagtoringgenootskap skryf vir riglyne. Hoe dit ook al sy, geloof in Jehovah en liefde vir die waarheid is baie belangriker as ’n mens se beeld of welsprekendheid. Paulus het nie met “oordrewe woorde of wysheid” gekom nie, maar hy het eerder sy bediening in Korinte “in swakheid en in vrees en met veel bewing” begin. Het dit hom onbekwaam gemaak? Inteendeel, dit het die Korintiërs gehelp om geloof te hê, ‘nie in mense se wysheid nie, maar in God se krag’.—1 Korintiërs 2:1-5.
Ander baie belangrike eienskappe
9. Waarom moet reisende ouer manne empatie betoon?
9 Empatie help reisende opsieners om goeie resultate te behaal. Petrus het alle Christene aangespoor om ‘meegevoel te betoon’ of “simpatiek” te wees (1 Petrus 3:8, voetnoot in naslaanuitgawe). Een kringopsiener besef hoe belangrik dit is om ‘in elkeen in die gemeente belang te stel en opregte aandag aan hulle te gee’. Paulus het in ’n soortgelyke gees geskryf: “Verheug julle saam met mense wat hulle verheug; huil saam met mense wat huil” (Romeine 12:15). So ’n gesindheid beweeg reisende opsieners om hulle ywerig in te span om die probleme en omstandighede van medegelowiges te verstaan. Dan kan hulle opbouende skriftuurlike raad gee wat werklik goeie resultate kan meebring as dit toegepas word. ’n Kringopsiener wat uitblink in die betoning van empatie het hierdie brief van ’n gemeente naby Turyn, Italië, ontvang: “As jy wil hê ander moet in jou belangstel, moet jy belangstelling toon; as jy bemin wil word, moet jy beminlik wees; as jy gelief wil wees, moet jy ’n liewe mens wees; as jy gehelp wil word, moet jy bereid wees om te help. Dít is wat ons by jou geleer het!”
10. Wat het kring- en streekopsieners oor nederigheid gesê, en watter voorbeeld het Jesus in hierdie opsig gestel?
10 Nederigheid en genaakbaarheid help reisende opsieners om groot nut te stig. ’n Kringopsiener het gesê: “Dit is uiters belangrik om ’n nederige gesindheid te handhaaf.” Hy maan nuwe reisende opsieners: “Moenie julle te veel laat beïnvloed deur die ryker broers weens dít wat hulle miskien vir julle doen nie, en moet ook nie julle vriendskap tot hierdie broers beperk nie, maar streef altyd daarna om ander onpartydig te behandel” (2 Kronieke 19:6, 7). En ’n reisende opsiener wat waarlik nederig is, sal nie ’n oordrewe beskouing van sy eie belangrikheid as ’n verteenwoordiger van die Genootskap hê nie. ’n Streekopsiener het gepas gesê: “Wees nederig en bereid om na die broers te luister. Wees altyd genaakbaar.” As die grootste mens wat nog geleef het, kon Jesus Christus mense ongemaklik laat voel het, maar hy was so nederig en genaakbaar dat selfs kinders op hulle gemak in sy teenwoordigheid gevoel het (Matteus 18:5; Markus 10:13-16). Reisende opsieners wil hê dat kinders, tienderjariges, bejaardes—trouens almal in die gemeente—die vrymoedigheid moet hê om hulle te nader.
11. Watter uitwerking kan dit hê as verskoning gevra word wanneer dit nodig is?
11 “Ons almal struikel [natuurlik] baie kere”, en daar is nie ’n reisende opsiener wat nie foute begaan nie (Jakobus 3:2). Wanneer hulle foute begaan, sal dit vir ander ouer manne ’n voorbeeld van nederigheid wees as hulle opreg verskoning vra. Volgens Spreuke 22:4 is ‘die loon van nederigheid en die eerbiedige vrees van die HERE, rykdom en eer en die lewe’. En moet alle knegte van God nie nederig of ‘ootmoedig met hulle God wandel nie’? (Miga 6:8). Toe ’n kringopsiener gevra is watter raad hy vir ’n nuwe reisende ouer man sal gee, het hy geantwoord: “Toon groot respek en eerbied vir al die broers en ag hulle beter as jouself. Jy sal baie by die broers leer. Bly nederig. Wees jouself. Moenie aanstellerig wees nie.”—Filippense 2:3.
12. Waarom is ywer vir die Christelike bediening so belangrik?
12 Ywer vir die Christelike bediening laat ’n reisende opsiener se woorde gewig dra. Trouens, wanneer hy en sy vrou ’n ywerige voorbeeld in die evangelisasiewerk stel, word ouer manne, hulle vrouens en die res van die gemeente aangemoedig om ywer in hulle bediening aan die dag te lê. “Wees ywerig vir die diens”, het ’n kringopsiener benadruk. Hy het bygevoeg: “Ek het oor die algemeen gevind: hoe yweriger ’n gemeente in die bediening is, hoe minder probleme ondervind hulle.” ’n Ander kringopsiener het gesê: “Ek glo dat dit tot gemoedsrus en die grootste bevrediging in Jehovah se diens lei as die ouer manne saam met die broers en susters in die veld werk en hulle help om die bediening te geniet.” Die apostel Paulus ‘het die vrymoedigheid bymekaargeskraap om met groot worsteling die goeie nuus van God tot die Tessalonisense te spreek’. Dit is geen wonder dat hulle aangename herinneringe van sy besoek en predikingsbedrywighede gehad het en daarna uitgesien het om hom weer te sien nie!—1 Tessalonisense 2:1, 2; 3:6.
13. Wat neem ’n reisende opsiener in ag wanneer hy saam met mede-Christene in die velddiens werk?
13 Wanneer ’n reisende opsiener saam met mede-Christene in die veldbediening werk, neem hy hulle omstandighede en beperkinge in ag. Hoewel sy wenke dalk nuttig sal wees, besef hy dat party miskien senuweeagtig is wanneer hulle die predikingswerk saam met ’n ervare ouer man doen. In sekere gevalle kan aanmoediging dus nuttiger as raad wees. Wanneer hy verkondigers of pioniers na ’n Bybelstudie vergesel, sal hulle moontlik verkies dat hy dit hou. Dit sal hulle waarskynlik vertroud maak met maniere waarop hulle hulle onderrigmetodes kan verbeter.
14. Waarom kan daar gesê word dat ywerige reisende opsieners ywer in ander opwek?
14 Ywerige reisende opsieners wek ywer in ander op. ’n Kringopsiener in Uganda het ’n uur deur die digte woud gestap om ’n broer te vergesel na ’n Bybelstudie wat nie veel vordering gemaak het nie. Gedurende hulle wandeling het dit so swaar gereën dat hulle papnat daar aangekom het. Toe die gesin van ses uitvind dat hulle besoeker ’n reisende opsiener is, was hulle baie beïndruk. Hulle het geweet dat geestelikes van hulle kerk nooit sulke belangstelling in die kudde sou toon nie. Die volgende Sondag het hulle hulle eerste vergadering bygewoon en die begeerte uitgespreek om Getuies van Jehovah te word.
15. Watter goeie ondervinding het ’n ywerige kringopsiener in Mexiko geniet?
15 In die Mexikaanse staat Oaxaca het ’n kringopsiener iets gedoen wat nie werklik van hom vereis is nie. Hy het gereël om vier nagte in ’n tronksel te bly sodat hy ’n groep van sewe gevangenes kon besoek wat Koninkryksverkondigers geword het. Hy het ’n paar dae saam met hierdie gevangenes gegaan terwyl hulle van sel tot sel getuig en Bybelstudies gehou het. Vanweë die belangstelling wat getoon is, het van hierdie studies tot diep in die nag voortgeduur. “Aan die einde van die besoek het ek en die gevangenes oorgeloop van vreugde weens die wedersydse aanmoediging”, skryf hierdie ywerige kringopsiener.
16. Waarom is dit so voordelig wanneer reisende opsieners en hulle vrouens aanmoediging gee?
16 Reisende opsieners probeer aanmoedigend wees. Toe Paulus die gemeentes in Masedonië besoek het, het hy hulle “met baie woorde aangemoedig” (Handelinge 20:1, 2). ’n Bietjie aanmoediging kan baie daartoe bydra om oud sowel as jonk te help om geestelike doelwitte te stel. By ’n groot takkantoor van die Wagtoringgenootskap het ’n informele opname getoon dat bykans 20 persent van die vrywilligers deur kringopsieners aangemoedig is om die voltydse diens te betree. ’n Reisende opsiener se vrou kan ook deur haar goeie voorbeeld as ’n voltydse Koninkryksverkondiger ’n groot bron van aanmoediging wees.
17. Hoe voel een bejaarde kringopsiener oor sy voorreg om hulp aan ander te verleen?
17 Bejaardes en terneergedrukte siele het veral aanmoediging nodig. ’n Bejaarde kringopsiener skryf: “Die faset van my werk wat onbeskryflike innerlike vreugde meebring, is die voorreg om hulp te verleen aan die onbedrywiges en swakkes onder God se kudde. Ek heg spesiale waarde aan die woorde van Romeine 1:11, 12, aangesien dit ’n bron van groot aanmoediging en krag is terwyl ek ‘hierdie persone die een of ander geestelike gawe meedeel sodat hulle standvastig gemaak kan word’.”
Belonings van hulle vreugdevolle werk
18. Watter skriftuurlike oogmerke het reisende opsieners?
18 Reisende opsieners dra die belange van medegelowiges op die hart. Hulle wil die gemeentes versterk en hulle geestelik opbou (Handelinge 15:41). Een reisende opsiener werk hard “om aanmoediging te gee, verkwikking te verskaf en die begeerte aan te wakker om die bediening te vervul en voort te gaan om die waarheid uit te leef” (3 Johannes 3). ’n Ander een probeer medegelowiges standvastig in die geloof maak (Kolossense 2:6, 7). Hou in gedagte dat die reisende opsiener ’n “ware jukgenoot” is en nie ’n meester oor die geloof van ander nie (Filippense 4:3; 2 Korintiërs 1:24). Sy besoek is ’n geleentheid vir aanmoediging en om meer te kan doen, en dit bied ook die liggaam van ouer manne die geleentheid om die vooruitgang wat gemaak is te hersien en toekomstige doelwitte te oorweeg. Die gemeentelike verkondigers, pioniers, bedieningsknegte en ouer manne kan verwag om deur sy woorde en voorbeeld opgebou en aangespoor te voel vir die werk wat voorlê. (Vergelyk 1 Tessalonisense 5:11.) Ondersteun dus die kringopsiener se besoeke heelhartig en vind ten volle baat by die diens wat die streekopsiener verrig.
19, 20. Hoe is reisende opsieners en hulle vrouens al vir hulle getroue diens beloon?
19 Reisende opsieners en hulle vrouens word ryklik beloon vir hulle getroue diens, en hulle kan vol vertroue wees dat Jehovah hulle sal seën vir die goeie wat hulle doen (Spreuke 19:17; Efesiërs 6:8). Georg en Magdalena is ’n bejaarde egpaar wat jare lank aan die reisende werk deelgeneem het. By ’n streekbyeenkoms in Luxemburg is Magdalena deur iemand genader vir wie sy meer as 20 jaar tevore getuig het. Hierdie Joodse vrou se belangstelling in die waarheid is gewek deur die Bybellektuur wat Magdalena by haar gelaat het, en sy is later gedoop. Georg is deur ’n geestelike suster genader wat sy besoek aan haar huis bykans 40 jaar tevore onthou het. Sy geesdriftige aanbieding van die goeie nuus het daartoe gelei dat sy en haar man eindelik die waarheid aangeneem het. ’n Mens hoef seker nie te sê dat beide Georg en Magdalena oorstelp van vreugde was nie.
20 Paulus se produktiewe bediening in Efese het hom vreugde verskaf en hom moontlik beweeg om Jesus se woorde aan te haal: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Aangesien die reisende werk vereis dat ’n mens voortdurend gee, ondervind diegene wat daaraan deelneem geluk, veral wanneer hulle van die goeie resultate van hulle arbeid te hore kom. ’n Kringopsiener wat ’n ouer man gehelp het wat ontmoedig was, is in ’n brief meegedeel: “Jy was ’n groot ‘versterkende hulp’ in my geestelike lewe—meer as wat jy besef. . . . Jy sal nooit ten volle besef watter groot hulp jy vir ’n hedendaagse Asaf was wie se ‘voete amper gestruikel het’ nie.”—Kolossense 4:11; Psalm 73:2.
21. Waarom sal jy sê dat 1 Korintiërs 15:58 op die bedrywighede van reisende opsieners van toepassing is?
21 ’n Bejaarde Christen wat jare lank aan die kringwerk deelgeneem het, hou daarvan om aan 1 Korintiërs 15:58 te dink, waar Paulus ons aangespoor het: “Word standvastig, onbeweeglik, terwyl julle altyd volop het om in die werk van die Here te doen, in die wete dat julle arbeid nie tevergeefs is in verband met die Here nie.” Reisende opsieners het ongetwyfeld baie om in die Here se werk te doen. En hoe dankbaar is ons tog dat hulle so vreugdevol as getroue bestuurders van Jehovah se onverdiende goedhartigheid dien!
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Kan jy gelukkig wees al het jy baie om te doen?” in Die Wagtoring van 15 Mei 1991, bladsye 28-31.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom kan reisende opsieners as “voortreflike bestuurders” beskou word?
◻ Wat is van die faktore wat kring- en streekopsieners help om groot nut te stig?
◻ Waarom is nederigheid en ywer so belangrik vir diegene wat aan die reisende werk deelneem?
◻ Watter goeie oogmerke het reisende opsieners?
[Prent op bladsy 16]
Reisende opsieners probeer medegelowiges aanmoedig
[Prente op bladsy 17]
Oud en jonk kan baat vind by omgang met reisende opsieners en hulle vrouens
[Prent op bladsy 18]
Die reisende opsiener se ywerige bediening wakker ywer in ander aan