Die ander skape en die nuwe verbond
“Die uitlanders . . .—elkeen wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en hulle wat vashou aan my verbond, hulle sal Ek bring na my heilige berg.”—JESAJA 56:6, 7.
1. (a) Wat word volgens Johannes se visioen bereik terwyl die winde van Jehovah se oordeel teruggehou word? (b) Watter merkwaardige skare het Johannes gesien?
IN DIE vierde visioen van die boek Openbaring het die apostel Johannes gesien hoe die vernietigende winde van Jehovah se oordeel teruggehou word terwyl die verseëling van al die lede van “die Israel van God” voltooi word. Hulle is die eerstes wat geseën word deur Jesus, die vernaamste lid van die saad van Abraham (Galasiërs 6:16; Genesis 22:18, NW; Openbaring 7:1-4). In hierdie selfde visioen het Johannes ‘’n groot skare gesien wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale, en hulle roep met ’n harde stem en sê: “Redding is ons verskuldig aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam”’ (Openbaring 7:9, 10). Deur te sê: “Redding is ons verskuldig aan . . . die Lam”, toon die groot skare dat ook hulle deur middel van Abraham se Saad geseën word.
2. Wanneer het die groot skare verskyn, en hoe word dit geïdentifiseer?
2 Hierdie groot skare is in 1935 geïdentifiseer, en vandag tel dit meer as vyfmiljoen mense. Dit is bestem om deur die groot verdrukking behoue te bly, en dié wat deel uitmaak daarvan sal vir die ewige lewe afgeskei word wanneer Jesus “die skape” van “die bokke” afskei. Christene van die groot skare is onder die “ander skape” in Jesus se illustrasie van die skaapkrale. Hulle hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe.—Matteus 25:31-46; Johannes 10:16; Openbaring 21:3, 4.
3. Hoe verskil gesalfde Christene en die ander skape met betrekking tot die nuwe verbond?
3 In die geval van die 144 000 word die seën van die Abrahamitiese verbond deur middel van die nuwe verbond aangewend. As deelnemers aan hierdie verbond kom hulle “onder onverdiende goedhartigheid” en “onder die wet ten opsigte van Christus” (Romeine 6:15; 1 Korintiërs 9:21). Gevolglik is dit slegs die 144 000 lede van die Israel van God wat tydens die herdenking van Jesus se dood met reg van die embleme gebruik en is dit slegs met hulle dat Jesus sy verbond vir ’n Koninkryk gesluit het (Lukas 22:19, 20, 29). Lede van die groot skare is nie deelnemers aan die nuwe verbond nie. Maar hulle gaan om met die Israel van God en woon saam met hulle in hulle “land” (Jesaja 66:8). Dit is derhalwe redelik om te sê dat ook hulle onder Jehovah se onverdiende goedhartigheid en onder die wet ten opsigte van Christus kom. Hoewel hulle nie deelnemers aan die nuwe verbond is nie, is hulle bevoordeeldes daarvan.
“Uitlanders” en “die Israel van God”
4, 5. (a) Deur watter groep sou Jehovah volgens Jesaja gedien word? b) Hoe word Jesaja 56:6, 7 ten opsigte van die groot skare vervul?
4 Die profeet Jesaja het geskryf: “Die uitlanders wat hulle by die HERE aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die HERE lief te hê deur sy knegte te wees—elkeen wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en hulle wat vashou aan my verbond, hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar” (Jesaja 56:6, 7). In Israel het dit beteken dat “uitlanders”, nie-Israeliete, Jehovah sou aanbid—hulle sou sy naam liefhê, die voorskrifte van die Wetsverbond gehoorsaam, die Sabbat hou en by die tempel, God se “huis van gebed”, offerandes bring.—Matteus 21:13.
5 In ons dag is die groot skare “die uitlanders wat hulle by die HERE aangesluit het”. Hulle dien Jehovah in samewerking met die Israel van God (Sagaria 8:23). Hulle bring dieselfde aanneemlike offerandes as die Israel van God (Hebreërs 13:15, 16). Hulle aanbid in God se geestelike tempel, sy “huis van gebed”. (Vergelyk Openbaring 7:15.) Hou hulle die weeklikse Sabbat? Nie die gesalfdes of die ander skape is beveel om dit te doen nie (Kolossense 2:16, 17). Paulus het egter vir gesalfde Hebreeuse Christene gesê: “Daar bly . . . ’n sabbatsrus oor vir die volk van God. Want die mens wat in God se rus ingegaan het, het ook self van sy eie werke gerus, net soos God van syne” (Hebreërs 4:9, 10). Daardie Hebreërs het in hierdie “sabbatsrus” ingegaan toe hulle hulle aan “die regverdigheid van God” onderwerp het en hulle daarvan gerus het om hulle deur werke van die Wet te probeer regverdig (Romeine 10:3, 4). Gesalfde nie-Joodse Christene geniet dieselfde rus deur hulle aan Jehovah se regverdigheid te onderwerp. Die groot skare sluit by hulle aan in hierdie rus.
6. Hoe stel die ander skape hulle vandag onder die nuwe verbond?
6 Verder stel die ander skape hulle onder die nuwe verbond net soos uitlanders van die ou tyd hulle onder die Wetsverbond gestel het. Hoe? Nie deur deelnemers daaraan te word nie, maar deur hulle aan die wette daarvan te onderwerp en by die reëlings daarvan baat te vind. (Vergelyk Jeremia 31:33, 34.) Soos in die geval van hulle gesalfde metgeselle is Jehovah se wet op die ander skape se “hart” geskryf. Hulle het Jehovah se gebooie en beginsels innig lief en gehoorsaam dit (Psalm 37:31; 119:97). Soos gesalfde Christene ken hulle Jehovah (Johannes 17:3). Wat van die besnydenis? Ongeveer 1500 jaar voordat die nuwe verbond gesluit is, het Moses die Israeliete aangespoor: “Besny dan die voorhuid van julle hart” (Deuteronomium 10:16; Jeremia 4:4). Hoewel verpligte vleeslike besnydenis saam met die Wet weggedoen is, moet die gesalfdes sowel as die ander skape hulle hart “besny” (Kolossense 2:11). Laastens vergewe Jehovah die sondes van die ander skape op grond van Jesus se vergote “bloed van die verbond” (Matteus 26:28; 1 Johannes 1:9; 2:2). God neem hulle nie as geestelike seuns aan soos in die geval van die 144 000 nie. Maar hy verklaar die ander skape wel regverdig, in die sin wat Abraham as God se vriend regverdig verklaar is.—Matteus 25:46; Romeine 4:2, 3; Jakobus 2:23.
7. Watter vooruitsig is daar vandag vir die ander skape, wat regverdig verklaar word soos Abraham?
7 Die feit dat die 144 000 regverdig verklaar word, maak dit vir hulle moontlik om die hoop te hê om saam met Jesus in die hemelse Koninkryk te regeer (Romeine 8:16, 17; Galasiërs 2:16). Die feit dat die ander skape regverdig verklaar word as God se vriende, stel hulle in staat om die hoop te koester om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe—hetsy deur Armageddon te oorleef as deel van die groot skare of deur middel van die “opstanding van die regverdiges” (Handelinge 24:15). Wat ’n voorreg is dit tog om so ’n hoop te hê en om ’n vriend van die Soewerein van die heelal te wees, om ‘in sy tent te vertoef’! (Psalm 15:1, 2). Ja, die gesalfdes sowel as die ander skape word op ’n wonderlike manier deur middel van Jesus, die Saad van Abraham, geseën.
’n Groter Versoendag
8. Wat is deur die Versoendagofferandes onder die Wet voorafgeskadu?
8 Toe Paulus die nuwe verbond bespreek het, het hy sy lesers aan die jaarlikse Versoendag onder die Wetsverbond herinner. Op daardie dag is afsonderlike offerandes gebring—een vir die priesterlike stam van Levi en ’n ander vir die 12 niepriesterlike stamme. Daar is lank reeds verduidelik dat dit Jesus se groot offerande voorafgeskadu het waarby die 144 000 met ’n hemelse hoop asook die miljoene wat ’n aardse hoop het, baat sou vind.a Paulus het getoon dat die voordele van Jesus se offerande in die vervulling deur middel van ’n groter Versoendag onder die nuwe verbond aangewend word. As Hoëpriester van hierdie groter dag het Jesus sy volmaakte lewe as ’n soenofferande gegee om “’n ewige verlossing” vir mense te verkry.—Hebreërs 9:11-24.
9. Wat kon Hebreeuse gesalfde Christene aanneem, aangesien hulle in die nuwe verbond was?
9 Baie Hebreeuse Christene van die eerste eeu was nog steeds “ywerig vir die [Mosaïese] Wet” (Handelinge 21:20). Dit was dus gepas dat Paulus hulle herinner het: “[Jesus is] ’n middelaar van ’n nuwe verbond . . . , sodat dié wat geroep is die belofte van die ewige erfenis kan ontvang, aangesien ’n dood plaasgevind het vir hulle bevryding deur ’n losprys van die oortredings onder die vorige verbond” (Hebreërs 9:15). Die nuwe verbond het Hebreeuse Christene losgemaak van die ou verbond, wat hulle sondigheid blootgelê het. Danksy die nuwe verbond kon hulle “die belofte van die ewige [hemelse] erfenis” aanneem.
10. Waarvoor dank die gesalfdes en die ander skape God?
10 “Elkeen . . . wat geloof in die Seun beoefen”, sal by die losprysofferande baat vind (Johannes 3:16, 36). Paulus het gesê: “Die Christus [is] eens en vir altyd geoffer om die sondes van baie te dra; en die tweede keer dat hy verskyn, sal dit afgeskeie van die sonde wees en aan dié wat hom vurig verwag vir hulle redding” (Hebreërs 9:28). Vandag sluit diegene wat Jesus vurig verwag oorblywende gesalfde Christene van die Israel van God in sowel as die miljoene wat die groot skare uitmaak, wat ook ’n ewige erfenis het. Albei klasse dank God vir die nuwe verbond en vir die lewegewende seëninge wat daarmee gepaardgaan, waaronder die groter Versoendag en die bediening van die Hoëpriester, Jesus, in die hemelse Allerheiligste.
Besig in heilige diens
11. Wat doen die gesalfdes sowel as die ander skape met blymoedigheid, aangesien hulle gewete deur Jesus se offerande gereinig is?
11 In sy brief aan die Hebreërs het Paulus die voortrefliker waarde van Jesus se offerande in die nuwe verbondsreëling beklemtoon in vergelyking met die sondoffers onder die ou verbond (Hebreërs 9:13-15). Jesus se beter offerande kan “ons gewetens van dooie werke reinig sodat ons heilige diens aan die lewende God kan verrig”. Vir Hebreeuse Christene het “dooie werke” “die oortredings onder die vorige verbond” ingesluit. Vir Christene van vandag sluit dit sondes in wat in die verlede gepleeg is waaroor daar ware berou getoon is en wat God vergewe het (1 Korintiërs 6:9-11). Met ’n gereinigde gewete verrig gesalfde Christene “heilige diens aan die lewende God”. En so ook die groot skare. Aangesien hulle hulle gewete deur “die bloed van die Lam” gereinig het, is hulle in God se groot geestelike tempel waar hulle “dag en nag heilige diens aan hom” verrig.—Openbaring 7:14, 15.
12. Hoe toon ons dat ons “die volle versekerdheid van die geloof” het?
12 Daarbenewens het Paulus gesê: “Laat ons dan met waaragtige harte toetree in die volle versekerdheid van die geloof, aangesien ons harte deur besprinkeling van ’n goddelose gewete gereinig is en ons liggame met skoon water gewas is” (Hebreërs 10:22). Hoe kan ons toon dat ons “die volle versekerdheid van die geloof” het? Paulus het Hebreeuse Christene aangespoor: “Laat ons die openbare bekendmaking van ons [hemelse] hoop vashou sonder om te wankel, want hy wat beloof het, is getrou. En laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:23-25). As ons geloof lewend is, sal ook ons nie “ons onderlinge vergadering nalaat” nie. Ons sal ons daarin verheug om ons broers aan te spoor en deur hulle aangespoor te word tot liefde en voortreflike werke en om versterk te word vir die lewensbelangrike werk om ons hoop in die openbaar bekend te maak, hetsy dit ’n aardse of hemelse hoop is.—Johannes 13:35.
Die “ewige verbond”
13, 14. In watter opsigte is die nuwe verbond ’n ewige verbond?
13 Wat gebeur wanneer die laaste lede van die 144 000 se hemelse hoop verwesenlik word? Sal die nuwe verbond ongeldig word? Op daardie tyd sal daar geen oorblywende lede van die Israel van God op die aarde wees nie. Alle deelnemers aan die verbond sal saam met Jesus “in die koninkryk van [sy] Vader” wees (Matteus 26:29). Maar ons onthou Paulus se woorde in sy brief aan die Hebreërs: “Die God van vrede [het] die groot herder van die skape met die bloed van ’n ewige verbond uit die dode opgebring” (Hebreërs 13:20; Jesaja 55:3). In watter sin is die nuwe verbond ’n ewige verbond?
14 Eerstens, in teenstelling met die Wetsverbond sal dit nooit vervang word nie. Tweedens, die resultate wat dit lewer, is permanent, net soos dit die geval met Jesus se koningskap is. (Vergelyk Lukas 1:33 met 1 Korintiërs 15:27, 28.) Die hemelse Koninkryk het ’n ewige plek in Jehovah se voornemens (Openbaring 22:5). En derdens, die ander skape sal voortgaan om by die nuwe verbondsreëling baat te vind. Gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sal getroue mense aanhou om “dag en nag heilige diens aan [Jehovah] in sy tempel” te verrig, net soos hulle nou doen. Jehovah sal nie weer hulle sondes van die verlede ophaal wat op grond van Jesus se “bloed van die verbond” vergewe is nie. Hulle sal voortgaan om ’n regverdige posisie as Jehovah se vriende te geniet, en sy wet sal nog steeds op hulle hart geskryf wees.
15. Beskryf Jehovah se verhouding met sy aardse aanbidders in die nuwe wêreld.
15 Sal Jehovah dan van hierdie menslike knegte kan sê: ‘Ek is hulle God, en hulle is my volk’? Ja. “Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees” (Openbaring 21:3). Hulle sal “die kamp van die heiliges” word, aardse verteenwoordigers van “die geliefde stad”, die hemelse bruid van Jesus Christus (Openbaring 14:1; 20:9; 21:2). Dit sal alles moontlik wees weens hulle geloof in Jesus se vergote “bloed van die verbond” en hulle onderdanigheid aan die hemelse konings en priesters, wat die Israel van God was toe hulle op die aarde was.—Openbaring 5:10.
16. (a) Watter moontlikhede wag op diegene wat op die aarde opgewek word? (b) Watter seëninge sal teen die einde van die duisend jaar geniet word?
16 Wat van die dooies wat op die aarde opgewek word? (Johannes 5:28, 29). Ook hulle sal genooi word om ‘hulleself te seën’ deur middel van Jesus, die Saad van Abraham (Genesis 22:18, NW). Ook hulle sal die naam van Jehovah moet liefhê deur hom te dien, aanneemlike offerandes te bring en heilige diens in sy huis van gebed te verrig. Diegene wat dit doen, sal in God se rus ingaan (Jesaja 56:6, 7). Teen die einde van die duisend jaar sal alle getroues deur die diens van Jesus Christus en sy 144 000 medepriesters tot menslike volmaaktheid verhef wees. Hulle sal regverdig wees, nie bloot as vriende van God regverdig verklaar wees nie. Hulle sal “lewend word”, heeltemal vry van sonde en die dood wat van Adam oorgeërf is (Openbaring 20:5; 22:2). Wat ’n seën sal dit tog wees! Vanuit ons perspektief vandag lyk dit of die priesterlike werk van Jesus en die 144 000 dan volbring sal wees. Die seëninge van die groter Versoendag sal ten volle aangewend wees. Verder sal Jesus “die koninkryk aan sy God en Vader oorgee” (1 Korintiërs 15:24). Die mensdom sal ’n finale toets ondergaan, en dan sal Satan en sy demone vir ewig vernietig word.—Openbaring 20:7, 10.
17. Wat moet elkeen van ons vasbeslote wees om te doen met die oog op die vreugde wat vir ons voorlê?
17 Sal die “ewige verbond” enige rol speel in die opwindende era wat dan sal begin? Dit is nie vir ons om te sê nie. Wat Jehovah tot dusver openbaar het, is vir eers genoeg. Dit vervul ons met ontsag. Dink net—ewige lewe as deel van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”! (2 Petrus 3:13). Mag niks ons begeerte verswak om daardie belofte te beërf nie. Dit is nie altyd maklik om standvastig te bly nie. Paulus het gesê: “Julle het volharding nodig, sodat julle, nadat julle die wil van God gedoen het, die vervulling van die belofte kan ontvang” (Hebreërs 10:36). Maar onthou, watter probleem of teenstand ook al te bowe gekom moet word, dit is onbeduidend in vergelyking met die vreugde wat vir ons voorlê (2 Korintiërs 4:17). Laat geeneen van ons dus “die soort [wees] wat terugdeins tot vernietiging” nie. Mag ons eerder “die soort [wees] wat geloof het tot die behoud van die siel” (Hebreërs 10:39). Mag ons almal ten volle vertrou op Jehovah, die God van verbonde, tot die ewige seën van elkeen van ons.
Maar slegs priesters en Leviete kon in die binneste voorhof ingaan, waar die groot altaar geleë was; slegs priesters kon in die Heilige ingaan en slegs die hoëpriester kon in die Allerheiligste ingaan. Daar word aangeneem dat die binneste voorhof en die Heilige die unieke geestelike toestand van gesalfde Christene op die aarde afskadu. En die Allerheiligste beeld die hemel self af, waar gesalfde Christene onsterflike lewe saam met hulle hemelse Hoëpriester ontvang.—Hebreërs 10:19, 20.
[Voetnoot]
a Sien Oorlewing tot in ’n nuwe aarde, hoofstuk 13, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Het jy verstaan?
◻ Wie benewens gesalfde Christene word deur middel van Abraham se Saad geseën?
◻ Hoe is die ander skape soos proseliete onder die ou verbond deurdat hulle deur middel van die nuwe verbond geseën word?
◻ Hoe word die ander skape deur middel van die groter Versoendagreëling geseën?
◻ Waarom het Paulus die nuwe verbond ’n “ewige verbond” genoem?
[Venster op bladsy 21]
Heilige diens in die tempel
Die groot skare aanbid saam met die gesalfde Christene in die aardse voorhof van Jehovah se groot geestelike tempel (Openbaring 7:14, 15; 11:2). Daar is geen rede om tot die slotsom te kom dat hulle in ’n afsonderlike voorhof van die heidene is nie. Toe Jesus op aarde was, was daar ’n voorhof van die heidene in die tempel. Maar in die Goddelik geïnspireerde planne van Salomo en Esegiël se tempels was daar geen voorsiening vir ’n voorhof van die heidene nie. In Salomo se tempel was daar ’n buitenste voorhof waar Israeliete en proseliete, mans en vrouens, saam aanbid het. Dít is die profetiese patroon van die aardse voorhof van die geestelike tempel, waar Johannes die groot skare heilige diens sien verrig het.
Maar slegs priesters en Leviete kon in die binneste voorhof ingaan, waar die groot altaar geleë was; slegs priesters kon in die Heilige ingaan en slegs die hoëpriester kon in die Allerheiligste ingaan. Daar word aangeneem dat die binneste voorhof en die Heilige die unieke geestelike toestand van gesalfde Christene op die aarde afskadu. En die Allerheiligste beeld die hemel self af, waar gesalfde Christene onsterflike lewe saam met hulle hemelse Hoëpriester ontvang.—Hebreërs 10:19, 20.
[Prent op bladsy 23]
Laat ons, met die oog op die vreugde wat vir ons voorlê, ‘geloof hê tot die behoud van die siel’