Het Maria weens natuurlike oorsake gesterf?
VOLGENS die Vatikaanse koerant L’Osservatore Romano lui die Katolieke leerstelling van die Maria-Hemelvaart soos volg: “Die Onbevlekte Maagd, bewaar teen enige vlek van erfsonde, is met liggaam en siel in hemelse heerlikheid opgeneem toe haar aardse lewe geëindig het.” Hierdie leer het party Katolieke teoloë laat beweer dat Maria “nie gesterf het nie en onmiddellik van aardse lewe tot hemelse heerlikheid verhoog is”, sê die koerant.a
Pous Johannes-Paulus II het onlangs ’n ander lig op die saak gewerp. By die Algemene Oudiënsie by die Vatikaan op 25 Junie 1997 het hy gesê: “Die Nuwe Testament verskaf geen inligting oor die omstandighede van Maria se dood nie. Hierdie stilswye laat ’n mens aanneem dat dit op natuurlike wyse plaasgevind het, met geen besonderheid wat werklik noemenswaardig is nie. . . . Die menings wat haar van dood weens natuurlike oorsake wil uitsluit, lyk ongegrond.”
Pous Johannes-Paulus se stelling veroorsaak ’n diep kraak in die dogma van die Onbevlekte Ontvangenis. As Jesus se moeder “bewaar [is] teen enige vlek van erfsonde”, hoe kon Maria weens “natuurlike oorsake” gesterf het wat die gevolg is van sonde wat deur sondige Adam oorgedra is? (Romeine 5:12). Hierdie teologiese dilemma is toe te skryf aan die Katolieke Kerk se verdraaide beskouing van Jesus se moeder. Geen wonder dat verdeeldheid en verwarring in die Katolieke Kerk ontstaan het oor die kwessie nie.
Hoewel die Bybel Maria as nederig, getrou en toegewyd uitbeeld, skryf dit nie hierdie eienskappe aan ’n “onbevlekte ontvangenis” toe nie (Lukas 1:38; Handelinge 1:13, 14). Die Bybel sê eenvoudig: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Ja, Maria het sonde en onvolmaaktheid geërf soos die res van die mensdom, en daar is geen bewys dat sy nie weens natuurlike oorsake gesterf het nie.—Vergelyk 1 Johannes 1:8-10.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Die Maria-Hemelvaart—Is dit ’n dogma wat deur God geopenbaar is?” in Die Wagtoring van 15 Februarie 1994, bladsye 26-9.