Koninkryksverkondigers berig
Mense wat lief is vir Jehovah, is kosbaar in sy oë
LIBANON is al sedert Bybeltye bekend vir sy natuurlike hulpbronne (Psalm 72:16; Jesaja 60:13). Daar is veral groot waarde geheg aan sy majestueuse sederbome, wat uiters gesog was as boumateriaal omdat dit mooi is, lekker ruik en duursaam is. In die eerste eeu het iets kosbaarders uit Libanon gekom. Die Evangelie van Markus sê dat daar uit Tirus en Sidon, in Libanon se eertydse gebied, “’n groot menigte na [Jesus] toe gekom [het] toe hulle hoor wat hy alles doen”.—Markus 3:8.
Ook vandag bring Libanon steeds vrugte voort wat baie kosbaar in Jehovah se oë is. Die volgende ondervindinge lig dit toe.
• ’n Jong Getuie met die naam Wissam is by die skool gevra om ’n praatjie van 30 minute voor sy klas te hou. Wissam het besluit dat dit ’n goeie geleentheid sou wees om ’n getuienis te gee. Hy het dus die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? gebruik en ’n toespraak oor die skepping voorberei. Maar toe Wissam se onderwyser sien waaroor die toespraak gaan, het hy gesê dat Wissam sy toespraak tot 45 minute kan verleng, aangesien dit so ’n belangrike onderwerp is.
Toe Wissam begin praat, het sy onderwyser hom in die rede geval en die hoof laat roep. Ná ’n rukkie was die hoof daar, en Wissam het van voor af begin. Terwyl die hoof geluister het na die vrae wat Wissam in die inleiding van sy toespraak gestel het, het sy opgewonde geraak en gesê dat al die leerlinge ’n afskrif van die toespraak moet kry.
’n Rukkie later het ’n ander onderwyser wat daar verbygestap het die opwinding in die klaskamer gesien en gevra wat aan die gang is. Toe hulle vir hom gesê het, het hy gevra of Wissam die skepping of evolusie probeer bewys. “Die skepping”, het hulle geantwoord. Toe die onderwyser hoor dat Wissam een van Jehovah se Getuies is, het hy vir die klas gesê: “Julle sal uit sy praatjie sien dat die wetenskap die skepping steun, nie evolusie nie.”
Hierdie onderwyser het blykbaar ’n eksemplaar van die Skepping-boek gehad en het dit gebruik om lesings by die universiteit te hou! Voordat hy die klas verlaat het, het hy gevra of hy die volgende dag sy klas kon bring sodat Wissam hulle kon toespreek. Dit het daartoe gelei dat nog ’n goeie getuienis oor Jehovah gegee is.
• Die 22-jarige Nina het na die water van waarheid gedors. Eendag het haar neef vir haar ’n Bybel gegee en haar in aanraking met die Pinksterkerk gebring. Nina het dit geniet om die Bybel te lees, en toe sy daaruit leer dat Christene die predikingswerk moet doen, het sy met haar kennisse begin praat. Almal met wie sy gepraat het, het haar gevra: “Is jy een van Jehovah se Getuies?” Sy het dit vreemd gevind.
Ses jaar later het Jehovah se Getuies Nina by haar huis besoek en haar van God se Koninkryk vertel. Sy het eers met hulle leerstellings probeer foutvind. Maar sy het gevind dat al hulle antwoorde logies en op die Bybel gebaseer is.
Wat Nina uiteindelik geleer het—God se naam, Jehovah; die seëninge van die Koninkryk; ensovoorts—het haar daarvan oortuig dat sy die waarheid gevind het. Sy het haar lewe aan God toegewy en is gedoop. Nina dien die afgelope sewe jaar as ’n voltydse evangeliedienaar. Jehovah seën waarlik diegene wat hom liefhet.—1 Korintiërs 2:9.