Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 9/1 bl. 3-5
  • Weet jy hoe om te wag?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Weet jy hoe om te wag?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons lewe word verkwis
  • Leer hoe om te wag
  • Geduld sal beloon word
  • Gelukkig om op Jehovah te wag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Is jy bereid om geduldig te wag?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Toon ’n wagtende houding!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Ons kan gelukkig wees terwyl ons geduldig op Jehovah wag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 9/1 bl. 3-5

Weet jy hoe om te wag?

KAN jy dink hoeveel tyd mense elke jaar daaraan bestee om net te wag? Hulle staan tou in die winkel of wag by die vulstasie. Hulle wag om bedien te word in ’n restaurant. Hulle wag om die dokter of die tandarts te spreek. Hulle wag vir busse en treine. Ja, ’n verbasende hoeveelheid tyd in ’n mens se lewe word daaraan bestee om te wag dat dinge gebeur. Volgens een skatting verloor Duitsers alleen 4,7 miljard uur per jaar deur net in verkeersknope te wag! Iemand het bereken dat dit gelyk is aan die totale lewensverwagting van ongeveer 7 000 mense.

Dit kan baie frustrerend wees om te wag. Deesdae lyk dit of daar nooit genoeg tyd is om alles te doen nie, en as ’n mens dink aan al die ander dinge wat ons moet doen, kan dit die gewag werklik ’n beproewing maak. Die skrywer Alexander Rose het eenkeer gesê: “Die helfte van die pyn en lyding in die lewe is om te wag.”

Die Amerikaanse staatsman Benjamin Franklin het erken dat dit ook baie kan kos om te wag. Hy het meer as 250 jaar gelede gesê: “Tyd is geld.” Dit is waarom sakeondernemings na maniere soek om onnodige vertragings in die werksproses te vermy. Meer goedere wat in minder tyd vervaardig word, kan groter wins beteken. Ondernemings wat direk met die publiek werk, probeer om vinnige diens te lewer—kitskos, kitsbanke en so meer—omdat hulle weet dat hulle onder andere die wagtyd moet verminder as hulle die klant tevrede wil stel.

Ons lewe word verkwis

Die 19de-eeuse Amerikaanse digter Ralph Waldo Emerson het eenkeer gekla: “Hoeveel van die mens se lewe gaan tog verlore deur te wag!” Meer onlangs het die skrywer Lance Morrow gekla oor hoe vervelig en fisies ongemaklik dit is om te wag. Maar toe het hy gepraat van “die subtieler ellende van die gewag”. Wat is dit? “Die wete dat ’n mens se kosbaarste hulpbron, tyd, ’n gedeelte van jou lewe, gesteel word en nooit teruggekry sal word nie.” Dit is ongelukkig waar. Tyd wat verlore gaan deur te wag, is vir ewig verlore.

As die lewe nie so kort was nie, sou ’n mens natuurlik minder besorg daaroor gewees het om te wag. Maar die lewe is kort. Duisende jare gelede het die Bybelpsalmis gesê: “Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen” (Psalm 90:10). Ongeag waar ons woon en wie ons is, ons lewe—die dae, ure, minute wat ons in die vooruitsig het wanneer ons gebore word—is beperk. En tog kan ons nie situasies vermy waar ons noodgedwonge van daardie kosbare tyd moet verloor deur vir gebeure of mense te wag nie.

Leer hoe om te wag

Die meeste van ons was al in ’n motor saam met ’n bestuurder wat voortdurend die voertuig voor hom probeer verbysteek. Dit is dikwels nie dringend noodsaaklik nie—die bestuurder het nie ’n dringende afspraak nie. En tog kan hy dit nie verdra dat ’n ander bestuurder keer dat hy vinniger ry nie. Sy gebrek aan geduld dui daarop dat hy nie geleer het om te wag nie. Geleer het? Ja, ’n mens moet leer hoe om te wag. Niemand word met hierdie vermoë gebore nie. Babas eis onmiddellike aandag wanneer hulle honger of ongemaklik is. Dit is eers as hulle ouer word dat hulle verstaan dat hulle soms moet wag vir wat hulle wil hê. Aangesien dit ’n onvermydelike deel van die lewe is om te wag, bewys dit in werklikheid dat iemand volwasse is as hy weet hoe om geduldig te wag wanneer dit nodig is.

Daar is natuurlik dringende situasies wanneer ongeduld verstaanbaar is. ’n Jong getroude man wat met sy vrou na die hospitaal toe jaag omdat hulle nuwe baba enige oomblik gebore gaan word, sal tereg ongeduldig wees as daar enige vertragings is. Die engele wat Lot aangespoor het om Sodom te verlaat, was nie bereid om te wag terwyl Lot getalm het nie. Vernietiging was op hande en die lewens van Lot en sy gesin was op die spel (Genesis 19:15, 16). Maar in die meeste gevalle is lewens nie op die spel wanneer mense verplig is om te wag nie. In sulke gevalle kan dit baie aangenamer wees as almal leer om geduldig te wees—selfs al moet ’n mens wag weens iemand se onbekwaamheid of gebrek aan belangstelling. Daarbenewens sal dit makliker wees om geduldig te wees as almal leer hoe om die tyd wat hulle wag nuttig te gebruik. Die venster op bladsy 5 het ’n paar wenke wat dit nie net draaglik nie, maar selfs lonend kan maak om te wag.

Ons moet ook onthou dat ’n ongeduldige gees dalk dui op ’n trotse gesindheid, ’n gevoel dat ’n mens te belangrik is om vir iemand anders te wag. Enigiemand met so ’n gesindheid kan gerus let op die volgende woorde in die Bybel: “Iemand wat geduldig is, is beter as iemand wat hoogmoedig van gees is” (Prediker 7:8, NW). Hoogmoed, of trots, is ’n ernstige persoonlikheidsgebrek, en die Bybelspreuk sê: “Elke hoogmoedige van hart is vir die HERE ’n gruwel” (Spreuke 16:5). As ons geduld wil aanleer—wil leer hoe om te wag—kan dit derhalwe vereis dat ons onsself en ons verhoudinge met die mense om ons goed ondersoek.

Geduld sal beloon word

Dit is gewoonlik vir ons makliker om te wag as ons daarvan oortuig is dat dit waarvoor ons wag die vertraging werd is en dat dit werklik uiteindelik sal kom. In hierdie verband is dit goed om na te dink oor die feit dat alle opregte aanbidders van God wag op die vervulling van sy wonderlike beloftes wat in die Bybel gevind word. In ’n Goddelik geïnspireerde psalm word daar byvoorbeeld vir ons gesê: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” Hierdie belofte is deur die apostel Johannes herhaal toe hy gesê het: “Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (Psalm 37:29; 1 Johannes 2:17). As ons vir ewig kon lewe, sou dit ongetwyfeld nie ’n groot probleem gewees het om te wag nie. Maar ons lewe nou nie vir ewig nie. Is dit selfs realisties om van die ewige lewe te praat?

Voordat ons daardie vraag beantwoord, moet ons dink aan die feit dat God ons eerste ouers geskep het met die vooruitsig om vir ewig te lewe. Dit was net omdat hulle gesondig het dat hulle daardie vooruitsig verloor het vir hulleself sowel as vir hulle kinders—wat ons insluit. Maar onmiddellik nadat hulle gesondig het, het God sy voorneme bekend gemaak om die gevolge van hulle ongehoorsaamheid ongedaan te maak. Hy het belowe dat ’n “saad” sou kom, wat Jesus Christus was.—Genesis 3:15; Romeine 5:18.

As individue moet ons self besluit of ons by die vervulling van sy beloftes baat gaan vind of nie. Dit sal geduld verg om dit te doen. Om ons te help om hierdie soort geduld aan te leer, spoor die Bybel ons aan om te peins oor die voorbeeld van ’n boer. Hy saai sy saad en het geen ander keuse nie as om geduldig te wag—en te doen wat hy kan om sy gesaaides te beskerm—totdat dit tyd is vir die oes. Dan word sy geduld beloon, en hy sien die vrugte van sy arbeid (Jakobus 5:7). Die apostel Paulus meld nog ’n voorbeeld van geduld. Hy herinner ons aan getroue manne en vroue van die ou tyd. Hulle het uitgesien na die verwesenliking van God se voornemens, maar hulle moes wag op God se bestemde tyd. Paulus moedig ons aan om hierdie persone na te volg, “wat deur geloof en geduld die beloftes beërf”.—Hebreërs 6:11, 12.

Ja, om te wag, is ’n onvermydelike lewensfeit. Maar dit hoef nie ’n voortdurende kwelling te wees nie. Vir diegene wat wag op die verwesenliking van God se beloftes, kan dit ’n bron van vreugde wees. Hulle kan in die tyd wat hulle moet wag ’n hegte verhouding met God opbou en werke doen wat toon dat hulle geloof het. En deur middel van gebed, studie en bepeinsing kan hulle die onwankelbare vertroue opbou dat alles wat God belowe het op sy bestemde tyd sal plaasvind.

[Venster/Prente op bladsy 5]

VERMINDER DIE PYN EN LYDING OM TE WAG!

Beplan vooruit! As jy weet jy sal moet wag, berei jou voor om te lees, te skryf, te brei, te hekel of om iets nuttigs te doen.

Gebruik die tyd om te peins, iets wat al hoe moeiliker is in ons gejaagde wêreld.

Hou leesstof naby die telefoon sodat jy kan lees as jy gevra word om aan te hou; jy kan binne vyf of tien minute ’n hele paar bladsye lees.

Wanneer jy in ’n groep wag, kan jy die geleentheid gebruik om, indien dit gepas is, gesprekke met ander te begin en opbouende gedagtes met hulle te bespreek.

Hou ’n notaboek of leesstof in jou motor vir tye wanneer jy onverwags moet wag.

Maak jou oë toe, ontspan of bid.

OM MET SUKSES TE WAG, HANG HOOF- SAAKLIK AF VAN ’N MENS SE GESINDHEID EN VOORUITBEPLANNING.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel