Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 10/1 bl. 30-31
  • ’n “Aanvallige steenbokkie”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n “Aanvallige steenbokkie”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 10/1 bl. 30-31

’n “Aanvallige steenbokkie”

AANVALLIG is nie ’n byvoeglike naamwoord wat die meeste van ons sou gebruik om ’n bok te beskryf nie. Ons dink dalk aan bokke as nuttige diere wat feitlik enigiets sal eet en wat ons van smaaklike vleis en voedsame melk voorsien—maar ons sou hulle nie juis aanvallig noem nie.

Die Bybel beskryf ’n vrou nietemin as ’n “lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie” (Spreuke 5:18, 19). Salomo, ’n skrywer van die boek Spreuke, was ’n geesdriftige waarnemer van Israel se natuurlewe, en daarom het hy ongetwyfeld ’n goeie rede gehad waarom hy hierdie beeldspraak gebruik het (1 Konings 4:30-33). Hy het moontlik, soos sy vader Dawid, die Europese steenbokke waargeneem wat baie in die gebied om Engedi, naby die kus van die Dooie See, gewei het.

Klein groepies steenbokke wat in die nabygeleë Judese woestyn aangetref word, besoek die Engedi-fontein gereeld. Aangesien dit die enigste betroubare waterbron in hierdie dorre gebied is, is Engedi al eeue lank ’n geliefkoosde drinkplek van steenbokke. Trouens, die naam Engedi beteken waarskynlik “fontein van die boklam”, ’n bewys dat jong bokke gewoonlik in hierdie gebied voorgekom het. Koning Dawid het hier toevlug gevind toe koning Saul hom vervolg het, hoewel hy soos ’n voortvlugtige “teenoor die Steenbokrotse” moes woon.—1 Samuel 24:2, 3.

By Engedi kan jy nog steeds ’n steenbokooi dophou waar sy grasieus en versigtig in ’n rotsagtige kloof afloop terwyl sy ’n bokram na die water toe volg. Dan sal jy dalk die vergelyking tussen ’n steenbokooi en ’n lojale vrou begin verstaan. Haar rustige geaardheid en elegante gestalte kom ook ooreen met vroulike deugde. Die woord “aanvallige” sinspeel klaarblyklik op die grasie en elegante voorkoms van die steenbok.a

Die steenbokooi moet gehard sowel as grasieus wees. Soos Jehovah aan Job getoon het, gee die steenbok tussen die kranse geboorte, in rotsagtige, onbereikbare plekke waar voedsel dalk skaars is en die temperatuur uiterstes bereik (Job 39:1, NW). Ondanks hierdie moeilike omstandighede sorg sy vir haar lammers en leer sy hulle om net so rats soos sy tussen die rotse te klim en te spring. Die steenbokooi beskerm haar lammers ook moedig teen roofdiere. Een waarnemer het gesien hoe ’n steenbok die aanval van ’n arend ’n halfuur lank afgeweer het, terwyl die jong lammetjie onder haar ingekruip het vir beskerming.

Christenvroue en -moeders moet dikwels hulle kinders onder moeilike omstandighede grootmaak. Soos die steenbok kom hulle hierdie godgegewe verantwoordelikheid na op ’n toegewyde en onselfsugtige wyse. En hulle probeer moedig om hulle kinders teen geestelike gevare te beskerm. Salomo het dus beslis nie vroue met hierdie beeldspraak probeer verkleineer nie, maar hy het in werklikheid eerder die aandag gevestig op ’n vrou se grasie en skoonheid—geestelike eienskappe wat selfs in die moeilikste milieu deurstraal.

[Voetnoot]

a Volgens The New Brown-Driver-Briggs-Gesenius Hebrew and English Lexicon beteken die Hebreeuse woord tsjen, wat as “aanvallige” vertaal is, in hierdie konteks ‘grasieuse of elegante gestalte en voorkoms’.

[Prente op bladsy 30, 31]

’n Christenvrou en -moeder openbaar pragtige geestelike eienskappe wanneer sy haar godgegewe verantwoordelikhede nakom

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel