Is jy verstandig?
TOE Moses regters oor Israel aangestel het, het hy “wyse en verstandige en ervare manne” probeer vind (Deuteronomium 1:13). Ervaring, wat met die ouderdom gekom het, was nie die enigste vereiste nie. Wysheid en verstandigheid was ook belangrik.
Iemand wat verstandig is, toon goeie oordeel in sy spraak en gedrag. Volgens Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary is die verstandige persoon ook iemand “wat weet wanneer om stil te bly”. Ja, daar is “’n tyd om te spreek”, en daar is “’n tyd om te swyg”, en die verstandige persoon ken die verskil (Prediker 3:7). Daar is dikwels ’n goeie rede om te swyg, want die Bybel sê: “By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig.”—Spreuke 10:19.
Christene probeer verstandig wees in hulle handelinge met ander. Die een wat die meeste praat of hom die kragtigste uitspreek, is nie altyd die een wat die belangrikste of onmisbaarste is nie. Onthou, Moses was “kragtig in sy woorde en dade”, maar hy kon die nasie Israel eers op ’n doeltreffende manier lei nadat hy geduld, sagmoedigheid en selfbeheersing aangeleer het (Handelinge 7:22). Diegene wat dus met gesag oor ander toevertrou word, moet veral daarna streef om beskeie te wees en om ’n toegewende gees te openbaar.—Spreuke 11:2.
Diegene aan wie Jesus Christus “al sy besittings” toevertrou het, word in God se Woord beskryf as ‘getrou en verstandig’ (Matteus 24:45-47). Hulle tree nie onbeskeie op en loop Jehovah vooruit weens ’n impuls nie; ook sloer hulle nie wanneer God se riglyne oor ’n saak duidelik is nie. Hulle weet wanneer dit tyd is om te spreek en wanneer dit tyd is om stil te bly en te wag vir ’n verdere verduideliking. Dit sal vir alle Christene goed wees om nie net hulle geloof na te volg nie, maar ook om, soos die slaafklas, te bewys dat hulle verstandig is.—Hebreërs 13:7.