Is godsdienseenheid in sig?
“Ons is getuies van ’n betekenisvolle dag in die geskiedenis van ons kerke”, het Christian Krause, die president van die Lutherse Wêreldfederasie, gesê. Pous Johannes-Paulus II het ook gepraat van “’n mylpaal op die moeilike pad tot die herbouing van volkome eenheid onder Christene”.
Hierdie entoesiastiese verklarings het gekom na aanleiding van die ondertekening van ’n Amptelike Algemene Verklaring op 31 Oktober 1999, in Augsburg, Duitsland, wat die Gesamentlike Verklaring oor die Leerstelling van Regverdigmaking bevestig het. Die tyd en plek vir die gebeurtenis is goed gekies. Martin Luther het na bewering op 31 Oktober 1517 sy 95 stellings aan die deur van die slotkerk in Wittenberg vasgespyker en sodoende die Protestantse Hervorming aan die gang gesit. Augsburg was natuurlik die plek waar die Lutherane in 1530 hulle grondleerstelling, die Augsburgse Geloofsbelydenis, voorgelê het, wat deur die Katolieke Kerk verwerp is, en dit het gelei tot die onversoenbare skeuring tussen Protestantisme en Katolisisme.
Sal die Gesamentlike Verklaring ’n besliste stap wees om die verdeeldheid in die kerk te oorkom, soos daar beweer word? Nie alle partye was optimisties nie. Meer as 250 Protestantse teoloë het ’n teenpetisie onderteken, wat gewaarsku het teen oorname deur die Katolieke Kerk. Protestante was ook geïrriteerd toe die Katolieke Kerk ’n spesiale aflaat vir die jaar 2000 verklaar het, juis die gebruik wat sowat 500 jaar gelede die skeuring verhaas het. En aangesien die Augsburgse Geloofsbelydenis sowel as die Katolieke weerlegging deur die Konsilie van Trente nog geldig is, is eenheid alles behalwe verseker.
Daar is soveel verdeeldheid en onenigheid in die Christendom dat die ondertekening van enige gesamentlike verklaring dit nie sal kan regstel nie. Daarbenewens hang eenheid in geloof af van oortuigings wat deeglik op God se Woord, die Bybel, gegrond is (Efesiërs 4:3-6). Ware eenheid word nie deur ’n kompromis verkry nie, maar deur te leer en te doen wat God van ons verwag. “Wat al die volke betref, elkeen sal in die naam van sy god wandel”, het die getroue profeet Miga gesê, “maar óns sal in die naam van Jehovah ons God wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig.”—Miga 4:5, NW.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
© Ralph Orlowski/REUTERS/Archive Photos