Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 12/1 bl. 29-31
  • Moet jy dit glo?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet jy dit glo?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is deskundiges altyd reg?
  • “Die valslik so genoemde ‘kennis’”
  • Die Bybel—’n geïnspireerde gids
  • “Denkvermoë” nodig
  • Aristoteles
    Ontwaak!—2016
  • Die wetenskap en die Bybel—Weerspreek hulle mekaar werklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Wie het die wette gemaak wat ons heelal beheer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Filosofie
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 12/1 bl. 29-31

Moet jy dit glo?

DIE 12-jarige leerling sukkel om die basiese beginsels van algebra te verstaan. Sy onderwyser het die klas ’n skynbaar eenvoudige algebraïese berekening gegee.

“Laat x=y en laat hulle albei die waarde 1 hê”, het hy begin.

‘Goed, tot so ver’, het die leerling gedink.

Ná hy vier logiese stappe uiteengesit het, het die onderwyser egter met ’n verrassende resultaat vorendag gekom: “Daarom is 2=1!”

“Bewys dit verkeerd”, het hy sy verwarde leerlinge uitgedaag.

Die jong leerling kon met sy beperkte kennis van algebra nie sien hoe hy dit verkeerd kon bewys nie. Elke stap in die berekening het heeltemal gegrond gelyk. Moet hy dan hierdie vreemde gevolgtrekking glo? Sy onderwyser was per slot van rekening baie beter vertroud met wiskunde as wat hy was. Natuurlik moet hy dit nie glo nie! ‘Ek hoef dit nie verkeerd te bewys nie’, het hy by homself gedink. ‘My gesonde verstand sê vir my dat dit verregaande is’ (Spreuke 14:15, 18, NW). Hy het geweet dat nie sy onderwyser of enige van sy klasmaats twee rand vir een rand sou ruil nie!

Mettertyd het die algebra-leerling wel die fout in die berekening gevind. Intussen het die ondervinding hom ’n waardevolle les geleer. Selfs wanneer iemand met baie meer kennis ’n argument aanvoer wat deeglik versin is en skynbaar onbetwisbaar lyk, hoef ’n luisteraar nie ’n dwase gevolgtrekking te glo bloot omdat hy dit nie op daardie tydstip verkeerd kan bewys nie. Die leerling het in werklikheid ’n baie praktiese Bybelbeginsel gevolg wat in 1 Johannes 4:1 gevind word—om nie te gou alles te glo wat jy hoor nie, selfs wanneer dit lyk asof dit van ’n gesaghebbende bron af kom.

Dit beteken nie dat jy jou koppig by vooropgestelde idees moet hou nie. Dit is ’n fout om jou verstand te sluit vir inligting wat verkeerde beskouings kan regstel. Maar jy moet ook nie ‘gou van jou rede afgebring word’ wanneer jy druk kry van iemand wat beweer dat hy baie kennis of gesag het nie (2 Tessalonisense 2:2). Die onderwyser het sy leerlinge natuurlik net ’n streep getrek. Maar partykeer is dinge nie so onskuldig nie. Mense kan met groot ‘listigheid dwaling versin’.—Efesiërs 4:14; 2 Timoteus 2:14, 23, 24.

Is deskundiges altyd reg?

Al het hulle baie kennis, kan deskundiges op enige gebied teenstrydige idees en veranderende menings hê. Neem byvoorbeeld die voortgesette debat in die mediese wetenskap oor iets so basies soos die oorsake van siektes. “Die relatiewe belangrikheid van natuur teenoor milieu by siektes vorm die grondslag van hewige debatte onder wetenskaplikes”, skryf ’n professor in geneeskunde aan Harvard-universiteit. Diegene in die sogenoemde kamp van deterministe glo vas dat ons gene ’n deurslaggewende rol speel in ons vatbaarheid vir verskillende siektes. Maar ander beweer dat die milieu en lewenswyse die hooffaktore in menslike patologie is. Albei kante haal maklik studies en statistiek aan om hulle saak te steun. Die debat duur nietemin voort.

Die beroemdste denkers is al oor en oor verkeerd bewys, selfs al het hulle leringe op daardie stadium onbetwisbaar gelyk. Die filosoof Bertrand Russell het Aristoteles as een van “die invloedrykste van alle filosowe” beskryf. Maar Russell het ook daarop gewys dat baie van Aristoteles se leerstellings “heeltemal vals” was. “In hedendaagse tye”, het hy geskryf, “is feitlik elke verbetering op die gebied van die wetenskap, logika of filosofie ten spyte van teenstand van Aristoteles se volgelinge gemaak.”—History of Western Philosophy.

“Die valslik so genoemde ‘kennis’”

Die vroeë Christene het waarskynlik baie mense ontmoet wat volgelinge van die welbekende Griekse filosowe, soos Sokrates, Plato en Aristoteles, was. Geleerdes van daardie tyd het hulleself as intellektueel verhewe bo die meeste Christene beskou. Nie baie van Jesus se dissipels is as ‘wys in vleeslike sin’ beskou nie (1 Korintiërs 1:26). Trouens, diegene wat in die filosofieë van daardie tyd onderrig is, het gedink dat wat die Christene geglo het, bloot “dwaasheid” of “loutere onsin” was.—1 Korintiërs 1:23, Phillips.

Sou jy, as jy onder daardie vroeë Christene was, beïndruk gewees het deur die oorredende argumente van die intellektuele elite van die dag of oorweldig gewees het deur hulle vertoon van wysheid? (Kolossense 2:4). Volgens die apostel Paulus sou daar geen rede hiervoor wees nie. Hy het Christene daaraan herinner dat Jehovah “die wysheid van die wyses” en die “intelligensie van die intellektuele” van hulle tyd as dwaas beskou (1 Korintiërs 1:19). “Wat”, het hy gevra, “het al die wysheid van die filosoof, die skrywer en die kritikus van hierdie wêreld hulle in die sak gebring?” (1 Korintiërs 1:20, Phillips). Ondanks al hulle intellektuele briljantheid kon die filosowe, die skrywers en die kritici van Paulus se dag nie ’n werklike oplossing vir die mensdom se probleme voorsien nie.

Die Christene het dus geleer om te vermy wat die apostel Paulus gesê het “die teenstrydighede van die valslik so genoemde ‘kennis’” is (1 Timoteus 6:20). Die rede waarom Paulus hierdie kennis ‘vals’ genoem het, is omdat dit een noodsaaklike faktor kortgekom het—’n bron of verwysing van God waaraan hulle teorieë getoets kon word (Job 28:12; Spreuke 1:7). Omdat hulle dit kortgekom het en terselfdertyd deur die aartsbedrieër, Satan, verblind is, kon diegene wat aan hierdie kennis vasgehou het, nooit hoop om die waarheid te vind nie.—1 Korintiërs 2:6-8, 14; 3:18-20; 2 Korintiërs 4:4; 11:14; Openbaring 12:9.

Die Bybel—’n geïnspireerde gids

Die vroeë Christene het nooit daaraan getwyfel dat God sy wil, voorneme en beginsels in die Skrif geopenbaar het nie (2 Timoteus 3:16, 17). Dit het hulle beskerm sodat hulle nie ‘as prooi weggevoer is deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense’ nie (Kolossense 2:8). Die situasie is vandag dieselfde. In teenstelling met die verwarrende en teenstrydige menings van mense voorsien God se geïnspireerde Woord ’n stewige fondament waarop ons ons oortuigings kan baseer (Johannes 17:17; 1 Tessalonisense 2:13; 2 Petrus 1:21). Daarsonder sou ons ons in die onmoontlike situasie bevind waar ons iets stewigs probeer bou op die dryfsand van die teorieë en filosofieë van mense.—Matteus 7:24-27.

‘Maar wag’, sê iemand dalk. ‘Is dit nie waar dat die feite van die wetenskap getoon het dat die Bybel verkeerd is en derhalwe geensins meer betroubaar is as die immer veranderende filosofieë van mense nie?’ Bertrand Russell het byvoorbeeld beweer dat “Copernicus, Kepler en Galileo ’n stryd teen Aristoteles sowel as die Bybel moes voer om die idee te bevestig dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie.” (Ons kursiveer.) En is dit nie vandag waar dat voorstanders van die skeppingsleer byvoorbeeld volhou dat die Bybel leer dat die aarde in ses dae van 24 uur elk geskep is, terwyl al die feite toon dat die aarde miljarde jare oud is nie?

Die Bybel sê in werklikheid nie dat die aarde die middelpunt van die heelal is nie. Dit was ’n leerstelling van kerkleiers wat self nie aan God se Woord getrou gebly het nie. Die Genesisverslag van die skepping laat ruimte vir die idee dat die aarde miljarde jare oud is en beperk nie elke skeppingsdag tot 24 uur nie (Genesis 1:1, 5, 8, 13, 19, 23, 31; 2:3, 4). Hoewel die Bybel nie ’n wetenskaphandboek is nie, toon ’n eerlike ondersoek daarvan dat dit beslis nie “loutere onsin” is nie. Trouens, dit is heeltemal in ooreenstemming met die bewese wetenskap.a

“Denkvermoë” nodig

Hoewel baie van Jesus se dissipels eenvoudige mans en vroue was, wat moontlik ’n beperkte skoolopleiding gehad het, het hulle ’n ander godgegewe bate tot hulle beskikking gehad. Ongeag wat hulle agtergrond was, hulle almal het redeneervermoë en denkvermoë gehad. Die apostel Paulus het sy mede-Christene aangespoor om ten volle gebruik te maak van hulle “denkvermoë” sodat hulle hulle “van die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God [kon] vergewis”.—Romeine 12:1, 2.

Met hulle godgegewe “denkvermoë” het die vroeë Christene duidelik gesien dat enige filosofie of lering wat nie in ooreenstemming met die geopenbaarde Woord van God was nie, nutteloos was. In party gevalle het die wyse manne van hulle dag in werklikheid ‘die waarheid onderdruk’ en die bewyse om hulle geïgnoreer dat daar ’n God is. “Hoewel hulle verklaar het dat hulle wys is, het hulle dwaas geword”, het die apostel Paulus geskryf. Omdat hulle die waarheid oor God en sy voorneme verwerp het, “het [hulle] leeghoofdig in hulle redenasies geword en hulle onintelligente hart het verduisterd geword”.—Romeine 1:18-22; Jeremia 8:8, 9.

Diegene wat verklaar dat hulle wys is, kom dikwels met gevolgtrekkings vorendag soos: “Daar is geen God nie” of “Die Bybel kan nie vertrou word nie” of “Ons lewe nie in die ‘laaste dae’ nie”. Sulke idees is in God se oë net so dwaas soos om te sê dat “2=1” (1 Korintiërs 3:19). Ongeag watter gesag mense hulleself dalk toe-eien, jy hoef nie hulle gevolgtrekkings te aanvaar as dit weerspreek wat God sê, sy Woord ignoreer en teen gesonde verstand indruis nie. Die verstandige weg is per slot van rekening om altyd “God waaragtig bevind [te laat] word, al word elke mens ’n leuenaar bevind”.—Romeine 3:4.

[Voetnoot]

a Sien die boeke Die Bybel—God se woord of die mens s’n? en Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir besonderhede.

[Prente op bladsy 31]

In teenstelling met die veranderende menings van mense voorsien die Bybel ’n vaste grondslag vir geloof

[Erkennings]

Links, Epikurus: Photograph taken by courtesy of the British Museum; middel bo, Plato: National Archaeological Museum, Athens, Greece; regs, Sokrates: Roma, Musei Capitolini

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel