Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w01 12/1 bl. 4-7
  • Die Gulde Reël—Dit is prakties

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Gulde Reël—Dit is prakties
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Selfsug het oorgeneem
  • ’n Voorbeeld om na te volg
  • Mense wat die Gulde Reël toepas
  • Wat van jou?
  • Wat is die Goue Reël?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die Gulde Reël—Waarom is dit nog geldig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Die Gulde Reël—’n Universele beginsel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Volg die Gulde Reël in jou bediening
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
w01 12/1 bl. 4-7

Die Gulde Reël—Dit is prakties

Hoewel die meeste mense die Gulde Reël beskou as ’n sedelike beginsel wat deur Jesus uiteengesit is, het hy self gesê: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het.”—Johannes 7:16.

JA, die Bron van wat Jesus mense geleer het, ook dit wat nou as die Gulde Reël bekend staan, is die een wat Jesus gestuur het, naamlik die Skepper, Jehovah God.

Dit was God se oorspronklike voorneme dat alle mense mekaar moes behandel soos hulle graag behandel wou word. Hy het die beste voorbeeld gestel in die betoning van besorgdheid oor ander se welsyn deur die manier waarop hy mense geskep het: “God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Genesis 1:27). Dit beteken dat God uit liefde sy eie uitstaande eienskappe in sekere mate aan mense gegee het sodat dit vir hulle moontlik sal wees om die lewe in vrede, geluk en harmonie vir ewig te kan lewe. Hulle godgegewe gewete, as dit behoorlik opgelei was, sou hulle lei om ander te behandel soos hulle self behandel wou word.

Selfsug het oorgeneem

As die mensdom so ’n wonderlike begin gehad het, wat het dan gebeur? Kortom, die afstootlike eienskap selfsug het sy verskyning gemaak. Die meeste mense is bekend met die Bybel se verslag van wat die eerste mensepaar gedoen het, soos in Genesis hoofstuk 3 opgeteken is. Adam en Eva, aangespoor deur Satan, ’n teenstander van al God se standaarde, het God se heerskappy uit selfsug verwerp en onafhanklikheid en selfbeskikking gekies. Hulle selfsugtige en opstandige optrede het nie net ’n groot verlies vir hulle tot gevolg gehad nie, maar het ook tragiese gevolge vir al hulle toekomstige nakomelinge gehad. Dit het duidelik getoon watter rampspoedige gevolge dit kan hê wanneer die beginsel wat nou as die Gulde Reël bekend staan, geïgnoreer word. Gevolglik het “deur een mens die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde, en die dood [het] só tot alle mense deurgedring . . . omdat hulle almal gesondig het”.—Romeine 5:12.

Hoewel die mensdom as ’n geheel die liefdevolle weë van Jehovah God die rug toegekeer het, het hy hulle nie aan hulle lot oorgelaat nie. Jehovah het byvoorbeeld vir die nasie Israel sy Wet gegee om hulle te rig. Dit het hulle geleer om ander te behandel soos hulle self behandel wou word. Die Wet het riglyne gegee oor hoe om slawe, vaderlose seuns en weduwees te behandel. Dit het uiteengesit wat in die geval van aanranding, ontvoering en diefstal gedoen moes word. Gesondheidswette het besorgdheid oor ander se gesondheid getoon. Daar was selfs wette oor seksuele sake. Jehovah het sy Wet opgesom deur vir die volk te sê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, woorde wat Jesus later aangehaal het (Levitikus 19:18; Matteus 22:39, 40). Die Wet het ook bepaal hoe vreemdelinge onder die Israeliete behandel moes word. Die Wet het beveel: “Jy mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van ’n vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het.” Met ander woorde, die Israeliete moes empatieke goedhartigheid teenoor minderbevoorregtes betoon.—Exodus 23:9; Levitikus 19:34; Deuteronomium 10:19.

Solank Israel die Wet getrou nagekom het, het Jehovah die nasie geseën. Onder die heerskappy van Dawid en Salomo was die nasie voorspoedig, en die volk was gelukkig en tevrede. ’n Geskiedkundige verslag sê vir ons: “Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly. Juda en Israel [het] veilig gewoon . . . , elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom.”—1 Konings 4:20, 25.

Ongelukkig het die vrede en veiligheid van die nasie nie lank geduur nie. Hoewel die Israeliete God se Wet gehad het, het hulle dit nie nagekom nie; hulle het toegelaat dat selfsug hulle besorgdheid oor ander verdring. Dit, tesame met afvalligheid, het ontberinge vir hulle as individue en as ’n nasie tot gevolg gehad. Uiteindelik, in die jaar 607 v.G.J., het Jehovah die Babiloniërs toegelaat om die koninkryk van Juda, die stad Jerusalem en selfs die luisterryke tempel te vernietig. Waarom? “Omdat julle na my woorde nie geluister het nie, laat Ek al die geslagte van die Noorde haal, spreek die HERE, en Nebukadrésar, die koning van Babel, my dienaar; en Ek sal hulle bring oor hierdie land en sy inwoners en oor al hierdie nasies rondom, en Ek sal hulle met die banvloek tref en hulle maak ’n voorwerp van verbasing en van bespotting en ewige puinhope” (Jeremia 25:8, 9). Wat ’n prys om te betaal omdat hulle Jehovah se rein aanbidding versaak het!

’n Voorbeeld om na te volg

Jesus Christus daarenteen het ander nie net die Gulde Reël geleer nie, maar het ook die beste voorbeeld gestel in hoe om dit toe te pas. Hy was waarlik besorg oor die welsyn van ander (Matteus 9:36; 14:14; Lukas 5:12, 13). Jesus het eenkeer, naby die stad Nain, ’n bedroefde weduwee in die lykstoet van haar enigste seun gesien. Die Bybelverslag sê: “Toe die Here haar sien, is hy ontroer deur medelye met haar” (Lukas 7:11-15). Die uitdrukking “ontroer deur medelye”, volgens Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words, beteken “om in jou binneste ontroer te word”. Hy kon hom indink hoe hartseer sy was, en dit het hom beweeg om positiewe stappe te neem om haar pyn te verlig. Watter vreugde het dit daardie weduwee tog verskaf toe Jesus die seun opgewek en “hom aan sy moeder gegee” het!

Laastens het Jesus, in ooreenstemming met God se voorneme, gewillig gely en sy lewe as ’n losprys gegee sodat die mensdom bevry kon word van slawerny aan die sonde en die dood. Dit was die allerbeste voorbeeld wat die toepassing van die Gulde Reël betref.—Matteus 20:28; Johannes 15:13; Hebreërs 4:15.

Mense wat die Gulde Reël toepas

Is daar mense in ons tyd wat werklik volgens die Gulde Reël lewe? Ja, en nie net wanneer dit hulle pas nie. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Nazi-Duitsland het Jehovah se Getuies byvoorbeeld hulle geloof in God en liefde vir hulle naaste behou en geweier om die Gulde Reël te verbreek. Terwyl die Staat ’n veldtog van haat en diskriminasie teen alle Jode gevoer het, het die Getuies voortgegaan om die Gulde Reël toe te pas. Selfs in konsentrasiekampe het hulle steeds na hulle medemens omgesien en hulle voedsel, hoewel skaars, met verhongerde Jode sowel as nie-Jode gedeel. En al het die Staat hulle beveel om die wapen op te neem om ander dood te maak, het hulle geweier om dit te doen, net soos hulle nie deur ander doodgemaak wou word nie. Hoe kon hulle diegene doodmaak wat hulle moes liefhê soos hulleself? Omdat hulle geweier het, is baie van hulle nie net na konsentrasiekampe gestuur nie, maar na hulle dood.—Matteus 5:43-48.

Terwyl jy hierdie artikel lees, vind jy baat by nog ’n voorbeeld van die Gulde Reël in aksie. Jehovah se Getuies besef dat baie mense wat vandag ly, geen hoop of uitkoms het nie. Gevolglik tree die Getuies uit vrye wil positief op om ander die hoop en die praktiese riglyne in die Bybel te leer. Dit alles maak deel uit van ’n wêreldwye opvoedkundige werk wat nou op ’n ongeëwenaarde skaal gedoen word. Die gevolg? Soos geprofeteer in Jesaja 2:2-4, is “baie volke”, trouens meer as sesmiljoen mense in alle wêrelddele, ‘Jehovah se weë geleer en wandel hulle in sy paaie’. In figuurlike sin het hulle geleer om “van hul swaarde pikke [te] smee en van hul spiese snoeimesse”. Hulle het in hierdie moeilike tye vrede en veiligheid gevind.

Wat van jou?

Dink vir ’n oomblik na oor die pyn en lyding wat minagting van die Gulde Reël sedert die opstand in Eden, wat deur Satan die Duiwel aangestig is, oor die mensdom gebring het. Jehovah is van voorneme om die situasie binnekort om te keer. Hoe? “Met dié doel is die Seun van God openbaar gemaak, naamlik om die werke van die Duiwel te verbreek” (1 Johannes 3:8). Dit sal plaasvind onder die heerskappy van God se Koninkryk, in die wyse en bekwame hande van Jesus Christus, die een wat ander die Gulde Reël geleer en daarvolgens gelewe het.—Psalm 37:9-11; Daniël 2:44.

Koning Dawid van eertydse Israel het opgemerk: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie. Die hele dag ontferm hy hom en leen uit, en sy nageslag is ’n seën” (Psalm 37:25, 26). Sou jy nie saamstem dat die meeste mense vandag eerder vat en gryp as dat hulle ‘hulle ontferm en uitleen’ nie? Dit is duidelik dat die toepassing van die Gulde Reël tot ware vrede en veiligheid kan lei omdat dit vandag asook in die toekoms onder God se Koninkryk seëninge kan meebring. God se Koninkryk sal alle spore van selfsug en goddeloosheid op aarde verwyder en die huidige stelsel van korrupte menseheerskappy vervang met ’n nuwe stelsel wat God tot stand sal bring. Dan sal alle mense dit geniet om volgens die Gulde Reël te lewe.—Psalm 29:11; 2 Petrus 3:13.

[Prente op bladsy 4, 5]

Jesus het ander nie net die Gulde Reël geleer nie, maar het ook die beste voorbeeld gestel in hoe om dit uit te leef

[Prente op bladsy 7]

Die toepassing van die Gulde Reël kan tot ware vrede en veiligheid lei

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel