Vrae van lesers
Is Lucifer ’n naam wat die Bybel vir Satan gebruik?
Die naam Lucifer kom een keer in die Skrif voor en slegs in sommige Bybelvertalings. Die King James Version gee byvoorbeeld Jesaja 14:12 as volg weer: “Hoe het jy tog uit die hemel geval, o Lucifer, seun van die daeraad!”
Die Hebreeuse woord wat met “Lucifer” vertaal word, beteken “glansende”. Die Septuagint gebruik die Griekse woord wat “bringer van die dagbreek” beteken. Daarom gee sommige vertalings die oorspronklike Hebreeus weer as “môrester” of “Dagster”. Maar Hieronimus se Latynse Vulgaat gebruik “Lucifer” (ligdraer), en dit verklaar waarom daardie term in verskeie Bybelvertalings voorkom.
Wie is hierdie Lucifer? Die uitdrukking “glansende”, of “Lucifer”, word gevind in ’n profetiese uitspraak wat Jesaja die Israeliete beveel het om as ’n “spreekwoord teen die koning van Babilon” te gebruik. Dit is dus deel van ’n spreekwoord wat hoofsaaklik teen die Babiloniese koningshuis gerig is. Dat die beskrywing “glansende” gebruik word vir ’n mens en nie ’n geesskepsel nie, kan verder gesien word uit die woorde: “In Sjeool sal jy neergewerp word.” Sjeool is die gemeenskaplike graf van die mensdom—nie ’n plek waar Satan die Duiwel gevind word nie. Boonop vra diegene wat sien hoe Lucifer tot hierdie toestand verlaag word: “Is dit die man wat die aarde in beroering gebring het?” Dit is duidelik dat “Lucifer” na ’n mens verwys, nie na ’n geesskepsel nie.—Jesaja 14:4, 15, 16.
Waarom word so ’n verhewe beskrywing aan die Babiloniese koningshuis gegee? Ons moet in gedagte hou dat die koning van Babilon eers ná sy val die glansende genoem sou word en boonop op ’n spottende manier (Jesaja 14:3). Selfsugtige trots het Babilon se konings beweeg om hulle te verhef bo diegene om hulle. Die koningshuis was so verwaand dat hulle uitgebeeld word asof hulle spog: “Na die hemel sal ek opklim. Bo die sterre van God sal ek my troon verhef, en ek sal op die berg van samekoms gaan sit, in die mees afgeleë dele van die noorde. . . . Ek sal my soos die Allerhoogste maak.”—Jesaja 14:13, 14.
“Die sterre van God” is die konings van die koninklike lyn van Dawid (Numeri 24:17). Van die tyd van Dawid af het hierdie “sterre” van die berg Sion af regeer. Nadat Salomo die tempel in Jerusalem gebou het, het die naam Sion na die hele stad verwys. Onder die Wetsverbond moes al die manlike Israeliete drie keer per jaar na Sion reis. Dit het dus “die berg van samekoms” geword. Nebukadnesar se besluit om die Judese konings te onderwerp en hulle dan van daardie berg af te verwyder, toon dat hy van plan was om homself bo daardie “sterre” te verhef. Pleks van Jehovah die eer te gee vir die oorwinning oor hulle, stel hy hom op verwaande wyse in Jehovah se plek. Dit is dus eers nadat die Babiloniese koningshuis neergewerp is dat dit spottenderwys die “glansende” genoem is.
Die trots van die Babiloniese heersers het inderdaad die gesindheid weerspieël van “die god van hierdie stelsel van dinge”—Satan die Duiwel (2 Korintiërs 4:4). Hy het ook ’n oordrewe begeerte na mag en wil hom bo Jehovah God stel. Maar Lucifer is nie ’n naam wat in die Bybel aan Satan gegee word nie.
• Waarom verwys 1 Kronieke 2:13-15 na Dawid as die sewende seun van Isai, terwyl 1 Samuel 16:10, 11 sê dat hy die agtste was?
Nadat koning Saul van eertydse Israel ware aanbidding die rug toegekeer het, het Jehovah God die profeet Samuel gestuur om een van Isai se seuns as koning te salf. In die Goddelike verslag van hierdie geskiedkundige gebeurtenis, wat in die 11de eeu v.G.J. deur Samuel self geskryf is, word Dawid die agtste seun van Isai genoem (1 Samuel 16:10-13). Maar die verslag wat die priester Esra ongeveer 600 jaar later geskryf het, sê: “Isai het die vader geword van Eliab, sy eersgeborene, en Abinadab, die tweede, en Simea, die derde, Netanel, die vierde, Raddai, die vyfde, Osem, die sesde, Dawid, die sewende” (1 Kronieke 2:13-15). Waarom het Esra die naam van een van Dawid se broers weggelaat?
Die Bybel sê dat Isai “agt seuns gehad” het (1 Samuel 17:12). Een van sy seuns het blykbaar nie lank genoeg gelewe om te trou en kinders te hê nie. Omdat hy geen nakomelinge gehad het nie, sou hy geen aanspraak op ’n stamerfdeel hê nie en ook nie in die geslagsregisters van Isai genoem word nie.
Kom ons kyk nou na Esra se dag. Dink aan die omstandighede waaronder hy Kronieke saamgestel het. Die ballingskap in Babilon het sowat 77 jaar vroeër tot ’n einde gekom, en die Jode is in hulle land hervestig. Die koning van Persië het Esra gemagtig om regters en onderrigters van die Wet van God aan te stel en om die huis van Jehovah te versier. Akkurate geslagsregisters was nodig om die erfdele van die stamme te bevestig en te verseker dat net gemagtigde persone as priesters dien. Daarom het Esra ’n volledige verslag van die volk se geskiedenis opgestel, wat ’n noukeurige en betroubare geslagsregister van Juda en van Dawid ingesluit het. Die naam van Isai se seun wat kinderloos gesterf het, sou onnodig wees. Gevolglik het Esra sy naam weggelaat.