Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 4/15 bl. 28-31
  • Jehovah gee om vir gewone mense

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah gee om vir gewone mense
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God se belangstelling in gewone mense
  • Besorgdheid oor jongmense
  • Hulp om in jou behoeftes te voorsien
  • Versterk jou verhouding met Jehovah
  • Jehovah sorg vir jou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Hoe jy na aan God kan kom
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Kom nader aan Jehovah en aan jou broers en susters
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • God gee vir jou om
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 4/15 bl. 28-31

Jehovah gee om vir gewone mense

MOET ons in die een of ander opsig buitengewoon of uitsonderlik wees voordat God ons raaksien? Abraham Lincoln, die 16de president van die Verenigde State, het blykbaar gesê: “Die Here verkies doodgewone mense. Dit is waarom hy so baie van hulle maak.” Baie voel dat hulle gewone mense met geen besondere talente is nie. Om doodgewoon te wees, het dalk die konnotasie van “arm, eenvoudig”. Net so kan die woord “gewoon” dui op “onbevoorreg of nie van hoë stand nie”, “benede gewone standaarde” of selfs “minderwaardig”. Met watter soort mense verkies jy om te assosieer? Aanmatigende, vermetele, trotse mense? Sou jy nie liewer wil assosieer met vriendelike, nederige, beskeie mense wat opregte, hartlike belangstelling in ander toon nie?

Aangesien verkleinering en bespotting vandag algemeen in die wêreld is, vind party dit moeilik om te glo dat God persoonlik in hulle belangstel. “Ek kom uit ’n gesin waar daar min liefde betoon is. Ek is verkleineer, geterg en uitgelag. Ek het dus al vroeg in die lewe gevoel dat ek niks werd is nie”, het ’n leser van hierdie tydskrif geskryf. “Ek sit nog steeds met diepgewortelde gevoelens uit my verlede wat my mismoedig maak wanneer dinge skeef loop.” Daar is nietemin redes om te glo dat God persoonlik in gewone mense belangstel.

God se belangstelling in gewone mense

“Jehovah is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik”, het koning Dawid geskryf (Psalm 145:3). Dit voorkom egter nie dat Jehovah vir ons op ’n liefdevolle en medelydende wyse sorg nie (1 Petrus 5:7). Die psalmis het byvoorbeeld gesê: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.”—Psalm 34:18.

Dinge wat in die wêreld aandag trek, soos fisiese skoonheid, aansien of rykdom, is nie dinge wat God as belangrik beskou nie. God se Wet aan Israel het sy barmhartige belangstelling in armes, wese, weduwees en vreemdelinge geopenbaar. God het vir die Israeliete, wat self in Egipte wreed behandel is, gesê: “Jy mag ’n inwonende vreemdeling nie sleg behandel of verdruk nie . . . Julle mag geen weduwee of vaderlose seun verdruk nie. As jy hom hoegenaamd verdruk, dan sal ek, as hy enigsins tot my roep, sy geroep sekerlik hoor” (Eksodus 22:21-24). Verder het die profeet Jesaja sy vertroue in God se besorgdheid oor die geringes só uitgespreek: “U het ’n vesting vir die geringe geword, ’n vesting vir die arme in sy benoudheid, ’n toevlug teen die reënstorm, ’n skaduwee teen die hitte, wanneer die geblaas van die tiranne soos ’n reënstorm teen ’n muur is.”—Jesaja 25:4.

Jesus Christus, wat “die presiese afdruksel” van God is, het regdeur sy bediening vir sy dissipels ’n voorbeeld gestel van opregte belangstelling in gewone mense (Hebreërs 1:3). Toe Jesus die skare sien wat “gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” was, het hy “vir hulle innig jammer gevoel”.—Matteus 9:36.

Let ook op na die soort mense wat Jesus as sy apostels gekies het—manne wat as “ongeleerde en gewone mense” beskryf is (Handelinge 4:13). Ná Jesus se dood het sy volgelinge alle soorte mense begin nooi om na God se Woord te luister. Die apostel Paulus het geskryf dat enige “ongelowige of . . . gewone persoon” in die Christengemeente kon inkom en ’n gelowige kon word (1 Korintiërs 14:24, 25). God het nie net mense vir sy diens gekies wat volgens wêreldse standaarde bewonder word nie, maar talle eenvoudige, gewone mense. “Julle sien sy roeping van julle, broers”, het die apostel Paulus gesê, “dat nie baie geroep is wat in vleeslike sin wys is nie, nie baie magtiges nie, nie baie van adellike geboorte nie; maar God het die dwase dinge van die wêreld uitgekies, sodat hy die wyse mense kan beskaam; en God het die swak dinge van die wêreld uitgekies, sodat hy die sterk dinge kan beskaam; en God het die onedele dinge van die wêreld uitgekies en die dinge waarop daar neergesien word, die dinge wat nie is nie, sodat hy die dinge wat is, tot niet kan maak, sodat geen vlees voor die aangesig van God sou roem nie.”—1 Korintiërs 1:26-29.

God stel vandag eweneens opreg in ons belang. Dit is God se wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:4). As God die mensdom so liefgehad het dat hy sy Seun aarde toe gestuur het om vir ons te sterf, het ons geen rede om te voel dat niemand ons liefhet of dat ons niks werd is nie (Johannes 3:16). Jesus Christus het vir sy volgelinge getoon hoe belangrik dit is om selfs die geringste van sy geestelike broers te behandel soos hulle Jesus sou behandel. Hy het gesê: “Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van my gedoen het, het julle dit aan my gedoen” (Matteus 25:40). Ongeag hoe die wêreld ons beskou, as ons die waarheid liefhet, is ons spesiaal in God se oë.

Dit is hoe Francisco,a ’n vaderlose Brasiliaanse seun, gevoel het nadat hy ’n persoonlike verhouding met God opgebou het. Hy verduidelik: “Toe ek Jehovah en sy organisasie leer ken het, het dit my gehelp om my onsekerheid en skugterheid te bowe te kom. Ek het geleer dat Jehovah in elkeen van ons belangstel.” Jehovah het vir Francisco ’n ware Vader geword.

Besorgdheid oor jongmense

Jehovah stel opreg belang in jongmense, nie net as ’n groep nie, maar as individue. Ons wil natuurlik nooit, of ons jonk of oud is, te veel van onsself dink nie. Tog het ons dalk talente en eienskappe wat God in die toekoms kan gebruik. Jehovah weet watter verfyning en opleiding ons nodig het sodat ons ons volle potensiaal kan ontwikkel. Let byvoorbeeld op die verslag in 1 Samuel hoofstuk 16. Aangesien dit vir die profeet Samuel gelyk het of ander kandidate vir Israel se koningskap bekwamer was as Dawid, die jongste seun van Isai, het Jehovah verduidelik waarom Hy Dawid as die toekomstige koning van Israel gekies het: “Moenie na sy voorkoms en na sy hoë gestalte kyk nie, want ek het hom [Dawid se ouer broer] verwerp. Want God sien nie soos die mens sien nie, want die mens sien wat vir die oë sigbaar is; maar Jehovah sien wat die hart is.”—1 Samuel 16:7.

Kan jongmense vandag die vertroue hê dat Jehovah opreg in hulle belangstel? Kyk byvoorbeeld na Ana, ’n jong Brasiliaanse vrou. Soos in die geval van baie ander jongmense het die verdorwenheid en ongeregtigheid wat sy gesien het, haar ontstel. Toe het haar pa haar en haar susters na Christelike vergaderinge begin neem. Met verloop van tyd het sy die dinge wat sy uit die Woord van God geleer het, begin geniet. Ana het begin om die Bybel en Christelike publikasies te lees en om tot Jehovah God te bid. Sy het geleidelik ’n intieme verhouding met God opgebou. Sy verduidelik: “Ek het graag met my fiets na ’n koppie naby ons huis gery vanwaar ek na pragtige sonsondergange kon kyk. Ek het tot Jehovah gebid en hom vir sy goedhartigheid en vrygewigheid bedank en in woorde probeer uitdruk hoe lief ek hom het. Toe ek Jehovah God leer ken het en geleer het wat sy voornemens is, het dit my gemoedsrus en ’n gevoel van veiligheid gegee.” Probeer jy ook tyd vind om oor Jehovah se liefdevolle sorg te peins?

Ons agtergrond maak dit wel soms vir ons moeilik om ’n intieme verhouding met Jehovah te geniet. Neem Lidia as voorbeeld. Toe sy haar hart teenoor haar pa uitgestort het oor iets wat haar baie gekwel het, het hy haar kortaf geantwoord en gesê: “Onsin.” Hoewel sy besef het dat haar pa maar net wou hê dat sy van die probleem moes vergeet, sê Lidia: “’n Studie van die Bybel het my alles gegee wat ek wou hê en nog meer. Jehovah se aantreklike persoonlikheid het hom my beste vriend gemaak. Nou het ek ’n liefdevolle, simpatieke Vader vir wie ek van my gevoelens en my diepste vrese kan vertel. Ek kan ure lank met die allerbelangrikste Persoon in die heelal praat en seker wees dat hy na my sal luister.” Bybeltekste soos Filippense 4:6, 7 het haar gehelp om bewus te wees van Jehovah se liefdevolle sorg. Hierdie verse sê: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.”

Hulp om in jou behoeftes te voorsien

Jehovah toon sy besorgdheid oor sy knegte as individue asook oor sy wêreldwye gemeente. Ons kan ons liefde vir ons hemelse Vader toon deur tyd in te ruim om met hom te praat. Ons moet nooit ons verhouding met hom as vanselfsprekend beskou nie. Dawid was voortdurend bewus van sy verhouding met Jehovah. Hy het gesê: “Maak u weë aan my bekend, o Jehovah; leer my u paaie. Laat my in u waarheid wandel en leer my, want u is my God van redding. Op u het ek die hele dag gehoop.”—Psalm 25:4, 5.

Dalk is die idee dat jy ’n intieme verhouding met God kan hê, iets nuuts vir jou. Watter probleme jy ook al het, jy kan altyd seker wees dat die Allerhoogste jou sal kan help, in ooreenstemming met sy wil (1 Johannes 5:14, 15). Leer dus om oor spesifieke dinge te bid, met jou omstandighede en behoeftes in gedagte.

Dat dit belangrik is om ons behoeftes te erken, blyk duidelik uit die gebed van koning Salomo toe die tempel ingewy is: “As daar hongersnood in die land voorkom, as daar pes voorkom, as daar verskroeiing en heuningdou, sprinkane en kakkerlakke voorkom; as hulle vyande hulle in die land van hulle poorte beleër—enige soort plaag en enige soort kwaal—watter gebed, watter versoek om guns daar ook al mag wees van enige mens of van u hele volk Israel, omdat elkeen van hulle sy eie plaag en sy eie pyn ken . . . Mag u dan hoor vanuit die hemel, . . . en u moet vergewe en aan elkeen gee volgens al sy weë” (2 Kronieke 6:28-30). Ja, net jy ‘ken jou eie plaag en jou eie pyn’. Hoe noodsaaklik is dit dus om jou ware behoeftes en begeertes te erken. As jy dit doen, “sal [Jehovah] jou die versoeke van jou hart gee”.—Psalm 37:4.

Versterk jou verhouding met Jehovah

Jehovah wil graag hê dat gewone mense ’n intieme verhouding met hom moet geniet. Sy Woord verseker ons: “‘Ek sal vir julle ’n vader wees, en julle sal vir my seuns en dogters wees’, sê Jehovah die Almagtige” (2 Korintiërs 6:18). Jehovah en sy Seun wil inderdaad hê dat ons suksesvol moet wees en die ewige lewe moet verkry. Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat Jehovah ons sal help om na ons verantwoordelikhede om te sien in die gesin, by die werk en in die Christengemeente!

Ons almal ervaar nietemin kritieke tye. Swak gesondheid, gesinsprobleme, ’n klein inkomste of iets anders veroorsaak dalk vir ons pyn. Ons weet miskien nie hoe om ’n toets of beproewing die hoof te bied nie. Die toenemende druk word, regstreeks of onregstreeks, veroorsaak deur die bose beskuldiger, Satan die Duiwel, wat ’n geestelike oorlog teen God se volk voer. Maar daar is iemand wat ons verstaan en ons help om ’n goeie verhouding met Jehovah te behou. Dit is niemand anders nie as Jesus Christus in sy verhewe posisie in die hemel. Ons lees: “Ons het as ’n hoëpriester nie iemand wat nie met ons swakhede kan simpatiseer nie, maar iemand wat in alle opsigte soos ons op die proef gestel is, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid van spraak tot die troon van onverdiende goedhartigheid nader, sodat ons barmhartigheid kan verkry en onverdiende goedhartigheid kan vind vir hulp op die regte tyd.”—Hebreërs 4:15, 16.

Hoe gerusstellend is dit tog om te weet dat ons nie beroemd of ryk hoef te wees om God se guns te geniet nie! Selfs in tye van groot nood moet jy soos die psalmis wees wat gebid het: “Ek is geteisterd en arm. Jehovah neem my in aanmerking. U is my hulp en die Een wat aan my ontkoming verskaf” (Psalm 31:9-14; 40:17). Wees verseker dat Jehovah nederige, gewone mense liefhet. Ja, ‘ons kan al ons sorge op hom werp, want hy sorg vir ons’.—1 Petrus 5:7.

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

[Prente op bladsy 29]

Baie van Jesus se volgelinge was ongeleerde en gewone mense

[Prent op bladsy 30]

Christene strewe daarna om sterk geloof op te bou

[Prente op bladsy 31]

Ons hoef nie aansien te hê om God se guns te geniet nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel